Markus 10:35-45

Om te dien soos Jesus Christus

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Die skrywer Chesterton vertel in sy kortverhaal Die hamer van God van‘n baasspeurder, ene Vader Brown, wat die vermoë gehad het om soos ‘n ware Sherlock Holmes feitlik alle moordraaisels op te los. Op ‘n keer is iemand in ‘n klein dorpie, skynbaar helder oordag, wreed met ‘n hamer in die middel van ‘n straat doodgeslaan.

Almal het onmiddellik die dorpsmid verdink, veral omdat hy en die vermoorde nie langs dieselfde vuur gesit het nie, openlik ‘n afkeer aanmekaar gehad het, en in die openbaar mekaar al met die dood gedreig het. Vader Brown het in sy ondersoek gou agtergekom dat die moordenaar nie die dorpsmid was nie, maar die dorpspredikant. Meernog: hy was die broer van die vermoorde.

Die predikant het ‘n eienaardige gewoonte gehad: ‘n groot deel van die dag het hy tot in die hoogste toring van die katedraal geklim vanwaar hy alles en almal kon sien. Vandaar het hy al sy lidmate se booshede gemonitor. Sy broer was nie eintlik ‘n engel nie, en dag vir dag het die predikant gesien hoe sy broer lieg en bedrieg, kul en mense indoen. En toe, op daardie dag, het alles vir die predikant teveel geword: toe sy broer onder die toring verbystap het hy in sy woede ‘n hamer opgetel en afgegooi tot op sy broer se skedel, en hy het onmiddellik gesterf.

Toe hy gearresteer is, het Vader Brown hom goed die leviete voorgelees. Kerktorings, het hy gesê, is vinger wysings na God, hulle wys na bo, hulle laat ons dink aan God wat oor ons die wag hou. Kerktorings is nie daar om van bo na onder te kyk nie, maar van onder na Bo —na God toe. Verder, het hy gesê, moet die wat deel wil wees van God se kerk altyd onthou dat wie aan God se kerk behoort, onder die heerskappy van Christus val, en sy heerskappy is nie een van mag en geweld nie. Nee, Sy heerskappy is eerder een van liefde, diens, deernis, versoening en diensbaarheid.

Wie daarom deel van God se kerk wil wees, mag daarom nie in die plek van God, of selfs namens God, hamers van oordeel van bo af te gooi op skelms en skurke nie. Wie juis wil volg mag nie hamergooiers wees nie, eerder voetwassers.

Behalwe, broers en susters, dat die gedeelte wat ons in Markus saamgelees het vir my een van die mooiste gedeeltes in dié Evangelie is, is daar vir my eintlik nie beter kommentaar op die gedeelte as juis hierdie verhaaltjie nie.

Twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes, kom met ‘n versoek na Jesus toe: Here, wanneer u eendag koning is, wil ons saam met u regeer, een aan u linkerkant en een aan u regterkant. Dus: ons wil dan die ereplekke hê, die uitsoekplekke, die magsposisies. En van daar, van bo af, kan hulle dan saam met Jesus oor die onheilige wêreld uitkyk.

Op die oog af, broers en susters, lyk hulle versoek darem nie te onaanvaarbaar nie. Hulle wil immers saam met Jesus daar sit, saam met Hom heers. Die punt is egter: hulle verstaan hoegenaamd nie wat hierdie heerskappy behels nie, hulle begryp glad nie watter gedaante, watter vorm, die heerskappy van Jesus aanneem nie.

Jesus se heerskappy is nie om te heers nie, net anders om, dit is om te dien. Sy heerskappy is om te ly, om te sterf, en so die mens te dien.

Soos ‘n emmer koue water in die gesig moes hierdie woorde van Jesus sekerlik vir Johannes en Jakobus getref het. En nog het Jesus nie opgehou nie. By julle, antwoord Hy verder, moet dit nie so wees nie. In die wêreld het die regeerders en manne met mag die gewoonte om oor ander baas te speel en hulle mag te misbruik. Hulle kyk van bo na onder.

Maar julle, julle wat groot wil wees, moet dienaars wees, julle wat eerste wil wees, julle moet almal se dienaar wees. Die wêreld sê: gryp die mag, behou die mag, misbruik die mag, beveilig jou mag —met alle mag! Regeer en reguleer. Behou jou greep op dinge. Bly in beheer, in hemelsnaam, bly net in beheer!

En laat ons nie dink, broers en susters, as ons so van mag praat, dat ons net van ander praat nie. Nee. Ons praat hier ook maar van ons. Natuurlik is daar hulle wat mag het wat die massas met geweld onder die skoen hou. Ons het daarvan baie voorbeelde in ons eie tyd, en miskien nog meer uit die verlede. Maar misbruik van mag kan ook baie meer subtiel wees.

