Prediker 2:17-26; 1 Korintiërs 15:50-58

Vir wie sloof ons ons af?

Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus

Dalk ken u die bekende verhaal uit die Griekse mitologie van Sisifus, die hoogmoedige koning van Korinte, wat deur die gode gestraf is. Sy straf was om 'n groot klip teen 'n heuwel uit te stoot, en - was die belofte - sodra hy die klip tot bo gestoot het, tot bo-op die heuwel, dan was hy vry.

Maar die gode het anders besluit. Elke keer, net voor die bopunt van die heuwel, het hulle gesorg dat die klip uit Sisifus se hande gly. Dan het dit afgerol tot heel onder, en moes Sisifus van reg voor af begin. En so het hy sy lewe gesluit, al rollende, elke dag al swetende, want dit was sy straf.

Vir hom was die lewe dus 'n sinlose, tevergeefse spel met die noodlot, 'n blote herhaling van dit wat altyd dieselfde bly, 'n sieldodende roetine van keer op keer voor begin sonder om ooit klaar te kry, 'n nimmereindigende sirkelgang.

Hierdie verhaaltjie, broers en susters, klink byna soos 'n nagmerrie. En natuurlik is dit nie waar nie, dit is immers 'n mite/verhaaltjie. Maar, broers en susters, dink u nie dat daar in hierdie verhaaltjie miskien tog iets van die realiteit van die lewe sit nie, dat mense soms die lewe werklik so ervaar nie? Die lewe as 'n sieldodende roetine, 'n herhalende worsteling, 'n leë bestaan. Of soos 'n digter op 'n keer gesê het: `My lewe is leeg ... soos 'n gat in die lug!'.

Kan 'n mens dit van die lewe sê, broers en susters? Ja, jy kan, sê Prediker. Want as jy na die lewe vanuit 'n sekere hoek bekyk, is dit inderdaad tevergeefs. En as jy op 'n sekere manier na die lewe gryp, gryp jy 'n hand vol wind. Want vanuit 'n bepaalde hoek bekyk, lyk die lewe soos 'n sinlose sirkelgang.

Geslagte kom en gaan. Mense word gebore, word oud en sterf. Die son kom op en gaan onder. Die riviere loop in die see, maar die see word nooit vol nie. En ons gaan werk toe en kom terug. Of staan op en gaan slaap. En dit alles is so vermoeiend. En wat is daar nou eintlik waarvan jy kan sê, `kyk, dit is nuut', sê die Prediker, `want daar is inderdaad niks nuut onder die son nie' (Pred 1:9). Alles gebeur maar net oor en oor.

Nou moet ons nie dink, broers en susters, soos sommiges, dat die prediker, omdat hy so sê, 'n aardspessimis is wat alles swart en somber wil sien nie, en by voorbaat die lewe as tevergeefs wil afskryf nie. Hoekom nie? Want die lewe, sê die prediker, het 'n dubbelkantigheid, kan, met ander woorde, van twee kante af beskou word.

Die een manier is om na die lewe te kyk vanuit 'n sonder-God-perspektief, dit wil sê, om die lewe aan te pak sonder God. Sonder om jouself afhanklik van God of gerig op God te sien. Want, sê die prediker, wanneer dit om die sin van die lewe gaan, is die keuse duidelik en eenvoudig: dit is of alles vir God, of alles tevergeefs.

Dit maak ook nie soseer saak hoe jy jou lewe inklee, of wat jy in jou grypende hand vasklem, of in jou vuis wil versamel nie - geleerdheid, wysheid, rykdom, roem, plesier - die reël geld steeds: vir God, of tevergeefs.

So praat die prediker byvoorbeeld oor ons werk. Wat wil ons byvoorbeeld deur ons werk bereik, broers en susters? Wat dryf ons? Wat is ons doelwit? Die prediker sê dat as ons die uitgangspunt en doelwit van ons lewe bloot in verganklike werke soek, sal ons ontdek dat die uiterste konsekwensie van so 'n lewe wel 'n gejaag na wind is.

In 'n ander gedeelte (net vroeër as die gedeelte wat ons saamgelees het) vertel hy self hoe hy dit op die proef gestel het. Hy het groot ondernemings aangepak, huise gebou, wingerde aangeplant, tuine en parke aangelê, beeste en kleinvee versamel, goud en silwer opgegaar, en so kan ons aangaan. Hy het alles gehad, alles onder die son. En toe het hy nagedink - trouens, hy het goed nagedink - en hy het gesien alles is 'n gejaag na wind. Want, in hierdie wêreld, het hy gesê, bevredig niks as sodanig nie.

En toe het hy, lees ons in Prediker 2:17, die lewe gehaat. Want, het hy ingesien, aan harde werk en 'n gejaag na nog meer kom daar nie 'n einde nie. En wat meer is, alles loop eintlik maar net uit op een vraag: vir wie sloof ek my af?

