Psalm 78:1-9

God se beeldhouers



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Wie van ons vanoggend hier weet byvoorbeeld wie ons oupa se oupagrootjie 2000 jaar gelede was? Meer nog: weet ons wat het hy gedoen? Wat hy saam en vir sy mense gedoen het? Was hy byvoorbeeld ‘n gelowige, en wat het die Here vir hom gedoen en deur hom gedoen?

In Psalm 78 lees ons van gebeure meer as 2000 jaar gelede. En ja, ons lees van mense wat hulle oupas en oupagrootjies baie goed geken het, en baie goed geweet het wat hulle gedoen het. Hoe het hulle dit geweet? Want hulle het dit vir mekaar vertel. Pa’s het dit vir hulle kinders geleer. Hulle het daaroor gepraat by gereelde geleenthede.

Hoekom? Want dit was (en is natuurlik nog steeds) ‘n pa se Godgegewe opdrag om vir sy kinders van God te vertel. In die vorm van stories (oor al die wonderdade wat God gedoen het), het vaders hulle kinders van God vertel, en so is kinders geestelik gevorm. Psalm 78 beskryf dit baie mooi vir ons.

Iets van hierdie soort ouerskap hoor ons ook by een van die bekende kerkvaders van die vroeë kerk, Chrysostomus. Hy het ouers vergelyk met beeldhouers. Hy het gesê dat ouers in hulle kinders die beeld van God moet help herstel. Soos Jesus Christus sy dissipels geleer het, só is ouers die leermeesters vir hulle kinders. Ouers het, volgens Chrysostomus, die taak om:

  • vir hulle kinders die Bybel lees
  • saam met hulle bid; en
  • goeie voorbeelde wees.

As ouers hierdie taak verwaarloos, het Chrysostomus dit gesien as die ergste booshede en sondes wat daar is. En Psalm 78 sê presies dieselfde: waar dit nie gebeur nie, leef mense ongehoorsaam, word opstandig teen God en vertrou nie meer op Hom nie. Want hulle ken God nie meer nie. Omdat hulle nie meer hoor wat God in die lewens van hulle pa’s en oupas gedoen het nie, gaan die groot werke van God verlore en vergete. Word God vir ons kinders ‘n veraf God, maar miskien nog meer, ‘n God van die verlede, ‘n outydse God, ‘n God wat nie meer vir vandag saak maak nie.

Psalm 78 lê egter baie sterk klem op ouers se taak om dit nie te laat gebeur nie. Kom ons dink weer aan Chrysostomus se beeld van die beeldhouer. Die pa (ouer) se taak is om, deur die inhoud van die Bybel jou kind te vorm soos ‘n beeldhouer ‘n stuk klip vorm. Die ouer moet alles wegkap wat nie pas by die beeld van Christus nie. Hoor weer wat sê vers 5-7: ‘Hy het ons voorvaders beveel om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet en die kinders wat nog gebore sal word, dit weer aan húlle kinders kan vertel. So sal hulle dan op God vertrou en nie vergeet wat Hy gedoen het nie, maar gehoorsaam wees aan wat Hy beveel het’.

Kinders, broers en susters, is in ‘n sekere sin die vensters van ‘n gesin. Of ons dit nou wil weet of nie, is dit eenvoudig so dat in die gedrag en lewe van kinders daar tog 'n klomp dinge van enige gesin sigbaar word wat dalk andersins weggesteek sou kon gebly het.

Natuurlik is dit ook so dat kinders aan die einde van alles self verantwoordelikheid vir hulle lewe moet neem, maar niemand kan daarby verby kom dat kinders tog maar in ‘n baie groot mate ook die produk van hulle opvoeding is nie. Daarom dat deur die eeue die belang van ouerskap binne en buite die kerk weer en weer beklemtoon is. In die Reformasie, byvoorbeeld, is die taak van ouerskap deur sommiges selfs gesien as belangriker as die taak van die predikant.

Hoe lyk dinge vandag met ons? Kan ons met oorgawe sê dat hierdie opdrag van Psalm 78 vandag deur ons uitgeleef word? Praat ons nog met ons kinders oor God? Is ons nog die beeldhouers wat ons kinders vorm? Leef ons nog ons doopbelofte met oorgawe uit? Ook ons as oupas en oumas, wat ons kinders en kleinkinders betref? Miskien stel ek dit te sterk vanoggend, maar so dikwels gebeur daar nie veel hiervan nie.

