Hebreërs 11:11-19, 23-28

Ons foute, God se liefde

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Baie van u het seker al gehoor van die sogenaamde ‘Wie is wie’-lyste wat gereeld in die pers en tydskrifte verskyn: lyste van byvoorbeeld tien rykste mense in wêreld, die tien belangrikste mense, die tien invloedrykste of selfs die tien besgeklede vroue. Ons almal ken hierdie soort onbenullighede, glo ek.

Tog, broers en susters, sou ‘n mens seker ook kon gaan en die tien belangrikste mense in die Bybel kon probeer opnoem. Of, kom ons sê, die tien belangrikste mense in die Bybel wat God gebruik het om die geskiedenis van die wêreld te verander. Wie se name sou ons hier kon noem? Seker Abraham, die vader van al die gelowiges. Miskien ook Isak en Jakob, die ander twee aartsvaders. En dan beslis vir Moses. Dalk ook vir Elia, die groot profeet. Of selfs vir Noag. Ander sou dalk vir Job by hulle lysie wou insluit. En ander weer sou Paulus bo aan die lysie wou sit. Of selfs Petrus, of Johannes, of Jakobus, of van die ander dissipels. En ander weer sal dalk wou hou by die lysie van name wat vir ons in Hebreërs 11 aangeteken is.

Almal mense, broers en susters, wat deur God op een of ander manier gebruik is. Maar ook, mense wat net mense was. Vol foute. Vol sonde. Vol ongehoorsaamheid. Ja, soms met soveel tekorte, dat ‘n mens dit amper nie kan glo dat God juis met hierdie mense ‘n pad wou stap nie.

Kom ons lig ‘n paar van die name wat ons hierbo genoem het uit, en dan sal u sien wat ek bedoel. Kom ons begin sommer by Abraham. Hoewel hy hier in Hebreërs besing word vir sy geloof, en reg deur die Bybel bekend staan as die Vader van alle gelowiges, was hierdie vader van die volk nie sonder sy swakhede nie. Inteendeel, hy was eintlik baie goed as dit by jok gekom het. Een keer het hy, om sy eie bas tered, ‘n gerug die ronde laat doen dat Sara nie sy vrou was nie, maar sy suster (Gen 12). En toe, nie lank daarna nie, doen hy dit werklik weer (Gen 20).

Twee keer dus, het Abraham sy integriteit vir veiligheid verruil. Is dit wat ‘n mens geloof in God se beloftes kan noem? Dat net sodra dinge ‘n bietjie te warm begin raak, nie meer op God vertrou word nie, maar op eie planne? Kan ‘n mens ‘n nasie bou, ‘n verbondsvolk tot stand bring deur so ‘n geloof?

Mense kan nie. Maar God kan, broers en susters. Want God het die goeie eienskappe van Abraham geneem, die slegtes vergewe en die ou leuenaar gebruik om sy volk op aarde mee te begin.

Of vat vir Moses. Beslis een van die geskiedenis se gro­tes. Maar toe hy tagtig was, het dit nie gelyk of Moses meer gaan bereik as ‘n eertydse prins wat aan die verkeerde kant van die reg beland het nie. Om dit kras te stel: wie sou ‘n moordenaar wat vir die polisie vlug kies om ‘n volk uit slawerny te bevry? Nog meer: sou jy jou op ‘n voortvlugtige verlaat om die Tien Gebooie aan mense te gaan gee? God het, broers en susters. Uit die skaap weiveld, van alle plekke, met ‘n brandende bos, het God Moses gaan haal, en baie, baie teensinnig het hy versigtig besluit om weer in die kryt te klim.

Of Dawid. Hy verwek ‘n kind by ‘n ander man se vrou, probeer die skuld op haar man pak, en toe Uria nie daarvoor wil val nie, laat Dawid in wese hom vermoor. Tog, vir Dawid het God gebruik, en dit weet ons goed.

‘n Laaste voorbeeld, Jona. Hy was, sou ons kon sê, God se verkose ambassadeur vir Nineviet. Maar Jona het ander planne gehad. Toe Jona dink dat God sy rug draai, spring hy op ‘n ander boot. God laat hom egter in ‘n walvis se maag beland, en dié laai hom ewe onseremonieel af amper presies waar Jona moes wees. En toe Jona uiteindelik praat, beteken hy vir God presies dit waarvoor sy werk bestem was.

En so, broers en susters, kan ons aangaan met die stories wat God met mense se lewens skryf: Elia, die profeet, wat dikmond geraak het, Salomo, die koning wat later te veel geweet het, Jakob, die slinkse onderhandelaar, Sara, die vrou wat God uitgelag het. Selfs in Jesus se geslagsregister staan daar ‘n paar name wat die wenkbroue laat lig: Tamar, die owerspelige vrou, en Ragab, die slegte vrou.

Almal van hierdie mense, broers en susters, was nou nie juis heiliges nie. Hulle sou, om by ons voorbeeld aan die begin aan te sluit, beslis nie die lys van die tien mees heiliges in die Bybel gehaal het nie. Maar een ding is baie duidelik: God het doodgewone mense gebruik om die wêreld te verander.

