Openbaring 6:17; 7:1-17

Die met helder wit klere

 

Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ons het vandag ‘n gedeelte uit Openbaringe gelees wat, indien ons dit op die doop van toepassing maak, van besondere betekenis vir ons verstaan van die doop is.

Ons het begin deur die laaste vers van hoofstuk 6 te lees - omdat die vers die agtergrond verskaf vir hoofstuk 7. In hoofstuk 6 gaan dit om die laaste oordeel wat aanbreek. Johannes sien ‘n visioen van die oordeelsdag waarop alle mense geoordeel sal word. En dan eindig die hoofstuk met ‘n tergende vraag: ‘Die groot dag waarop hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?’ Anders gesê: Sal ek God se oordeel kan deurstaan? Sal ek dit maak?

Openbaring 7 antwoord hierdie vraag. Johannes sien ‘n volgende visioen. Dit is ‘n visioen van die vier engele op die vier uithoeke van die aarde. Die taak van hierdie vier engele is om die woeste storms, wind en verwoesting wat die einde van die tyd inlei, in bedwang te hou. Die beeld is duidelik: Die oordeelsdag word nog vir ‘n tyd teruggehou. Die wederkoms van Christus, die verwoestende einde en die laaste oordeel word nog vir ‘n tyd vertraag.

Hoekom word die eindoordeel vertraag? Die antwoord is geleë in die volgende visioen wat Johannes sien: ‘n visioen van die magtige engel wat mag uitoefen oor die ander vier engele. Hy kom van die ooste, die kant waar die son opkom. Hy is die engel van die lig, hy kom van die Here af. Hierdie engel is die engel van die Here, waarvan ons in die Ou Testament in die boek Esegiël en ook Daniël lees.

Hierdie magtige engel gee die ander engele opdrag om nog nie die verwoesting los te laat nie, want, sê die magtige engel: Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël.

Hierdie woorde het baie duidelik betekenis vir die doop: Die wederkoms van Christus, die eindoordeel word vertraag en teruggehou sodat die voltal van God se dienaars eers gedoop kan word. Hulle moet die merk van God op die voorhoof ontvang. Wat by implikasie beteken ook vandag se doop: Daarvoor word die wederkoms vertraag.

Interessant is dat ons op verskeie plekke in die Bybel lees van die merk op die voorkop. ‘n Merk wat sê dat jy of nie aan God behoort nie, of aan God.

  • Seker die bekendste van eersgenoemde is die getal 666 as merk op die voorkop, die teken van die dier, van die Satan. Volgens Openbaring 13:16 dra diegene wat God nie ken nie, hierdie merk. En baie oordeel dat dit verwys na diegene wat in daardie tyd die keiser aanbid het, en nie vir God nie.
  • In die Ou Testament vind ons ook so ‘n merk op die voorkop, naamlik die merk wat Kain op sy voorkop ontvang het nadat hy sy broer Abel vermoor het. Hy het die moordenaarsmerk, die merk van God se oordeel gedra.

Maar dan het ons ook voorbeelde in die Bybel waar die merk op die voorkop ‘n teken is dat iemand wel aan God behoort:

  • In die Ou Testament, byvoorbeeld, het die priesters ‘n plaatjie op die voorkop gedra waarop geskrywe gestaan het: Aan God geheilig. Wat beteken het dat so iemand vir die diens van God afgesonder was.
  • En in Esegiël 9 lees ons van die engel van die Here wat die mense op hulle voorkop merk as teken dat hulle aan God behoort. Dié in Esegiël 9 wat nie die Here gedien het nie, en nie die teken op die voorkop gehad het nie, is doodgemaak.
  • En dan die voorbeeld in ons gedeelte van vanoggend in Openbaring 7:3: al die dienaars van God kry die merk van die lewende God op hulle voorkoppe. Met ander woorde: almal wat gedoop is. Hulle behoort aan God. Want hulle het hierdie teken, merk of seël ontvang.

Wie is hierdie ‘hulle’? Daar is, sê Openbaring 7:4, eerstens 144 000 uit die volk Israel wat die merk op die voorkop gekry het. ‘n Getal, broers en susters, wat nie letterlik verstaan moet word nie. Dit dui eintlik maar net ‘n volmaakte getal, al God se mense wat ook deel was van die volk Israel, al die gelowiges van die Ou Testament.

Maar daar is ook ‘n tweede groep mense wat die merk op die voorkop gekry het, ‘n ontelbare skare mense uit elke stam en volk en taal en nasie (Open 7:9). Hulle is almal God se mense, mense wat die merk op die voorkop gekry het, dit wil sê, almal wat gedoop is.

