2 Timoteus 3:10-17

Lei ons, of mislei ons?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Wanneer ‘n mens se omstandighede verander, is die gevolg daarvan gewoonlik ‘n gevoel van onsekerheid. Verander ek van werk, voel ek onseker oor my nuwe werkplek. Verlaat ek graad 7 en gaan ek na graad 8, voel ek effens onseker. Selfs: as ek iets nuuts moet aanpak, iets moet doen wat ek nog nooit vantevore gedoen het nie, bekruip daardie onsekere gevoel my. Ons almal ken dit.

Veral in ons tyd, en ons wêreld. Want dinge rondom ons verander deesdae al hoe meer. En al hoe vinniger. En al hoe meer dinge het ‘n invloed op ons lewens. Die wêreld het ‘n ‘global village’ geword. Veral as gevolg van deesdae se gesofistikeerde kommunikasie sisteme weet almal onmiddellik as iets in die res van die wêreld gebeur. En waar dit ook al gebeur, dit het ‘n invloed op elkeen van ons.

As ‘n diktator net noord van ons landgrense homself aan mag vergryp, raak dit die paaiement van u en my huisverband. En as die konflik in die Midde-Ooste verdiep, haal ons meer rande by die petrolpomp uit. En so kan ons aangaan.

Maar darem, kon ons nog altyd sê, het ons God se Woord, die Bybel. Dit is darem iets wat nie verander nie, al verander alles rondom ons. Maar ook dit het in ons tyd nie meer ‘n vanselfsprekendheid geword nie. Inteendeel. Vir baie mense het juis die Bybel ‘n groot bron van onsekerheid geword.

Lees maar net die dagblaaie. Jesus het nie waarlik opgestaan nie. Jesus was nie regtig God nie. Hy is nie regtig uit ‘n maagd gebore nie. Daar is nie iets soos lewe na die dood nie. En so kan ek nog baie ander voorbeelde noem.

En so, broers en susters, het selfs vir baie die Bybel ‘n bron van onsekerheid geword. Want wat moet ons nou glo? Die kerk sê: bly by die Bybel en dit wat julle geleer is. Al hoe meer mense sê: by watter Bybel, of by wie se interpretasie van die Bybel? Onsekerhede, onsekerhede, en nogmaals onsekerhede, kan ‘n mens amper sê.

En nou, broers en susters, kom vanoggend se teks na u en na my toe, as gelowige, as kind, ouer of grootouer, en eis by ons op, juis in hierdie tye van onsekerheid — selfs oor die Bybel — dat ons onsself, en ons kinders, vanuit die Woord sal onderrig ‘om dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel, en by onsself en ons kinders die regte lewenswyse aan te kweek’. En wel op so ‘n manier dat ons ‘toegerus sal wees, volkome voorbereid op elke goeie werk’.

Toe ek hierdie vers in die week weer gelees het, was my reaksie eers: sjoe! Dit is baie gevra, veral in die tye waarin ons leef. My tweede reaksie was: hoe? Hoe kan ek myself, en my kinders onderrig, as ek self so baie onsekerhede beleef. Hoe kan ek, veral wanneer ek soms self maar so bietjie hopeloos oor my toekoms voel, my kinders (en ander) voorberei vir goeie dade?

Die antwoord op hierdie vraag, broers en susters, is eintlik baie eenvoudig, alhoewel die implikasies van die antwoord alles behalwe eenvoudig is. Hoe doen ek dit? Vanuit die Woord van God, en vanuit die Woord van God alleen. En veral deur die Woord reg te gebruik, te lees, en daarvolgens te leef.

Hoe gebruik ‘n mens die Bybel reg? Kom ek trek ‘n paar eenvoudige penstrepe:

  • Deur myself absoluut aan God se Woord te verbind. As die enigste riglyn.
  • Tweedens, broers en susters, deur die Bybel nie as ‘n wegkruipplek te gebruik nie. Wat bedoel ek hiermee? Ek mag nooit die Bybel gebruik om maar net ou (en dikwels persoonlike) oortuigings te bevestig en te herbevestig nie. Die Bybel moet ons eerder in die lewe instoot, dit wil sê, elke nuwe situasie, elke nuwe gebeurtenis, in dit alles moet die Woord aan die woord laat kom. Deur die Woord so te gebruik dat dit my in elke nuwe situasie toerus.

Ek wil hierdie saak baie sterk stel, broers en susters. Want persoonlik voel ek dat ons juis hier soms die groot fout maak. ‘n Mens kan nie maar net leef, maak nie saak wat rondom my gebeur of verander nie, met ‘n houding van ‘ek het altyd so gedink en so gedoen’, en niks sal dit verander nie. Veral nie as tye ons maan om nuut en vars oor ons geloof in God te dink as alles so vinnig aan die verander is nie.