Mense, mense soos u en ek. Nie heiliges nie, nie supermense nie, maar mense. Skelms, skobbejakke, leuenaars. Mense met foute. Mense wat soms skitter in hulle ongeloof. God gebruik hulle. En hoe ongelooflik: omdat hierdie mense alles behalwe volmaak is, vergoed daarvoor in sy liefde.

Ons verstaan dit nie, broers en susters. Kom ons wees eerlik. Dat God so maklik kan liefhê en vergewe nie. Miskien is dit so omdat  ons te maklik vergeet hoe groot God se liefde is. Kom ons hoor dit daarom miskien vinnig weer. Hoe groot is God se liefde? Jesus het dit so verduidelik: Daar was op ‘n keer ‘n tiener wat besluit het dat die saai plaaslewe nie in sy smaak val nie. Met sakke vol erfgeld is hy vort om ‘n lekker lewe te gaan soek. Maar in pleks van ‘n lekker lewe het hy mooiweersvriende gevind, armoede, lang werkloosheid toue, die ervaring van ‘n honger maag, die betekenis van wat dit beteken om werklik te misluk met jou lewe.

Toe hy dit nie langer kon verduur nie, het hy sy trots gesluk, sy hande in sy leë broeksakke gedruk en op die lang pad huis toe aanmekaar aan ‘n gepolitoerde verskoning geoefen.

‘n Verskoning wat nooit die geleentheid gekry het om sy hart of mond te verlaat nie. Want toe hy sy mond wou oopmaak, het sy pa se vergifnis sy mond stilgemaak. En die seun kon sy moeë lyf in sy pa se oop arms werp.

Dieselfde oop arms, broers en susters, wat hierdie rebelse tiener verwelkom het, het ook vir Abraham, Moses, Dawid en Jona verwelkom. Daar was geen vermanende vingers nie. Geen gebalde vuiste nie. Geen ‘Ek het jou mos gesê nie’. Geen ‘Waar was jy’ ondervragings nie. Net dierbare, ope arms.

God, broers en susters, sal aan ons nooit ‘n taak opdra wat Hy nie weet ons kan afhandel nie. God sal nooit iemand op u pad stuur, wat u dalk moet help, teregwys, geduld mee moet toon, of selfs moet vergewe, sonder om u die krag te gee om te doen wat Hy wil hê u moet doen nie.

Meer nog: God sal nie aan u as moeder of vader kinders as gawes gee, sonder die vaardigheid, die middele, die geduld, die wysheid, noem maar op, om hulle werklik in die weë van die Here groot te maak nie. Al sal daar baie foute wees. Al sal daar soms Abraham, Jona of Moses op ons voorkoppe staan. Al sou dit dikwels op ons voorkoppe staan.

Hierdie mense, broers en susters, en dit moet ons nie miskyk nie, het op Godse woord gereageer. Hulle het gaan doen, al het hulle soms verkeerd gedoen. Kom ons sê dit anders: dit is een ding om te sê my doopbelofte as ouer is te moeilik om na te kom, maar ‘n ander om te minste werklik te gaan probeer. Dit is een ding om te sê: maar ek kan nie dit of dat nie (ek sal nooit ‘n ouderling kan wees nie, ek sal nooit tyd hê om hierby of daarby betrokke te raak nie), en ‘n ander ding om in te klim en ten minste te gaan probeer.

Want dit is juis wanneer ons probeer, dat God ons gebruik, waarvoor ook al. En ons foute afskryf.

Wat, my broer en suster, lê hierdie week vir u voor? Wat moet u hierdie week gaan doen? Wat sê u dagboek? Waar, as u mooi gaan kyk na daardie dagboek, wil God u hierdie week gebruik? En as u en ek dit raaksien, sien ons daarvoor kans? Is u, soos baie van ons, te bang vir al u tekorte en al die foute wat u dalk gaan maak? Dink u ook soms dat God se geduld darem nou seker al met my opgeraak moes gewees het.

As u dit ooit nodig sou hê, broers en susters, om aan God se geduld herinner te word, gaan kyk maar net weer na die lewens van die mense na wie ons hierbo verwys het. En as u ooit wonder hoe op aarde God u kan gebruik om die wêreld te verander, gaan kyk maar weer na hulle.

Hulle was mense soos ons. Hulle het foute gemaak soos ons. Maar hulle het probeer. Daarom kon God hulle gebruik. So, kom ons gaan maar rustig en probeer weer daar waar ons gefaal het om God se werk te doen. Met die wete: God soek nie volmaaktes nie, Hy soek bereidwilliges. En as ons faal, sal sy oop arms daar wees, sy liefde, wat alles in hierdie wêreld oortref.

Hebreërs 11:16 sê dit pragtig: hulle wat probeer, hulle wat in die geloof probeer lewe, al maak hulle foute, God is nie skaam om hulle God genoem te word nie.

God, broers en susters, wanneer ons werklik probeer (doopbelofte, doopvont, opvoeding, verhoudings), is nooit skaam om ons God genoemte word nie. Meer nog: ons kan gaan probeer, ons kan gaan doen met die wonderlike wete: God weet ons is nie volmaak nie. Daarvoor vergoed Hy in sy liefde.

Amen