Deuteronomium 6:6-9

Leer jou kind wie die Here is



Gemeente van ons Here Jesus Christus,
In 'n mens se lewe gaan jy deur 'n hele klomp fases. Daar is al 'n hele wetenskap hieromtrent ontwikkel, die sogenaamde faseologie. Dit beskryf veral die verskillende fases waardeur kinders gaan en wat die eienskappe en behoeftes van die verskillende fases is. So word daar, by voorbeeld, gesê dat die eerste fase van 'n kind se lewe die suigeling fase is, dan kom die peuter- en kleuter fases, die kleinkind fase en as hulle skool toe gaan is daar die preprimêre fase, die junior primêre fase, later die senior primêre fase. Later is die kind 'n pre-adolessent, dan 'n adolessent, dan 'n post-adolessent... G'n wonder dat die arme jongmense van vandag soms so sukkel nie – dit kos kophou van 'n ander water om te weet in watter fase jy jou nou bevind en hoe jy behoort op te tree binne daardie fase, want sien, jy kan vir 'n kind mos enigiets vra, maar jy moet hom net nie vra om ''uit'' te wees nie.

Jy moet ''in'' wees, jy moet inpas in die groep, inpas in die lewensfase waarin al jou maats hulle bevind, want kyk, as jy ''uit'' is, as jy ''uitstaan'' vir die een of ander rede, dan is dit amper soos 'n doodsonde.

So gaan 'n kind deur 'n hele klomp fases in sy lewe- en dis nie altyd so maklik nie. Pappa en Mamma is tog so trots as baba sy eerste woordjies sê, sy eerste treetjies loop en hulle sal vir Boetie of Sussie aanmoedig : Kom, loop na Pappa toe; Kom, sê nou mooi : Mamma – maar wat gebeur as Boetie en Sussie die slag goed begin regkry, as Boetie of Sussie nou goed begin loop, goed begin praat ? Dan sê Mamma of Pappa mos al te gou : Hei – sit stil en bly stil!

Ons lees die boeke oor die opvoeding van kinders en dan probeer ons 'n waag houding by ons kinders kweek, ons wil hê dat hulle dan ontdek, sal ervaar – tot Sussie kom sê : Mamma, hoekom wil Kietsie nie wegspoel as ek die toilet trek nie? Dan het jy skielik net mooi genoeg gehad van hierdie waag houding besigheid!

Maar dis nie net kinders wat deur fases gaan nie- ons almal is maar besig om op die een of ander manier deur 'n bepaalde fase in ons lewe te gaan – of jy nou jonk en jeukerig of oud en getroud is, of dit vir jou gaan oor brille en pille of oor klagtes en gedagtes.

Mens sou amper kon sê : soveel mense, soveel fases, maar tog dink ek daar is iets gemeenskapliks aan al die fases waardeur 'n mens gaan: in al die fases van 'n mens se lewe, het jy ander mense nodig en, nog belangriker, in al die fases van 'n mens se lewe, het jy God nodig!

En seer sekerlik die groepie mense waarvan dit baie, baie waar is, is- kinders: Kinders het hulle ouers nodig en kinders het veral hulle ouers nodig om vir hulle te leer dat hulle God nodig het.

Ons kan in die Bybel duidelik sien dat kinders kosbaar is in die oё van die Here. Ons sien dit by voorbeeld in Ps 127 : 3-5: Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee. 4Soos pyle in die hand van ’n krygsman, so is seuns wat gebore is toe hulle vader nog jonk was. 5Dit gaan goed met die man wat sy pylkoker so gevul het!

Ook sien ons dit as Jesus se woorde oor kinders in Matteus 18:1-6:
In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?”
2Hy het ’n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan 3en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. 4Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. 5En wie so ’n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.”

Kinders is kosbaar in die oё van die Here en hierdie kosbaarhede word aan ouers toevertrou. Die Bybel reёl op baie plekke hoe ouers teenoor kinders behoort op te tree. Een van die belangrikste plekke is Deuteronomium 6:4-9
Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. 5Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.
6“Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. 7Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. 8Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ’n merk op jou voorkop wees. 9Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.

