Psalm 80

God staan by die voordeur



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ek het op ‘n keer gelees van ‘n vrou wie se man in een of ander oorlog gesneuwel het, en geweier het om die nuus van sy dood te aanvaar. Aand na aand het sy die lig op die voorstoep laat brand, ingeval hy die aand sou huis toe kom. Soms, as die verlange te groot geword het, het sy van venster tot venster gedwaal en uitgekyk of hy nie op pad was nie, geluister of sy nie die geblaf van die honde en sy bekende voetstap hoor nie. By geleentheid het haar verbeelding so die oorhand gekry dat sy hom letterlik hoor klop het en die deur met vreugde oopgeswaai het net om niemand te vind om te omhels nie. Sy het, tragies, op iemand gewag wat nooit weer sou terugkom nie.

In ‘m sekere sin, broers en susters, is hierdie vrou se verhaal ook ons elkeen se verhaal. Want almal van ons (of die nou bewustelik of onbewustelik is), wag ook op iemand of iets. Al van kleins af. Ons kindertjies wat in Graad 0 is, kan nie wag om volgende jaar die skooluniform aan te trek en na die grootskool te gaan nie. Kort voor lank kan hulle nie wag om hoërskool toe te gaan nie. Dan hoor ons baie vinnig die versugting: Ag, as skool net kan verbygaan. As dit gebeur wil hulle begin werk, dan wil hulle trou, kinders hê, ‘n huis koop. En later hoor ons: as ek maar net kan aftree, dan, dan sal alles in plek wees, dan sal die lewe mooi en rustig wees.

Waarom, broers en susters, praat ons so? Omdat ons op een of ander manier aanvoel dat ons dae nie volledig is nie, dat daar tog ‘n mooier môre op ons moet wag, dat die lewe tog miskien beter kan wees. En dit is natuurlik veral so wanneer ons in een of ander krisis gedompel word. Dan roep ons nog harder vir ‘n beter more, dan smeek ons as‘t ware dat die beter môre, dat die mooier oomblikke en lewe sommer baie gou aan ons voordeur sal kom klop.

Presies dieselfde hunkering en uitroep, broers en susters, kry ons in Psalm 80. Al verskil is, hier word nie geroep na daardie onbekende iets wat alles beter sal maak nie. Nee. Hier word geroep na God, na die God wat met hulle ‘n geskiedenis gemaak het, hulle roep na die groot Herder (vers 2), na die Eienaar van die wingerdstok van Israel (vers 9), twee beelde wat sterk deur die hele Psalm loop. Soos ‘n refrein klink dit op: verskyn tog tot ons redding, laat u aangesig weer oor ons skyn, sodat ons verlos kan word. Kom klop aan die voordeur, ons sal onmiddellik oopmaak.

Die volk in die Psalm, broers en susters, het inderdaad redding nodig gehad. Soos met al die Psalms is dit baie moeilik om die presiese agtergrond daarvan te bepaal, maar heel waarskynlik is die agtergrond van die Psalm die ballingskap waarin die volk deur die Assiriërs weggevoer is, of dalk die mislukte pogings van koning Josia om al die stamme van die volk bymekaar te bring. Hoe dit ook al sy, hulle omstandighede het gemaak dat hulle gesmag het na die Here se teenwoordigheid en verlossing.

Here, Herder, verskyn tog tot ons redding, want u kudde gaan onder. Here, Eienaar van die wingerdstok, verskyn tog tot ons redding, want die wingerdstok is besig om ontwortel te word. Waarom draai die Herder sy gesig van ons af weg? Waarom kyk die Eienaar nie na sy wingerd nie. Dit is, broers en susters, hoe hulle roep. Waarom kyk die Here ander pad? Gee Hy nie meer om nie? Vrae, broers en susters, waarvan ek oortuig is, nie vir elkeen van ons vreemde vrae, en ervarings, is nie.

Hoe, broers en susters, word hierdie volk se vrae in die Psalm beantwoord? Here, Almagtige, laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding (vers 20). Dus, dit word nie eintlik beantwoord nie. Dit is maar weer net nog ‘n versoek. Dit is maar weer die volk wat praat. Maar weer die volk wat sugtend vra. En nie God se stem en antwoord nie.

