Prediker 1:1-3, 9-18; 4:1-4; 5:9-10; 7:1-4; 12:9-14

Glo ons nog die lewe is ‘n wonder?



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus

Die boek Prediker is seker die vreemdste boek in die Bybel. Wanneer dit geskryf is, en deur wie dit geskryf is, weet ons nie. Wat ons wel weet, is dat die skrywer vir hom ‘n skuilnaam gekies het toe hy die boek geskryf het, naamlik “Prediker”, ‘n skuilnaam waarmee hy wou sê dat hy iemand is wat wil preek.

Maar preek hy, broers en susters? ‘n Mens wil dadelik sê nee. Want van ‘n preek verwag ‘n mens tog immers dat dit jou sal opbou, sal vertroos, iets sal gee om agterna oor te gaan dink. Van ‘n preek verwag ‘n mens dat dit jou nader aan God sal bring, of dan ten minste, dat jy, nadat jy die preek gehoor het, meer sal weet van God en van jouself, of ten minste dan, soos jy voor God leef en voor God behoort te leef.

En dit doen die Prediker nie. Inteendeel, hy doen presies die teenoorgestelde: in plaas van opbou, breek hy af, in plaas daarvan om iets te bied, neem hy alles van ons af weg, ja, in plaas daarvan om te sê in God is daar troos, sekerheid en ‘n toekoms, sê hy is daar niks. Ook help hy ons nie eers met al ons goeie bedoelinge wat ons het as ons sekere dinge doen nie, hy spot eerder daarmee!

Prediker, broers en susters, is verder deel van die sogenaamde wysheidsliteratuur in die Bybel. En dit klink amper nog meer ironies. Want watter wysheid verkondig hy aan ons? Dat daar hoop in God is, dat God ons beskerm, dat ons na God kan vlug in hierdie wêreld, dat daarom sin is in ons bestaan? Nee. Sy wysheid is: alles kom tot niks, of soos die 1953-vertaling dit stel, alles is tevergeefs. Dit is sy sogenaamde wysheid: die lewe het geen sin nie, alles wat ons in die lewe doen is tevergeefs, alles wat ons doen is maar net ‘n gejaag na wind. Dit is sy wysheid, dit is sy preek.

En dit, broers en susters, wil ‘n mens darem nie graag in ‘n preek hoor nie. Daarom, kom ons los alles maklik op. Kom ons sê: hierdie man is seker maar ligsinnig, daar is seker met hom fout. En daarom, moet hom nie ernstig opneem nie, want iemand wat so swartgallig is oor die lewe wat so baie mooi dinge in hom het, kan geen prediker wees nie. Hy is seker maar ‘n ongelowige, iemand wat met God en sy gawes die spot dryf, of iemand wat dit so ongelukkig getref het in die lewe, dat hy niks meer van God wil weet nie.

Die probleem is net, broers en susters, nie een van hierdie dinge is waar van die Prediker nie. In die eerste plek is hy nie ongelowig nie, maar ‘n gelowige, want hy praat dikwels van God, en hy glo ook in God. Want kyk wat sê hy in Prediker 12:13: “Die hoofsaak van alles wat julle gehoor het is: vrees/dien God en sy gebooie, want dit geld vir alle mense”.

Ook, broers en susters, is hy nie iemand wat met God en die lewe spot nie, wat meen dat die lewe maar net ‘n ligsinnige saak is nie, want hy maak veel van die erns waarmee hy gesoek het na iets wat nie tevergeefs in die lewe is nie. In Prediker 1:13 skryf hy: “Ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur”. Maar hy kon niks kry wat sinvol of die moeite werd is nie. Hy is dus nie ligsinnig or die lewe nie, hy is doodeenvoudig moeg gesoek.

Ook, broers en susters, het dit wat met hom in sy lewe gebeur het, hom nie swartgallig oor alles gemaak nie, want kyk wat sê hy: dit het met my voorspoedig gegaan in die lewe, ek het baie vreugdes beleef, ek was selfs koning in Jerusalem! Maar selfs dit, sê hy, was tevergeefs.

Dit lyk, dus, broers en susters, of die Prediker antwoorde op al ons vrae het. So maklik, lyk dit vir my, skud ons hom dus nie af nie. Maar wat hy sê, voel ons aan, kan tog nie waar wees nie. Alles is tog nie tevergeefs in die lewe nie. Ons weet dit mos. So, daar moet iewers met hom fout wees. So, kom ons probeer weer.

