Johannes 13:1-17

Wat sal die kerk red?

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Wanneer ‘n mens so ‘n bietjie jou gedagtes laat gaan oor die tye waarin ons leef, is dit nie baie moeilik om negatief en mismoedig te word nie. Met voorbeelde gaan ek u nie eers vanoggend verveel nie. Belangriker is die vraag: wat hou die toekoms vir ons almal in? Gaan ons dit maak? Gaan alles beter word, of slegter? Gaan ons kinders dit maak? En hulle kinders?

Dieselfde vrae, broers en susters, kan (en moet) ook ten opsigte van die kerk gevra word. Gaan die kerk dit maak? Sal die kerk van Christus altyd hier wees? Vrae wat ‘n mens moet vra, broers en susters, wanneer die getalle van die kerk begin krimp. Die syfers is daar. En die wat nog op die spreekwoordelike boeke van die kerk is, kom al minder kerk toe. Wat meer is, soveel waardes waarvoor die kerk staan en wat die kerk meen belangrik is, word in die samelewing nie meer as belangrik beskou nie. Selfs kerklidmate bely in die erediens eending, maar gaan leef daar buite openlik ‘n ander lewe. Sonder om daaroor sleg te voel. Want die kerk is outyds, sy waardes is outyds, hoor ons veral by die jonger mense.

Daar steek dalk ‘n bietjie waarheid in hierdie oortuiging, broers ensusters, want tye verander en selfs die kerk moet, waar nodig, aanpas. En dalk pas die kerk soms te stadig aan. Dit is miskien waar, miskien nie. Maar selfs dit, broers en susters, is nie so belangrik nie. Die kerk gaan nie oorleef net omdat die kerk tydig aanpas by om­standighede wanneer dit nodig word en geregverdig kan word nie. Nee, die kerk sal oorleef in hierdie wêreld, selfs groei, om net een ander rede. En aan hierdie rede wil ek vanoggend aandag gee in die res van die verkondi­ging.

Ek wil begin, broers en susters, deur u terug te neem na so 200-300 n C, na ‘n gebeure wat homself een oggend afgespeel het in die Roomse Kerk van daardie tyd. Die Roomse Kerk, broers en susters, het in die verlede die gebruik gehad om tydens hulle Nagmaalsdiens ‘n voetwassingseremonie te hou voor die gebruik van die nagmaal. Die priester wat die diens gelei het, het dan voor in die kerk gaan staan met ‘n afdroogdoekie oor die skouer en skotteltjie water in die hand, en soos die lidmate by hom verbybeweeg het, het hy hulle voetegewas. Alles het normaal verloop, totdat een lidmaat met sy sokkies aan voor die priester kom staan het. En voordat die priester iets kon sê, het die persoon gefluister (en nie as ‘n grap bedoel nie): Vader, my sokkies is ook vuil, u moet hulle ook was.

Die priester het besluit dat dit nie nou die geleentheid was om met die persoon te verskil nie, en daarom maar die voete so met sokkies aan so goed as moontlik te probeer was. Om tot sy verbasing te sien dat, nadat die persoon se voete gewas is, hy die kerk verlaat het.

Na die diens het die priester hom gaan opsoek, waar hy hom in sy kamer op sy bed gevind het, met nat sokkies en al, aan die huil. En toe die priester vra wat dan fout is, het die man snikkend geantwoord: Vader, ek was nog altyd bang vir die water van die voetwassing, omdat ek bang is vir die genade van God, ja, eintlik bang is vir God self. Ek wou nog nooit die Here te naby aan my lyf toelaat nie. Ek wil nie hê dat die Here te naby aan my kom nie, net nie in my hart nie. Daarom het ek gedink my sokkies sou die water van my lyf weghou —maar dit het nie. Dit het aan my geraak, en toe dit gebeur het ek besef: God vergewe my ook! Ek kan nie vir Hom wegkruip nie. Ek kan Hom nie van my lyf weghou nie, al wil ek!

Hierdie vertelling, broers en susters, kon homself net sowel in die jaar 2001 afgespeel het. Want almal van ons, broers en susters, het soms maar dieselfde neiging soos hierdie man, dieselfde ingeboude meganisme, om die Here van ons lyf af weg te hou. Ook ons keer en weer God soms in ons lewens weg. Ons het verskonings om nie werklik met oorgawe gehoorsaam te leef nie, ons het soveel redes om nie werklik ons lewens in die hande van God te laat nie, ja, ons trek soms ook sokkies aan.

Trouens, broers en susters, is dit presies wat die wêreld vandag van sy inwoners verwag: bly in beheer, reguleer, regeer. Behou jou greep op dinge. Moet niemand te naby aan jou lyf toelaat nie. Die wêreld is nie ‘n plek vir ontblote, breekbare en gebroke mense nie. Jy het niemand nodig nie. Jy is ‘n eiland. Onafhanklik. Sterk. ‘n Onkraakbare rots. Jy laat nie sommer enigeen jou voete was nie —om nie eers te praat van die moontlikheid om ander se voete te was nie.

Ons is egter nie die eerstes wat so dink nie, broers en susters. Petrus se vraag en Johannes 13:6 (Here, gaan U my voete was?) en sy stelling in Johannes 13:8 (U sal in alle ewigheid my voete nie was nie!) is so tipies menslik. Dit spreek oënskynlik van groot respek en eerbied. Ook vind Petrus nie fout met die gedagte van voetwassing nie. Dit was immers ‘n algemene gebruik van daardie tyd. Mense het met sandale op stowwerige paaie gereis, en daarom met stowwerige voete oor deurdrumpels getree. Enige goeie gasheer sou daarom reëlings tref vir ‘n voetwassing. Maar ‘n slaaf moes dit doen, ‘n heidense slaaf, die laagste klas denkbaar.

