Genesis 9:1-17

God staan by die voordeur



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ek onthou baie goed as kind die donderstorms in die bosveld waar ek groot geword het. Jy kom so uit die noord ooste — van die Kransberge se kant af — die storm fisies sien aankom. Die storms was nooit lank nie, maar die paar minute wat dit gereën het, het dit hard gereën. En dan, ewe skielik, was alles stil. En alhoewel die son dadelik begin skyn het, was dit baie koeler.

En dan, broers en susters, het twee goed gewoonlik gebeur, twee dinge wat my altyd sal bybly. Die bosveld het geruik net soos die bosveld kan ruik. Dit was amper asof God gesê het: Ek het gou vir jou al die stof van alles afgewas, ruik gou hoe my bosveld ruik, voor dit verby is.

En dan, broers en susters, was daar gewoonlik — nie altyd nie — ‘n geweldige groot reënboog wat soos ‘n boog oor daardie stukkie van die Springbokvlakte gehang het. En ek kan maar te goed onthou hoe opgewonde daardie kaleidoskoop van kleur ons kinders gemaak het. Ons het mekaar altyd geroep, om seker te maak dat almal dit kan sien. En met verwondering gestaan en staar na die grootheid daarvan. Eintlik na die grootheid van God, maar as ‘n mens klein is, dan besef jy sulke dinge nie altyd nie. Met ander woorde, God het ons opgewonde gemaak, al het ons dit nie besef nie.

En hoe interessant is die lewe nie, broers en susters? As ‘n mens groter word, dan hoor jy dat ‘n reënboog eintlik die gevolg is van lig(son)strale wat vanuit ‘n bepaalde hoek deur vogtige lug skyn. Dan is dit ewe skielik of die misterie daarvan verdwyn. Wat meer is, ons raak besig, so besig, dat ons nie eers meer tyd het om te kyk as daar miskien ‘n reënboog verskyn nie. Dit het alledaags geword. Dit maak ons nie meer opgewonde nie.

En dit, broers en susters, is baie jammer. Ek voel jammer vir u as die kaleidoskoop van kleur u nie meer opgewonde maak nie, want aan die einde van elke reënboog, wag daar steeds ‘n goudpot. ‘n Bekende Afrikaanse sanger (Koos du Plessis) beskryf dit as volg:

As die reën van stof en roet verby is, en die rook verdwyn,
sal daar in die sterrelose hemel ‘n neonboog verskyn,
en kyk maar goed, want as jy hom vind
vertel ek vir jou ‘n sprokie my kind,
van ‘n skatkis met ou kettings gebind
aan die neonboog se punt.
As jy geluk en vrede wil vind,
soek die neonboog se punt,
dalk vind jy die land van blou saffiere
en dalk ‘n brokkie son.

Wat is dit, broers en susters, wat ons by die punt van elke reënboog kan vind? Koos du Plessis sê dit is ‘‘n skatkis met ou kettings gebind’, ons het altyd — toe ons nog jonk was — gesê dit is ‘n pot vol goue munte. En ons was nie so verkeerd nie. Want ook die Bybel sê dat ‘n mens iets spreekwoordelik by die reënboog se punt sal kry. Nie ‘n skatkis vol goud en munte nie, maar iets baie belangriker en waardevoller. ‘n Belofte(s) van ons hemelse Vader, ‘n teken vir almal om te sien.

Nou is die eienaardige van die reënboog as teken, broers en susters, sê Genesis 9, dat dit in die eerste plek nie ‘n teken van God aan ons as mense is nie, maar ‘n teken van God aan God self. Wanneer die reënboog in die lug verskyn, sê God in verse 14 tot 16, sal dit My herinner aan die feit dat Ek met die mens ‘n verbond gesluit het. En dat Ek, God, die mens belowe het dat Ek getrou aan My verbond sal bly.

Ek sal die aarde en alles daarop nie weer verwoes nie. Ek sal alles en almal versorg, en Ek sal sorg dat daar orde is. Dit is wat Ek belowe het. Is dit nie ongelooflik nie, broers en susters? Wanneer ‘n mens dit lees. Dit weer hoor, ploeg dit jou om, dit ruk ‘n mens tot in die diepste van jou menswees. Want hoe kan God, wil ‘n mens vra, so goed vir die mens wees? Wat meer is: God is sommer bereid om deur Homself aan sy belofte herinner te word.

Met die implikasie, broers en susters, dat wanneer ‘n reënboog verskyn, ons in wese die vinger kan wys in die rigting daarvan, en met God kan praat en sê: daar is die reënboog Here. Onthou, dit is die teken van U belofte aan ons.

Maar die reënboog dien natuurlik ook as teken vir ons as mense. Eerstens is dit ‘n teken wat vir ons as mense sê dat ons nie klein en weerloos uitgelewer is aan die natuur en die elemente nie. God, ons Vader in die hemel, heers steeds oor alles, ook oor die natuur. Tweedens is die reënboog vir ons teken van lewe, want reën, of dan water, gee lewe.

