Psalm 8; Genesis 1:26-28

God se doopopdrag aan ouers in ander woorde



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
In die twee gedeeltes wat ons saamgelees het is daar een saak wat 'n mens besonder opval: die waarde, die waardigheid, selfs die verhewenheid van die mens. Want kyk wat word die mens genoem: verteenwoordigers van God, beelddraers van God, bewoners en bewerkers van die aarde, heersers oor die diereryk, gekroon met eer en aansien. Of, dalk die beste saamgevat soos Psalm 8:6 dit stel: net 'n bietjie minder as 'n hemelse/goddelike wese.

Hierdie siening van die mens, broers en susters, as dit reg verstaan word, is onlosmaaklik deel van die boodskap van die Bybel oor die mens, al word daar miskien dalk nie baie oor gepreek of gepraat in die kerk nie. En daar is 'n rede voor: omdat ons bely — as 'n kerk wat gekom het uit die Protestantse tradisie — dat die mens alleen deur die geloof gered kan word, en nie op grond van sy eie werke of prestasies nie, is ons dikwels geneig om te konsentreer op die negatiewe van die mens: sy beperktheid, kortsigtigheid, selfsug, vervallenheid, of kortom, sy sondigheid.

Ons sien die mens die meeste van die tyd teen die agtergrond van die komende oordeel by die wederkoms, en op grond van ons sondigheid verwag ons die meeste van die tyd die slegste van mekaar, en daarom leef ons soms in onderlinge wantroue teenoor mekaar. Daarom maak ons soms selfs voorsiening vir die sogenaamde `swakheid van sommiges’, wat maak dat ons soms in groot wantroue en agterdog teenoor mekaar leef, nie alleen by die werk, of in die gemeenskap waarin ons leef nie, maar selfs, ek wil amper sê veral, in die kerk en kerklike strukture.

Nou moet ons dadelik toegee, broers en susters, en kom ons wees maar eerlik, dat daar baie goeie redes hiervoor is. Die geskiedenis van die wêreld is niks anders as 'n onuitputlike bron van gruwelverhale oor die verwoestende uitwerking van die selfsug en haat van die mens. Dink maar aan die twee wêreldoorloë, gebeure in Bosnië, Rwanda, Somalia, die Midde-Ooste, nou Irak. Maar dink ook maar aan meer verfynde maniere waarop mense mekaar verwoes: skinder, die saai van agterdog, laster, die beswaddering van ander, jaloesie, die organisering teen bepaalde mense of groepe, en so kan ons aangaan.

Maar tog, broers en susters, is die sonde, skuld, nietigheid en verganklikheid nie die enigste Bybelse woord oor die mens nie. Want die Bybel praat, wanneer dit oor die mens gaan, nie net van straf nie, maar ook van vergifnis, nie net van vrees nie, maar ook van blydskap, nie net van dwaasheid nie, maar ook van wysheid, nie net van vervreemding nie, maar ook van gemeenskap, nie net van nederlaag nie, maar ook van oorwinning, nie net van veragting nie, maar ook van aansien en eer.

Die mens is in die Bybel dus nie net voorwerp van God se oordeel nie, maar ook skepping van sy liefde. En daarom is ons draers van sy beeld, sy verteenwoordigers, vennote in sy skeppingswerk. Dit is waarvan Genesis 1:26-28 en Psalm 8 praat: die mens, as skepping van God, is iets met geweldige waarde, met aansien, met eer, net 'n bietjie minder as 'n goddelike wese, iemand wat vir God baie, baie belangrik is, trouens, dié belangrikste aspek van sy hele skepping.