‘n Mens wil amper vra: maar is dit al? Niks verder nie?

Nee, broers en susters, dit is nie al nie. God het hierdie versugtinge gehoor. Hierdie versugtinge, hierdie soeke, hierdie noodkrete, het in die hemel weerklank gevind. Want God het sy gesig van redding tot ons gedraai. Hy het aan die voordeur kom klop. Hy het sy gesig vir ons kom wys.

Hoe, sal u vra? So, sê die Here: gaan loer maar daar oor die randjie van ‘n krip waarin ‘n Kind toegedraai is in strooi. Daar sien julle my gesig. Nog meer: gaan kyk na ‘n houtpaal waar Hy gegesel en vernederd vol spoeg gehang het.

So skyn God gesig voor julle. So het Hy aan julle elkeen se voordeur kom klop. Hy het julle reeds gehoor, Hy het julle reeds tegemoet gekom, nog lank voor julle die stoepligte aangesit en by elke venster uit oor die verte getuur het om te kyk of Hy nie tog maar wil kom nie.

Net so, broers en susters, klop God nog elke dag aan ons elkeen se voordeur. Teen die voordeur van jou hart, jou omstandighede, jou huis, jou huwelik. Net so, klop Hy aan die voordeur van jou geskiedenis, jou verlede, maar ook aan die voordeur van jou toekoms. Die lewende Here staan daar, soos Hy eendag ook by die wederkoms sal staan.

Luister net, hoor Hom klop. Jy kan maar die voordeur met vreugde gaan oopmaak. Jy sal nie ontnugter word deur koue lug en ‘n leë omhelsing nie! Hy was altyd daar, Hy is nou daar, Hy sal altyd daar wees.

Hy was daar toe die kindjie wat vanoggend gedoop word, gebore is, Hy is vanoggend hier. En Hy sal more daar wees, vir hierdie kindjie, haar ouers, en vir elkeen van ons.

Die Here is more vir elkeen van ons daar, Hy wag vir ons in die toekoms.

Daarom, broers en susters, hoef ons nie ons lewens om te wens nie. Ons hoef nie te wag vir daardie dinge wat môre sogenaamd ons lewens sinvol sal maak nie. Ons hoef ook nie te gaan soek na die sin van alles nie. Want die Sin van alles, klop aan die voordeur. Aan die voordeur van ons elkeen se hart nou, soos Hy ook op ‘n bepaalde tydstip aan die deur van die hart van elke dopeling sal klop.

Daarom, broers en susters, kan ons, en moet ons, nie alleen met oorgawe lewe nie, ons moet ook ons kinders met oorgawe voorlewe. Ouers wat so lewe dat hulle met hulle lewe uitstraal dat die Herder tog besig is om voor te loop, leer hulle kinders nie om te vra of die Herder voorloop nie, hulle leer hulle kinders om raak te sien hoe die Herder voorloop.

En ons wat werklik Jesus Christus se lewe en dood ons eie in die geloof gemaak het, hoef nie te vra soos hierdie volk of die Herder nog voorloop nie. Ons moet liewer bid dat die Here ons deur sy Gees so sal verlig dat ons sal raaksien hoe Hy voorloop.

Terwyl ons bid: Here, Almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding.

Iemand, broers en susters, wat met hierdie gebed elke oomblik voor die Here kom staan, sal nooit tevergeefs die voordeur oopmaak nie.

Geloof, broers en susters, is nie maar net om in Jesus Christus te glo nie. Dit is ook meer. Dit is veral om hierdie lewenshouding aan te kweek en prakties uit te leef. Want wie so leef, sal hoor wanneer Hy klop, sal sien hoe die Herder in ons lewens, in ons kinders en klein­kinders se lewens voorloop.

Want die Here het tot ons redding verskyn. En as ons dit nog steeds nie glo nie, moet ons maar net kyk wat nou hierna by die doopvont gaan gebeur.
Amen