Johannes 14:1-8

Die dood is deel van God se genade

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Die afgelope paar weke het ons in die gemeente veel meer as die gewone aantal begrafnisse gehad. Wat meer is, lidmate wat eintlik nog nie moes gesterf het nie (natuurlik vanuit ons perspektief gesê),persone in hulle middeljare en selfs 'n kind van agtien, moes deur geliefdes aan die graf toevertrou word.

Logies, broers en susters, laat hierdie gebeure 'n mens aan ten minste twee sake dink, die dood, maar ook die ouderdom. Twee sake wat duidelik met mekaar iets te make het, maar wat, vreemd genoeg, nie deur diemens op dieselfde manier hanteer word nie. Want oor die dood spot 'n mens nie, maar vreemd, soos ek gesê het, oor 'n mens se ouderdom is daar altyd 'n gespottery (natuurlik in 'n goeie gees).

Kom ons dink maar gerus met 'n glimlag oor die volgende opmerkings wat 'n mens somtyds hoor wanneer jy verjaar (om nie eers te praat van die keer wat jy daardie sogenaamde magiese veertig bereik nie).

  • `Jy is nou op die kruin. Maar toemaar, op die afdraande gaan dit baie vinniger’;

  • of:`Toemaar die lewe begin op veertig: maar so ook die swak oë, rumatiek en die gewoonte om dieselfde grap vier keer aan dieselfde persoon te vertel sonder om dit agter te kom’;

  • of as die hare min begin raak: `Toemaar, nie meer lank nie, of jy sal nie meer jou hare hoef te kam nie, die wat oor is kan jy maar net rangskik’;

  • of:`Toemaar, jou hele lewe moes jy jou meerderes respekteer. Nou sal jy niemand meer hoef te respekteer nie’;

  • of, 'n laaste voorbeeld: `Op twintig gee ons nie om wat ander van ons dink nie; op dertig begin ons bekommerd raak wat ander van ons dink; en hier by veertig vyftig besef ons dat niemand meer aan ons dink nie’.

Dit, broers en susters, is die ouderdom. Ons lag daaroor, en ons kla daaroor. Ons beveg dit, maar ons kan dit nie keer nie. Ja, en saam met die gespot en die plooie kom ook die ernstige nadenke en vrae oorwat gebeur wanneer ons eendag sal sterf. Is die dood die finale aan die slaap raak, of is dit om uiteindelik wakker te word? Sterf ons dan vir ewig, of begin ons dan vir ewig te lewe?

Wanneer 'n mens die voorreg het om hartseer mense, stukkende mense, tydens 'n begrafnis by te staan, broers en susters, kan 'n mens nie anders as om vir hulle te sê wat God oor die dood sê nie. En alhoewel ons nie hier vanoggend saam is om iemand in die graf neer telê nie, broers en susters, wil ek met u deel wat ek dink God oor die dood sê. Daarom het ek aan die begin gelees uit Johannes 14, 'n gedeelte wat ons kan noem die begrafnisrede wat Jesus vir Homself gegee het. Die dissipels het nie geweet dat dit in wese sy afskeidstoespraak was nie. Eintlik het niemand geweet nie. Maar dit was. Hy het geweet dat sy dood die volgende oggend op Hom wag. Daarom het Hy oor die dood gepraat en so begin:

`Julle moenie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan’.

Wat wil Jesus hier vir ons sê? Vertrou My met julle dood. Wanneer jy voor die graf te staan kom, moenie ontsteld wees nie. Vertrou net vir My!

'n Mens kry hier die indruk dat die graf vir God geen probleem is nie. Want Hy sê dit hier so terloops soos die motorwerktuigkundige wat vir 'n hoogs bekommerde klant sê: `Ja, die kar is stukkend. Jou enjin sal opgeknap moet word. Maar moenie bekommerd wees nie, ek kan dit doen'. Vir ons wat nie baie van motors af weet nie, is dit 'n beproewing, maar vir hom geen groot saak nie.

Of kom ons neem 'n ander voorbeeld. Dit gebeur dikwels, en het seker al dikwels in u lewe gebeur, dat een van ons kinders sommer so op die vloer of ongemaklik op 'n bank aan die slaap raak. Wanneer dit gebeur tel ons hulle op en gaan sit hulle in die bed, daar waar dit warm en gemaklik is. Die kind weet nie eers daarvan nie, somtyds word hulle so effens wakker en protesteer, maar ons neem hulle bed toe, want ons weet op daardie oomblik van beter, waar dit vir hulle die beste is.

