Lukas 15:1-31

Kan God oor ons feesvier?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons almal ken die gedeelte wat ons vanoggend saamgelees het, baie goed. Dit is ‘n gedeelte waaroor daar al baie gepreek is, juis omdat die inhoud van die gedeelte soveel moontlikhede daarstel. Ek wil vanoggend hierdie gedeelte aan die orde stel deur klem te lê op dit wat gemeenskaplik is aan die drie gelykenisse, naamlik die aspek van vreugde en feesvier.

In elke gelykenis, sien ons, raak iets verlore en word dit weer gevind. Eers die skaap, dan die muntstuk, dan die seun. En aan die einde van elke vertelling beskryf Jesus ‘n partytjie, hoe daar fees gevier word.

Dus: drie gelykenisse, elkeen met ‘n fees. Drie verhale, elkeen met dieselfde woord: bly (vreugde). Oor die herder wat die skaap vind, sê Jesus: as hy hom kry is hy bly, en tel hom op sy skouers. As die vrou haar muntstuk kry, kondig sy aan: wees saam met my bly, want ek het my muntstuk gekry. En as die pa sy verlore seun terugkry, verduidelik hy aan die ouer broer: ons kan tog nie anders as om fees te vier nie, want jou broer was dood, en hy lewe weer, hy was verlore, maar is weer gevind.

Die punt, meen ek, broers en susters, is baie duidelik: Jesus is op sy blyste wanneer verlorenes gevind word. Wat meer is, dit gebeur ook in die hemel. Verse 7 en 10 stel dit duidelik: wanneer ‘n sondaar tot bekering kom (dus: verlore was en gevind word) is daar blydskap en vreugde in die hemel. Wanneer een sondaar sy reis na die hemel begin, dan is God en die engele bly.

Hoe, broers en susters, moet ons hierdie uitspraak van Jesus hier verstaan? Hoekom sulke geweldige vreugde in die hemel? Let wel: hier word nie gepraat van ‘n hele stad of ‘n hele volk wat homself bekeer nie, hier word gepraat van net een sondaar wat sy lewe en sy hart verander. Hoe kan net een mens soveel opgewondenheid in die hemel veroorsaak? Wat meer is, sou ons ooit kan dink dat wat ons doen, so ‘n impak op die hemel kan hê?

Kom ons dink mooi, broers en susters. Ons leef en ons sterf, en laat dikwels nie meer na as net ‘n grafskrif nie. Ons grootste dade hier op aarde word selde raakgesien of opgeteken. Dit is half of daar in die hemel maar net van kennis geneem word, en die dag sy loop neem. Maar laat iemand homself nou net bekeer, sê die gedeelte, dan kom die hemel tot stilstand, elke aktiwiteit word gestaak, want dan word daar fees gevier. Hoekom?

Is dit, broers en susters, omdat Jesus en die engele iets sien wat ons nie sien nie? Of van iets weet waarvan ons nie weet nie? Heel waarskynlik. Of liewer: absoluut. Hulle weet wat die hemel inhou. Hulle weet wat dit is om volledig in God se teenwoordigheid te kan wees. Wat meer is: hulle kan nie wag om ons gesig te sien wanneer ons daar aankom nie.

Want wanneer ons daar aankom, broers en susters, leer die Skrif ons baie duidelik, gaan iets wonderliks met ons gebeur. Ons gaan ‘n finale gedaanteverwisseling ondergaan. Ons gaan word soos Jesus is. Ons gaan verheerlik word soos Hy na sy opstanding verheerlik is. God se werk gaan voltooi wees. Ons gaan ‘n hart hê soos Jesus, sal liefhê soos Hy volmaak liefhet, ons sal elke woord kan hoor wat God vir ons wil sê, ons harte sal rein wees. Sonder skuld, sonder vrees, vol vreugde, aanbiddend.

En asof dit nie genoeg is nie, al die ander daar gaan ook so wees. Omdat hulle ook toegelaat het dat God hulle verander. Daar sal nie argumente wees nie, want jaloesie sal nie bestaan nie, ook nie agterdog, want daar sal geen geheime wees nie.

Dit is, broers en susters, waarom Jesus en die engele hulle verheug wanneer net een sondaar tot bekering kom. Want hulle weet wat op die verlostes wag.

