Romeine 5:1-11

God se vooraf-genade



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Dalk het u ook al die baie bekende roman van Victor Hugo, Les Miserables gelees. In hierdie roman word die aangrypende verhaal van 'n Franse jongman vertel wat negentien jaar gevangenisstraf opgelê is omdat hy 'n stukkie brood gesteel het. Algaande in die tronk het hy egter 'n geharde misdadiger begin word. Niemand kon hom in 'n vuisgeveg klop nie en niemand kon later sy wil breek nie.

Uiteindelik is hy vrygelaat, maar omdat misdadigers in daardie tyd identiteitskaarte moes dra, kon hy nêrens in 'n herberg plek kry om te bly nie. Vir dae het hy deur die strate van dorpie tot dorpie gedwaal, en probeer om teen die wind en weer te skuil. Totdat 'n biskop van een van die dorpies hom oor die man ontferm het.

Daardie nag het die man stil in die bed gelê en wag tot die biskop slaap, begin rondkrap in die huis en aangrensende kerkgebou, totdat hy op die kosbare silwerware van die familie en gemeente afgekom het. Hy het homself baie vinnig daarmee uit die voete gemaak.

Die volgende oggend was daar drie polisiemanne voor die deur van die biskop, met die man by hulle in boeie. Hulle het hom betrap waar hy besig was om te vlug met die kosbare silwerware, en hulle wou net bevestig dat dit regtig gesteel was. Dan sou hulle die man die res van sy lewe in kettings kon sit.

Die biskop se reaksie het egter almal uit die veld geslaan. `So is hier is jy', het hy gesê. `Ek is so bly om jou te sien. Jy het die kandelare vergeet wat ek ook vir jou gegee het, daardie wat sekerlik meer as 200 frank stuk werd is. Het jy vergeet om dit saam te neem?' `Hierdie man is nie 'n dief nie', het die biskop vir die polisiemanne gesê. `Hierdie silwerware was 'n geskenk van my aan hom'.

Toe die polisie weg was, het die biskop die kandelare aan sy gas gegee, wat sprakeloos en bewend voor hom gestaan het. `En moenie vergeet nie', het die biskop vir hom gesê, `dat jy my belowe het dat jy die geld wat jy sal kry as jy alles verkoop sal gebruik om van jouself 'n eerlike mens te maak nie'.

Hierdie, broers en susters, is seker een van die klassieke verhale wat handel oor onverdiende genade, van vrye guns alleen. Want hier word 'n opperste skelm vrygespreek, meer nog, word 'n skelm met rykdom oorlaai, sonder 'n greintjie verdienste van sy kant af. Trouens, wat hy ontvang gaan lynreg in teenoor wat sy eintlik verdienste moes wees, om gestraf te word, en bo alles, wat hy kry, kry hy nog voordat daar enige sprankie van berou of belydenis by hom teenwoordig is.

Dieselfde verhaal van onverdiende genade, broers en susters, hoor ons ook in Romeine 5, net meer asemrowender, want hier hoor ons van 'n baie groter skuld en 'n baie groter vryspraak. Dit staan opgeteken in verse wat al dikwels in die verlede die oer evangelie, die evangelie in 'n neutedop, genoem is: Toe ons nog magteloos was, het Christus immer reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe… . Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:6 en 8).

Hierdie, broers en susters, is wat ons die vooraf-genade van God kan noem. 'n Genade wat my geloof en ongeloof vooraf gaan, wat my gebede en biddeloosheid voorafgaan, my vroomheid en onheiligheid, my berou en my gebrek aan berou.

Wat, broers en susters, is 'n mens se lewe? Dit is 'n stukkie tyd wat jou tussen jou geboorte en sterfdatum gegun word. Tussen hierdie twee datums, broers en susters, 'n mens se geboorte - en sterfdatum, beleef ons soet en suur, vreugde en verdriet, hartseer en hoop. En, deur God se genade, mag ons lewenspad, iewers op hierdie tydslyn tussen geboorte en dood, met die genade van God in Jesus Christus kruis. Waar ons, uit genade, 'n besluit vir Jesus Christus neem, en, omdat ons dan `in'- Christus is, God se kinders genoem kan word.

Ons sou egter, broers en susters, 'n fatale fout maak as ons sou dink dat ons verhouding met God, ons verlossing, eers in hierdie beslissingsmoment gebore is, ook, dat dit geheel en al afhanklik is van ons besluit. `Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies' het Jesus eenmaal aan sy dissipels gesê (Joh 15:16). Ons verlossing, broers en susters, word nie gebore uit die keuse wat ons maak nie, maar word gebore in God se beslissing, is geheel en afhanklik van God se besluit, van sy vooraf-genade toe ons nog sondaars/goddeloses was, toe ons nog magteloos was.