Die woorde Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here maak deel van die sjema. Die sjema was 'n spreuk wat baie belangrik was in die Joodse godsdiens. Mens sou kon sê dat dit hulle heel diepste belydenis was, naamlik die belydenis van die één God wat sy volk uit Egipteland uitgelei het en hul onderneming om sy gebooie nougeset en met algehele toewyding te bewaar. Die Jode het elke oggend en elke aand die sjema opgesê. Die Jode het ook die woorde van Deuteronomium 6 8Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ’n merk op jou voorkop wees. 9Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte letterlik opgeneem en die sjema en die gebooie van die Here op 'n klein boekrolletjie geskryf en dié dan in 'n klein leertassie op hulle voorkop en aan hulle arms gedra, trouens, die ortodokse Jode doen dit vandag nog. Ook het hulle letterlik die gebooie op hulle deurkosyne geskryf.

Maar mens sou hierdie gedeelte ook figuurlik kon verklaar. As ons lees 8Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ’n merk op jou voorkop wees, kan mens ook sê dat dit beteken dat hoof en hand, met ander woorde, dit wat jy doen en dit wat jy bedink en beplan onlosmaaklik vas moet wees aan die wil van die Here. . 9Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte, kan beteken dat die gebooie van die Here sigbaar moet wees in 'n mens se huis, sigbaar moet wees in die stadslewe.

Maar dan sê Deuteronomium ook vir ons watter rol hierdie heel diepste belydenis dat die Here die enigste Here is moet speel in ouers se optrede teenoor hulle kinders: “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. 7Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.

Kinders het hulle ouers nodig, kinders het God nodig, kinders het hulle ouers nodig om vir hulle te wys dat hulle God nodig het en dan vir hulle te leer dat God altyd daar is vir hulle.

En weet julle, die enigste manier hoe dit kan gebeur is as ouers daar is om dit vir hulle kinders te leer. Hoe, wanneer, waar ? As jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan, sê Deuteronomium- met ander woorde, waar jy jou ook al bevind, watter tyd van die dag of nag dit ook al is, jy moet daar wees vir jou kinders, daar wees om vir hulle te leer, te wys dat God hulle liefhet.

Die drie seuntjies wat vanmore gedoop gaan word, is baie gelukkig. Hulle het al drie nog albei hulle ouers en albei hulle ouers lê vanmore 'n belofte af dat hulle daar gaan wees vir hulle kinders, veral in hulle godsdienslewens. Weet julle, dis 'n voorreg wat geen geld op aarde kan koop nie. Ek dink nie iemand word predikant omdat hy dink dat hy so baie geld gaan maak nie. Daar is baie ander dinge wat die lewe vir 'n predikant ryk maak. Nie die minste daarvan is dat 'n predikant, meer dalk as ander werkende pa's, die geleentheid het om bedags daar te wees vir sy kinders. So kon ek daar wees toe 'n simpel afrigter my seun baie sleg behandel het by 'n rugbywedstryd. Ek kon daar wees toe my dogter hoor dat sy 'n groot deel van haar kunswerk binne 'n paar dae moes oordoen vir die matriekeindeksamen. Om daar te kan wees vir jou kinders, is 'n voorreg waarvoor ek baie dankbaar is.

Nie almal het dit so maklik nie. Baie ouers moet van donker tot donker werk om die pot aan die kook te hou. Ander word deur omstandighede gedwing om langafstand ouers te wees, om hulle kinders net elke nou en dan te siene te kry. Dis ongelukkig deel van die samelewing waarin ons ons bevind. Maar dié dinge maak nie dat mens ophou om ouer te wees nie. Dit stel jou net voor die uitdaging om regtig voluit daar te wees wanneer jy die kans het om daar te wees vir jou kinders. Jy moet jou tyd van daar wees vir jou kinders werklik kwaliteit-daar-wees maak!

Ja, ons gaan almal deur fases in ons lewe. Ja, nie al die fases is ewe maklik nie. Dis nie maklik vir die een wat homself in daardie fase bevind nie. Dis nie maklik vir die een wat met daardie persoon moet saamleef nie. Ek dink veral die tienerjare vereis partikuliere genade by die ouers...