Broers en susters, nie dat ons hiermee wil sê dat die Bybel hier besig is met 'n stuk mensverering nie. Die Bybel is nie hier besig met 'n lofsang oor die mens se vermoëns, sy sogenaamde ongebondenheid, sy vrymag of sy meerwaardigheid nie. Inteendeel. Want in Genesis 1 en Psalm 8 gaan dit nie oor wie of wat die mens in homself of haarself is nie, maar wie of wat die mens voor God is. Die mens is beelddraer van God, verteenwoordiger van God, vennoot van God, heerser oor die skepping, nie omdat die mens so oulik is nie, maar omdat God die mens so gemaak het. Die wonder van menswees, die waarde van menswees, die prestasies van die mense, wat hy/sy is, lê dus nie in die mens self nie, maar kom van God af, God gee dit aan die mens, Hy maak die mens so. Of alles in kort gesê: Ons waarde is 'n waarde in die oë van God, ons het alleen waarde uit God, deur God en voor God. Dit, broers en susters, is die eerste punt wat ek wil maak.

Verder, broers en susters: ons waarde voor God gaan egter ook verder, het met nog iets anders ook te make. Want ons waarde voor God lê ook in dit wat Hy ons bestem het om te doen, bestem het om te wees. Ons waarde vir God lê dus ook daarin in wat ons in hierdie wêreld behoort te doen. En wat moet of behoort ons te doen? Psalm 8 sê ons moet bewerk, bewaak, onderwerp, of kortom, ons moet oor die skepping heers.

Interessant is die feit, broers en susters, dat dit presies dieselfde woorde is wat die Bybel gebruik om God se bemoeienis met die skepping te beskryf. En dit is eintlik verstommend. Want wat dit beteken is dat in ons besig wees met die plante en die diere, die boer se bewerking van die grond, ons heerskappy oor die wêreld se grondstowwe, maar ook in ons besig wees met kultuurskepping en ja, selfs wetenskapsbeoefening, ons besig is om God se skeppingswerk voort te sit. Is dit nie ongelooflik nie? Juis daarom moet ons baie versigtig wees om hierdie opdrag reg te verstaan, en meer besonder, hoe ons moet heers, en oor wie ons moet en mag heers.

Kom ons praat eers oor hoe ons moet heers. Om oor die skepping en natuur te heers, is nie om dit te besit nie. Dit geld veral wat betref ons verhouding met die natuur. Om oor die natuur te heers beteken nie om dit te besit nie, dit uit te buit maar net tot ons eie voordeel nie, roofbou toe te pas of maar net alles te verniel nie, maar ook om te bewaar, in stand te hou en te bewaak. Om oor die natuur te heers beteken dus nie om te besit nie, maar om te versorg. En juis daarom is dit nie so laf wanneer mense petisies optrek oor die bewaring van ons land se strandgebiede, natuurskoon, waterbronne, strandmere of wat ook al nie. Dit is 'n Bybelse opdrag.

Tweedens, die saak oor wie ons moet en mag heers. Dat die heerskappy van die mens in Psalm 8 pertinent — uitdruklik — tot die natuur beperk word, is baie opvallend sowel as veelseggend. Wat wil die Psalm sê: ons mag en moet oor die natuur heers, dit is ons opdrag, maar ons opdrag is nie om oor ander mense te heers nie. Oor ander mense te heers in die sin dat die waardigheid van die mens, soos in die Bybel beskryf en waarvan ons vroeër gepraat het, lei tot meerderwaardigheid, meerderwaardigheid wat maak dat ons soms vergeet dat ander dieselfde waarde as jy in die oë van God het, dat God ook jou vriend of familielid gemaak het en dat Jesus ook vir hom of haar gesterf het.

Daarom, broers en susters, en dit moet ons goed begryp, is die verhouding tot die naaste fundamenteel anders as die tot die natuur. Die natuur is daar tot ons beskikking, om oor dit te heers. Maar die naaste, diegene om my, om Bybels te praat, is nie in die eerste plek tot my beskikking nie. Inteendeel. Ek moet tot my naaste se beskikking wees. Hoe, sal u vra, moet ek tot my naaste se beskikking wees?