Kom ons sê: Kyk, Prediker, wees nou eerlik. Alles in die lewe is nie maar net tevergeefs, sinloos, of nie dit moeite werd nie. Dit is so dat daar in die lewe baie ellende is, dat hierdie lewe soms treurig is, en dat baie dinge sinloos blyk te wees. Maar dit inspireer ons, as Christene, juis om hierdie ou lewe op een of ander manier ‘n beter plek te maak, al is dit nou net vir ander. Dat ek iets kan doen, en heel waarskynlik al gedoen het, wat ander se lewe tog sinvol en vreugdevol gemaak het. Daar is ook so baie vooruitgang in die wêreld, al hoe meer siektes word genees, so baie dinge word vir ons makliker gemaak.

En sy antwoord hierop? Julle reken so? Ek dink nie so nie, want daar is geen vooruitgang in die wêreld nie, en daar sal ook nooit kom nie. Die lewe is maar net ‘n herhalende, eindelose kringloop. “Want wat gewees het, sal weer daar wees, en wat gebeur het, sal weer gebeur, en daar is niks nuut onder die son nie (Prediker 1:9). Die wêreld bly vol onreg, die regverdige bly maar altyd delf aan die onderste spit. Werk julle maar aan ‘n beter wêreld, ek glo nie daaraan nie, ek het al te veel van die wêreld gesien.

Goed, Prediker, sou ons hom hierop dan kon antwoord. Miskien is jy reg, die wêreld daarbuite is groot, en miskien is baie dinge daar sinloos en tevergeefs. Maar daar is tog ander klein dingetjies in die lewe wat sinvol is. Dink maar aan die liefde in ‘n huwelik, die plesier wat ons kry uit ons verhouding met ons kinders, dat ouers vandag hier hulle kinders kan doop, en aan God ‘n belofte kan maak. Dat ons met trots kan terugkyk op harde arbeid, dat ons, al is dit soms met hoeveel moeite, ‘n paar goedjies bymekaar kon maak, en selfs ‘n bietjie kan vooruitgaan in die lewe. Dit is mos nie verkeerd as dit eerbaar gedoen word nie, en dit alles bring ook mos sy bepaalde vreugdes. Dit gee tog sin en kleur aan die lewe. Dit maak alles soms die moeite werd.

En sy antwoord? Vind julle dit so? Nie ek nie. Hoe meer ‘n mens kry, hoe meer wil jy hê, en in die proses verloor jy meer as wat jy meen jy bykry. Agter jou rug raak ander jaloers oor wat jy het, jy verloor jou rus omdat jy na so baie dinge moet omsien. En bo alles: netnou is jy dood, en al wat jy dan saamneem is jou doodskleed in jou doodskis. En waarvoor het jy dan nou eintlik so hard geswoeg? Ook dit is dus tevergeefs.

Ook julle sogenaamde vreugde, sê hy in hoofstuk 7. Dit is selfs beter om te treur as om te lag. Want mense wat in hierdie wêreld nog wil lag, is maar slegs besig om hulleself te bedrieg, om hulle oë te sluit vir die lelike wêreld, want vreugde is maar net ‘n manier om vir kort tydjies die wêreld met al sy verantwoordelikhede en ellende te ontvlug.

Kan ‘n mens, broers en susters, van so ‘n preek leef? Kan ‘n mens werklik leef van ‘n preek wat sê alles is tevergeefs, van ‘n preek wat sê ons bestaan is flou en smaakloos, daar is sin in niks, ons moet dus maar liewers moedeloos word. Kan ‘n mens van so ‘n preek leef?

My antwoord hierop, broers en susters, is, glo dit as u wil, ja. Ons kan van so ‘n preek leef, maar dan net as ons presies verstaan wat Prediker met hierdie preek vir ons wil sê. Wat wil die Prediker met dit alles sê?

Ek meen die volgende. Die punt wat die Prediker wil maak is dit: Ons moet daarteen waak om te seker en te soetsappig en te vol selfvertroue te raak oor die feit dat God voorsien en dat God soos ‘n troue Vader elke dag vir ons in alles sorg. Ons moet verstaan dat God se onderhouding van alle dinge, van ons lewens, sy genade vir sondaars, sy vergifnis op gedane sonde, sy doel met ons lewe, nie maar net iets vanselfsprekends is nie, maar ‘n wonder waaraan ons nie gewoond mag raak nie.

