Hebreërs 12:1-3

Om klaar te maak waarmee begin is

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Ons almal weet maar te goed dat dit een ding is om iets te begin, maar iets totaal anders om dit waarmee ons begin het, klaar te maak. Ons kan hier seker ‘n legio voorbeelde aanhaal: ons begin met ‘n stokperdjie, vorder aanvanklik goed, maar bêre dit wat ons halfpad gedoen het in die motorhuis. Ons gaan koop nuwe skoene om mee te draf, of ‘n fiets of een of ander fiksheidsapparaat, maar na so twee weke gaar dit stof op. En hoeveel van ons het nie al een of ander nuwe wonderdieet uitprobeer wat na ‘n week of twee ook maar in die kas gebêre is nie?

Met wat ek vanoggend tot dusver gesê het, broers en susters, reken u seker dat my volgende opmerking gaan wees dat ‘n mens tog maar regtig moet probeer om wat begin word, klaar te maak. Dit is egter nie wat ek wil sê nie. Inteendeel. Ek reken persoonlik nie dat ‘n mens alles wat jy begin moet klaarmaak nie. Juis omdat ons soms so behep raak met die voltooiing van alles waarmee ons begin, dat ons soms niks geniet terwyl ons dit doen nie.

Nee. Wat ek vanoggend wil sê is dat daar sekere dinge is wat ‘n mens maar halfpad kan los, maar ander dinge wat ‘n mens nie halfpad kan los nie. Of anders gesê: sekere take/pligte/projekte in die lewe is opsioneel, maar ander is noodsaaklik om te voltooi. En een van die wat uiters, uiters noodsaaklik is, is die saak waarvan Paulus hier in Hebreërs 12 praat, naamlik die wedloop van die geloof. Die wedloop wat begin wanneer ons tot geloof kom in Jesus Christus, en wat eindig wanneer ons óf eendag sterf, óf die Here weer kom voor ons sterf.

Nou is dit baie interessant, broers en susters, dat die lewe van die gelowige saam met God en voor God in die Bybel as ‘n wedloop of resies beskryf word (ook in Fil 3:12-14). Die Griekse woord wat hier gebruik word is agon,waarvan die Engelse woord (via die Latyn) agony afgelei is. ‘n Baie raak beskrywing van die gelowige se lewe voor God, broers en susters. Hoekom? Want ons almal weet dat die Christen se wedloop nie maar net ‘n ligte draffie is nie. Nee. Dit is meer dikwels ‘n baie veeleisende, uitmergelende en soms selfs folterende wedloop. Dit is dikwels opdraande. Wind op. In die hitte van die stryd. Wat meer is: dit vereis ‘n massiewe poging van insette en toewyding om sterk te eindig.

U het seker al opgemerk, broers en susters, dat baie dit nie regkry nie. Dat mense dikwels in die wedloop van die geloof uitsak. Dalk het u al uself langs die pad sien uitsak, miskien meer ander sien uitsak. Hulle het wel begin hardloop. Dalk toe hulle belydenis van geloof afgelê het. Dalk toe hulle tot bekering gekom het. Of dalk toe hulle hulle kind kom doop het.

Daar was ‘n tyd toe hulle aanvanklik die pas volgehou het. Maar toe het hulle moeg begin raak. Hulle het nie verwag dat dit so ‘n strawwe wedloop sou wees nie. Dalk het hulle moeg geraak teen die opdraande, of is hulle afgesit deur ‘n ander deelnemer. Wat die rede ook al is, van hulle hardloop nou glad nie meer nie.

Hulle is dalk Christene. Hulle kom dalk kerk toe. Gee offergawe, lees en bid nog gereeld. Maar hulle hart is nie meer in die wedloop nie. Hulle het tou opgegooi. Dalk te gou. Maar die feit van die saak is: tensy iets verander, sal hulle eerste werk hulle beste wees, en hulle laaste werk gaan ‘n antiklimaks wees.

In skrille kontras hiermee, broers en susters, was Jesus se beste werk sy laaste en finale werk, sy sterkste tree was sy laaste tree. Hy is ‘n voorbeeld van iemand wat volhard het tot die einde toe. Die skrywer van Hebreërs sê dat Hy die vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Die feit dat Hy dit verdra het, beteken dat Hy nie tou opgegooi het nie.

Wat, broers en susters, was hierdie vyandige optrede wat Jesus van al sy vyande moes verduur? Ons sou hier baie voorbeelde kon noem, maar kom ons verwys net na ‘n paar. Dink maar aan die keer toe Jesus versoek is. Ons weet wat dit beteken, broers en susters, om vir ‘n oomblik, ‘n uur of selfs langer versoeking te moet verduur. Maar veertig dae? Aanmekaar? Waar die duiwel met elke tree in Jesus se oor gefluister het. Om elke draai twyfel gesaai het? Waar Jesus elke oomblik getoets is. Hy kon die wedloop laat vaar het, maar Hy het nie.

Soos versoekings Jesus nie kon keer nie, kon beskuldigings ook nie. Kan ons ons voorstel, broers en susters, om aan ‘n wedloop deel te neem, en terwyl ons hardloop, feitlik die hele pad, die omstanders ons nie aanmoedig nie, maar kritiseer en afkraak? Dit het met Jesus gebeur. Wat meer is, dit was dikwels nie eers beskuldigings van vreemde mense nie, maar van sy eie mense en familie. Kom ek noem u net drie voorbeelde (al drie uit Johannes):

  • Haai, jou leuenaar. Waarom doen jy nie iets nuttigs met jou lewe nie (Joh7:12);

  • Hier kom die uitlander al weer. Waarom gaan jy nie huis toe waar jy hoort nie (Joh 8:48)?