Kom ons noem net een voorbeeld: Psalm 8 en Genesis 1 sê ons is beelddraers van God. Hierdie uitspraak moet ons verstaan teen die agtergrond van die Ou Nabye-Ooste waarin hierdie geskrifte ontstaan het, naamlik dat die konings van daardie tyd altyd standbeelde van hulleself laat oprig het in gebiede wat hy verower het en waar hy nie gewoon het nie. Hierdie standbeelde het die koning letterlik tydens sy afwesigheid in hierdie gebiede verteenwoordig. Daarom moes elke onderdaan letterlik voor hierdie standbeelde buig soos hulle voor die koning sou buig indien hulle in sy teenwoordigheid was.

Net so, broers en susters, moet ons God verteenwoordig by ons naaste, aan almal in die wêreld. Ek is tot beskikking van my naaste wanneer ek beelddraer van God word en is, wanneer ander in my iets van God raaksien. Of dit nou te make het met die gee van liefde, vergifnis, geduld, versorging, of wat ook al. Want dan heers ek nie, dan besit ek nie, dan dien ek. Dan het ek waarde in die oë van God, dan is ek vir God kosbaar, net 'n bietjie minder as 'n goddelike wese, die kroon van sy skepping. Dan lê my waarde in my waarde voor God, in die feit dat ek is en word waartoe God my bestem het.

Nou wonder u seker lankal, broers en susters, wat hierdie hele saak met die doop te make het. Ek meen die volgende: as beelddraer van God beteken om God se skepping voort te sit, oor die skepping te heers in terme van versorging, om tot beskikking van my naaste te wees deur God sigbaar te maak waar ek ook al gaan, dan is die opdrag om te heers ook die doop opdrag wat God aan elke doopouer, en die doopouers van vanoggend, gee.

Dat ons in die eerste plek ons kinders, deur voorbeeld, sal leer hoe ons met die skepping en natuur moet omgaan. En wel op so 'n wyse dat ons die natuur so versorg dat daar vir ons kinders iets daarvan sal oorbly, wat hulle weer so moet en kan versorg dat daar iets vir hulle kinders oorbly. Anders, broers en susters, kan en sal God ons nie met aansien en eer kroon nie.

Maar ook, en seker die heel belangrikste, dat ons, enkel en alleen deur konsekwente voorbeeld — deur woord en daad wat mekaar nie weerspreek nie — by ons kinders en aan ons kinders God sigbaar sal maak. Dat ons tot ons kinders se beskikking sal wees, nie in die eerste plek om hulle maar net versorg en deur die skool te kry of maniere te leer nie, maar om in die eerste plek ook vir hulle beelddraer van God, verteenwoordiger van God te wees.

Want wanneer ons van ander voor ons kinders op 'n bepaalde manier praat, of met ander verhoudinge handhaaf as voorbeeld vir ons kinders, waar ons waardigheid voor God meerderwaardig word, leer ons ons kinders niks anders as om self meerderwaardig te voel en word nie. En dan is ons lankal nie meer die wonderlike skepping waarvan die Bybel praat nie, God se belangrikste skepping, die kroon van sy skepping nie. Dan het daar 'n kortsluiting gekom tussen wat ons is, en hoe en waarvoor God ons so belangrik geskep het.

En dan, kom ons sê dit maar, sal ons kroon nie eendag eer en aansien wees nie, maar oordeel en verwerping. En dalk ook die van ons kinders. En dit wil ons tog nie.

Wat ons kinders van God leer, veral wanneer hulle nog klein is, is wat hulle by ons van God leer. Wanneer 'n kind gebore word, skep God. En ons, sê God, moet daardie skeppingswerk voorsit deur reg te heers, te bewoon en te bewerk. Juis daarom is ons die belangrikste van die skepping. Hoe heers, bewoon en bewerk u en ek as ouers voor ons kinders? Dit is die vraag wat God vanoggend aan elkeen van ons as ouers vra wanneer ons aanstons sigbaar sal sien hoe Hy, aan nog een van die krone van sy skepping, sy verbond sal bevestig. Wat van hierdie kroon van die skepping sal word, en al die ander krone aan ons as ouers toevertrou, sal onder andere daarvan afhang hoe ons as kroon van die skepping sal en gaan heers.
Amen