Filippense 3:1-16

Gelowig of godsdienstig?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Verlede naweek was Paasnaweek. En weer het ons, in die verkondiging, iets probeer sê van die kruis en opstanding van Jesus Christus. Die krag van die kruis, en die krag van die opstanding, noem ons dit soms. Die vraag is egter, broers en susters, of ons werklik verstaan wat ons sê wanneer ons dit sê. Wat byvoorbeeld, is werklik die krag van die kruis, die effek van die kruisdood van Jesus Christus. Wat beteken dit, of dan, wat behoort dit vir ons te beteken? Ek wil vanoggend hieroor ietsie meer probeer sê.

Ek wil begin, om by ons gelese gedeelte uit te kom, met ‘n rare, maar ware gebeurtenis. ‘n Eenvoudige gebeure, maar ‘n gebeure wat iets sê van dit wat tog soms, al is dit hoe diep, deel is van ons as gelowiges se menswees.

‘n Bekende voedselmaatskappy het op ‘n keer ‘n werklik perfekte koekmengsel op die mark vrygestel. Geen byvoegings was nodig nie. Gooi net water by, steek dit in de oond, en maak jou klaar vir iets lekkers.

Maar toe duik daar ‘n probleem op. Niemand koop die produk nie. En die vervaardigers kon dit nie verstaan nie. Opnames is toe gemaak, die redes is vasgestel, en die koekmengsel is met ‘n geringe wysiging weer op die rakke geplaas. En toe verkoop dit ongelooflik goed. Watter wysiging s aangebring? Voeg een eier by!

Hoekom is ons dikwels so, broers en susters? Hoekom wil ons altyd iets byvoeg tot dit wat eintlik klaar reg en perfek is? Paulus het dieselfde vraag gevra. Hy was verbyster dat mense iets wou byvoeg tot ‘n werk wat reeds volledig afgehandel was. Nie eiers by ‘n resep nie. Maar voorwaardes om verlos/gered te kan word. Nie baie nie, net een klein reëltjie: Julle moet besny wees om gered te kan word.

‘n Mens kan uit die gedeelte baie duidelik aflei dat hierdie soort van praatjies Paulus baie omgekrap het. Ons vertrou nie op uiterlike dinge nie, sê hy in vers 3, en ons is vrygespreek, sê hy in vers 9, nie omdat ons die wet onderhou nie, maar omdat ons in Christus glo. Paulus, kan ons sê, het suiwer genade verkondig: daar is net een resep, glo. En voeg geen bestanddele by nie, bring asseblief geen wysigings aan nie.

Ons wat vanoggend hier sit, broers en susters, het heel waarskynlik reeds in ons koppe kant vir Paulus gekies. Eintlik klink die hele saak vir ons moderne, Westerse ore, so ‘n bietjie vreemd. Hoe kan besnydenis (en dan is vroue nie eers ingesluit nie), ‘n rol speel om verlos te kan word?

Maar is dit vir ons werklik so vreemd, broers en susters? Ons verkondig miskien nie ‘n Jesus plus besnydenis nie, maar klink van die volgende nie vir ons tog so effens bekend nie?

Jesus plus goeie werke: ja, jy moet glo, maar jy moet darem ook so bietjie uitstyg in die doen van goeie werke.

Jesus plus jou bydrae: Goed, jy gee vir die kerk, maar is dit werklik ‘n tiende van jou hele inkomste?

Jesus plus tradisie: Is jy darem in die kerk, en ook in die ‘regte’ kerk grootgemaak?

En dan: Jesus en soveel leerstellings: Dit is goed om te glo, maar kan jy ‘n dag en datum opnoem waarop jy emosioneel tot bekering gekom het? En toe jy gedoop is, sê my ‘n bietjie, hoe oud was jy? Was jy ‘n baba, of was jy al groot. En nog meer: hoeveel water was gebruik toe jy gedoop is. So paar druppeltjies, of sommer lekker baie water. Want jy weet, hierdie goed is geweldig belangrik!

Plus Christene, kan ‘n mens sê. Of, miskien so bietjie harder (en juis dit waarteen die Woord ons in hierdie gedeelte waarsku): wettisisme. Die teologie van Jesus plus iets. Nie, broers en susters, en laat ek dit vanoggend baie, baie duidelik sê, van hierdie goed nie belangrik is nie. Nie dat hierdie soort gelowiges nie op Christus vertrou nie. Inteendeel. Hulle vertrou baie op Christus. Maar, nie net op Christus alleen nie.

Meer nog: baie gelowiges wat so wetties lewe, kom baie goed voor. Hulle toewyding spreek ons dikwels aan. Hulle tree eintlik altyd godsdienstig korrek op. Hulle bevorder selfs ‘n bepaalde moraliteit aan, en wys wat ‘n ordentlike lewe beteken. Daarom kan daar tog nie veel kwaad steek in so ‘n opvatting en uitleef van godsdiens nie.

Paulus sê egter hier baie duidelik: nee. Dit kan nie. Hierdie letterlike navolging van die wet is nie reg nie. Pasop vir die dwaalleraars, pasop vir hulle wat kwaad stig, pasop vir daardie nuttelose besnydenis.

