Johannes 15:1-8

God vra nie van ons om vrugte te dra nie



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Daar is seker niks so frustrerend as wanneer 'n mens 'n stuk skryfwerk afgehandel het, dit aan 'n proefleser gee om vinnig deur te gaan, en dan die ou stukkie geskryf terug te ontvang nie. Dit was 'n goeie stuk werk, het jy gedink, tot jy dit in die hand terug kry. Want nou is feitlik elke bladsy vol taal en tikfoute, uitgewys met sulke lekker vet ronde, rooi kringe.

Aanvanklik is 'n mens maar sensitief en nukkerig wanneer dit gebeur, maar later gee 'n mens nie meer om nie. Want dit is 'n proefleser se werk om so 'n bietjie vitterig te wees. Ander mense se nalatigheid is hulle werk. Hulle werk is juis om foute uit te snuffel.

En ons ken hulle almal, broers en susters: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (soos Gal 5 hulle vir ons opnoem). Dit is die vrugte wat God in ons wil sien, en soos 'n puntenerige boer sal God alles wat hiermee inmeng, wegsny en uitsnoei, al beteken dit wat vir ons in die lewe.

'n Goeie atletiekafrigter kyk die atleet in die oë en sê: Ons kan die rekord slaan, maar dit is wat dit gaan kos. En dan noem hy 'n oefenprogram op wat 'n mens klaar moeg maak om dit net te hoor. 'n Goeie redakteur van 'n koerant lees 'n storie en sê: Hierdie stuk werk het baie potensiaal, maar dan moet dit hier en hier gesny word. 'n Goeie klavieronderwyser sê: Ek dink jy kan hierdie stuk bemeester vir die kompetisie, maar ons sal dan baie harder moet oefen. Hier is die ure wat ons saam gaan insit.

Presies net so maak God met ons, broers en susters. Hy tel die loot op en sê: Jy kan vrugbaar wees, maar dan sal Ek eers 'n paar siek blare moet afsny. En hoewel dit 'n pynlike proses is, kan ons onder op die grond die gevlekte blare sien wat afgesny is. Almal met sy naam opgeskryf: verwaandheid, eersug, die houding van ek is altyd beter is ander, ek weet altyd meer as ander, ek is altyd reg, swak verhoudings, gevaarlike geleenthede, wraaksug, om maar net 'n paar op te noem. Neem God hierdie proses ligtelik op? Ek dink nie so nie, geliefdes. Want luister na hierdie ernstige stelling: `Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. (Joh 15:2).

En nou is die interessante, broers en susters, dat die woord wat hier vir sny gebruik word, in Grieks eintlik twee betekenisse het. Die een is `om af te sny' en die ander betekenis is `om op te tel'. En ek glo albei betekenisse word hier in Johannes 15 bedoel.

Voordat God 'n loot/tak sonder vrugte afsny, tel of lig Hy dit eers op. Soos 'n goeie boer altyd maak. Hy verander die tak se posisie sodat dit of meer son kan kry of meer spasie. Druiwe is nie soos pampoene of komkommers nie, hulle groei nie as hulle op die grond lê nie, maar groei goed wanneer hulle in die lug hang. Daarom sal 'n goeie boer die loot so drapeer/hang dat dit in die lug hang en die meeste son en ruimte kan kry.

God, broers en susters, doen soms met ons presies dieselfde in die lewe. 'n Gesin word dalk verplig om ewe skielik en onverwags alle wortels op te trek en na 'n ander dorp te verhuis — gebeur dit miskien omdat God hulle wil leer om weer werklik op Hom te vertrou? Die een wat altyd gesond was, hoor ewe skielik dat 'n groot operasie moet plaasvind — was dit om hom te herinner om op die ware Boer te vertrou? Of iemand se inkomste droog ewe skielik op — is dit God se manier om daardie een van die grond af op te tel en so nader aan Hom te trek? Of: iemand wat ander loop en beskinder word met goeie getuienis tot verantwoording geroep - wat wil God so iemand daardeur leer?

God, broers en susters, het met ons almal 'n plan. Hy is die goeie en aktiewe boer wat die grond voorberei en al die klippe uithaal. Hy maak rye en plant die wingerdlote. Hy inspekteer die plante en trek die onkruid uit. En die beste van alles is, God is goed. Hy is die boer wat die meeste omgee vir sy wingerd.

En wat vra Hy van ons? Ons lote aan die wingerdstok, wat vra God van ons? Ek wens ek kon 'n paar van u vanoggend vra om hierdie vraag elkeen individueel te antwoord. Want ek is amper seker dat in nege uit elke tien gevalle die antwoord sal wees: God verwag van ons om vrugte te dra.

