Genesis 2:5-3:13

Die Christen se verhouding tot die natuur/skepping

Broers en susters in onse Here Jesus Christus
Iemand sou een keer by geleentheid gesê het: Die belangrikste eienskap van die planeet aarde is dat ons nie 'n instruksieboek daarmee saam gekry het nie. En wanneer 'n mens so om jou kyk en die koerante lees, wil dit lyk of dit waar is. Met groot ambisie en sogenaamde geleerdheid, maar sonder 'n instruksieboek, is ons besig om ons planeet te verrinneweer. Die osoonlaag is vol gate, skaars diere- en plantspesies word bedreig, olie besoedel ons kuste, lugbesoedeling is aan die orde van die dag, water word al hoe skaarser, riviere word besoedel, die natuur word verwoes in 'n soektog na minerale, en geweld voer hoogty.

Die vraag wat egter by my leef, broers en susters, is of ons regtig sonder 'n instruksieboek op hierdie aarde is (om dit nou maar vir 'n oomblik so te noem), en of ons nie maar net die een wat ons het, ignoreer nie? Ek meen dat ons, indien ons Genesis 2 en 3 toelaat om op eie houtjie te praat, sonder om dit nou weer te onderwerp aan die insigte/teorie van die biologie, natuurkunde en die sogenaamde `big bang-teorie' van hoe die aarde ontstaan het, dit wil sê, Genesis 2 en 3 as 'n eenvoudige geloofsdokument laat spreek — dit wat dit in elk geval wil wees — ons wel 'n instruksieboek het van hoe God wil hê ons sy aarde moet bestuur.

Kom ons gaan daarom, broers en susters, met alle respek teenoor God, maar in eenvoudige taal, en ons vertel die verhaal in Genesis 2 en 3 oor om te probeer agterkom wat God se bedoeling met hierdie aarde aan die begin was toe hy dit geskep het. Uit so 'n oorvertel, meen ek, sal ons dan ook kan agterkom hoe God wil hê ons teenoor nie alleen Homself nie, maar ook sy skepping moet leef.

God het pas die aarde klaar gemaak, maar van lewe is daar nog geen teken nie. Nie 'n boom of 'n dier of eers 'n grasspriet nie. Niks. Net 'n  barre aarde, waaroor daar 'n nat miswaas hang. En God sit en kyk na die aarde. Hy wil lewe daarop bring, maar waar sal Hy begin?

En na 'n rukkie van denke sê God: nou weet ek. Ek sal eers iemand maak om die aarde te versorg voor Ek lewe self gaan skep. Toe daal God vinnig op die aarde neer. Hy neem van die grond van die barre aarde, meng dit met die vog van die mis, en maak 'n kleibeeldjie. Versigtig maak hy dit met sy eie hande: oë, neus, mond, arms, bene, niere, hart (noem maar op), en toe God tevrede was, blaas Hy saggies van sy asem by die beeldjie se neusgate in...en Adam begin leef!

En nou sê God vir Homself: Hierdie man wat Ek gemaak het, sal die lewe wat Ek gaan skep, oppas. En toe gaan God en Hy maak die pragtigste tuin: veldbome en tuinbome, struike en plante, waterstrome, gras en blomme. En toe sit Hy vir Adam daarin neer.

En toe sê God vir Adam: Kyk mooi na hierdie tuin, en bewaak dit namens my.

Maar dan kom daar 'n frons tussen Adam se oë. Bewaak, het God gesê? Waarteen dan, wonder hy. En soos Adam deur die tuin begin loop, kom hy op twee bome af wat digby bymekaar staan. Die Boom van die Lewe was vir hom baie mooi, maar die Boom van Kennis was nog mooier, selfs betowerend. En terwyl Adam daar staan, sê God vir hom: pasop vir die Boom van Kennis, want as jy van sy vrugte eet, sal jy sekerlik sterf!

Toe verstaan Adam ewe skielik waarteen hy die tuin moet beskerm. Hy moet die tuin teen die Dood beskerm en bewaak. Want indien hy van die Boom van Kennis sou eet, en hy sterf, is die bewaker van die tuin daarmee heen. Dus, die Dood was implisiet in die tuin teenwoordig, in die vrugte van die Boom van Kennis.

