Johannes 4:43-54

God se Woord gee lewe

Broers en susters
Die lewe is meer as wat ons daarvan maak, dit is meer as wat ons daarvan dink. As ons dink oor die lewe, dan dink ons gewoonlik dat ons genoeg moet hê om te eet en te drink, ons moet kan sien en ons moet kan hoor. Ons self kan nie vir ons die lewe maak, of ‘n lewe verseker nie deurdat ons soveel as moontlik goed wat ons nodig het bymekaarmaak nie. Baie besittings verseker nie vir my ‘n lang lewe nie. In die lewe lê daar iets dieper.

Ons probeer op so baie maniere sin en betekenis aan ons lewens gee. Hier rondom ons soek ons die dinge wat vir ons sin gee aan die lewe. Ons soek die dinge wat sal verseker dat vreugde nie sal ontbreek in ons lewens nie. Ons is dikwels op soek na oorvloed. Ons soek na die geluk van menswees. Die hartseer is dat ons op die verkeerde manier na al hierdie dinge soek. Die manier waarop ons soek na geluk, na vreugde en na sin, gee dit dalk vir ons, maar dit is van korte duur, dit hou nie, dan begin ons maar weer soek, weer op die verkeerde manier.

‘n Geordende lewe met sekerheid dat ek nie môre of oormôre ‘n tekort gaan hê aan kos of geld nie, dit gee volgens baie mense sin aan die lewe. Om dit wat ek het in oorvloed te hê en dit vir ander te kan wys gee vir sommige mense vreugde in die lewe. Dit is dalk so dat dit kan vreugde gee, dat dit sin en betekenis kan gee – maar slegs vir hierdie lewe.

Die lewe eindig nie die dag wanneer ons aardse lewe tot ‘n einde kom nie. Daarom dat ek gesê het daar is iets dieper in die lewe, die lewe het nog ‘n kant, ‘n ander kant. ‘n Oorvloed aan besittings, elke dag genoeg om te eet en te drink, versekering dat ek nie môre of oormôre ‘n tekort aan iets gaan hê nie, al hierdie dinge, broers en susters, beteken niks vir hierdie ander kant van die lewe nie. En weet u, dit is hierdie ander kant van die lewe wat saak maak, dit is hierdie ander kant van die lewe wat meer weeg as die kant van die lewe wat ons elke dag sien, die kant van die lewe wat baie maal al kant van die lewe is wat ons sien.

Om in die trant van die Johannesevangelie te praat: Die dors na oorvloed van aardse besittings, die dors na versekering om môre en oormôre genoeg te hê, kan maklik geles word, maar daar is ‘n dieper dors. Hierdie dieper dors kan nie geles word deur die manier waarop ons dikwels wil sin gee aan die lewe deur ons besittings en wat ons as mense bereik nie. Hierdie dieper dors lê aan die ander kant van die lewe, die kant wat ons soms miskyk.

Egte lewe, word gebied deur Jesus Christus. Wie die Seun het, wie in Hom glo, het die lewe en sal nie dors of honger word nie.

  • Is dit nie Hy wat vir die Samaritaanse vrou water gee wat haar in alle ewigheid nooit weer sal laat dors kry nie?
  • Is dit nie Hy wat sê dat Hy die brood is wat uit die hemel kom en wat lewe gee nie?
  • Is dit nie Hy wat vir die moordenaar aan die kruis die versekering gegee het dat hy saam met Hom is die paradys sal wees nie?

Gemeente, ‘n man nader vir Jesus persoonlik, omdat hierdie man se kind siek is, eintlik besig is om dood te gaan. Die kind is nie naby Jesus nie, maar Jesus maak hom tog gesond, deur net ‘n woord te spreek. Hierdie man wat na Jesus toe kom spreek hom aan as Here. Deur die feit dat hy vir Jesus as Here aanspreek erken hy die gesag van Jesus.

Die manier waarop Jesus die regeringsamptenaar se kind genees is nie met een of ander wonder ten aanskoue van die omstanders wat hulle van verbasing na hulle asems laat snak nie. Nee, Jesus spreek net ‘n woord. Op dieselfde uur wat Jesus die woorde spreek, word die kind gesond. By die omstanders is daar ‘n groot verwagting dat Jesus iets moet doen, hulle wil ‘n wonder sien. Jesus sê dan ook vir hulle: Ás julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie.” Dan doen Jesus nie ‘n wonder nie, Hy spreek net ‘n woord. Hierdeur wil Hy ook sy dissipels toets, om te sien of hulle ook net sal glo as daar ‘n wonderteken plaasvind. As’ t ware kan ‘n mens sê dat Jesus totaal en al die wind uit die mense rondom Hom se seile neem toe Hy in plaas van ‘n wonderteken net ‘n woord spreek.

