Jakobus 1:19-25

Praat en hoor

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Ek het op ‘n keer in die universiteitsbiblioteek ‘n uitstalling van foto’s bekyk wat pryse in ‘n internasionale kunsfotokompetisie gewen het. Een van die foto’s is ‘n foto van twee telefoonhokkies op die hoek van ‘n baie besige kruising. In (of eintlik buite) die eerste hokkie staan ‘n man en praat – asof syl ewe daarvan afhang. Hy staan eintlik buite die hokkie vir meer ruimte om sy arms te swaai en met sy hande te beduie. Sy houding en gesigsuitdrukking straal een duidelike boodskap uit. Hy is besig om te praat, en die een aan die ander kant moet luister.

In die ander hokkie staan ‘n vrou. Sy het haarself as’ t ware in die hoek van die hokkie ingewurm, die deur styf toegemaak om die geraas van die motors buite uit te sluit, en hou haar hand bak oor die gehoorstuk. Die uitdrukking op haar gesig, saam met haar lyftaal, sê net een ding. Sy is besig om te luister, en maak seker dat sy elke woord hoor. Die titel van die foto, heel gepas, is praat en hoor.

Met praat, broers en susters, is ons normaalweg heeltemal goed. Nie alleen het al ons moderne kommunikasiemiddele ‘n voortdurende gepraat in ons huise ingedra nie, ons self is maar lief om te praat. Vir ander te vertel wat met ons aan die gebeur is, of hulle gehoo rhet wat op die nuus was, wat hier gebeur het of daar gebeur het. Om nie eers te praat van of hulle gehoor het wat hierdie een of daardie een nou al weer gedoen het nie.

Selfs met ons gepraat met God vaar ons nie te sleg nie. Ons sê vir die Here wat ons pla, wat skort, wat ons nodig het, wat ons anders wil hê, wat ons wil hê moet gebeur, wat ons anders wil hê as wat dit nou is, wie ons wil hê Hy moet help of bystaan. Vir wie Hy goed moet wees.

Met hoor, broers en susters, reken ek vaar ons egter nie so goed nie. Dit bewys miljoene misverstande en gebroke verhoudinge, soveel mislukte huwelike, tientalle mislukte vredesgesprekke regoor die wêreld en soveel politieke doodloopstrate ken ons maar te goed. Ons praat baie, maar luister maar min. Ek wil eerder hê dat‘n ander een my standpunt duidelik moet hoor, as wat ek na sy standpunt wil luister. Ons staan liewers buite die hokkie en praat en beduie, as wat ons in die hoekie wegkruip om fyn te luister wat ‘n ander sê.

Ons is soos mense wat langs ‘n treinspoor of snelweg woon. Aanvanklik hoor ons nog as die trein in die middel van die nag kenmerkend sy pad op sy spoor gaan. Dit gee ons selfs slapelose nagte. Maar later pla dit nie meer nie. Dit word bekende agtergrondgesuis, dit laat nog ons oor­trommels roer, maar hulle registreer die geraas nie meer nie. Nie rêrig nie.

Ongelukkig blyk dit nêrens duideliker wanneer die Here met ons praat nie. Met God se Woord skort niks: In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur sy Seun (Heb 1:1 en 2).

Die klanke oor hierdie Seun, die verkondiging van Jesus Christus as Redder van die wêreld en elke sondaarmens ken ons goed. Hopelik al van kindsbeen af. Die Bybel het ons al miskien ‘n paarkeer deurgelees, en ons het heel waarskynlik al meer preke gehoor as wat ons in her­innering kan (en wil) roep. Die evangelie van Jesus Chris­tus is deur en deur aan ons bekend.

Of nie? Want het wat ons gehoor het werklik ons lewens verander? Kom ons wees maar eerlik, broers en susters. Hoeveel preke het u en ek nie al gehoor nie, hoeveel keer het ons nie al die Bybel gelees en gesê: maar hier praat die Here net met my. Hierdie saak moet ek regstel, daar­die saak moet aandag ontvang. Ons het gehoor,daarom sal ons handel. Dit was die besluit. En dit was al. Want het ons gaan doen wat ons besluit het?

Nie verniet, broers en susters, dat die Bybel, asof ons lewens daarvan afhang, ons oproep om te luister, werklik te luister nie.

 Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hard­koppig wees nie (Heb4:7);

 Wie ore het en kan hoor, moet luister! (Luk 8:8);

 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees sê (Open 2:7);

 Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister (Jak 1:19).

Om te kan hoor, broers en susters, om werklik te kan hoor, is ‘n gawe en ‘n opdrag. Dit is ‘n gawe omdat die Heilige Gees ‘n gawe is. Want hierdie Gees wat ‘n gawe is, is die Een wat ons sensitief maak vir God se stem. Hoor is verder ‘n gawe omdat wat God sê, ons net moet hoor. Ons ontvang dit, ons moet dit net wil ontvang. Ons moet net wil luister (dat dit so is, weet almal van ons).

Om te kan hoor, broers en susters, is egter ook ‘n opdrag. Dit is harde werk. Dit vra in oefening. Die beste manier egter om te verseker dat jy gehoor het, is om te doen. Dit is die toets. Dit is die bewys dat jy regtig gehoor het toe God gepraat het. Anders bedrieg ons onsself.

Jakobus 1:22 sê dit mooi: Julle moet doen wat die Woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. ‘n Mens hoor met jou ore. Deur net te hoor met jou ore is egter nog nie hoor nie. Daarom kan ons sê: ‘n mens hoor ook met jou hande. Want eers as jy gaan doen wat jy gehoor het, eers dan het jy werklik gehoor?

Wat, broers en susters, het u vanaand gehoor? Wat het u vandag gehoor toe God met u besig was op sy rusdag? Wat het u gehoor, hier vanaand, in hierdie erediens, wat het die Gees vanaand vir u en my gesê? Waarvan is ons bewus gemaak? Waarheen het die Gees ons gestuur? Om wat te gaan doen?

As ons dit nie gaan doen nie, as ons nie gaan waar ons gestuur is nie, as ons nie aan die sake aandag gee waarop God deur sy Gees ons attent gemaak het nie, bedrieg ons onsself. Dan het ons nog nie gehoor nie. So eenvoudig is dit!

Amen