Genesis 3:17-19; Romeine 8:31-39

Ons werk vanuit die perspektief van die geloof

Inleidende opmerkings
Die kerklike jaar bepaal dat daar ‘n ‘Biddag vir die gesaaides’ en ‘n ‘Dankdag vir die oes’, gehou moet word. Die formulering wek die indruk dat dit eintlik slegs van toepassing is op die landelike gemeenskappe waar mense vanuit landbou ‘n bestaan maak. Dit het daartoe aanleiding gegee dat hierdie bid- en dankdae in die meeste gemeentes in onbruik geraak het. Ek wil die bedoeling van hierdie dae ruimer interpreteer as geleenthede waartydens elke mens sy werk ‘om den brode’ vanuit die perspektief van die geloof sal betrag.

Lees: Genesis 3:17-19 en Romeine 8:31-39
Teksverse vir die prediking

Genesis 3:17 – ‘... die aarde is deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ‘n bestaan maak, jou lewe lank’

Romeine 8:32 – ‘Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom skenk nie?’

As dit die jaar droog is en die boere maak swak oeste, sê hulle gewoonlik dat dit ‘n abnormale jaar was. Wanneer rentekoerse en brandstofpryse styg en daar geen salarisverhogings is nie, wanneer jy begin agterkom dat jy nie meer met jou inkomste jou verpligtinge kan nakom nie, dan is almal van ons: huisvroue, sakemanne, ambagsmanne, professionele mense en salaristrekkers, se gevolgtrekking dieselfde - ons leef in abnormale slegte tye.

In sulke omstandighede hoop en bid ons almal dat omstandighede weer sal normaliseer. Daarmee gee ons eintlik te kenne dat die normale is dat dit goed moet gaan en dat daar voorspoed moet wees. Wanneer ons swaarkry en dit sleg gaan beskou ons dit as die abnormale. Ons almal se versugting is dat tye weer normaal sal word! Die vraag by hierdie geleentheid is of die Woord van God vir ons iets te sê het oor ons werk, ons inkomste en ons lewenstandaard.

Om te werk is deel van ons menswees. Dit is ons skeppingsopdrag en verantwoordelikheid om die aarde te bewoon, te bewerk en oor die skepping te heers. Ons beskou somtyds ons werk as die straf op die sonde, maar die opdrag tot arbeid was reeds voor die sondeval deel van ons roeping om, as beelddraers van God, in gehoorsaamheid aan Hom die aarde te bewoon en te bewerk. Die arbeid van die mens bring vooruitgang, dit skep nuwe ideale, dit gee sin en bevrediging aan ons menswees. Arbeid adel – dit is ons verantwoordelikheid en vreugde!

Wat wel waar is, is dat die sonde van die mens elke sfeer van ons lewe, ook ons werk van elke dag, ingrypend aangetas het. Die gedeelte in Genesis 3 wil ons iets van die implikasies van die sonde laat begryp. Die vertelling is gerig op die leefwêreld van die landbouer, daarom maak die outeur ook gebruik van die taal en beelde wat vir die boer sprekend is. Indien die vertelling gemik sou wees op ‘n vissersgemeenskap, of indien ons dit sou wou toepas op ‘n hoogs industriële gemeenskap sou ons vanselfsprekend ander beelde moet gebruik om dieselfde te sê. Die outeur wil dit duidelik maak dat die sondeval só ingrypend is dat dit die mens in sy ganse bestaan negatief beïnvloed – dit het selfs gevolge vir die skepping en die natuur waarbinne en waaruit die mens moet leef. Die skadu van die sonde val oor ons hele lewe.

In díe tyd was die rolverdeling van man en vrou sodanig dat die vrou se taak primêr gesien is as die moeder wat kinders moet voortbring en versorg, terwyl die man die landbouer was. Hulle ongehoorsaamheid teenoor God het konsekwensies vir die vervulling van hulle onderskeie rolle. Vir die vrou sal haar swangerskappe en die voortbring van kinders met pyn en swaarkry gepaard gaan, die man sal met swaarkry en moeite ‘n bestaan maak. Daar sal distels en dorings wees wat sy oes bedreig, daar sal misoeste wees sodat hulle, soos die diere, veldplante sal moet eet.

