Jesaja 1:10-17; Kolossense 2:6-8, 16-23

Glo ons werklik in God se genade?



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Die Christelike geloof, so het Luther herontdek, sê: alles is genade. Hoe goed, broers en susters, ken ons nie hierdie woorde nie, en hoe gereeld gebruik ons dit ook nie in ons gebede nie? Wie van ons het nog nie van ons gebede afgesluit met: `Nie omdat ons dit verdien nie, maar alleen uit genade?'.

Ja, broers en susters, ons ken die woord genade almal baie goed. Maar die vraag vanoggend is: Ken ons hierdie woord se betekenis? Want die woord/term genade het só verslyt dat ons dan al glad praat van `vrye genade', asof `genade' iets anders kan wees as `vry' oftewel `onverdiend'. En ons wat bid: `Nie omdat ons dit verdien nie, maar alleen uit genade', hou terselfdertyd soms ook maar baie daarvan om vir mense te vertel hoe hard ons self gewerk het om te kom waar ons gekom het.

Die vraag is dus, broers en susters, het die woord genade nie maar net vir ons 'n woord geword waarmee ons onnadenkend ons gebede afsluit nie. Dit, terwyl ons nie eintlik meer verstaan wat die woord genade, wat ons soms so heerlik en kwistig gebruik, beteken nie.

In die tyd van die Bybel, broers en susters, was dit ook so, as dit vir ons 'n troos kan wees. Juis omdat mense so maklik vergeet wat God se genade beteken en wat dit werklik is, was dit byvoorbeeld vir Moses nodig om die Israeliete reeds voor die intog in Kanaän te waarsku: `Die Here jou God sal jou bring in die land waarvan Hy met 'n eed aan jou voorvaders...beloof het om vir jou groot en mooi stede te gee wat jy nie gebou het nie, huise vol voorrade waarvoor jy nie gewerk het nie, putte wat jy nie uitgekap het nie, wingerde en olywe wat jy nie geplant het nie... (Deut 6:10-12).

Een ding, dus, moes Israel nie vergeet nie: dat hulle nie vir hulleself sorg nie, maar dat God hulle versorg; en dit nie omdat hulle voortreflike mense is nie, maar omdat God genadig is, om geen ander rede nie.

En toe God Israel pas uit Egipte gelei het, het Moses vir hulle gesê: `Die Here julle God is 'n genadige God...gaan stel ondersoek in na die verre verlede...van die tyd af toe God die mens op die aarde geskep het...of iets so magtigs al gebeur het en of so iets al gehoor is:...Het 'n god dit ooit gewaag om vir hom 'n nasie te kom vat by 'n ander nasie?' (Deut 4:31-34). En in Deuteronomium 7:7: `Die Here het jou nie liefgekry omdat jy groter was as al die ander nie, jy was die kleinste van almal'. Met ander woorde, broers en susters, die Ou Testament sê baie baie duidelik: God versorg mense omdat Hy genadig is.

Dit sê Genesis 1 ook al vir ons: Wanneer God op die laaste drie skeppingsdae lewe op aarde maak, het Hy reeds gedurende die eerste drie dae voorsorg getref dat die mens sal kan lewe en voortbestaan, want op die eerste drie dae maak Hy lig, lug, water en voedsel.

En toe rond Hy sy skeppingswerk af deur op die sewende dag 'n rusdag uit te roep. Met ander woorde, toe die mens op die eerste dag van sy lewe wakker geword het, was dit 'n rusdag. Op daardie dag sou hulle eet sonder om te werk. En die rusdag sou vir mense voortaan 'n teken/simbool wees van die feit dat God vir hulle sorg. Dit is dan ook waarom Christus in Markus 2:27 sê: `Die mens is nie vir die sabbat gemaak nie, maar die sabbat vir die mens'.

Dit was ook die boodskap van die manna wat tydens die veertig jaar in die woestyn voedsel verskaf het (Eks 16): die dubbele voorraad wat op Vrydag opgetel is, het op die sabbat nie sleg geword nie. Op die sabbat sou almal eet sonder om te werk, sodat hulle altyd daaraan herinner sou word dat jou etery eintlik nie die gevolg is van jou twee hande se werkery nie, maar van God se genade wat sorg.

Dit was van hierdie genadige versorging van God dus, broers en susters, dat die sabbat in die Ou Testament 'n simbool was. Om op die sabbat te rus, was om te erken dat die land en die stede, die reënbakke en die wingerde en olyfboorde van God af kom. Dit is waarom niemand mog werk nie: een dag in die week eet mense sonder om 'n vinger te verroer. Daar moes op die sabbat niks wees op wie se rekening 'n mens die dag se ete kon plaas nie, nie eens op die werk van 'n slaaf of 'n donkie nie.