Baie redes kan seker genoem word hoekom dit soms nie gebeur nie. Kom ek noem ‘n paar moontlikes:

  • Is dit nie tog maar so, broers en susters, dat dit soms gebeur dat baie ouers nie meer self in ‘n ware verhouding met God lewe nie? God is vir ons as ouers soms nie regtig meer so belangrik nie. Daarom vertel ons nie meer vir ons kinders van God nie. Meer nog: omdat ons kinders by ons sien met hoe min toewyding ons met God, sy kerk en die geloof omgaan, doen hulle soms maar net presies dieselfde.
  • Verder kan die vraag gevra word of ons as ouers soms nie tog te veel steun op die kerk en die skool vir die godsdienstige opvoeding van ons kinders nie. En dit kan tog nie, broers en susters. In die eerste plek weet ons wat die beleid deesdae ten opsigte van godsdiens by skole is (wat miskien nou nog nie te veel kommer hoef te wek nie, maar ‘n mens weet nie later nie), en tweedens sien die kerk kinders tydsgewys eintlik maar baie min. Bo dit alles is dit nie alleen die kerk se taak met die kategese om ons kinders aan geloof in God bloot te stel nie, want ons het immers belowe dat ons ons kinders sal laat katkiseer en self sal katkiseer.

Interessant is dat die nuutste navorsing bevind het dat die ouerhuis die grootste potensiaal van alle instellings het om die geestelike en morele lewens van kinders te vorm. Navorsing, broers en susters, wat ek glo eintlik niks nuut sê nie. Dit bevestig maar net wat lankal reeds in Psalm 78 staan: dat die gesin die plek is waar die geloof wat ons bely aan ons kinders oorgedra kan word.

Nou weet ek ook maar te goed, broers en susters, dat die tye waarin ons vandag leef, baie anders is as die tyd waarin hierdie Psalm geskryf is. Heel waarskynlik het gesinne daardie tyd doodeenvoudig baie meer tyd saam deurgebring. Dit was nie die wêreld van vandag waarin pa en ma weg van die huis werk en dikwels baie laat moet werk nie. Dit as veral nie ‘n tyd waarin ma gewerk het nie.

Net so het die druk op ons kinders geweldig toegeneem. Die van u wat kinders het sal weet dat hulle programme soms ook maar geweldig vol is. En dat die druk om te presteer (wat sou die oorsaak daarvan wees?) ook miskien al baie van hulle lewens oorgeneem het.

Waarheen dan, sal ons vra? Psalm 78 sê vir ons waarheen. Na die Here toe. En nie eers wanneer dit te laat is nie. Nou, elke oomblik. En hoe, sal u vra?

Kom ek probeer die vraag beantwoord. Ons kan ten minste by onsself begin. Hoe staan my verhouding met die Here? Met hoeveel erns gee ek daaraan aandag? Sien my kind by my, al is ek hoe besig en vra die lewe van my so baie, dat God en God se saak vir my belangrik is? Ononderhandelbaar? En omdat ek saam met God en voor God my hele lewe leef, ek juis daarom in vandag se wêreld sin oopkap vir my en diegene rondom my? Wat oorheers my lewe? Negatiwiteit, of dalk positiwiteit (omdat ek weet God is by my)? Met ander woorde: sê my lewe vir my kind dat God vir my nie net belangrik is nie, maar alles is?

So ‘n lewe, broers en susters, sonder om een woord te spreek, is ook ‘n lewe wat aan my kinders iets vertel van die wonderdade van die Here. Dit is ook ‘n lewe wat Psalm 78 hier van ons vra. Want dit is ‘n lewe waarin ander die groot dade van God kan sien, en daarom kan sien hoe iemand nader en nader aan God groei, en juis daarom om hom laat groei.

Is ons besig, broers en susters, met beeldhouwerk? Is ons besig om ons kinders en mense te vorm na die beeld van Christus? Anders gesê: hoe sal u as pa of ma, of oupa, of selfs as oupagrootjie onthou wil word?

Ons weet nie wie ons agter agterkleinkinders gaan wees of hoe hulle gaan lyk nie. Ons weet ook nie hoe ons familie daar gaan uitsien oor byvoorbeeld 200 jaar nie. Ek weet nie, u weet nie. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat ons ‘n verskil kan maak. Want hoor weer wat Psalm 78 sê: alleen omdat ons die wonderdade van God aan ons kinders vertel het, sal hulle dit aan hulle kinders kan vertel, selfs aan die wat nog gebore moet word.

Dit kan gebeur, dit sal gebeur, as ons net dag vir dag probeer om ‘n verskil te maak!
Amen