Die sonde is só ingrypend dat dit die verhouding met God versteur het, maar meer nog ook die verhouding met die skepping en die natuur is geskend. Ook God se skepping is die mens nie meer goedgesind nie, dit sal die mens se werk dwarsboom. Teëspoed en terugslae, distels en dorings, swaarkry en moeite, sweet en pyn sal voortaan die bestaan en werk van die mens kenmerk: ‘... deur jou toedoen is die aarde vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ‘n bestaan maak, jou lewe lank’. Die woorde wat in hierdie uitspraak die hardste tref is die woorde: ‘... deur jou toedoen’. Hierdie toestand van gebrokenheid en swaarkry is net te wyte aan ons eie toedoen. Niemand anders is daarvoor te blameer nie. Die skuld kan ek nie verplaas na die slang, of die vrou, na ander mense, of omstandighede, of na God toe nie – nee, deur jou eie toedoen! My ongehoorsaamheid teenoor God, my eiewilligheid en selfsug, net ekself is daarvoor te blameer!

Ons kla as dit sleg gaan, ons sê dit is abnormaal, ons soek allerlei verklarings vir die abnormale. Die Woord sê nee, dit is nie abnormaal nie. Dit is wat ons te wagte behoort te wees. Dit is die normale. Ons leef in ‘n wêreld wat deur die sonde geskend en gebroke is. Swaarkry, pyn, moeite en teleurstelling is tiperend van die wêreld wat ons deur ons eie toedoen geskep het. Natuurlik is daar nie ‘n een tot een verhouding tussen ons sonde en ons swaarkry nie! Die hoeveelheid swaarkry in my lewe is nie noodwendig die aanduiding van die hoeveelheid sonde nie. Goddank dat dit nie die geval is nie! Ons moet dit anders beskou. Die skaduwee van die sonde van die ganse mensdom val oor die skepping en ons arbeid. Ons lewe in ‘n gebroke en geskende wêreld. Elke terugslag en swaarkry moet ons juis daaraan herinner – dit is die normale, dit is wat ons te wagte moet wees!

En tog gebeur dit nie. Swaarkry en pyn is nie die normale nie, dit is inderdaad die abnormale! Dit is te danke aan die abnormale van God se genade. Teen alle verwagting in is daar ook in ons lewe voorspoed, vooruitgang en vreugde. Dit is die onbegryplike van God se liefde en genade. In Jesus Christus het Hy kom ingryp in ons gebroke wêreld. Dit is waarvan Paulus ons wil oortuig in sy oorwinningslied in Romeine 8. God is vir ons! Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom vir ons almal oorgegee om ons te red. Hy het vir ons gesterf, Hy is opgewek uit die dood, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Niks kan ons van die liefde van God skei nie. Saam met Christus sal Hy ook aan ons al die ander dinge skenk! Die kruis van Jesus Christus het nie net te make met die kerk nie, maar ook met ons werk! Daar waar ons in die week swoeg en sweet, wanneer die moeite en swaarkry vir ons te veel word, is die kruis vir ons die waarborg dat ons mag bid en pleit dat God ook die abnormale van sy genade in ons arbeid sal laat deurbreek, dat Hy saam met Christus aan ons al die ander dinge sal skenk.

Só gesien bring dit by ons ‘n ander gesindheid teenoor ons werk. Ons leef en werk met die wete dat ons nog in ‘n gebroke werklikheid is, swaarkry en moeite is deel daarvan, maar ons weet ook dat ons in ons swaarkry nie alleen is nie. Niks kan ons van God se liefde skei nie! In die Naam van Jesus Christus kan ons pleit dat Hy die abnormale van sy genade sal laat deurbreek en aan ons, saam met Hom, alles sal skenk wat ons nodig het. Wanneer daar voorspoed en sukses in ons werk is moet dit ons met verwondering en dankbaarheid vervul. Dit is abnormaal, dit hoort nie so nie, dit is net te danke aan God se liefde wat aan ons, saam met Christus, al die ander dinge skenk! In hierdie spanning tussen swaarkry en sukses, gebrokenheid en heelheid leef en werk ons, met geloof en oorgawe, met die vaste wete dat die nuwe hemel en die nuwe aarde eendag volledig sal deurbreek.
Amen