En juis dit was Petrus se probleem. Die Here, die Een wat mag getoon het oor siekte, duiwels en die dood, die Een wat die natuur beheers het, die Een wie toegejuig is as die Seun van Dawid toe Hy Jerusalem binnegekom het, hoe kan Hy sy voete wil was? Dit werk mos nie so nie. Dit is mos ‘n kneg se werk, die werk van ‘n slaaf, die werk van ‘n mindere. Daarom, broers en susters, wou Petrus nie hê dat die Here sy voete moes was nie.

Waar het Petrus se probleem gelê, broers en susters? Presies waar ons probleem soms lê. Ons het nog nie verstaan wat die werklike grondreël van die Christelike evangelie is nie: Die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys te gee vir baie mense (Mark 10:45). Die Een wat koning was, het dienskneg geword. Die een wat koning was, het kneg geword.

Soos ‘n goue draad, broers en susters, loop hierdie teenstelling deur Johannes 13. Nie minder nie as elf keer word Jesus hier aangespreek as óf Here (Kurios,‘n magsnaam), óf as Leermeester (‘n naam wat gegee is aan iemand wat ‘n hoë aansien in die lewe gehad het), óf as Seun van die Mens (‘n benaming – ontleen uit die Ou Testament - wat op Jesus se ewige heerskappy dui). En wat doen hierdie Here, hierdie Leermeester, hierdie Seun van die Mens in Johannes 13? Hy sit daar met ‘n skottel in die een hand en ‘n afdrooglap in die ander soos ‘n kneg. Ek het gekom om te dien, sê alles waarmee Hy daar besig is.

Is dit nie, broers en susters, die rede hoekom ons so dikwels probeer om die Here van ons lyf af weg te hou nie? Omdat ons weet: as hierdie Here, hierdie Leermeester, hierdie Seun van die Mens, naby aan ons kom, so naby dat Hy ons voete was, ons sonde vergewe, ons nuwe mensemaak, ons sy genade skenk, ons dit alleen kan aanvaar as ons Hom ook as kneg wil aanvaar.

Anders gesê: ons weet mos, broers en susters, ons is mos nie dom nie, ons ken mos hierdie dinge, ons ken mos die evangelie: as ons genade aanvaar, verwag God van ons om dit ook te gee, as onsliefde/vergifnis aanvaar, verwag God dat ons dit ook sal uitdeel. Kort gesê: wie deur die Here verhef word tot (sy) kind, moet ook bereid wees om kneg te word.

Daar is net een Here wat kneg is, die kneg wat Here is. Net Hy kan ons bevry tot ware diens aan God en ons medemens. Want dit is wat die kerk is, dit is wie ek en u is: mense wie se voete gewas is, sodat ons ander se voete kan was. ‘n Gesindheid wat God vra, broers en susters, wat nie maar net opsioneel is nie: Vers 14 sê dit amper te duidelik: As Ek, wat julle Here en Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen!

Hier, broers en susters, lê die toets vir die kerk in die toekoms, hier lê ons ons vinger op die saak wat gaan bepaal of die kerk gaan oorleef of nie. Of die kerk nog geglo gaan word of nie, of die kerk nog respek gaan afdwing of nie. Dit is die vraag waarby alles gaan staan of val: kan ons nog kniel? Voor God. Sonder sokkies? Omdat ons God teen ons lyf wil hê? Ook voor ons medemens? Ook voor die met vuil voete?

Die vraag, broers en susters, is nie allereers hoe indrukwekkend ons organisasie, hoe funksioneel ons strukture, hoe fyn geformuleer ons geloofsbelydenisse of hoe ‘Hervormd’ ons eredienste is nie (niedat hierdie sake nie belangrik is nie). Nee, die vraag waarby ons gaan staan of val, ook in hierdie gemeente, is uit Johannes 13 baie eenvoudig: kan ons nog kniel? Voor God en medemens?

Ek sluit af: Natuurlik hou Christus self sy kerk in stand. Maar ons kan nie net maar dit bely of sê en as verskoning gebruik en daarom niks doen nie. Om net aan hierdie oortuiging vas te hou sal maak dat ons die bus totaal verpas.

Nee. Ons moet ook werk. Ons moet ook dien. Ons moet ook kan kniel. Met die waskom in die hand. Maar so dikwels wil ons nie. Hoekom nie? Want ons weer die Here uit ons lewe. Hy mag naby kom, maar net nie te naby nie. Want as Hy te naby aan my kom, sal ek dalk ook moet begin dien en kniel.

Die ironie van alles, broers en susters, is egter dat niemand van ons,j uis omdat ons uit eie krag tot niks in staat is nie, nie sal kan kniel en dien as die Here totaal van ons lewens beheer geneem het nie. Ons totaal nuut gemaak het nie.

En die Here, broers en susters, wil dit doen. Hy wil ons nie net hoorders van die Woord maak nie, maar ook daders, doeners, dieners —voetwassers!

Daarom. Kyk mooi. Daar waar u sit, hier waar ek staan, kniel Iemand nou by u voete! Hy het die kroon van die Here, die Kurios, op sy kop. Maar Hy het ook die kommetjie van die kneg in sy hand.

Ag, as ons ten minste net hier met nat sokkies sal weggaan!

Amen