In hoeveel gevalle gebeur dit nie dat ‘n man sy vrou (en anders om) op subtiele maniere manipuleer en oorheers nie. Selfs deur maar net stil te bly, kan dit gedoen word. Een kyk kan dit uitstraal. Hoeveel kere sien ons nie dat die werkgewer ewe skielik die baas word nie. Almal moet bang vir hom wees en in hulle spoor trap. Hoeveel keer sien ons nie mense wat almal en alles krities beskou sonder ‘n greintjie van erkenning of liefde nie.

Selfverhewe gode, self aangestel. Alleen reg. So, broers en susters, heers ‘n mens nie saam met Christus nie, so heers ‘n mens oor God, jy probeer God onttroon, jy probeer die hoof posisie inneem, jy word —ten minste in jou eie oë, die onbetwiste heerser.

Dieselfde gebeur, broers en susters, wanneer ek nie van my tyd vir God wil gee nie. Wanneer ek nie van my tyd vir God se kerk en gemeente wil gee nie. Wanneer ek nie my gawes, middele, talente en vermoëns aan God beskikbaar wil maak nie. Wanneer God nooi, vir watter taak of geleentheid, maar ek stel eenvoudig nie belang nie. Dan heers ek, oor dit wat ek dink aan my behoort. En omdat alles wat ek het, in wese aan God behoort, heers ek so oor God.

By julle moet dit nie so wees nie, sê Jesus. As jy Jesus wil volg, moet jy weet: magtige en heersende mense pas nie in by die aard en styl van God se heerskappy nie. Wie Hom wil volg — werklik wil volg — moet afklim van hulle troontjies en torinkies (soos die dorpspredikant), om tussen mens te gaan staan, te gaan staan in mense se gebroke en bloeiende wêrelde, in die strate en stegies waar die massas, die sogenaamde gewones, met hulle lewens uitroep in hulle nood, al besef hulle dit soms nie eers nie. Ja, wie Jesus op sy kruisweg wil volg, moet Hom gaan soek en volg daar waar Hy geloop het: tussen die gebrokenes, die gevangenes, die vreemdelinge, die naaktes, die siekes, die hulpeloses, soos Matteus 25 dit stel.

Maar wie van ons, broers en susters, wie van ons, is werklik hiertoe instaat? Nie so ‘n lawwe vraag nie, sou ek sê. Want om magtig te wil wees, om ander altyd een tree voor te wees, sit in ons bloed. Kom ons wees maar eerlik hieroor. Slimmer, mooier, geleerder, beter, sterker, vromer, godsdienstiger, kortom: magtiger — dit is ons! Ons kom so moeilik los van die suigkrag van al hierdie dinge en begeertes.

Maar tog, broers en susters, tog is dit moontlik om die eerste te wees omdat ons dien, groot te wees omdat ons dien. Hoekom? Omdat die moontlike uitvoering van hierdie oproep om te dien nie gegrond is in ons potensiaal as mense nie. Jesus is nie maar net ons voorbeeld van ware dienskneg nie, Hy is ook ons Verlosser daartoe. Hy maak dit vir ons moontlik. En kom ek verduidelik.

In Markus 10:45 lees ons: die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe as losprys te gee vir baie mense. Die bekende teoloog, Van Ruler, het oor hierdie een versie ‘n baie aangrypende stukkie geskryf. God, sê hy, vra hier nie van ons om in die eerste plek ander mense te gaan dien nie. Dit is die tweede stap. Die eerste stap, sê hy, is baie belangriker: dat ons moet raaksien dat ons, sondige en onheilige mense, deur die heilige God gedien word!

Hierin, sê hy, lê vir ons die bevryding. Die wete dat God se Seun ons dien. Hierdie wete, sê hy, bevry ‘n mens van jou selfsug, van jou strewe om ten alle koste bo uit te kom, om tot elke prys alles en almal te beheer en alles te wil reguleer soos dit jou, en jou planne, pas. Ja, as jy hoor, weer en weer, dat God jou kom dien het met sy Seun, bevry dit jou van die behoefte om oppermagtig te wil wees, en dit leer jou om uit genade te leef.

Die wete dat God ons dien, bevry ons om diensbaar te word, om plaasvervangend, versoenend, dienend en voet-wassend in die wêreld te staan.

En dit, broers en susters, is baie meer as maar net om iets te voel vir die wêreld, dit is baie meer as maar net blote humanisme, en oneindig meer as maar net filantropie. Dit is om te regeer, saam met Jesus, soos Jesus.

Want Jesus Christus staan nie in ‘n hoë toring met ‘n opgehefde hamer in sy hand nie. Nee. Hy staan tussen sondige, gebroke en behoeftige mense. En as Hy daar staan, sê hy nooit: vir jou, maar nie vir jou nie. Miskien môre, maar nie vandag nie. Eers my eie dinge, dan joune nie.

Trouens, Jesus staan eintlik glad nie. Hy hang. Aan ‘n kruis. Tussen ‘n skelm en ‘n skurk. Om te dien. Vir jou te dien en my te dien.

Verstaan ons, broers en susters, iets hiervan?

Amen