En soos Adam verder deur die tuin stap, al met die riviere langs, sien hy goud en edelgesteentes tussen die bome skitter. Alles is werklik baie pragtig. Maar tog is daar 'n probleem. Alles is vir hom te stil. En hy is baie alleen.

En toe sê God vir Homself: Ek sien dat die mens wat Ek gemaak het, baie alleen is. Daarom sal Ek vir hom 'n maat maak wat sy vriend kan wees en wat baie goed by hom sal pas.

Maar voor God vir Adam sy maat maak, besluit God om eers om die tuin met ander lewende wesens te vul. En soos God 'n groot klomp diere en voëls maak, sit Hy hulle een vir een langs Adam neer. En wonder God seker ook: wat gaan hy al hierdie diere noem?

En Adam is amper buite homself van vreugde. Hy is nie meer alleen nie. Hier is nou lewe wat beweeg! En hy kyk na die eerste dier wat na hom toe aangestap kom, en gee dit 'n sekere naam. En vir die volgende 'n ander en vir die volgende weer 'n ander. En Adam is baie ingenome met die diere rondom hom. Wanneer hy hulle name uitroep, hoor hulle hom nie alleen nie, hulle kom eet selfs uit sy hand. Maar iets pla Adam nog steeds. Hy was nou nie meer alleen nie, maar tog was hy nog eensaam.

En toe Adam een nag aan die slaap raak, kom God, neem een van sy ribbebene, en maak vir Adam 'n maat wat sy vriend kan wees en wat baie goed by hom kan pas. En toe Adam die volgende oggend wakker word, sien hy dat iemand, net soos hy, saam met hom in die tuin is. Terwyl hy dadelik besef dat sy nie soos hy lyk en is nie, voel hy ook dat, waar daar 'n been in sy liggaam was, daar nou net 'n sagte plekkie is. En Adam doen dan twee dinge: omdat sy nie soos hy lyk nie, noem hy haar `vrou', en vreugde begin hy te sing:

Sowaar, been van my been,
Vleis van my vleis,
Vrou is jou naam,
ons twee is soos een!

Natuurlik is hulle ook kaal, maar dit pla hulle nie, want hulle is nie skaam vir mekaar nie.

Die volgende aand, terwyl Adam na die diere gaan kyk en kyk of alles andersins reg is, stap sy vrou deur die mooi tuin. En ook sy kom af op die Boom van Kennis. En daar tussen sy takke sien sy 'n dier sit wat Adam die naam `slang' gegee het. En die slang sê vir die vrou: Ek wonder darem: sal 'n mens regtig sterf as jy van hierdie pragtige vrugte eet? Hoekom is die boom se naam dan `Kennis'? Vir al wat jy weet lê die geheim om self God te kan wees in hierdie vrugte opgesluit. Miskien is God so 'n bietjie jaloers op die kennis wat in hierdie vrugte sit. Hoekom wil Hy dit nie met julle deel nie?

Wanneer sy dan weer vir Adam sien, vertel sy vir hom wat die slang reken die geheim van die Kennisboom is. As ons daarvan eet, sê sy, kan ons soos God word. En Adam begin wonder of die slang nie dalk reg is nie, want hy het al gesien die slang is besonder slim, eintlik slimmer as al die diere wat in die tuin is. En toe pluk hulle van die vrugte en hulle eet, die man en die vrou.

Maar die oomblik toe hulle van die vrugte eet, verander alles. Heel eerste sien hulle hoe verskillend hulle werklik is. En waar hulle die oggend nog laggend hand aan hand in die tuin geloop het, word hulle nou van 'n onbeskryflike skaamte bewus. En elkeen pluk 'n blaar om sy skaamte te bedek.

En terwyl hulle nog so staan, hoor hulle dat God na hulle roep: `Man, vrou, waar is julle?'

En toe kruip hulle weg. Waar hulle die vorige dae nie kom wag vir God se besoeke hier teen die aand nie, is hulle nou nie net skaam vir mekaar nie, maar ook bang vir God.