Met ander woorde, broers en susters, en dit is die punt wat ek wil maak, mense het nie op die sabbat gerus omdat dit 'n wet was of omdat hulle God daarmee plesier of daardeur sogenaamd gedien het nie. Mense het gerus omdat die rus hulle daaraan moes herinner dat God hulle versorg. Die sabbat is dus vir die mens gemaak, 'n mens met 'n swak geheue. Alles is genade. Dit is wat die sabbat wou sê/tuisbring. (Terloops: dit is dan ook waar al die hedendaagse sogenaamde sabbatsonderhouers die bal so ver mis slaan. Want die sabbat het niks te make met 'n wet wat nagekom moet word nie. Dit is 'n teken van iets anders, van God se ongelooflike genade.)

Maar nou is dit egter in ons tyd nou maar eenmaal so, broers en susters, dat mense nie daarvan hou om versorg te word nie. Ons as mense wil graag krediet kry vir ons fluksheid, ons stamina, ons insette. Ons wil graag die mooi stede wys wat ons gebou het, ons huise met allerhande goed in wat ons bymekaar gemaak het, waarvoor ons gewerk het, en die uitgekapte reënbakke en die wingerde en die olyfbome wil ons graag voorhou as ons verdienste. En so kom ons so maklik op die idee dat ons by grasie van ons eie insette lewe, dat ons ons inkopies met ons eie bydraes doen, dat wat ons eet ons eet omdat ons gesorg het dit op die tafel kom. Maar ook, broers en susters: dat die sabbat God se wens is en dat ons daarom Hom 'n guns doen as ons die sabbat sogenaamd hou. En ons meen later selfs dat God ons behoort te seën omdat ons sy sogenaamde voorgeskrewe sabbat, en al die ander ou wettietjies wat daarmee saam gaan, so sorgvuldig hou.

Dit is tragies, broers en susters, maar dit is wat met Israel gebeur het. Toe hulle in Kanaän aanland, het hulle in die mooi stede met hulle huise vol allerhande goed en met water voor die deur in die uitgekapte waterbakke, ingetrek. Hulle het van die vrugte in die wingerde en olyfbome geëet en versadig geword. En om die situasie so te hou, het hulle gereken, moet hulle darem ook vir God op 'n manier tevrede hou — dit sou 'n goeie polis wees teen 'n moontlike verlies van die wingerde en die olyfbome en teen ander vorme van teenspoed. En die gevolg: toe begin hulle van God se genade 'n wet te maak.

En dit is soms mos ook maar, broers en susters, hoe ons godsdiens lyk. As ons godsdienstig lewe, Bybel lees, bid, ons kinders bring om gedoop te word, selfs sorg dat hulle in die kerk kom en teenwoordig by die kategese is, altyd ons tiende gee, glo ons, behoort dit met ons goed te gaan. Want ons het God mos tevrede gestel met wat ons doen.

As gevolg van hierdie selfde misverstand, broers en susters, het Israel se sabbatsviering, hulle eredienste, en hulle offers — in plaas van 'n dankie sê vir God se genade — mettertyd 'n weeklikse verpligting geword (soos 'n polispremie 'n maandelikse verpligting is), en was die sabbat nie meer daar vir die mens nie, maar die mens daar vir die sabbat. En die gevolg: die sabbatswette het al hoe meer geword.

Uit ons gelese gedeelte sien ons dat in die Nuwe-Testamentiese gemeente van Kolosse baie Christene onder dieselfde misverstand gelewe het. Hulle het gedink dat hulle noukeurige nakom van bepaalde wette en regulasies hulle nie net beter sou maak as ander mense nie, maar dat dit vir hulle ook 'n spesiale gunsie of twee by God sou verdien. As hulle die kerklike regulasies stiptelik nakom, so het hulle geredeneer, moet God mos darem sy kant ook bring.

Maar, broers en susters, wanneer die misverstand posvat, wanneer ons die indruk begin kry dat 'n bepaalde viering van die rusdag of enige ander godsdienstige handeling vir ons, van God se kant af, iets in die sak sal bring, so asof ons darem nou 'n polis uitgeneem het teen moontlike toekomstige teenspoed, dan, broers en susters, vermoor ons die genadige God en skaf ons vir ons 'n wetsgod (ek wil amper sê, afgod) aan.

