Romeine 14:7-12

Die doop as teken van God se troos

Broers en susters in onse Here Jesus Christus

'n Jong man het op 'n dag die verpletterende nuus ontvang dat hy leukemie (bloedkanker) het en is onmid-dellik in die hospitaal opgeneem word vir chemoterapie. Gou het hy in donker depressie verval, sy rug op almal gedraai en geweier om met enigiemand te praat. 'n Niggie van hom het, omdat sy nie geweet het wat om anders te doen nie, 'n bloemiste gevra om 'n ruiker te stuur vir haar nefie wat in die hospitaal opgeneem is omdat hy leukemie het. Die jong meisie wat die bestelling hanteer het, het op die ingewing van die oomblik besluit om 'n kaartjie van haar eie by die kaartjie van die niggie te voeg. Die jong man het lusteloos na die blomme gekyk, maar tog het die twee kaartjies in die ruiker sy aandag getrek. Dit wat in die tweede kaartjie gestaan het, het hom regop laat sit: ‘Jy ken my nie en ek ken jou nie, maar ek wil vir net vir jou dit sê: Daar is by my leukemie gediagnoseer toe ek 7 jaar oud was. Ek is nou 22. Ek verstaan. Ek bid vir jou.’

Die jong man het moed geskep en die stryd teen sy siekte in alle erns aangepak. Die groot ironie was egter dit: Hy was omring deur die beste mediese tegnologie denkbaar, is versorg deur toegewyde dokters en verpleegsters, maar die enigste ding wat hom troos gegee het en wat gemaak het dat hy weer kon begin hoop, was 'n paar sinnetjies uit die hart van iemand wat verstaan het, wat régtig verstaan het. Hiérdie trooswoord het in sy hart ingegaan en hom vertroos.

Vanoggend het ons die voorreg om weer ‘n kindjie te doop. Soos talle kere tevore. En ek is baie seker dat die ouers van hierdie baie lief is. Soos almal van ons vir ons kinders is. En dat almal van ons vir ons kinders net die beste in die lewe wil hê.

Wanneer ons ‘n babatjie doop, lê daardie kind se hele lewe nog voor hom of haar. Wat dink u, broers en susters, is die een ding wat hierdie kindjie, en ons kinders toe ons hulle gedoop het, nodig het wat hulle met hulle kan saamneem sodat dit hulle sal dra deur die res van hulle lewe? Wat dink ons het hulle nodig om te weet om staande te kan bly al tref die storms van die lewe hulle ook hoe swaar. Kan ons vanoggend aan hierdie doopouers, aan hierdie dopeling, en aan ons en ons kinders, 'n boodskap gee wat sulke troos kan bied soos die troos wat daardie jong man gekry het uit die eenvoudige boodskappie wat hy daar op sy hospitaalbed ontvang het?

Of kom ek vra dit meer algemeen: watter troos het u en ek, almal van ons, nodig sodat ons (weer) regop kan sit en hoop kan skep? Watter troos moet daar by ‘n mens se hart sodat jy vrede hier binne kan hê en met rustigheid in jou hart kan leef tot die dag dat jy sterwe, hoe en waar en wanneer dit ook al mag wees? Of nog anders gevra: waarin lê vir u en vir my, vir ons kinders, vir ons almal die enigste troos in lewe en in sterwe?

Ek is seker dat hierdie vraag vir baie van ons bekend klink. Veral vir die van ons wat bietjie ouer is. Dit is die vraag waarmee die Heidelbergse Kategismus, 'n baie ou leerboek van die kerk, begin. Hierdie boek, wat vir jare in die Kerk gebruik is om kategese te gee, begin nie met 'n baie hogere en diepsinnige vraag soos ‘wat is die aard van God?’ of ‘wat is die wese van die mens?’ of ‘wat is die sin van die lewe?’ nie. Dit begin met 'n vraag naby aan ‘n mens se hart, ‘n vraag na jou lewensanker: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

En wanneer die Kategismus dan ‘n antwoord gee op hierdie vraag, is dié gedeelte wat ons vanmore uit Romeine 14 gelees het, een van die tekste wat gebruik word om die antwoord te staaf.

Kom ek sê gou iets oor die boek Romeine. Ons moet onthou dat Paulus hier skryf aan 'n gemeente wat uit 'n uiteenlopende klomp mense bestaan het, afkomstig uit 'n verskeidenheid agtergronde en kulture: Romeine en Grieke, Egiptenaars en Oosterlinge, Jode en heidene, slawe en vry mense. Alhoewel Paulus aan mense skryf wat almal in Jesus Christus geglo het, was daar tog verskillende beklemtoninge en groeperings. Sommige wou baie nougeset vashou aan sekere wette en reëls, soos om nie vleis te eet wat aan afgode geoffer is nie en baie streng te wees met wat op die sabbat mag en nie mag gebeur nie. Paulus noem dié soort mense ‘hulle wat nog swak in die geloof’ is. Daarteenoor was daar mense wat ‘sterker was in die geloof’, om Paulus se eie woorde te gebruik, wat weer rustig vlies kon eet wat geoffer is en nie veel gepla was op sekere moes gebeur of dan nie moes gebeur nie. Paulus se boodskap aan die swakkeres is om nie die sterkes verag nie, en vir die sterkes sê hy om die swakkeres nie te veroordeel nie. Aanvaar mekaar, sê hy, sonder om te stry as iemand se opvatting van joune verskil.