Doen God nie met ons maar net dieselfde nie, broers en susters, wanneer dit ons tyd is om te sterf nie? Dra Hy nie ook maar net vir ons na die plek van rus wat Hy vir ons bestem het omdat Hy meer weet as ons nie? Vir God is die dood nooit 'n tragedie nie. Vir Hom is die einde van 'n lewe eerder die begin van 'n nuwe lewe.

Verder: wanneer 'n kind so ongemaklik aan die slaap raak, en ons dra hom/haarbed toe, het u al gehoor dat iemand sê: Moenie haar vat nie. Ons sal haar mis. Hou haar asseblief hier dat ons almal saam kan wees. Maar as dit wel gebeur, hoe sal ons antwoord?

Seke riets soos: ‘Nee, sy sal soveel beter rus en lekkerder slaap in haar eie bed. In haar eie kamer wat net haar kamer is. En buiten dien, julle kan netnou gaan en vir haar nag gaan sê’.

Met ander woorde, broers en susters: deur ons na Sy huis te roep, doen God maar net wat enige pa sou doen. Hy voorsien aan ons 'n beterplek om te rus. 'n Plek wat Hy vir ons voorberei het. Die hemel, sê Johannes 14, is nie 'n plek vir massa produksie nie, nee, daar is vir ons elkeen sy eie plek voorberei, 'n plek waarby en waarin ons sal pas.

Daarteenoor, broers en susters, as ons baie mooi gaan dink, is die probleem met hierdie wêreld dat dit nie behoorlik pas nie. Ag, dit is goedgenoeg vir nou, maar darem nie vir altyd nie. Ons is mos eintlik gemaak om saam met God te leef, maar hier op aarde leef ons in die geloof voor God. Ons is eintlik gemaak om ewig te leef, maar hier op aarde leef ons eintlik net 'n oomblik lank. Ons is eintlik gemaak omheilig te leef, maar in hierdie wêreld is ons bevlek met die sonde en baklei elke dag hard daarteen.

Terloops, broers en susters: ek het al baie gedink dat dit eintlik vreemd is dat Jesus so min mense uit die dood opgewek het. Hy het honderde genees en gevoed, maar ek weet net van drie wat Hy uit die dood opgewek het: Jaïrus se dogtertjie, die seun by Nain en Lasarus. Waarom so min? Kan dit dalk wees omdat Hy geweet het Hy doen hulle geen guns nie? Kan dit dalk wees omdat Hy geen vrywilligers kon kry nie? Kan dit wees dat as iemand eers daar is, die aarde die laaste plek is waarheen hulle wil terugkom?

Johannes14 sê: Ons moet God vertrou. Ons moet Hom vertrou dat Hy nie slegs doen wat die beste is nie, maar dat Hy weet wat voorlê. En daarom moet ons Hom vertrou met die gedeelte van die lewe waarvoor ons heel waarskynlik die bangste is.

Ons moet God daarom vertrou. Luister gerus na wat Jesaja 57:1-2 sê:

`Die gelowige mens kom aan sy einde, sonder dat iemand daaroor nadink of verstaan waarom dit gebeur. Die gelowige word uit die ellende weggeneem en gaan waar daar vrede is. Die wat 'n opregte lewe gelei het, rus in hulle graf’

Watter stof tot nadenke is hierdie woorde nie, broers en susters. God neem hulle weg uit die ellende wat voorlê. Sou ons daarom verkeerd wees om die dood as God se genade te beskryf? Waarom sterf 'n agtjarige kind aan kanker? Waarom word 'n jong moeder van haar kinders af weggeneem? So verskriklik as wat die graf ook al mag wees, sou dit nie dalk God se beskerming teen die toekoms wees nie?

Daarom: vertrou op God, dring Jesus by ons aan, en vertrou op My. Want Ek is in beheer. Ek weet die beste.

En ons verjaarsdae dan, daardie dag elke jaar wat ons soms so graag wil vermy maar nie kan nie? Dit is nie hoe lank, of die kersies op die koek kos net soveel soos die koek self nie. Maar verwelkom hulle liewer as om hulle te probeer vermy. Verwelkom hulle as mylpale wat jou daaraan herinner dat jy nog nie by die huis is nie, maar dat jy nader is as wat jy nog ooit was.

Mag God u daarom die geloof en die krag gee om so op Hom te vertrou, dat ook die dood iets is waarvoor ons nie meer hoef te vrees nie. Want die dood is nie die einde nie, dit is eintlik God se genade. Al klink dit vir ons hoe vreemd. Dit is egter wat God daaroor sê, en ons weet tog dat hy die beste weet.

Amen