So ‘n houding, in elk geval, ondermyn die lewende gesag van die Woord om in elke nuwe situasie die gelowige toe te rus tot diens en getuienis nie.

Wat beteken dat ons weer sal moet smag na ‘n lewende omgang met die Woord. Lewend, lesend, bepeinsend, lesend, bepeinsend. En weer ‘n keer lesend. So kom ‘n mens, saam met die werking van die Gees, verantwoordelik tot insig in elke nuwe situasie.

Die Bybel is nuttig, broers en susters, nie omdat dit ‘n versameling van boeke is vol voorskrifte nie. Dit is die Bybel juis nie. Die Bybel is onder andere ook getuienis van mense se worsteling om gehoorsaam voor God te lewe. En iets van daardie worsteling sal ook weer ernstig in ons lewens neerslag moet vind.

Is dit so in ons lewens? Antwoord maar net die volgende vraag: hoeveel keer het u en ek in die week wat verby is, God se Woord gelees? En toe ons het, met hoeveel toewyding? En: het ons net die Bybel gelees, of die Bybel ook toegelaat om ons te lees?

Met ander woorde: laat ek God se Woord toe om my oortuigings en lewenswyse te korrigeer? Of soek ek telkens maar weer net bevestiging vir wat ek glo in die Bybel?

  • In die derde plek, broers en susters, moet ons wegkom van die idee dat die Bybel net toeganklik is vir sekere mense (soos predikante of teoloë). Predikante lees ook maar die Bybel onder leiding van die Gees, soos alle ander gelowiges. En God werk altyd deur sy Woord en sy Gees Ook met sogenaamde gewone gelowiges. Hy wat dus lees, soek, delf en weer lees, onder leiding van die Gees, sal ervaar hoe God toerus vir die lewe.Die Gees

Ons moet egter altyd een ding onthou: ons glo nie in ‘n boek nie, maar in God. Die Christelike lewe kan daarom nooit ‘n verknegting aan ‘n boek wees nie, maar moet eerder bestaan uit ‘n omgang met die lewende God.

Bo alles, broers en susters, is daar ‘n toets vir die regte omgang met die Woord. As ons God se Woord regtig lees en bepeins, sal ons die regte lewenswyse aankweek. In kort: die regte gebruik van die Woord sal lei tot ‘n gehoorsame lewe.

Wat het dit alles te doen, sal u miskien nou vra, met die doop, die opvoeding van ons kinders — en natuurlik van onsself?

Kom ek probeer om hierdie vraag te antwoord. Ek glo, broers en susters, dat dit van kardinale belang is dat ons as ouers, onderwysers, ouderlinge, noem maar op, die verantwoordelikheid het om nie ons somtydse gevoelens van angs, vrees, hopeloosheid, moedeloosheid en veral, ons somtydse gebrek aan toekomsperspektief aan ons kinders oor te dra nie.

Ons moet miskien meer ons kinders net kinders laat wees. En hulle toelaat om te droom, en selfs om soms naïef te wees. Maar nog meer: hulle aanmoedig om te droom oor ‘n mooi lewe, te lewe met hoop, ja, te lewe asof alles reg is. Al weet ons dikwels dat min dinge reg is.

Hoe kry ‘n mens dit reg? Kom ons antwoord vanoggend elkeen hierdie vraag deur na onsself te kyk deur die oë van ander, ook ons kinders. Wat reken u, sien ander as hulle na u en my kyk?

Sien hulle iemand wat met die Woord besig is, die lewe gryp asof dit more gaan eindig? Sien hulle iemand wat soos Henog van ouds saam met God wandel? Sien hulle iemand wie se hele lewe sê: God is vir my belangrik. Ek kan nie sonder God nie? Of in kort: wat sien u kind, en ander, van God as hulle na u en my kyk?
Dit help daarom nie, broers en susters, dat ek my kind doop of laat doop het nie, my kind getrou die kategese laat bywoon, belydenis van geloof laat aflê, dan ‘n Bybel in die hand stop en daarmee eintlik sê: nou is ek klaar, nou het ek my kant gebring.

Ons kinders, en ander, sal vir God lief wees veral as ons vir God lief is. En dit sigbaar word. En weer en weer sigbaar word.

Hoe staan ons met hierdie sake, broers en susters? Kom ons knyp maar ‘n paar minute vandag af om hierdie vraag eerlik te antwoord. Watter voorbeeld leef ons voor?

Alleen as ons God se Woord gebruik soos dit hoort, sal ons toegerus wees vir elke goeie werk. En ook ons kinders. En ander.

Om met vers 13 af te sluit: lei ons, of mislei ons?
Amen