En dan loop Paulus se argument verder so: Die Here loop mos 'n unieke pad met elkeen van ons en daarom sal ons uiteindelik nie aan mekaar rekenskap moet gee nie, maar aan die Here. Voor die Here is ons gelyk, of ons nou sterk is in die geloof en of ons swak is in die geloof, want sien, ons almal behoort aan die Here. Die belangrikste vraag in 'n mens se godsdiens is dus nie wat jy doen of wat jy nie doen nie, maar eerder: Aan wie behoort jy?

En dan skryf Paulus in Romeine 14:7-8: Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. En dan sê Paulus ook hoekom dit so is: Jesus Christus het gesterf en weer lewend geword, om Here te wees van die dooies en die lewendes.

Met dit as ‘n bietjie agtergrond (want Romeine is nie altyd so maklik nie), kom ons vra weer die vraag van die Kategismus: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Die antwoord lui so : Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare vir al my sondes ten volle betaal.

Wat 'n troos, broers en susters, wat 'n ontsettende troos: Ek behoort nie magte, bose magte, of selfs iets soos sogenaamde toeval wat buite my beheer is nie. Ek is nie uitgelewer net aan hierdie wêreld en sy dinge nie. Ek behoort ook nie aan ander wat my toekoms en my lot in hulle hande hou nie.

En ek behoort – Goddank- ook nie aan myself nie. En daarom kan ek dus ook nie met myself maak net wat ék wil nie. Ek behoort aan die Hére. My lewe is in sy hande. En is dit nie ‘n troos nie, broers en susters? Aan niks en niemand anders nie: ek behoort net aan die Here. En daarom sorg Hy vir my.

Ja, die lewe loop soms snaakse kronkelpaaie met ons, maar dit is ons troos: die Here loop saam met ons, want Hy het Hom onlosmaaklik aan ons verbind – ons is sy eiendom. En al gaan dinge ook hoe rof met ons, God laat ons nooit alleen nie. Presies dieselfde waarborg wat die doop ons bied: ons behoort aan die Here, want Jesus het al ons sondes met sy bloed afgewas.

Vir die kinders vanoggend hier wil ek dit so probeer verduidelik: In die dae toe die mense nog met klein seilskippies op die oop see gevaar het, het was 'n eendag 'n geweldige storm op see. Dit was so erg dat al die passasiers en al die bemanning bang in een van die kajuite onder die dek bymekaargekom het. Hulle kon dit nie waag om buitentoe te gaan nie, want die wind en die golwe sou hulle van die dek af wegsleur. Net die kaptein was buite, besig om die skip deur die geweldige storm te stuur. Die mense daar onder wou weet of hulle enige kans op oorlewing het en vaardig toe iemand af om met die kaptein te gaan praat. Die man het die deur na die bodek oopgemaak en die wind het die seesproei soos koue naalde teen sy gesig laat vas waai. Hy kon die kaptein op 'n afstand sien, maar hy was te bang om dit buitentoe te waag. Toe draai die kaptein om en hy glimlag, sonder om 'n woord te sê. Die man gaan toe terug ondertoe en sê toe: Die kaptein sê alles is reg. daar is niks om oor bekommerd te wees nie. Dit het hulle met nuwe hoop gevul. Die kaptein was aan die stuur en hy het tog geweet wat hy doen. Alles was reg, al was alles eintlik verkeerd. Die storm het nie ophou woed nie, die wind en die golwe het nie bedaar nie, alles was eintlik nog verkeerd – maar alles was reg, want die kaptein was aan die stuur.

Dit sê dit doop ook vir ons: Ons lewe en sterwe is in die hande van die groot Stuurman, ons hemelse Vader. In lewe en sterwe, sê Romeine 14, behoort ons aan God.

Hierdie dopeling ontvang vanmore 'n sigbare teken wat bevestig: Wat ook al op hierdie dopeling se lewenspad vorentoe gebeur, sy het iets wat aan haar vastigheid en sekerheid gee, sy het iets wat vir haar troos gee, kom wat wil – en dit is dat sy kan weet: Ek behoort aan die Here!

En ek en jy, my broer en suster, ons wat miskien al oud en sinies begin word, ons wat soms in die more opstaan en sug oor die dag wat al weer op ons wag: Wat het ons, waaraan moet ons vashou? Presies dieselfde: My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus Christus behoort.

Hoe kan ek weet dat dit so is? Waar lê vir my die sekerheid dat dit so is? Lê dit in wat ek doen of nie doen nie, in hoe oulik ek is, hoe vroom ek my gedra? Nee. Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop. So seker as wat u en ek vanoggend gaan sien hoe hierdie kindjie gedoop word. Al bars daar dan ook storms om my rond en al is ek nou bo op die kruin van die golf om maar net weer netnou onder in die dieptes van ellende te wees, ek kan weet dat ek anderkant sal uitkom, want sien – dit my anker, my vaste hoop! En ek sê weer: dit is nie iets wat ons maar net op hoorsê moet probeer glo nie, God het vir ons ‘n sigbare teken gegee dat dit so is: die doop.

Dink weer vanoggend terug aan u eie doop, my broer en suster. En hoor dan weer: Die doop is die seël dat ons aan God behoort. En wat dan ook op my pad kom, ek kan getroos lewe en getroos sterwe. Glo ons dit? As ons dit regtig glo, sal ons getroos lewe, al gebeur wat, en met troos en hoop sterwe.
Amen