Dit is oor die mistasting dat God ook vir die gemeente in Jesaja se tyd laat weet het: `Wie het julle gevra om my voorhowe te kom vertrap? Moenie langer julle nuttelose offergawes bring nie ...Julle nuwemaansfeeste en feestye haat Ek. Hulle is vir my 'n las, Ek is moeg daarvoor (Jes 1:12, 14). Al hierdie godsdienstige gebare help niks. Dit is niks meer as die nakom van wette en die betaal van versekeringspremies nie. Onder al julle godsdienstige seremonies, handelinge en gewoontes is daar niks wat 'n mens daaraan herinner dat dit God self is wat genadig is en versorg nie. Die soort godsdiens is blote selfdiens en selfsug. En so 'n godsdiens is niks werd nie, al sit jy twee keer op jou sabbat in die kerk en doen jy al die dinge wat van jou verwag word op die sabbat en weerhou jy jou van al die dinge wat iemand op die sabbat sogenaamd nie moet doen nie.

Dit is ook waarom Paulus die gemeente in Kolosse waarsku teen mense wat allerlei slim stories loop en verkoop oor wat dit beteken om nou eintlik godsdienstig te wees: Mense wat sê dat werklike godsdiens beteken om stip by die wette te hou, wette oor sabbatte en nuwemane en allerhande feesdae. Pas op dat niemand julle van Christus, as die openbaring van die genadige God, wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie, skryf Paulus daarom in Kolossense 2. Dit is die dinge wat berus op die oorlewing van mense, op 'n wettiese godsdiens, waarsku hy. Moenie dat mense vir julle voorskrywe wat julle moet eet of drink nie, of dat julle allerhande feeste of die sabbatdag sogenaamd moét vier nie.

God, broers en susters, het Israel mos nie uit Egipte geroep om hulle voorspoed te verseker en hulle tafels vol te hou nie. Nee. God het al vir Abraham gesê sy hele doel met hom en sy nageslag is dat hulle tot seën vir ander mense moet wees. Met ander woorde: Die genadige God moes deur hulle eredienste en hulle daaglikse optredes vir ander sigbaar word. Dit was die doel van alles.

In die Nuwe Testament, broers en susters, praat die skrywers dikwels van gelowige mense as `die kinders van God', en van God as die `Vader' van gelowige mense. As dit dan so is, is ons mos die `familie van God', broers en susters van mekaar, en behoort ons die karaktertrekke van die Vader te vertoon, juis in die eerste plek aan mekaar as broers en susters. Mense moet aan ons manier van lewe kan sien dat ons familie van God is.

Dit dan ook waarom Jesaja, nadat hy vir die mense vertel het hoe nutteloos hulle godsdienstige feeste en offers is, aangaan deur te sê: `Ek verdra nie feesvieringe met onreg daarmee saam nie' (Jes 1:13). En dan gaan God verder voort deur sy profeet: `As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Self al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek' (Jes 1:15).

Dit wil sê: Julle benadeel ander mense. Julle praat oor 'n genadige God en julle hou selfs die sabbat as teken van God se genade, maar julle lééf nie soos genadige mense nie. Inteendeel. Daar is niks van die genade van God in julle lewens sigbaar nie.

Ware godsdiens, broers en susters, beteken dus om die genadige God in jou elke dag se, doodgewone lewe, te openbaar en vir ander sigbaar te maak. 'n Mens kan daarom nie kerkmens én uitbuiter, gelowige én karaktermoordenaar, begenadigde én ongenadige wees nie. Ja. 'n Mens kan nie sabbatsheiliger én mensontheiliger wees nie.

Dit is juis dan ook waarom Paulus, nadat hy die wettiese opvatting van godsdiens in Kolossense 2 afgewys het, in Kolossense 3 oorgaan om van die `nuwe lewe' te praat: `Julle moet meelewend wees, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. En bo dit alles moet julle mekaar liefhê.

Die Ou Testament met sy voorskrifte oor offers en besnydenis en sabbat en tiendes was nie bedoel om wetties te wees nie. God, broers en susters, het nie mense gemaak sodat hulle wette kon onderhou nie, maar bepaalde instellings gegee sodat die mens so onderhou kon word, so kon lewe. Soos byvoorbeeld om op 'n Sondag te kan rus en te kan raaksien en sê: Maar alles kom van God af. Hy is die genadige God. Dit wil egter lyk, broers en susters, of die mens later begin glo het dat die nakom van wette aan God groot plesier verskaf. Hulle het begin glo dat alles in die wêreld reg sal wees as hulle net hulle tiendes gereeld gee en die sabbat nougeset hou. En in hierdie proses het hulle opgehou om, in hulle verhoudings met die rondom hulle, die genadige God in hulle lewens teenoor ander te openbaar.