Jesus gee vir die amptenaar alleen sy woord, maar dit is ‘n woord van lewe. In Johannes 1 staan daar: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God en die Woord was self God.” Met ander woorde, wanneer Jesus sy woord aan hierdie regeringsamptenaar gee, dan gee Hy Homself. Hy gee die Woord wat vlees geword het en onder mense kom leef het. Jesus Christus, Hy wat òòk God is, het die woorde wat ewige lewe gee.

Nadat Jesus die brood vermeerder het en vir die mense gesê het dat Hy die brood is wat uit die hemel kom, het baie mense van Hom af weggegaan omdat Hy nie vir hulle hier en nou kon gee wat hulle wou hê nie. Dit wat Jesus vir hulle gee is die verlossing van eendag. Daarom draai hulle om en stap weg. Wanneer Jesus dan vir sy dissipels vra of hulle nie ook wil gaan nie, antwoord Petrus met ‘n belydenis: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.” Die Woord het vlees geword, die lewende Woorde is ook die lewegewende Woord.

Die regeringsamptenaar stuur nie sy slawe na Jesus toe nie, hy kom self. Wanneer Jesus die woord spreek en vir die man sê dat sy seun lewe en dat hy maar kan gaan weerspieël die man se gehoorsaamheid sy vertroue in Jesus.

Gemeente, Jesus plaas in hierdie man se gemoed hoop, en stuur hom met ‘n belofte weg, die toekoms in. Wanneer die man sy gesonde kind sien weet hy dat hy die Here van die lewe ontmoet het, weet hy dat Jesus die woorde het wat ewige lewe gee, weet hy dat Jesus die Redder en Verlosser van die mensdom is. Dit wat hier gebeur is niks anders as ‘n daad van God nie. Dit is die bevestiging dat God deur die werk en lewe van Jesus Christus, die gang van die wêreld op ‘n nuwe pad plaas wat lei tot ‘n ewige lewe by God.

Jesus stuur die man met leë hande terug, maar gee tog vir hom iets – woorde wat lewe gee. Hierdie man se vertrou en diep geloof word sigbaar in die feit dat hy nie dit wat Jesus doen bevraagteken en vir Jesus voorskryf hoe Hy sy seun moet gesond maak nie. Al wat hy doen, hy draai om en hy gaan huis toe, want hy glo en vertrou op die woorde van Jesus.

Gemeente, Jesus gee lewe, Hy gee die belofte van die ewige lewe by God. Hy gee dit, want Hy is dit! In Hom is die volheid van die lewe, en dit is nie ‘n belofte wat eers later sal waar word nie, dit is nou reeds so. Het Jesus nie voordat Hy deur sy woorde vir Lasarus die lewe teruggegee het, vir Marta en Maria getroos deur vir hulle te sê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.”

Om te deel in hierdie lewe wat Christus gee, vereis geloof, dit vra van ons om te glo soos wat hierdie regeringsamptenaar geglo het in die woord van Jesus. Om hierdie geloof te aanvaar, of om hierin te glo, beteken om te aanvaar dat Jesus die Seun van God is wat die lewe wat God bied hier vir ons te kom openbaar of te kom ten toon stel. Die wonders wat Jesus doen, toon aan dat Hy die Seun van God is, daarom ook self God. Hier op aarde kom doen Hy die wil en die werke van God. Christus wys met sy lewe en werke op aarde vir ons iets van God. Hy verklaar nie vir God en wys nie vir ons alles van God nie, want vir God sal ons nooit ten volle ken of verstaan solank ons hier op aarde leef nie. Hy wat deur God gestuur is en hierdie amptenaar se kind gesond maak deur ‘n woord te spreek, spreek die woorde van God, en van niemand anders nie. Dit wat Jesus doen, is dit wat God in hierdie wêreld gedoen wil hê, en dit verheerlik vir Jesus as die Heer van die wêreld.

Daarvoor gemeente, het Hy sy lewe afgelê en het Hy opgestaan uit die dood. So verseker Hy ook die hele wêreld, die ganse mensdom, deur sy opstanding, dat die lewe voortgaan ten spyte van die dood wat steeds daar is, wat die einde van ons aardse bestaan aandui.

Die geloof hierin, word versterk in wondertekens in die tyd van die nuwe testament, en ook versterk deur tekens wat Christus vandag vir ons gee, maar dit leef uit die woord van God en van sy beloftes. Daarom het Hy die doop en die nagmaal ingestel om ons voortdurend te herinner aan sy sterwe en opstanding. Hy herinner ons deur hierdie tekens dat Hy Homself gegee het. Daardeur word ons geloof versterk, telkens wanneer die doop en die nagmaal bedien word. Hierdie tekens is tekens van die werklikheid, dit is tekens van God se bemoeienis met die mens, en dit is nie net vir sommiges nie, maar vir almal. Maar hierdie tekens, die doop en die nagmaal, staan nie los van die Woord, en die verkondiging van die Woord nie. Dit gaan hand aan hand.