Ek wil vanoggend beweer, broers en susters, dat dieselfde vreugde in die hart van God brand wanneer ouers hulle kinders bring om gedoop te word. Hoekom sê ek so? Kom ek probeer verduidelik:

Wanneer ons byvoorbeeld oor ons kinders se vriende, of selfs aanstaandes, moet oordeel, trek ons baie kolomme. Is so iemand ordentlik, of is sy nie? Het so iemand ‘n goeie agtergrond of nie? Kan ek die iemand vertrou of nie? Ken ek die persoon goed genoeg om ‘n oordeel te fel, of nie? Wat doen hy of sy? Sal die persoon by my kind pas? Watter persoonlikheid het hy/sy?

Wanneer God na ons kyk, broers en susters, of wanneer Hy oor ons lewens oordeel, trek God egter net twee kolomme. Vanuit sy perspektief is elke mens besig om of:

  • deur die nou poort of wye poort in te gaan;
  • op die smal weg of breë weg te wandel;
  • op rots of sand te bou;
  • verstandig of onverstandig te leef;
  • gereed vir sy koms te wees of nie;
  • vrug te dra of nie vrug te dra nie.

Dit is soos toe die Titanic gesink het, en meer as 2200 mense in die koue water van die Atlantiese Oseaan beland het. Op land het hulle die name van die passasiers in twee eenvoudige lyste ingedeel en opgeplak: gered en verlore. God se lys, broers en susters, lyk presies dieselfde.

Ook wanneer dit kom by die verhouding tussen ouers en kinders. God vra en kyk nie in die eerste plek of ons ons kinders die regte maniere leer, ‘n goeie opvoeding gee wat skool en later betref nie, sorg dat hulle altyd mooi netjies en skoon is nie, dat hulle huiswerk altyd gedoen is nie, dat hulle reg met ‘n mes en ‘n vurk eet, dat hulle ouer mense respekteer, of wat ook al. Nie, broers en susters, en dit wil ek baie duidelik stel, dat hierdie sake onbelangrik is nie.

Dit is egter nie in die eerste plek waarna God kyk nie. God kyk in die eerste plek of ons ons kinders op die eerste tree plaas om eendag daar uit te kom waaroor God en die engele so bly is. En die heel eerste tree, broers en susters, wat ouers kan gee, is om hulle kinders te bring om die verbondsteken te kom ontvang. Want hier by die doopvont is dit eintlik waar ons kinders hulle eerste treetjies gee op pad na hulle ewi­ge bestemming. Dit is ook hier waar ouers aan God belowe dat dit die pad is waarop hulle hulle kinders nie alleen geplaas het nie, maar ook sal lei, stuur en begelei. Deur die nou poort, op die smal weg, op rots, verstandig, altyd gereed vir sy koms, met ‘n lewe vol vrug.

Daarom, broers en susters, wees verseker dat toe u u kinders gedoop het, daar vreugde in die hemel was. Soos daar vanoggend sal wees wanneer ons hierdie kindertjies ten dope bring. ‘n Vreugde wat brand in God se hart omdat ouers hulle kinders op die eerste tree van ‘n lewe saam met God plaas. Hulle die eerste tree laat gee om te kom by die eindbestemming waarvoor hulle in Christus bestem is.

Die teendeel, broers en susters, is egter ook moontlik. Dat God se hart kan brand van teleurstelling, van hartseer, omdat ouers hulle kinders bring na die doop, en wanneer hulle hier wegstap, hulle nie alleen van die doopvont wegstap nie, maar ook van God af.

Waar die kerk ouers moet begin smeek om net vir ‘n keer saam met hulle kinders in die kerk te kom. Of net vir ‘n slag toe te sien dat hulle by die kategese uitkom. Of om weer vir ‘n slag net saam met hulle uit die Bybel te lees. Of ‘n gebed te doen. Of: om hulle so voor te lewe dat hulle ten minste by pa en ma kan sien dat God vir hulle belangrik is.

God, broers en susters, se hart het gebrand van vreugde toe Hy ons kinders by die doopvont kon seën. Daar kon hoor: maar ons wil ons kind in God se teenwoordigheid grootmaak. Daar was vreugde in die hemel, want daar is gesien dat iemand sy/haar eerste tree op die pad na die ewige lewe by God gee. Hoe, oordeel u, of wat, oordeel u, gaan in God se hart aan wanneer God vanoggend na u en my, en na ons kinders en kleinkinders kyk?

Is daar nog vreugde, omdat ons op pad is na Hom, na ons ewige bestemming? Of, om die beeld van die gelykenisse te gebruik, gaan die hemel maar sy gang, want almal is verlore, daar word nog na almal gesoek, en nog nie een is teruggevind nie?

Mag God, broers en susters, wanneer Hy vandag na u en na my kyk, wanneer Hy na ons kinders kyk, net wil feesvier. Omdat ons almal, ons en ons kinders, op pad is na Hom toe.
Amen