Daar is nie ‘n manier hoe ek vir die drie pare doopouers, vir al die ouers van kinders in die gemeente, veral ook die enkelouers – daar is nie 'n manier hoe ek vanmore vir julle 'n reseppie kan gee wat sê : as dit gebeur, doen dat; as jou kind so maak, moet jy so optree; - dis net nie moontlik om so iets te doen nie.

Wat ek wel vanmore vir julle wil sê, is dit : Ek dink Deuteronomium 6 leer onder andere vir ons dat as ons wil hê dat ons kinders in hulle lewens moet weet en moet glo en moet uitleef dat die Here ons God die Enigste Here is, ook die Enigste Here van heel hul lewens is, dan moet ons daar wees vir hulle. Ons moet daar wees om dit vir hulle te leer wanneer ook al ons kan, as ons in ons huise is en as ons op pad is, as ons gaan slaap en as ons opstaan. Ons moet dit vir hulle leer met dit wat vasgemaak is aan ons voorkop en op hande, met ander woorde, in alles wat ons sê en alles wat ons doen moet ons vir kinders wys en leer dat die Here die Enigste Here van ons lewens, daarom ook die Enigste Here van hulle lewens is.

Dis nie maklik nie, dis nie maklik nie - maar ons kan nie anders nie - ons kan nie anders nie, want is dit nie juis wat die teken van die water op die voorkoppies van die babatjies vanmore vir hulle, vir almal van ons wil sê nie? Die merk van die doop op die voorkoppe van die babas sê immers dat Jesus daar is vir hulle, daar is vir ons, want deur sy bloed vir ons te stort bevestig Hy vir ons dat Hy Immanuel is - God met ons, God wat daar is vir ons, nou en tot in alle ewigheid.

Ek het vanmore drie briewe saamgebring. Een gerig aan *****’ een aan ***** en een aan *****, die drie seuntjies wat vanmore gedoop gaan word. Ek gaan dié briewe aan hulle ouers gee en ek vra dat eendag, wanneer hulle dit kan verstaan, hulle hierdie briewe oopmaak en dit met julle kinders deel.

Die briewe lees soos volg:
Liewe ****,
Vandag, Sondag ******, het jou ouers jou gebring na die erediens in Gemeente ***** en dit was my voorreg om die doop aan jou te bedien. Omdat jy seker nie vandag sal onthou nie, wil ek jou graag iets meer daarvan vertel:
Deur jou te laat doop, sê jou ouers dat hulle weet dat jy 'n geskenk van God aan hulle is en hulle sê ook dat hulle bly is dat God jou deel van hulle lewens gemaak het. As gemeente, is ons ook bly dat jy deel van ons gemeente se lewe is.
Jy is egter nie net deel van jou gesin saam met jou ouers en die gesin van die gemeente nie. Die doop sê vir jou dat jy ook deel is van God se groot gesin, want Jesus het deur sy versoenende sterwe aan die kruis gesorg dat ook jy 'n kind van God genoem kan word. Dis hoe lief God jou het. Sien, die Here was al vir jou lief nog lank voordat jy van Hom bewus geraak het!
Jou ouers het gesê dat hulle weet dat hulle en jy God se genade nodig het. Hulle het bely dat hulle glo dat ons in die Bybel alles vind wat ons nodig het om God se kinders te wees. Hulle het onderneem om jou te leer wat die doop beteken en om jou te laat grootword in die geloofsfamilie van Christus.
Ons gemeente wil graag, sover ons kan, vir jou en jou ouers die ruimte bied waarbinne dit kan gebeur en ons onderneem om voortdurend te bid dat al hierdie dinge waar sal word en waar sal bly in jou en jou ouers se lewens.
Ek bid dat jy jou hele lewe lank die genade van die Here sal ken deur elke oomblik van elke dag te beleef dat Hy daar is vir jou omdat Hy jou baie liefhet.
Ek bid dat jou lewe vir almal 'n getuienis sal wees dat God elke dag 'n onlosmaaklike deel van jou lewe is.
Ek bid daarom dat die Here jou sal seën en jou sal beskerm, dat Hy tot jou redding sal verskyn en jou genadig sal wees, dat Hy jou gebede sal verhoor en aan jou vrede sal gee!
Jou dienskneg in Jesus Christus,
Ds *****