Wie sal dus staande bly op die dag van oordeel,? Die wat die merk van God op die voorkop dra. Hulle wat gedoop is, wat aan God behoort.

Daarom is ons doop ‘n kragtige stuk troos en versterking aan elkeen wat soms aan God en God se sorg twyfel. Sal ek Here, eendag U oordeel kan deurstaan? Ja, my kind. Jy is gedoop, jy dra my teken op jou voorkop, die teken dat ook jy deur Jesus Christus verlos is. Jy glo in Hom, jy dra die teken van sy verlossing en versoening, en daarom sal jy lewe!

Wanneer ons dus by die doop die merk van God op die voorkop ontvang, wil die Here ons verseker dat Hyself, deur sy krag, en deur die werking van sy Gees, ons veilig sal bewaar tot aan die einde. Daarom kan ons in tye van beproewing en twyfel rus vind in die wete dat ek gedoop is. Ek dra die merk van God - en niks kan my uit sy hand ruk nie. Dit het God belowe.

In ons gedeelte van vanoggend, broers en susters, het ons egter ook van ‘n ander pragtige beeld gelees wat op die doop van toepassing is. In sy visioen sien Johannes dat die ‘n ontelbare skare om die troon van God wit klere aan het wat gewas is, gewas is in die bloed van die Lam.

Hierdie is taal, broers en susters, wat ‘n mens sterk herinner aan die doop. Die doop is immers daardie geleentheid waar ons simbolies deur die bloed van Christus gereinig word van ons sonde. Die water by die doop dui op Christus se bloed waarmee ons skoon gewas word. Met ander, ons as gedooptes is deel van hulle wat daar met wit klere voor God staan.

Deur die geskiedenis, en veral in die vroegste kerk, het hierdie visioene van Openbaringe 7 op ‘n besonderse wyse neerslag gevind in die wyse waarop die kerk die doop bedien het.

  • Die heel vroegste kerk het die gebruik gehad om doopkerke te bou. Gewoonlik het so ‘n doopkerke ‘n deur aan die oostekant en aan die westekant gehad, met net ‘n doopvont in die middel (wat byvoorbeeld bestaan het uit ‘n groot bak water of ‘n stroompie water wat deur die middel van die kerkie gevloei het).
  • Wanneer ‘n persoon gedoop word, het hy of sy met sonsondergang aan die westekant van die kerk ingegaan, geklee in ou vodde en vuil klere. Waarvan die simboliek of betekenis die volgende was: die dopeling kom as sondaar na die doop, vanuit die westekant, vanuit die duisternis. Met vuil vodde aan, ‘n simbool van die sonde.
  • Die betrokke nag het die dopeling in die doopkerkie gebly en die nag deurgebring met gebed en toewyding aan God.
  • Die volgende oggend, met sonsopkoms, het die persoon sy vuil en vodde klere uitgetrek, en is hy of sy gedoop. Die doop is of deur onderdompeling bedien, of deurdat water op die voorhoof geplaas is: die merk van God.
  • Na die doop is ‘n spierwit doopkleed vir die pas gedoopte aangetrek, en het die pasgedoopte aan die oostekant van die kerk uitgegaan. Die simboliek was baie duidelik: Die sondaarmens beweeg van die duister na die lig, van die mag van die bose na die mag van God. Hy werp die ou vuil klere af, en hy dra nou die wit kleed van geregtigheid.

Baie van hierdie simboliek, broers en susters, het intussen verlore gegaan. Sommige daarvan het egter behoue gebly:

  • Ons het nog die gebruik om byvoorbeeld vir die kind wat gedoop word, doopklere aan te trek. Ons dink dikwels dit is maar net om die babatjie mooi te laat lyk - maar dit is eintlik simbolies van die kleed van geregtigheid wat die gedoopte dra - die wit klere van die skare om die troon van God.
  • Ons het ook die gebruik om die baba in die kerk in te dra - dit is simbolies van die kind wat opgeneem word in die skare wat die merk van God op die voorkop dra. Hy of sy word so deel van die kerk van al die eeue.

Ek sluit af. Terwyl ek met hierdie gedeelte besig was, het ek intens bewus geword van die volgende vraag: verstaan ons werklik wat ons doop beteken? Begryp ons dat ons die merk van God op die voorkop dra, dat ons daarom aan Hom behoort en dat Hy vir ewig ons Vader is? Begryp ons dat ons deel is van die ontelbare skare is wat wit klere dra, doopklere, dat ons deur die bloed van Christus gereinig is? Leer ons regtig ons kinders wat dit beteken dat ook hulle gedoop is? En besef ons dat die doop, as teken van God se verlossing in Christus, vir ons, soos die Nagmaal, ‘n sigbare teken is dat ons regtig aan God behoort?
Amen