Maar die reënboog dien ook as teken van hoop. Wanneer die sonstrale deur die wolk breek, sien ons die kaleidoskoop van kleur, ‘n kleureband wat aandui dat God sorg, dat Hy lewe bring. Net so is dit ook wanneer daar ‘n donker wolk in ons lewe verskyn. Die spreekwoord lui dat elke donker wolk ‘n silwer randjie het. Wanneer die lewe se storms woed en dit vir my voel asof ek oorweldig word, breek God soos die sonstrale deur die wolk, ervaar ons sy teenwoordigheid, verskyn Hy in al sy heerlikheid in my lewe — soos ‘n reënboog op die horison — en tree God op so ‘n manier in my lewe in dat ek ervaar dat God sy beloftes waar maak.

Ja, ons kan dit miskien alles saamvat deur te sê dat die reënboog dien as ‘n teken van God se genade en liefde, sy sorg en goedheid.

Presies op dieselfde manier, broers en susters, kan ons die teken van die doop — wat ons nou gaan bedien —verstaan. Die doop is ‘n sigbare teken waarmee God vir ons en ons kinders wil sê dat Hy vir ons sal sorg, dat ons aan Hom behoort, dat ons nie uitgelewer is aan die storms in die lewe nie, dat die Gees in ons lewens sal werk, dat sy beloftes vir elke gedoopte geld.

En elke keer, soos vanoggend, wanneer ons die water-druppels op die dopeling se kop sien val, word ons aan al hierdie beloftes, liefde en sorg van God verseker. Soos die reënboog soms verskyn, so ook die doop. Dit is tekens dat God by ons is, dat ons nie alleen is nie. Dat Hy ons Vader is, wat sorg, versorg, en ons nooit vergeet nie.

Dink maar mooi vanoggend, broers en susters, oor u elkeen se lewe. Daardie skatkis aan die einde van die reënboog, het ons dit nie al ontvang nie? Hoeveel versorging, hoeveel liefde, vergifnis, genade, het God nie al in u lewe uitgestort nie? Daarom, as ons volgende keer die reënboog sien wat God gee, as ons volgende keer weer die doopvont sien, laat ons gerus maar God loof en prys vir dit wat Hy vir ons gee.

Ek sluit af. Heel waarskynlik het die meeste van u die titel van die liedjie van Koos du Plessis erken waaruit ek aan die begin aangehaal he: Die sprokie van ‘n stadskind. Wat gebeur met ons kinders wanneer hulle die sprokies hoor wat ons as ouers vir hulle vertel? Hulle is verwonderd oor die wêrelde wat daarin beskryf word. Dit laat hulle droom. Droom van wêrelde waar alles wonderlik, goed en reg is. Wêrelde waarin bose reuse en slegte mense, en alles wat verkeerd is, deur die goeie oorwin word. Waar mense prinse en prinsesse kan wees. Waar mense gelukkig kan wees. Waar vreugde ervaar word. Ja, waar die skatkis aan die reënboog telkens weer en weer gevind word.

Lê ons gebrek aan vreugde en uitsig nie juis hier nie, broers en susters? Ons verwonder ons nie meer oor God nie. Ons verwonder ons nie meer oor die reënboë wat God vir ons stuur nie. Ons staan nie meer verwonderd oor die handeling van die doop nie. Ons is nie meer eenvoudig stomgeslaan dat die heilige God, met so ‘n eenvoudige menslike handeling, aan ons al sy beloftes gee nie.

En omdat ons nie meer verwonderd staan nie, kan ons nie meer droom nie. Ons glo nie meer aan die sprokie van die lewe nie. Ons glo nie meer dat die lewe beter kan wees nie. Ons glo nie meer dat God vir ons so baie in die lewe nog gaan laat gebeur nie.

Ook wat ons kinders betref. Ons droom nie meer oor die wonderlike lewe wat ons saam met ons kinders gaan hê na ons hulle gedoop het nie. Ons droom nie meer oor daardie dag wat hulle sal kom en sê: ‘Pa, Ma, ek glo’, nie. Ek het die Here lief. Die Here maak my lewe mooi. Dankie dat Pa en Ma bereid was om saam met my te droom oor die lewe. Dankie dat Pa en ma iets vir my was van die Vader in die hemel. Dat ek by julle iets kon beleef van sy liefde.

Nee. Ons het te besig geraak. Ons kyk nie meer boontoe nie. Ons sien nie meer die reënboë raak nie. Reenboë raak ons nie meer nie. Sprokies bestaan nie meer nie. Ons is mos nou volwasse. Tyd vir droom is daar ook nie meer nie. Ons is mos mondig.

Ja, broers en susters, so mondig en so volwasse, dat ons eintlik sonder God begin lewe het. En dit is tragies.

Hulle egter, wat God se teenwoordigheid soek in hulle lewens, en in die lewens van hulle kinders, hulle wat nog oor reënboë verwonderd staan, hulle wat nog kan droom, hulle wat nog glo in die sprokie van die ware lewe saam met God, dit is hulle wat, in die woorde van Koos du Plessis, nie alleen die land van blou saffiere sal vind nie, maar ook ‘n brokkie son. God se ligstrale wat inbreek in ‘n donker wêreld. God se pragtige kleureboog wat ons lewens inkleur en vul met pragtige oomblikke.

Wat gaan u doen wanneer u volgende keer ‘n reënboog sien? En vir die soveelste keer moet sien hoe kindertjies gedoop word?
Amen