Efesiërs 1:4-5 beskryf dit so: God het, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Jesus Christus uitverkies. In sy liefde het Hy ons toe al bestem om in Christus sy kinders te wees. Dit het Hy hom voorgeneem nog voordat ons gebore is, nog voordat die wêreld geskep is, nog voordat ons bestaan het. Met ander woorde, broers en susters, God het u en my al gesien nog voor ons gebore was, nog voordat ons aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. Of, soos Psalm 139:15-16 lees: al my lewensdae was in sy boek opgeskrywe nog voordat ek gebore was.

Dit, broers en susters, is die evangelie in 'n neutedop. 'n Evangelie van genade, 'n evangelie van vooraf-genade. Presies soos ons in Gesang 10 vers 2 sing:
Voordat ek kon kies, kon vra,
het u Seun my vloek gedra.
Ek kon vind, U het my gekry
voor ek nog my skuld bely.

Die evangelie in 'n neutedop. God kies uit. En goddank, wanneer God uitkies, is Hy nie kieskeurig nie. Hy kies ons almal, nog voordat ons gebore is, nog voordat ons ons sonde kan bely, nog voordat ons vir Hom enige keuse gemaak het. Ja, voordat ons Hom ken, stort Hy die genade in ons in, skenk Hy ons die geloof, gryp Hy ons, neem Hy so besit van ons, dat ons nie anders kan as om te sê `Ek glo!' nie. Dit, broers en susters, is God se vooraf-genade.

Juis hierom, broers en susters, kan ons nie anders as om klein kindertjies te doop nie. Want ons doop kindertjies nie op grond van hulle geregtigheid, op grond van hulle geloofsbelydenis of hulle prestasies in die geloof nie. Ons doop hulle nie ook omdat hulle min sonde het nie, dat hulle nog so onskuldig is nie.

Nee. Ons doop hulle op grond van God se vooraf genade. Nie dat die babatjie iets van die genade verstaan nie. Maar juis daarom is babatjies sulke ideale ontvangers van die genade. Soos die Woord ook sê: wie die koninkryk nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.

Die doop, broers en susters, wil daarom ook sê: jy kan nie gered word op grond van jou versameling of versamelinkie goeie werke tot op datum nie, jou stand op die punteskaal van vroomheid tel by God geen punte nie. Al wat tel is God se barmhartigheid, sy barmhartigheid wat in die vorm van vooraf genade, die genade wat daar vir jou en my was voordat ek en jy nog was.

Dit bly seker, broers en susters, een van die grootste raaisels, nee, tragedies, dat die mens hom maar altyd weer en weer teen hierdie genade van God verset. Want ons natuurlike neiging is om maar altyd weer die redding in onsself te soek. Die oersonde, het iemand op 'n keer gesê, bly maar eintlik niks anders as 'n baie verfynde stuk hoogmoed nie. Dit maak ons meesters van verskuiwing: dit wat God beskik, verander ons in wat ons sogenaamd besit, dit wat God besluit, word dit wat ons bereik, dit wat God aan ons as vrye gawe gee, word gawe mense met vermoëns, dit wat vooraf-genade van God is, word verwerfde genade van mense.

Iemand, broers en susters, wat werklik verstaan wat dit beteken om genade te ontvang, kan nooit selfvoldaan oor homself wees nie. Soos die man van wie ons in die begin gepraat het. Sou hy met die silwerware in die een hand en die kandelare in die ander kon gaan staan en sê: kyk watter pragtige silwerware het ek bekom? Nooit nie. Hy het dit dan gesteel. Wat hy wel sou kon sê, is niks anders as om sonde te bely nie: wel, ek het die ou man lekker uitgevang. Ek wonder wat ek nog daar kan gaan steel. Maar interessant: dit gebeur nie.

Die verhaal vertel ons dat hierdie man, na hierdie gebeure, soos 'n handomkeer verander het. Hy het die kandelare as kleinood behou as 'n kosbare herinnering van wat dit beteken om in die teenwoordigheid van naakte genade te kom, en die res van sy lewe het hy daaraan gewy om ander in nood te help.

Hoekom? Want God se vooraf-genade, broers en susters, maak 'n mens se hande leeg. Dit is soos ons sing: leeg, net met my sondelas, hou ek aan u verdienste vas. Dit maak ons hande leeg, want ons besef ons kan niks aan God bied nie. Maar, broers en susters, dit maak ook ons hande vol, dit maak dit vol gawes uit God se hand, gawes soos vergifnis, genade, geduld. Gawes wat ons hande so vol maak dat ons nie anders kan as om dit te gaan uitdeel nie.

Want as dit nie is wat met ons gebeur nou dat ons God ken nie, was God se vooraf-genade in ons geval tevergeefs.
Amen