‘n Mens wil amper sê, broers en susters, eina. So ken ons nie vir Paulus nie. Lees maar sy briewe. Altyd verdraagsaam, altyd staan die genade voorop. Maar nie hier nie. Hoor maar weer sy woorde: ‘dwaalleraars’, ‘kwaadstekers’, ‘betekenislose besnydenis’.

Waarom hierdie ontblote tande, wil ‘n mens amper sê? Waarom hierdie stomende ink? Paulus klim nooit so kaalvuis onder mense in nie. En lees maar gerus wat sê hy in Galasiërs 5:12 oor hierdie selfde saak: ‘Ek wens die mens wat die verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!

Waarom hierdie intensiteit? Waarom so kras teen hierdie soort van wettisisme uitvaar? Die antwoord is eenvoudig: iemand wat dink dat hy of sy homself of haarself kan verlos, onderskat die mens se probleem. Dat hy anders as God is, sondig is, en niks daaraan kan doen om dit te verander nie.

Gestel, broers en susters, ons is in ‘n duikboot, 100 meter onder die water, wat gesink het. En iemand sou die volgende voorstel maak: kom ons sit almal ons hande teen die dak van de boot, en dan druk ons saam hard. So sal ons die duikboot na die oppervlakte stoot. Ons sal dink dat so iemand nie meer by sy sinne is nie. Want dit kan eenvoudig nie. Ons is nie sterk genoeg nie, ons is nie groot genoeg nie, jy kan niks doen om lewendig uit so ‘n duikboot te kom nie. Jy het nie sterk spiere nodig nie: jy het ‘n wonderwerk nodig.

En dit is presies Paulus se punt. Wat tussen ons en God lê is nie eers 100 meter diep water nie: dit is die onoorkombare vloed van onvolmaaktheid en sonde. Daarom: dink jy werklik dat jou erediensbywoning of doop jou sal kan red?

Wettiese gelowiges dink so. Maar hulle mis die erns van hulle probleem. En deur aan e bied om God so bietjie te help, onderskat hulle nie alleen hulle eie sondigheid en sonde nie, maar koggel hulle eintlik vir Goed so bietjie. Wie sou na die kruis van Jesus kyk, broers en susters, en kon sê: Dankie Jesus, goeie werk. Net jammer u kon nie klaarmaak nie. Nou sal ek maar die res doen!

Wettisisme, broers en susters, is ‘n lewe sonder vreugde, want wettisisme is sonder einde. Want daar is altyd nog ‘n goeie daad wat gedoen moet word, nog iets wat ek moet klaarmaak dat die Here darem kan dink dat ek nie te sleg is nie.

Genade, daarenteen, deel vrede uit. Want dan stel jy jou vertroue in ‘n afgehandelde saak. Weg is die inspanning om tog net goed genoeg en aanvaarbaar te wees, weg is die angstigheid dat ek dalk nie genoeg gedoen het nie, en dit nadat ek alles gedoen het wat ek kon. So kom ons by God uit met die hysbak, en nie met die trappe nie.

En ons verdien dit nie. As ons dink ons verdien dit, het ons die boodskap ver gemis. Wat, broers en susters, het ons bygedra? Dat ons gedoop is? Dat ons goeie mense is? Beslis nie. Dat ons erken het dat ons absoluut anders as God is? Miskien. Dit is aan God te danke, sê Paulus in 1 Korintiërs 1:30, dat julle met Christus verenig is.

Met ander woorde, broers en susters, ons redding vertoon God se genade. Hierdie doop vanoggend, toon God se genade. Wanneer Victor en Yvonne vanoggend hulle kindjie doop, toon dit God se genade. Wanneer hierdie kleinding die druppels op haar kop voel, toon dit God se genade. Wanneer ons gehoorsaam leef, toon dit God se genade. Wanneer ons die liefde leef, toon dit God se genade.

Of anders gesê: wanneer ons die liefde leef, is dit omdat ons God se liefde reeds ontvang het. Wanneer ons ander met genade hanteer, is dit alleen omdat ons reeds die genade ontvang het. En ja, as on dit om anders redes doen, sê Paulus, kan ons onsself maar net sowel gaan besny ook. Want dan leef ons asof die wet, asof ons dade, asof onsself, die duikboot tot bo kan stoot.

God se werk in Jesus aan die kruis is klaar. Dit is wat die doop vanoggend vir ons onder andere wil sê. Kan ons iets byvoeg? Nee. Kan ons dit verdien? Nee. Moenie God oneer aandoen nie.

Dit gaan nie oor wat ons doen nie. Dit gaan oor wat Hy gedoen het. Juis daarom kan ons goed gaan doen aan ons kinders en aan ander. Want dan doen ons dit omdat dit is wat God aan ons gedoen het. Dan is ons nie alleen godsdienstig nie, maar ook gelowig.

En ja, daar is nogal ‘n geweldige verskil tussen gelowig wees en godsdienstig wees.
Amen