Broers en susters, Jesus spreek slegs ‘n woord, en op daardie uur word die regeringsamptenaar se kind gesond. Jesus Christus is die Woord, en daarom spreek Hy die Woord. ‘n Woord vol van liefde, genade en waarheid – net soos wat Hy self is. Wie in sy Woord bly en daarin glo, het die woorde wat ewige lewe gee. Ware geloof in Christus berus op sy Woord, dit berus daarop dat ons Hom op sy Woord kan neem, en nie op wondertekens nie. Al het Christus die sakramente van die doop en die nagmaal ingestel as tekens en seëls om ons daardeur aan ons verlossing te herinner en dit vir ons te bevestig, gebeur dit nie sonder die Woord nie.

Vandag kan ons nie meer soos die mense van die Nuwe-Testamentiese tyd vir Jesus hier by ons sien en in lewende lywe sy wondertekens beleef nie. Wat ons vandag het, is sy Woord, die Bybel. Dit is die Woord waarmee Hy ons die wêreld instuur. Uit hierdie woord moet ons gaan leef, moet ons elke dag ons lewens rig en meet. Dis nie sommer enige Woord nie, dit is God se Woord. Geloof is om jou in te laat in die beloftes en versekering wat Christus deur sy woorde vir jou gee.

Die genesing van die amptenaar se seun, is iets waarby die hele huisgesin baat vind. Die woord van Christus wat hierdie seun laat lewe, skep by die res van sy gesin geloof. Kyk net hoe sterk is die woord van God – daardeur skep Hy geloof by mense. Sonder geloof in Jesus Christus, is die toestand van hierdie gesin nie veel anders as dié van die seun nie, want sonder geloof in Jesus sou hulle lewe verseker uitloop op die dood.

Sonder voorwaarde het Christus gesterf vir alle mense, Hy het geen onderskeid getref nie. Daarom bied Hy ook sy woord en die lewe aan vir alle mense – enige een is welkom. Hy gee sy woord vir Nikodemus, Hy gee sy woord vir die Samaritaanse vrou wat in die oë van die Jode ‘n heiden was.

Die lewe wat God deur sy woord gee, is vir elkeen wat glo in Jesus Christus. In Christus, daal God na die aarde toe neer en kom maak Hy Hom aan ons bekend – aan almal, nie net aan sommiges nie. Jesus kom leef in hierdie aardse omstandighede wat begrens word deur die dood. Jesus se wonderwerke en sy woorde is gerig aan mense wat leef in die skaduwee van die dood, mense wat leef in lyding. Maar hierdie mense word getroos deur die woord van God wat die belofte inhou van ‘n ewige lewe aan hulle wat glo. Dit sê Hy tog immers ook in sy woord vir ons.

Broers en susters, die regeringsamptenaar wat by Jesus kom pleit het dat Jesus sy seun sal gesond maak, het nie ‘n sigbare wonderteken gesien nie, maar is teruggestuur met ‘n woord, ‘n woord wat van God kom. Met geloof in hierdie woord en in die God van hierdie woord, verander sy lewe, kry sy lewe die blywende sin, betekenis en vreugde waarna ons so dikwels op soek is, en gaan soek in aardse dinge.

Ons het nie vandag vir Jesus sigbaar by ons om sy wondertekens te sien en beleef soos wat hulle wat saam met Hom op aarde geleef het dit kon sien en beleef nie. Ons het sy woord waarin ons kan glo. Met sy woord en met geloof stuur Hy ons die wêreld in – glo dit, en julle sal lewe, sê Hy ook! Ons het God se woord, in mensetaal! Dit is wat die Bybel is, niks anders nie.

Hierdie woord sê vir ons alles oor hoe ons God moet dien, en teenoor Hom en teenoor ons naaste moet leef. Verder kan ons ook geen menslike geskrif, van wie af dit ook al kom, gelykstel aan die woord van God nie. Die woord van God is immers die waarheid wat verhef is bo alle ander waarhede. Ook bevat die inhoud van hierdie woord alles wat ons nodig het om te weet oor God, dit bevat alles wat ons nodig het om te glo en so te lewe dat ons ook eendag die ewige lewe kan beërwe. Met ander woorde, sodat ons kan lewe.

Gemeente, as God ons vanmôre nie met een of ander wonderteken nie, maar met sy woord die wêreld instuur,

  • glo ons hierdie woord en glo ons ook dat die woord van God is?
  • glo ons dat daar niks anders is wat ons kan gelykstel aan die woord van God nie en dat dit ook die waarheid is wat verhef is bo alle ander waarheid?
  • meet en rig ons ons lewens aan hierdie woord van God?

Dit kan nie anders nie. Kom ons gaan leef voluit met die troos dat ons God se woord by ons het, en die versekering dat wanneer ons dit glo en dit uitleef, ons sal lewe, want God se woord gee lewe.

God se woord deurboor en wond, wanneer ons ons lewens daaraan meet en besef hoe sondig ons is. Maar dit genees ook en maak gesond, want dit gee lewe! Sy woord les die dors en stil die honger wat hierdie wêreld nie kan les of kan stil nie.

Glo dit, en jy sal lewe!
Amen