Is dit nie soms, broers en susters, ook maar ons kwaal nie? Ons is soms so besorg oor Sabbatsontheiliging, sport op Sondae, winkelure op Sondae, die gereelde gee van offergawes, allerlei rituele en seremonies, oor die korrekte handelinge tydens die erediens, dit, terwyl allerlei vorme van onreg, magsmisbruik, korrupsie, skindery, verdagmakery, en allerhande ander skelmstreke onder ons oë aan die gang is. En ons soms self daaraan deelneem. En tog: wanneer ons nog 'n sedewetjie nakom, nog 'n keer twee keer op 'n Sondag in die kerk kom, nog 'n keer nie die Nagmaal mis nie, dan noem ons onsself met trots Christene.

Hierdie soort misverstande, broers en susters, rus op een groot misverstand, naamlik, die doel van God se genade. Die doel van God se genade, broers en susters, was nooit om vir ons elkeen 'n persoonlike lewenspolis uit te neem of te sorg dat elkeen van ons altyd voorspoedig sal wees nie. Of anders gesê: dat ons, omdat God genadig is, daaruit iets sou kry nie. Daaruit voordeel sal trek nie. Nee, broers en susters. Vanoggend sê God se woord vir ons baie duidelik: Die doel van God se genade — wat Hy onverdiend aan ons uitgedeel het, en waardeur Hy ons weer sy kinders gemaak het — was dat die wêreld óm ons, deur ons optrede, 'n genadiger wêreld sou word, dat die genade van God al hoe meer deur óns genadige lewens sigbaar sou word. Dat die aarde al hoe meer na die hemel sou lyk.

Sien ons iets daarvan in ons wêreld, broers en susters? In ons gemeenskap, in ons gemeente, in ons eie huise, in ons eie lewens? Lyk dit werklik of God se genade onder ons en tussen ons posgevat het? Nee, broers en susters, dit lyk nie altyd so nie. Kom ons wees maar eerlik. En kom ons sê dadelik. Eintlik is dit in die eerste plek waaroor ons ons moet bekommer. Nie oor hierdie of daardie wet, maatreël, gewoonte, tradisie of wat ook al nie. Maar oor God se genade. Of ons dit reg verstaan. En of ons as begenadigdes genadig teenoor ander lewe.

Want al hou ons elke Sondag — let wel, teen sy eie betekenis in — soos die Jode die sabbat, al gee ons ons tiendes beter as die Fariseërs tot in die tiende desimaal, kan God ons nog altyd laat weet: Ek verafsku julle kerke en die gesanik van julle sang. Ek het genade uitgedeel en Ek wil sien dat die wêreld óm julle 'n genadiger plek word. Daarom, solank julle ongenadig lewe in julle huis en julle werk en julle ekonomie, steur Ek my min aan julle sabbatte en tiendes en julle vreeslike kerktoeganery. Want Ek verdra nie godsdienstige feeste saam met 'n ongenadige lewe nie. Want wie die twee dinge vermeng, verstaan nie wat genade is nie.

Broers en susters, ek wil afsluit met 'n kort opmerking gerig aan ons doopouers van vanoggend (en by implikasie sommer aan ons almal as verbondsouers): Hoe leer ek my kind wat God se genade beteken? Nie, broers en susters, dat dit, in die eerste plek, geleë is in my verantwoordelikheid om te sorg dat my kind in die kerk kom en dat my kind by die kategeseklasse uitkom nie. Want al doen ek dit, maar my kind sien: pa en ma is kerkmens, ja, maar ook uitbuiter, gelowige, ja, maar ook karaktermoordenaar, begenadigde, ja, maar ook ongenadigde, dan help dit alles niks.

Nee, broers en susters. Kom ons wees liewer meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam teenoor ons kinders en teenoor mekaar. Geduldig met mekaar en vergewingsgesind. Want dan voldoen ons aan die doel van God se genade — dat die wêreld óm ons, deur ons optrede, 'n genadige(r) wêreld word, dat die genade van God al hoe meer deur óns genadige lewens sigbaar word. Dat die aarde, maar ook my gemeenskap en gemeente, maar veral my huis, al hoe meer na die hemel lyk. Want dan wys ons dat ons verstaan wat God se genade beteken.
Amen