Johannes 11:33-44

Hoofnuus: Iemand het vandag in hierdie gemeente uit die dood opgestaan!


Broers en susters in onse Here Jesus Christus

In Johannes 11 lees ons die verhaal van Lasarus se opwekking uit die dood deur Jesus. ‘n Mens kan maar net wonder, broers en susters, as dit in ons dag gebeur het, in ons wêreld met sy kragtige kommunikasiemiddele, watter boodskap van hierdie gebeure die wêreld ingestuur sou word?

Die Hervormer, die amptelike mondstuk van ons Kerk, se opskrif sou dalk lui: Man opgewek uit die dood: God regeer! Die Huisgenoot sou dalk sê: Man staan op uit die dood: eksklusiewe onderhoud oor die lewe anderkant die graf! En die Finansies en Tegniek sou dalk sê : Man staan op uit die dood – waarheen nou met mediese fondse?

‘n Groot ophef sou beslis hiervan gemaak gewees het. Elke televisiekanaal met ‘n geselsprogram sou beslis vir Lasarus groot somme geld aangebied het om sy verhaal te kom vertel. En Jesus so heel waarskynlik net so gewild gewees het. Want dit sou nuuswaardig wees, verstommend, merkwaardig, buitengewoon.

Wat sou die mense vir Lasarus gevra het? Heel waarskynlik van die volgende vrae: hoe lyk die lewe anderkant die graf?, hoe voel dit om dood te gaan?; wat gebeur presies wanneer jy jou laaste asem uitblaas?; hoe is dit om by God te wees?, en seker nog baie ander vrae. Uit alles wat ‘n mens kan lees is dit in elk geval baie duidelik dat die mens nog deur al die eeue maar baie nuuskierig was en is oor dit wat anderkant die graf gebeur.

Die merkwaardige is egter, broers en susters, dat ons net mooi niks hiervan in die gedeelte, en in die res van die Johannesevangelie, lees nie. Lasarus staan op uit die dood en dan is daar … 'n oorverdowende stilte. Dit is asof die opgestane Lasarus met stomheid geslaan is. Ons lees niks verder oor hom nie, niks wat hy gesê het, niks wat hy vertel het van sy belewenisse terwyl hy vier dae lank in die graf was nie.

Hoekom, wil ‘n mens vra, hierdie doodse stilte? Daar is ‘n baie goeie rede voor. En kom ek verduidelik: kyk mens mooi na die verhaal van Lasarus se opwekking, sien mens dat daar eintlik twee hoofkarakters is wat deel is van hierdie vertelling: die een wat opgewek word (Lasarus) en die Een wat die opwekking laat gebeur (Jesus). En met sy beskrywing van hierdie twee hoofkarakters, Jesus en Lasarus, wil Johannes iets sê wat ons nie moet mislees nie.

Hoe teken hy vir Jesus en Lasarus? Lasarus is sonder enige emosie, Jesus se optrede is belaai met die emosies. Lasarus sê nie ‘n woord nie, maar Jesus praat, Lasarus is totaal passief, Jesus die Een wat aktief dinge laat gebeur.

Want kyk hoe vertel Johannes hierdie gebeure: nadat Jesus ontbied is omdat Lasarus siek is, stel Hy sy vertrek na Betanië met twee dae uit, miskien om dood seker te maak dat Lasarus dood is by sy aankoms. Daarteenoor is Lasarus totaal passief. Jesus is verder vol emosie. In die fynste detail word Jesus se emosies hier beskryf: sy gemoed het vol geskiet het, Hy was aangedaan was – en ook - die heel kortste vers in die Bybel, Johannes 11:35, ‘Jesus het gehuil’.

Hierteenoor, broers en susters, staan die emosielose beskrywing van Lasarus soos 'n seer vinger uit. Was hy nie eers bly nie? Hoekom sê hy nie iets nie? Was hy nie bly om sy mense weer te sien nie? Het hy nie gespring van blydskap nie? Dit is tog mos net logies.

Hoekom vertel Johannes hierdie verhaal so, broers en susters? Die antwoord is eenvoudig: dit gaan hier oor Jesus, oor God, wat opwek. Dit gaan hier oor God wat handel, en sy mense wat maar net kan ontvang. Dit gaan nie hier oor die feit dat Lasarus weer lewe nie, maar dat God sy groot mag getoon het. In kort: dit gaan hier oor Jesus, oor God, en eintlik nie oor Lasarus nie.