Want sodra ons hierdie dinge as vanselfsprekend begin aanvaar, te gewoond begin raak aan God se sorg en hulp, asof dit maar altyd daar is en altyd daar sal wees, dat dit so moet wees en dat ons dit verdien omdat ons God se kinders is, gebeur dit baie gou dat ons, al is dit hoe onbewustelik, sonder God begin lewe. Sonder God begin lewe in dié sin dat ons miskien nog sê God sorg en versorg, God hou in stand en God beskerm, maar in die praktyk dit lankal nie meer toepas nie.

Want wat word dan die sin van ons lewe? Presies dit waarteen die Prediker waarsku: dit wat ons meen ons kan versamel, die vreugde wat ek kan bring en kan beleef, dit wat ek kan bereik, dit wat ek kan afhandel, ja, alles wat ek kan doen en wat ek meen my lewe sinvol kan maak. En dit alles, sê die Prediker, is tevergeefs, want dit is dan sonder God.

Of kom ons sê dit anders. Prediker sê: alles in die lewe is tevergeefs, maak nie saak wat jy doen, wat jy bereik, wat jy bymekaarmaak, of wat ook al nie, as jy nie vir God in alles dien/vrees en sy gebooie hou nie. Want God is die sin van die lewe, nie al die ander dinge nie. En juis daarom is al die ander dinge tevergeefs as God nie ook in dit alles deur jou teenwoordig beleef, ervaar en erken word nie. As jy dus wil weet hoe lyk ‘n lewe sonder God, sê die Prediker, luister maar gerus na my preek sonder my oproep in Prediker 12:13-14. Want dan is alles inderdaad tevergeefs.

Dus: wie sonder God lewe, lewe tevergeefs. Wie God se sorg en trou as vanselfsprekend aanvaar, dink dit moet maar altyd daar wees. Dink dit is maar altyd net daar. En sommer gou steur hy/sy hulle nie meer daaraan nie. Nee, sê die Prediker, sien God se sorg en trou eerder as ‘n wonder, as iets wat eintlik nie moet gebeur nie, want dan sal julle weet hoe om werklik dankbaar te wees, in alles wat julle doen, oor ‘n God wat alles sinvol maak, en sal julle weet hoe om reg voor God te lewe.

Wat sê dit van die doop? Om ‘n kind te kan doop, is nie sommer net vanselfsprekend nie, dit is ‘n wonder. Nog meer: om kinders te kan hê is nie vanselfsprekend nie, ook dit is ‘n wonder. En net so: dat God vandag sy verbond hier gaan bevestig, is ‘n wonder, nie iets alledaags en vanselfsprekends nie. En net so is dit ‘n wonder dat ons grootouers kan wees.

Hierdie kinders wat vanoggend gedoop gaan word, gaan ook nie sommer maar net grootword, en later sommer maar net tot geloof kom nie, ook dit sal ‘n wonder wees. ‘n Wonder, omdat die sondaarmens voor God totaal die ander verdien, dit waarvan die Prediker praat, die sinloosheid en vergeefsheid van die lewe.

Wie dit nie raaksien nie, broers en susters, leef eintlik maar net, saam met hulle kinders, ‘n sinlose bestaan. Met die implikasie: ek kan my kinders alles van die wêreld leer, goeie maniere, ek kan hulle begelei om volwassenes te word, ek kan hulle selfs leer om dankbaar vir baie dinge te wees, en dit alles kan sinloos wees.

Want as ek hulle nie leer dat alles uit die hand van God ‘n wonder is nie, dat ons leef en bly leef alleen omdat Godswonders elke dag in ons lewens plaasvind nie, dat ons alleen lewe by grasie van die wonder van God nie, dan word alles sinloos, net soos die Prediker sê. Want dan kan ons alles tog so korrek en aanvaarbaar doen, sonder om die Here werklik te dien.

Ek sluit af: Ons sê so maklik, wanneer ‘n kind gebore word met al die vingertjies en toontjies, en wat ook al wat daar moet wees, dit is ‘n wonder. U wat vandag u kinders doop: hou nie op om dit te sê nie. Vertel u kinders van die wonder van God, die wonder van sy verbond, die wonder van die kruis, die wonder van elke gawe wat ons elke dag uit Sy hand ontvang. Anders word alles sogenaamd vanselfsprekend, en moet ons nie wonder hoekom die lewe soms wel so sinloos en tevergeefs voorkom en beleef word nie.

Want wie God as vanselfsprekend aanvaar, is nie in staat om God te dien en sy gebooie te hou nie. Dan is Prediker reg, dan is alles tevergeefs.
Amen