Johannes 12:1-8

Wat is jou plek in God se orkes?

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Ons almal weet dat 'n simfonie-orkes uit 'n hele aantal musiekinstrumente bestaan. Daar is fluite, trompette, dromme, viole, noem maar op. Fluite en trompette klink verskillend.'n Fluit en viool se geluidis sag, maar die van die trompet skel amper. Verder, broers en susters, is dit ook so dat as jy die fluit vra om sy deel van 'n musiekstuk te speel, dit amper nie soos musiek klink nie. Veral die drom. Die drom, op sy eie, sy deel van die musiekstuk, is niks anders as 'n eentonige aanduiding van ritme nie. Maar sit almal saam, die fluit. die trompet, die viool, saam met die ritme van die drom, en jy hoor prag­tige musiek, juis omdat elkeen van die musiekinstrumente mekaar aanvul en ondersteun. Of anders gesê:die verskil­lende instrumente het mekaar nodig. Sonder die een is die ander dikwels niks anders as geraas nie, maar saam is dit wonderlike musiek.

Presies so, broers en susters, is dit in die kerk, en meer besonder, in elke gemeente van die kerk regoor die wêreld. Ons almal het mekaar nodig. Juis omdat ons almal nie dieselfde musiekinstrument bespeel nie. Sommige gelowiges is bekwaam om te lei, ander weer is bestendig om te volg. Party makeer die pas, ander weer wil graag die orkes lei. Sommiges is sag, ander weer is hard. Party wil graag luister, ander weer wil ander aanwakker. Maar dit feit is: elkeen van ons het 'n plek, elkeen het sy funksie.

Om dit van toepassing op ons gedeelte van vanoggend te maak, sou 'n mens kon sê: party wil 'n drom wees, die pas aangee, soos Marta in ons gedeelte van vanoggend. Ander weer, soos Maria wil die fluit sag speel, tot ondersteuning van ander, en ander weer, soos Lasarus, wil met die skel van die trompet hard en duidelik verkondig.

Kom ons kyk na hierdie verhaal. Maria, Marta en Lasarus was vir Jesus soos familie. Nadat Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het (dit lees ons in net die vorige hoof­stuk), het hulle besluit om vir Jesus 'n ete te gee.

En interessant is die wyse waarop hulle Jesus by hierdie geleentheid wil eer: hulle het nie gestry oor die beste sitplek die naaste aan Jesus nie. Hulle het mekaar nie hulle vermoëns beny nie. Nee, al drie het saamgewerk met net een doel voor oë: om Jesus te eer.

Maar ook: elkeen het op sy manier bygedra tot die sukses van die maaltyd. Marta, sy was (by wyse van spreke) die drom, sy het die pas aan gegee. Maria het sag aanbid (soos die fluit), en met die duur nardusolie het sy die hele huis met 'n heerlike geur gevul. En Lasarus het 'n verhaal gehad om te vertel, hy was reg om te verkondig, soos met die geskal van 'n trompet, om uit te basuin wat die Here vir hom gedoen het. Dus: drie mense, elk met 'n ander vermoë en vaardigheid. Elkeen ewe veel werd.

Elke gemeente, broers en susters, het Martas nodig. Hulle wat bereid is om met opgerolde moue die pas aan te gee, leiding te gee en ander aan die werk te sit. Hulle is die flukse hasies wat net aangaan en aangaan. Hulle gaar krag op soos 'n kameel water. Dikwels soek hulle ook nie die kalklig nie, leef hulle nie vir applous nie. Maar danksy hulle klop die gemeente se begroting, is daar altyd raad en leiding, en loop alles gewoonlik klopdisselboom. Ook waardeer 'n mens gewoonlik ook eers die Martas wanneer hulle nie meer daar is nie, want as hulle ewe skielik weg is, hardloop al die Marias en Lasarusse rond op soek na sleutels, skakelaars en oorhoofseprojektors.

Daar is egter ook 'n hele aantal Marias in elke gemeente. Hulle is die wat aanbid, wat ook vir ander bid. Hulle is die met die sagte harte wat stilweg die ander aan die Here opdra. Wat eerste raaksien as daar 'n traan in iemand se oog is, wat eerste raaksien dat lyftaal van ander iets sê van moedeloosheid en swaarkry. En omdat hulle naby aan die Here leef, soos Maria hier naby aan Jesus se voete gesit het, is hulle stil, maar hulle kragtige getuienis lewe is 'n voorbeeld wat ander oproep tot toewyding en ook voorbidding vir ander.