  • Van wanneer af laat hulle kinders van die duiwel toe om aan die resies deel te neem? (Joh 8:48)

Dit is wat, onder andere, met Jesus gebeur het, broers en susters. Sy eie familie het gesê Hy is mal. Sy bure het hom erger behandel. Toe Hy na sy tuisdorp probeer terugkeer het, wou hulle Hom van ‘n krans afgooi (Luk 4:29). Maar Jesus het nie opgehou hardloop nie. Versoekings het Hom nie afgeskrik nie. Beskuldigings het Hom nie van stryk gebring nie. Nie eers die skandelike dood van die kruis nie.

Let wel, broers en susters, kyk mooi wat Hebreërs hier sê: nie die dood aan die kruis nie, maar die skande aan die kruis. Hoekom skande, broers en susters? Jesus het mos nie rede tot skande gehad nie. Hy het mos nooit iets gedoen waaroor Hy Hom moes skaam nie. Nee, Hy het nie. Maar ons het. Dit is waar die probleem, die oorsaak van Jesus se skande gelê het.

Skaamte voor mense. Hy het, volgens sommige, sy familie in die skande gesteek. Nakend was Hy uitgetrek voor almal. Hy moes beskaamd staan voor sy kerk. Die dominees van die tyd het met Hom gespot. Die stad Jerusalem het met Hom gespot. Hy is veroordeel soos ‘n misdadiger.

Maar niks het seker vergelyk met die skaamte wat Hy beleef het voor sy Vader nie. Vir ons, broers en susters, is dit soms te moeilik om ons eie skande met ons saam te dra. Maar wat daarvan om die hele mensdom se skandes op jou skouers gelaai te hê? Hoewel Hy nooit oneerlik was nie, is Hy veroordeel as ‘n bedrieër. Hoewel Hy nooit gesteel is nie, is Hy deur die hemel geoordeel as ‘n dief. En hoewel Hy nooit gelieg het nie, is Hy tot leuenaar gereken. Omdat ons leuens, ons oneerlikhede, ons diefstal op sy skouers voor God gerus het.

Hoe, broers en susters, het Jesus dit reggekry? Ons sal graag hierdie antwoord wil hoor. Want ons wil weet. Want ons word ook versoek, Ons word dikwels soos Jesus beskuldig. Soos Jesus word ons dikwels beskaam. Al verskil: ons gooi soms maklik en gou tou op. Maar Hy het nie. Hoe het Hy dit reggekry. Ons wil weet. Want ons wil dit ook regkry. Ons wil ook in die wedloop bly. Bly hardloop, al vra dit ‘n massiewe poging.

Hoe, wil ons weet, kan ons hart dieselfde uithouvermoë bekom? Hoe, wil ons weet, kan ons ook aanhou, bly hardloop, want die Here weet, ons wil graag. Die antwoord is eenvoudig, broers en susters: deur te fokus waarop Jesus gefokus het. Of, soos Hebreërs 12:2 dit stel: op die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was.

Hierdie vers, broers en susters, is seker die wonderlikste vers wat ooit geskryf is oor die heerlikheid van die hemel. Let wel: hier word niks gesê van ‘n feesmaal nie, niks van goue strate of engelvlerke nie. Selfs die woord hemel ontbreek. Maar al is die woord nie daar nie, dit is nie nodig nie.

Onthou, broers en susters, dat die hemel nie vir Jesus vreemd was nie. Ons wat hier op aarde lewe gaan eendag, indien ons glo, na ons aardse lewe na God toe, na die hemel toe, as u dit so wil uitdruk. Jesus het egter, voor Hy na die aarde toe gekom het, die hemel geken. Hy het dus geweet wat vir Hom by sy terugkeer sou wag. En daardie wete het Hom in staat gestel om die skande te dra en verduur, al was dit nie sy skande nie.

In sy laaste oomblikke, soos elke ander minuut van sy lewe, het Jesus gefokus op die vreugde om eendag by God te wees. Hy het sy oë gerig gehou op die beloning, en daarom kon Hy nie alleen die wedloop voltooi nie, Hy kon dit goed voltooi.

Is dit nie juis hier, broers en susters, waar ons dikwels die fout maak in ons eie wedloop nie? Is dit nie juis om hierdie rede dat ons soms so maklik uitsak nie? Ons kyk net vas in dit wat sigbaar is. Ons soek ons beloning in die hier en nou. Ons het ‘n visie van die ewigheid verloor, juis omdat die tydelikheid, hierdie bestaan, vir ons alles geword het. Ons glo dat al ons geluk hier gevind moet word. Wat meer is, wanneer ons deur ongeluk getref word, is ons soms nie eers bereid om te wag dat God ons ongeluk in geluk verander nie. Ons is nie eers bereid om in hierdie wêreld te wag op God se troos en liefdevolle teenwoordigheid nie, wat nog om dit eers eendag te kan ontvang?

Hou Hom voor oë, sê Hebreërs. Wat meer is: hou dit voor oë wat Hy voor oë gehou het. Dink telkens aan dit waarheen ons op pad is. Dink daaraan dat die eintlike beloning nie in en van hierdie wêreld is nie. Dan, sê God se Woord, sal ons die wedloop voltooi. Goed voltooi. Sal ons klaarmaak waarmee ons begin het.

Amen