Maar is dit die regte antwoord? Dink maar aan 'n wingerdstok: kan die boer besluit om al die lote af te sny omdat hulle nie vrugte aan het nie? Of moet Hy nie dalk kyk of daar fout is met die wingerdstok self nie. Want 'n loot kan tog nie self besluit dat hy nou vrugte gaan dra nie. 'n Loot kan nie vrugte forseer as groeikrag en alles wat nodig is vir vrugte nie van die stok af kom nie.

Net so, broers en susters, en hoor maar mooi wat Jesus hier impliseer, kan u en ek ook nie vrugte forseer nie. En kom ons wees eerlik: het ons nie al hoeveel keer probeer nie? Met vasberadenheid in die oë en met saamgeperste kake het ons miskien al dikwels gesê: `Vandag gaan ek gelukkig wees’, terwyl ons vir almal rondom ons wat ons irriteer grom. Of: `Ek sal geduldig wees, en ek sal dit nou wees’. Of: `Goed man, ek sal 'n blymoedige gewer wees, so gee tog nie die kollektelysie aan dat ek daarmee kan klaarkry en jou uit my lewe kan kry’.

Ons kan nie vrugte forseer nie, broers en susters. En dit is juis waarom Jesus nêrens vir ons in hierdie gedeelte sê om heen te gaan en vrugte te gaan dra nie. Miskien wil u dit nie glo nie. Maar gaan lees gerus weer wat daar staan in Johannes 15. Nêrens beveel Jesus ons om vrugte te dra nie. Dit staan nie daar nie.

Wat Hy ons egter wel beveel is om in Hom te bly. Want wie in my bly, dra baie vrugte. En wat meer is, onthou maar altyd ook Jesus se volgende woorde: sonder my kan julle niks doen nie.

Is dit nie dalk die rede, broers en susters, hoekom ons as ouers so dikwels voel dat ons faal wat betref ons doopbelofte nie? So dikwels het ons sulke goeie bedoelings in ons verhouding met ons kinders, so graag wil ons hulle van die Here leer, maar net so dikwels loop alles skipbreuk. En lê ons verhoudings met ons kinders, en dikwels ook met baie ander, vir dae en selfs maande op die rotse?

Hoekom? Want ons wil in hulle, en in ons lewens vrugte forseer. Ons sê: ek sal die regte voorbeeld wees. Ek sal baie insit en sorg dat ek my kind konsekwent voorleef. Om maar net gou uit te vind dat ek dit nie regkry nie. En wat meer is: dat ek myself en my kind dikwels diep teleurstel.

Hoekom gebeur dit, broers en susters? Jesus sal so antwoord: Julle as ouers se werk is nie om vrugte te dra waardeur julle julle kinders voorbeeldig kan voorleef en so aan julle doopbelofte uitvoering kan gee nie. Nee, want uit julleself sal julle dit nooit regkry nie. Sonder my is daar geen krag om mee te groei nie. Julle werk is om in My te bly. Dan sal julle vrugte dra.

Miskien, broers en susters, doen ons dit nie, want miskien is ons heeltemal bereid om die regte vrugte te dra, maar net om ons manier en op ons tyd. Iets wat nie moontlik is wanneer 'n mens werklik in God bly nie. Want wanneer iemand in God bly, snuffel God al die foute uit. Dalk hoor u dalk al op hierdie oomblik hoe God se snoeiskêr aan u knip. En dit maak seer. Ons almal weet dit. En daarom vermy ons die besluit om ons werklik aan God oor te gee en werklik in Hom te begin bly.

Jesus sê egter: skep moed. God sal snoei. Hy sal die foute uitsnuffel. Want God kan maar puntenerig wees wanneer dit by sy kinders kom. Maar weet dit: die eindresultaat sal beter wees. Dit alles sal die moeite werd wees. Bowendien: is u nie bly dat God dink dat u sy aandag en moeite werd is nie?

Ek sluit af: moenie poog om gehoorsaam voor God te lewe nie, poog liewer om God te leer ken en werklik in Hom te bly. Moenie u kinders net leer wat reg en verkeerd is en wat God wil en nie wil hê nie — leer u kind liewer om God te leer ken en te vertrou. Leer u kind dat God vir u baie belangrik is, en daarom vir hom of haar ook behoort te wees. Dan sal God snoei, aan u en u kind, en dan sal ons vrugte dra wat pas by 'n doopbelofte en ons kinders vrugte dra wat pas by gehoorsame kinders.
Amen