Maar God eis van hulle dat die storie moet uit: hulle het van die Kennisboom se vrugte geëet. En daarom is hulle skaam vir mekaar en bang vir God. Maar daar hou dit nie op nie. Dit is hierdie ellendige vrou wat U my gegee het wat alles begin het, sê Adam. So probeer hy hom, heel vererg teenoor sy vrou, voor God verontskuldig. En die vrou sê: Dit is nie ek nie, dit is die slang wat alles begin het.

En nou sien ons, broers en susters, is daar geen keer meer aan die gevolge van Adam en Eva se daad nie. Slang, wat eers hulle slim vriend was en leier van die diere, word nou hulle sluwe vyand wat in voetpaadjies lê om mense aan die hakskeen te pik, terwyl mense voortdurend op die uitkyk is om die slang se kop in te slaan. So kom geweld in die lewe in. En waar die man en vrou om hulle kyk, sien hulle orals dorings en distels opslaan: die tuin is besig om te vervuil. Niks is meer soos dit was nie. Waar vriendskap was is nou haat en agterdog. Waar liefde was, kom nou verwyt. Waar eetbare vrugte was, kom nou onkruid.

En dan sit God hulle uit die tuin en stel gerubs aan met vurige swaarde by die hek van die tuin om te keer dat hulle nie terugkom om ook nog van die Lewensboom te kom eet nie.

Die interessante van hierdie verhaal, broers en susters, en dit is ook 'n vraag wat baie mense dikwels vra, is dat Adam en Eva toe tog nie gesterf het soos God belowe het sou gebeur indien hulle van die Kennisboom eet nie. Die feit is egter, broers en susters, dat hulle wel gesterf het. Ja, hulle het wel nog asemgehaal en hulle harte het wel nog geklop, maar eintlik was hulle dood.

Want die hele lewenssisteem wat God vir hulle gegee het om in te lewe, was verwoes. Hulle was afgesny van God, verwyder en skaam vir mekaar, vyande van die diere, en die natuur het teen hulle gedraai. Waar daar groot vrede was, tussen mekaar, met God en die natuur, was daar nou net onvrede.

Dit is wat gebeur, broers en susters, wanneer die mens God wil word. Wanneer die mens self die God van die skepping wil word. Ons begin om te manipuleer. Ons manipuleer mense, die aarde, grondstowwe. Geweld kom na vore. Want ons wil nie meer op die plek staan waar God ons geplaas het in die skepping nie, dit wil sê, as versorgers van sy skepping.

Die ironie is egter, broers en susters, dat die mens nooit God kan wees nie. Net God kan by Homself bestaan. Maar nie die mens nie. En om sinvol te bestaan, sien ons maar te duidelik uit Genesis 2 en 3, het die mens ander mense nodig. Net so het die mens die diere nodig, en die aarde, en die plante, veral om te eet en te kan lewe.

Maar mense wat nie meer die versorgers wil wees wat God hulle gemaak het nie, sê Genesis 2 en 3 egter, is dood. Ja, hulle lewe nog, maar as hulle as versorgers sterf, dan sterf alles rondom hulle. Want niemand is meer daar om die tuin te bewaak nie.

Daarom, broers en susters, en hiermee sluit ek af: Elke keer wanneer die mens hom nie steur aan die instruksieboek van hierdie aarde nie, elke keer wat die mens ophou om versorger en bewaker te wees, elke keer as die mens sy rug draai op die plante en die diere, elke keer wat die mens sy rug draai op die ander mens in nood — so asof hy nie hulle versorger is nie en maak of hy sonder hulle kan klaarkom — eet die mens weer en weer van die Boom van die Dood. Want in God se huishouding is die deursny van een band — sy dit met God se plante, sy diere, of met jou medemens of met God — 'n keuse vir die dood en teen die lewe. Want wie nie meer bewaker/versorger wil wees nie, is niks meer nie.

Die vraag is dus, broers en susters, om weer by die begin van vanoggend se verkondiging aan te sluit, of dit regtig onverklaarbaar is waar die fout met die wêreld lê? Is die aarde regtig sonder 'n instruksieboek van hoe dit bestuur moet word? Of wil ons net nie weet wat daarin staan nie? Of wil ons nie meer God se versorgers, van die wêreld en van mekaar, wees nie?
Amen