Dan is daar ook Lasarusse in elke gemeente. Hulle wat, soos die trompet, met hulle hele lewe uitskal dat Christus deur sy Gees hulle lewensnuut gemaak het, en dat hulle nie anders kan as om dit aan ander te vertel nie. Soos Lasarus in ons vertelling vanoggend. Eintlik het hy by die ete self niks gedoen nie, maar die feit dat hy dood was, en weer lewe, het gemaak dat selfs die vyande van Jesus gekom het om hierdie lewende getuienis van God se almag te sien. As gevolg van sy lewe, en wat God aan hom gedoen het, vertel Johannes ons, het baie Jode in Jesus begin glo. En ek glo, broers en susters, dat as hulle Lasarus sou vra om te vertel wat God aan hom gedoen het, hy uiteraard 'n stewige storie sou gehad het om te vertel.

As God u geroep het om 'n Marta te wees, broers en susters, dien dan!. Herinner die res van ons dan dat iemand die pas moet aangee, dat iemand die werk moet doen, dat baie wag op leiding om self te begin werk. En wees maar soos die besige mier, ons ander sien dit raak, en sê baie dankie daarvoor.

En u wat voel dat u uself tuis vind in die skoene van Maria, aanbid gerus, en bid gerus vir ons ander wat dit so nodig het. Herinner ons ook daaraan dat kinders van God nie besig hoef te wees om heilig te wees nie. En dra gerus al ons ander aan die Here op dat Hy, deur sy Gees, ons nie alleen sal wys waar en hoe Hy ons wil gebruik nie, maar ook dat Hy ons so sal toerus dat ons sal kan doen wat Hy van ons verwag.

En as God u geroep het om 'n Lasarus te wees, getuig dan! Herinner die res van ons daaraan dat elke kind van God sommer 'n hele paar verhale het om te vertel. Om te vertel van God se goedheid, van sy liefde, van sy genade en van sy Seun se redding, wat deel van ons almal se lewens geword het. Dat ook ons dood was vir God maar weer opgewek is.

Elkeen van ons, broers en susters, of ons nou 'n Marta, Maria of Lasarus is (of wie ook al, want ons sou nog baie ander voorbeelde uit die Bybel kon kry met ander eienskappe en gawes wat God ook nodig het), is nodig. En het 'n plek aan God se tafel.

Behalwe een. Want daar was een by Marta se huis wat nie sy plek aan die tafel gevind het nie. En hoewel hy die een was wat seker die langste van al die ander aan Jesus se tafel was, was hy die verste van Jesus af in die geloof. Sy naam was Judas. Hy was 'n dief. Daarom het hy, toe Maria die olie uitgiet, homself baie vroom gehou.

Kan ons nie liewer hierdie duur olie verkoop en die geld vir die armes gee nie, was sy vraag. Maar nie sy bedoeling nie. Eintlik wou hy maar net die beursie voller kry, sodat hy sy vingers dieper daarin kon steek.

'n Tragiese einde vir so mooi verhaal, sou 'n mens dadelik sê. Maar ongelukkig so realisties en so waar. Want in elke gemeente is daar Martas wat tyd afstaan om te dien, Marias wat tyd afstaan om te aanbid, en Lasarusse wat tyd afstaan om te getuig. Maar daar is ook Judasse wat net vat en vat en nooit iets in ruil gee nie.

Wat meer is, selfs Martas, Marias en Lasarusse is soms Judasse. Want wat maak Judasse, broers en susters? Dit is hulle wat altyd besig is om ander se gawes te kritiseer, terwyl hulleself selde ooit iets van hulle eie gawes aanbied. Dit is hulle wat meen dat die kerk net daar is om voordeel uit te trek. Dit is hulle wat maklik antwoord en sê: maar natuurlik is God die belangrikste in my lewe, niks is belangriker nie. Maar as dit kom by die uitdeel van hulle tyd, dan moet God maar heel laaste in die ry staan?

Wie sien u wanneer u in die spieël van Johannes 12 kyk, broers en susters? Kom ek sê wie ek sien wanneer ek self in die spieël kyk: ek sien 'n Marta, maar 'n Marta wat dikwels meer kan doen; ek sien 'n Maria, maar 'n Maria wat dikwels meer 'n oog vir ander kan hê, wat dikwels meer vir ander kan bid; ek sien 'n Lasarus wat meestal met oortuiging getuig, maar ook nie altyd nie.

En helaas, ek sien ook 'n Judas. Iemand wat soms te maklik kritiseer, te maklik net wil ontvang sonder om ook te wil gee, te maklik wil hê die Here moet maar net sorg en vergewe, sonder om self te probeer om meer nougeset te lewe.

Wat sien u, my broer en suster, wanneer u in hierdie spieël kyk?

Amen