Voel ons nie ook soms so nie, broers en susters? Waar ons voel dat dit eintlik ons is wat besig is om met Sisifus se klip te stoei. Want elke oggend lê die klip aan die voet van dieselfde heuwel. Ons moet terug na dieselfde kantoor/werkswinkel/werkplek, die sakboekie is maar soos altyd oorvol opdragte. Daarom, laat ons maar vroeg opstaan, haastig eet en aantrek, dat ons die dag so gou as moontlik kan begin. Om maar net deur alles te haas en die aand jou kop op die kussing te kan lê.

En miskien, as daar krag oor is, vir jouself te vra: maar is alles die moeite werd? Was wat ek vandag gedoen het die moeite werd? En bo alles, vir wie sloof ek my af?

Gelukkig, sê die prediker, is daar egter ook 'n ander uitkyk op die lewe, 'n moeite-werd lewe. Hierdie moeite-werd lewe, sê die prediker, vind jy nie in dit wat jy in jou vuis kan vashou nie of probeer toevou nie, maar daar waar jy begin leef uit die oop hand van God. `Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit 'n gawe uit die hand van God is. Wie kan eet, wie kan geniet as God dit nie moontlik maak nie?' (Pred 2:24-25).

En in Prediker 5:8 sê hy: `God gee aan 'n mens rykdom en besittings en laat hom dit geniet, ook dit is 'n gawe van God'. So, broers en susters, wil die prediker ons, in die alledaagse lewe met al sy spanninge en bekommernisse en moontlikhede laat lewe voor God, uit God, saam met God, en vir God. Dat ons Sondae ons arms rustig kan vou, en Maandae die moue met afwagting kan oprol. Want Hy maak dit alles moontlik, en daarom is alles nie tevergeefs nie.

Dit bring ons dan ook by ons tweede gedeelte, 1 Korintiërs 15. 1 Korintiërs 15, broers en susters, staan bekend as die opstandingshoofstuk in die Bybel, 'n hoofstuk waarin Paulus die dwaalleer bestry dat Christus sogenaamd nie opgestaan het nie, roem dat Christus die angel van die dood oorwin het, en met vreugde verkondig dat ons sal leef omdat Christus leef.

En nou sou 'n mens verwag dat Paulus hierdie hoofstuk sou afsluit deur te praat, of ten minste iets te sê, oor die hemel. Want dit is tog die vrug van die opstanding. Maar Paulus doen dit nie, broers en susters. Inteendeel. Hy eindig die hoofstuk deur van iets te praat wat vir ons so totaal ander is as die hemel is, naamlik werk. Hoekom? Omdat Christus leef, omdat Hy opgestaan het, omdat daar aan sy koninkryk geen einde sal wees nie, omdat die toekoms nou God se toekoms is, daarom is ons werk nie tevergeefs nie.

Want ook Jesus het op 'n keer teen 'n heuwel uitgestrompel. Nie met 'n klip voor Hom nie, maar met 'n kruis op sy skouer. Nie omdat Hy deur die gode gestraf is nie, maar omdat Hy ons straf op Hom geneem het. En het Hy nie by die toppunt van die heuwel omgedraai nie, nee, Hy het dit bereik, en nie sy kruis verloor nie, maar sy liggaam, daar het Hy sy liggaam uit eie wil weggegee, en ons so van alle sinloosheid bevry.

Want wat het ons nie alles in Christus nie, broers en susters? Hy het ons met God versoen, in Hom het ons die ewige lewe, in Hom besit ons die vrede wat alle verstand te bowe gaan. En so gee Hy ons dagtaak, ons werk, ook ons werk in die gemeente doel en bestemming. So word ons arbeid ten diepste diens aan God. Ons werk nie maar net vir die spyse wat vergaan, of op neutrale terrein waar God nie teenwoordig is (omdat dit nie 'n Sondag is nie).

Ons som op: Die roeping om God te dien gaan alle ander take vooraf, maar vul ook elke taak met betekenis. Ook moet ons onthou: om te werk is nie maar net 'n lewensfunksie nie, dit is 'n opdrag van God. Wat ons hand vind om te doen moet ons dus met alle mag doen. Die Bybel het in elk geval nie 'n goeie woord vir die luiaard nie.

Maar dan moet ons onthou dat ons werk nie alles is nie. Dit bied ook nie alles nie. Dit is, en kan nooit, 'n doel op sigself wees nie. Ook mag ons nooit ons arbeid van God losmaak nie.

Want wie so in sy/haar werk opgaan, sal ook is sy/haar werk ondergaan.

Ja, vir wie sy/haar arbeid alles is, vir hom/haar sal die werkplek 'n afsloofplek wees. Maar wie God in die eerste plek, in alles en voor alles dien, vir hom/haar sal die werkplek die koninkryk van God wees.
Amen