Johannes 3:1-6

Geestelik moeg en afgemat

Broers en susters in onse Here Jesus Christus

God se mense, God se kinders, doen anders en dink anders. Leef anders. Nie, broers en susters, omdat ons maar net ander gewoontes as ander het nie, maar omdat God se kinders, God se mense, nuwe mense is. Omdat God ons van binnekant af buitentoe verander het.

Hoor hoe stel Esegiël 36:26-27 dit: ‘Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe Gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam haal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle gehoorsaam lewe.

Anders gesê: God stuur sy kinders nie na ‘n gehoorsaamheidskool om nuwe gewoontes aan te leer nie. Hy stuur ons hospitaal toe om ‘n nuwe hart te kry. Vergeet van opleiding, God doen hartoorplantings.

Klink dit alles vir u bietjie snaaks of vreemd? Dink maar net hoe vreemd dit vir Nikodemus moes geklink het toe Jesus vir hom gesê het dat as iemand nie opnuut gebore word nie, hy/sy nie in die koninkryk sal kom nie.

Maar voor ons meer hieroor sê, kom ons staan so ‘n rukkie stil by Nikodemus. Hy was, vertel Johannes, ‘n Jood, ‘n Fariseër, en lid van die Joodse Raad. Met ander woorde, eintlik so half en half ‘n belangrike kêrel. Een van maar net ses duisend Fariseërs, en een van maar net 70 wat die Joodse Raad uitgemaak het. Geleerd. Wat regters vir die hooggeregshof is, was hy vir die Wet van Moses. Ekspert. Getuigskrifte het hy agter sy naam gesleep soos ‘n kleed van ‘n koning.

‘n Man wie universiteite op hulle rade sou wou hê. Konferensies sou hom graag as spreker wou hê. Want hierdie man weet. Hy is ‘n spesialis. Een van min.

Maar Nikodemus, broers en susters, as ons hom sou kon vra wie en wat hy gedink hy is, sou ons ‘n eenvoudige en vinnige antwoord gegee het: wie is ek? Ek is moeg. Ek is klaar. Ek het nie vrede nie. En hoekom sou dit sy antwoord wees? Kom ek verduidelik.

As Jood het Nikodemus beslis gepoog om die Talmoed te gehoorsaam. Dit was nou dié boek wat Jode presies geleer het hoe om te lewe, wat reg en verkeerd was, wat die moets en die moenies in die lewe was. Alleen oor die hou van die Sabbat, was daar byvoorbeeld 24 hoofstukke vol voorskrifte. En kom ek noem u so paar:

  • Op ‘n Sondag mag jy niks groter as ‘n olyf eet nie. En as jy ‘n olyf eet en vind dat dit sleg is, is dit wat jy uitspoeg deel van jou kwota.
  • Jy mag net genoeg ink saamdra om twee briewe mee te skryf, maar bad is verbode, ingeval jy dalk water op die vloer spat en die vloer so was.
  • Kleremakers mag op die Sabbat geen naalde met hulle saamdra nie, want die naalde steek dalk iets, en dit is dieselfde as om te werk.
  • Niemand mag ‘n vrug dra wat swaarder is as ‘n vy nie. Maar enigiets die helfte so swaar as ‘n vy mag twee maal gedra word.

En so kan ons aangaan. Hoe maklik, broers en susters, kan ons aflei, was dit nie om een van hierdie baie wette te oortree nie? Hoeveel keer moes mense soos Nikodemus nie gewonder het of hulle dalk nie tog iets vergeet het, of dalk iewers tog ‘n wet oortree het nie? En as ju ernstig oor dit alles was, kon dit nie anders tot onvrede in jou hart lei nie. En miskien ook slapelose nagte. Miskien juis daarom ten minste een van die redes dat Nikodemus in die nag na Jesus gekom het.

Want hy is geestelik moeg. Hy het onvrede. Moeg vir reëls en regulasies sonder rus. ‘n Verandering was nodig, het Nikodemus heel waarskynlik aangevoel. En hy het ‘n vermoede gehad dat Jesus dit kon gee.

En Jesus het geweet, broers en susters, waarvoor Nikodemus gekom het. Lees maar die gedeelte weer. Want al vra Nikodemus nie ‘n vraag nie (hy maak eintlik net ‘n stelling oor Jesus wat van God af moet kom), antwoord Jesus die vraag wat diep in sy binneste spook: dit verseker ek jou: as iemand nie opnuut gebore word nie, sal hy/sy die koninkryk van God nie sien nie.

Dit is radikale taal hierdie broers en susters. Om een van God se mense te kan wees, het jy ‘n hergeboorte nodig. En Nikodemus steier voor hierdie gedagte. Want hoe kan hy, wat al oud is, weer gebore word? Dit is amper of hy wil sê: Jesus, ek het die geestelike krag van ‘n ou donkie. Hoe kan u verwag dat ek weer gebore moet word as ek nie eers meer kan onthou of vye op die Sabbat geëet mag word of nie? Ek is ‘n ou man. En ‘n ou man kan tog nie weer gebore word nie.