En eintlik oor nog meer. Dit gaan ook oor die feit dat Jesus gaan sterf, en dat God Hom gaan opwek. Ons sien dit baie duidelik uit verse 25 en 26 waar Jesus sê: ‘Ek is die opstanding en die lewe. Wie in my glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.’

Dit gaan oor Lasarus wat opgewek word en weer lewe. Maar dit gaan ook oor Jesus wat gaan sterf, en ons wat, op grond van Jesus se opstanding, eendag vir altyd sal lewe. Dit gaan oor God, nie oor Lasarus nie. Dit gaan oor God, nie oor ons nie.

Dit gaan oor God wat alleen lewe kan gee, al moet Hyself eers sterf. Dit gaan oor God wat 'n venster van hoop vir ons oopmaak. Dit gaan oor ‘n God wat ons rede gee om te glo, wat ons genoeg gee om in alle omstandighede met oorgawe die lewe te gryp en voluit te lewe. Dit gaan oor ‘n God by wie ons altyd veilig is, hier en nou, en selfs in die graf.

Ons gaan hierna kinders doop. En weet u broers en susters, daar is soms ontstellende parallelle tussen wat in hierdie verhaal gebeur, en wat soms gebeur wanneer ons die sakrament van die doop aanskou. Ons kan nie wag om te sien hoe die dopelinge se doopklere lyk nie. Wanneer die kindertjies na vore gebring word, is dit oplettend hoeveel minder ons met oorgawe sing. Net voor die kind se naam genoem word, is daar altyd ‘n doodse stilte in die kerkgebou. Wat gaan die naam wees? Is dit ‘n familienaam. Een of drie? Of dalk ‘n mooi nuwe soort naam? Gaan een van die dopelinge dalk huil? Wie gaan die dopelinge in die kerk inbring? Gaan dit oupa of ouma wees? Kom ons wees maar eerlik, broers en susters, dit is dikwels die sake waaraan ons aandag gee wanneer kindertjies gedoop word.

Dit, terwyl die doop eintlik vir ons wil sê: dit gaan hier eintlik oor God. Dit gaan nie oor Lasarus wat opgewek word nie, dit gaan nie oor die een wat gedoop word nie, dit gaan oor God. Dit gaan nie oor die emosies van hulle wat gedoop word of die ouers van hulle wat gedoop word nie.

Dit gaan, wil ek amper sê, oor God se emosies. Oor God se liefde. Dat God ons ontsettend liefhet. En dat Hy daarom nie kan wag om aan ons sy verbondsteken te gee waarmee Hy vir ons wil sê dat Hy altyd by ons sal wees.. Dat Hy die God van ons oupas, vaders, kinders en agterkleinkinders is. Die ewige God. Dat Hy ons altyd sal liefhê. Dat Hy oor ons as sy mense, en dit wat ons in hierdie lewe oorkom, begaan is, dat ons swaarkry Hom aangedaan maak.

Daarom handel Hy. Daarom gee Hy aan ons hierdie teken. Daarom gee Hy aan ouers die wysheid om eintlik sy eie kinders in sy teenwoordigheid groot te maak. En wat kan ons doen? Ons kan eintlik maar net soos Lasarus uit die graf uitkom, so stomgeslaan dat ons ... niks kan sê nie.

Miskien, broers en susters, net miskien, as ons verstaan dat by die doop eintlik oor God gaan, en nie oor mense nie, sal ons weer onder die besef kom dat ons nie anders kan as om elke dag ons hele lewe vir God terug te gee nie. Want hier gee Hy ons mos die lewe.

Dit bring my by ‘n laaste saak vanoggend. As iemand in ons dag deur God uit die dood opgewek word, sal die merkwaardige nuus wees (dink maar aan die omie iewers wat sou opstaan). Almal sou daarvan praat. Onder mekaar sou ons nie kon ophou om te vertel hoe groot God is nie.

Maar weet u, dit gaan vanoggend gebeur. Want dit is tog wat die doop vir ons wil sê: deur die teken kry ons deel aan Jesus Christus se dood en opstanding. Simbolies staan ons reeds hier op. Ons sal nooit weer sterf nie. Dink maar weer aan Jesus se woorde van vers 25 en 26: ‘en wie lewe en in my glo, sal in alle ewigheid nooit sterf nie’.

Is dit nuus? Praat ons hieroor? Nee. Hoekom nie? Want ons verstaan miskien nog nie wat dit presies beteken om gedoop te wees nie! Immers, iemand het vanoggend voor u oë uit die dood opgestaan!
Amen