En hoe antwoord Jesus? Hierdie nuwe geboorte, Nikodemus, kom van ‘n ander plek af, dit kom van bo af. Dit is nie ‘n geboorte uit ‘n mens nie, dit is ‘n geboorte uit die Gees. Hoor hoe beskryf Titus 3:5 dit: ‘Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte ... deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee’. En 2 Korintiërs 4:12 en 16: ‘Ons het ... die Gees wat geloof wek ... wat ... (ons) innerlik ... van dag tot dag vernuwe’.

Ek wil dit wat die Woord ons hier leer, broers en susters, en dit wat Jesus aan Nikodemus gesê het, probeer met ‘n eenvoudige illustrasie. As jy ‘n motor het met die enjin se krag nie meer as jou grassnyer s’n nie, kan jy dit maar was en was, die matte skoonmaak, die wiele politoer, of wat ook al. Die enjin sal nie beter word nie. Wat jou tjor nodig het is ‘n nuwe enjin.

Dit is wat God met ons doen. Voel ons nie ook maar soms geestelik moed en afgemat nie? Struikel ons nie maar soms ook net meer en meer nie? Voel ons nie soms dat ons geloof nie meer die moeite werd is nie? Harder probeer gaan nie werklik help nie. Meer dissipline is nie die oplossing nie.

Want God se boodskap is eenvoudig. Dit is nie wat jy doen nie. Dit is wat Ek doen. Ek het deur my Gees by jou ingetrek. Ek het jou nuutgemaak. Lewe vanuit en deur die Gees, en mettertyd sal jy net soos Paulus kan sê: En dit is nou nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe (Gal 2:20).

En dit alles, broers en susters, omdat God sy Seun gebore laat word het. Gebore vir ons. Om in ons te kom woon. Om vir ons te kom sê ons is sy eiendom. En ons sy Gees te gee, ons ‘n hartoorplanting te kom gee, dat ons van binne af uit nuut kan word.

Wanneer ons kinders doop, doen God dieselfde. Want wanneer ons in die Gees gedoop word, bevestig God aan ons dat sy Gees reeds in daardie kindjie se hart woon. Dat daardie kindjie eintlik reeds nuut is. En soos hierdie kindertjies nog moet leer loop, so moet hulle ook nog leer om saam met God te loop. En ons as ouers moet hulle dit leer. Hulle nie alleen leer om te loop nie, maar ook om saam met God deur die lewe te loop.

Maar as dit dan alles waar is, broers en susters, wil ‘n mens vra, hoekom voel dit of ons maar nog net altyd op een of twee silinders loop? Ons moet realisties wees. Ons is tog nie as babatjies met drafskoene aan gebore nie. Ons het tog nie die lewe ingewals gekom nie. En ons het tog almal gestruikel toe ons leer loop het. En toe ons gestruikel het, het ons tog nie aan ons natuurlike geboorte getwyfel nie.

‘n Klein bietjie struikel maak tog nie ons natuurlike geboorte onwaar nie. En net so, broers en susters, maak struikel in die geloofslewe nie ons geestelike geboorte onwaar nie. Dink so daaroor: sê nou ons was met ‘n hartkwaal gebore en het maar altyd die hysbak geneem waar ander die trappe uitdaag. En dan kry ons ‘n hartoorplanting. En ons is gesond. En ons kom weer by daardie trappe. Wat gaan ons kies? Die trappe of die hysbak? Dit is ons keuse.

As jy vir die hysbak kies, dan ontken jy dat God jou nuut gemaak het. Dan het jy nog nie geleer om God met jou lewe te vertrou nie. Dan het jy nog nie geleer om sy Gees te vertrou oor hoe jy moet lewe nie.

Natuurlik vat dit tyd om God met jou lewe te vertrou. Dit vat sommige mense hulle julle lewe lank om te besef dat God hulle reeds nuut gemaak het, en dat hulle dit nie self hoef te doen nie. Vir hulle is Christus nog eintlik nie gebore nie. Het Hy nog nie na die wêreld gekom om vir ons te sterf en vir ons sy Gees te gee nie.

Hulle vind ook nooit rus nie. Want godsdiens, soos in die geval van Nikodemus, as dit net ‘n uiterlike saak is, maak ‘n mens moeg. Dit put jou kragte uit. Dit kry nooit einde nie.

God, wat die goeie werk in ons begin het, sê Filippense 1:6, sal dit enduit voer. God sal met ons doen wat ons nie gedroom het Hy met ons kan doen nie. God sal ons van binne na buite verander. En dit alles begin waar ons nie alleen die tyd van die jaar sy koms na hierdie wêreld toe vier nie, maar ook weet dat Hy nie maar net na hierdie wêreld toe gekom het nie, maar tot in my hart gekom het.

Om op Kersfees te wag, is daarom om te wag dat God my sal leer hoe om met my nuwe hart deur die Gees te lewe. En terwyl ons wag en luister dat sy Gees moet praat en werk, bly die keuse voor ons: dit is of die hysbak, of die trappe!
Amen