Markus 10:13-16

Moenie julle kindertjies verhinder om na die Here te kom nie



1Geliefdes van ons Here Jesus, ons het vandag die wonderlike geleentheid om weer kindertjies ten doop te bring. Tog is daar steeds ouers wat vandag ’n wanbegrip het van wat dit beteken as óns ons kindertjies laat doop. Daarom is die tema van ons prediking by hierdie doopgeleentheid dan ook: Moenie julle kindertjies verhinder om na die Here te kom nie.

Broers en susters, jongmense en kinders, ek wil vanoggend sommer met die deur in die huis val – hoe verhinder ouers hulle kinders om na die Here Jesus toe te kom? Is die ouers, wat hulle kindertjies laat doop, dan nie juis besig om hulle kindertjies na Hom toe te bring nie? In ’n sekere mate kan ons “JA!” sê, maar die doop, as die sigbare teken van water wat op die kindertjies se kop besprinkel word, het nog nooit ouers daarvan weerhou om hulle kinders van die Here af weg te hou nie! Bloot die feit dat kindertjies gedoop word, is geen waarborg dat hulle ouers hulle na die Here Jesus toe sal bring nie!

In ons gelese gedeelte het ons gehoor hoe die Here Jesus sy dissipels berispe het omdat hulle die kindertjies wou keer om na Hom toe te kom: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie ...” (v 14). Wanneer is ouers besig om hulle kindertjies te verhinder om na die Here toe te kom? Is dit wanneer ons nie ons kinders laat doop nie? As dit só is, dan kan ons mos vinnig ons kindertjies laat doop, en so voorkom dat die Here Jesus ons tot verantwoording sal roep. Ja, as ouers sou meen dat hulle deur die doophandeling nou hulle verantwoordelikheid nagekom het deur hulle kindertjies na die Here Jesus toe te bring, dan slaan hulle die bal ver mis.

Ons moet baie goed besef dat die doophandeling net die begin is van ons kindertjies se bring na die Here Jesus toe. Ouers se nakoming van die doopbelofte is die volle verantwoordelikheid van die opdrag om ons kindertjies na Hom toe te bring.

Gemeente, kom ons kyk so bietjie na die agtergrond van die dissipels se optrede toe hulle die kindertjies wou keer om by die Here Jesus uit te kom. Hoe baie keer het julle nie al gehoor hoe gelowiges sê: “Al verstaan ek dit nie, glo ek maar soos ’n kindjie”? Daarmee probeer sulke persone sê dat hulle nie God se raadsplanne sal bevraagteken nie, maar dit eerder blindelings sal glo. Is dit die boodskap van hierdie gedeelte?

Hierdie paar verse uit die Markus evangelie is al so baie kere misverstaan en geïnterpreteer bloot omdat baie gelowiges dink dat die Here Jesus hier gesê het ons moet sóós kindertjies glo. Maar dit is nie wat Hy gesê het nie! Inteendeel, al wat die Here Jesus hier gesê het, is dat iemand wat “die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie” (v 15). Luister mooi: Hy sê nie dat ons sóós ’n kindjie moet glo nie, maar dat ons gesindhede soos dié van kindertjies moet wees. Nou wat bedoel Hy daarmee?

Ons moet eerstens besef dat die kinders van die Bybelse tye nie so baie aandag gekry het soos kinders vandag nie. Dit is die eerste groot fout wat ons maak as ons dink dat kinders destyds net so baie regte gehad het soos kinders vandag. Vandag het ons wette wat ons kinders beskerm, maar destyds is kinders baiekeer ook net gesien as besittings ... hulle het geen regte gehad nie. Kinders kon dus ook in tye van swaarkry as slawe verhuur of selfs verkoop word. Daar was selfs tye in die geskiedenis van die Jode dat kinders doodgemaak is of as offers vir die afgod Mardoek geoffer is (vgl Jes 57:5). In die destydse Romeinse wêreld is daar duidelike bewyse van afsku en weersin tussen ouers en kinders. ’n Romeinse wet het byvoorbeeld gegeld dat, as ’n pa nie sy kind direk na die geboorte optel en vashou nie, so ’n kind verwerp is, en hy of sy is dan op die ashoop gegooi, hetsy vir aasdiere of vir ouerlose egpare.

As die Here Jesus dan sê dat die Koninkryk van die hemel aan mense, wat dit soos kindertjies in dankbaarheid aanvaar, behoort, en dat kinders boonop nog die belangrikste is, dan ruk dit daardie mense se denksisteme. Deur kindertjies as voorbeeld van ware dissipelskap voor te hou, wou die Here Jesus eintlik sê dat hulle geen hoë verwagtinge het nie ... al wat hulle wil hê, is sekuriteit – beskerming, kos en liefde. Hulle is nie gepla oor die politiek, oor wie belangrik is en wie nie ... vir hulle maak dit nie saak of daar môre kos en klere sal wees nie, o nee, al waarin hulle belangstel, is om híér en nóú versorg en liefgehê te word.

Dink byvoorbeeld aan ’n twee- tot driejarige kindjie: so ’n kindjie moet die heeltyd na jou toe opkyk ... al kan hulle by die kombuiskaste uitkom of selfs yskaste oopmaak, kan hulle steeds nie ’n broodjie smeer of kos maak nie. Hulle sal steeds sê: “Mamma, kossies ’blief!” Ja, jý moet dit vir hulle doen ... hulle is afhanklik van jóú versorging om te weet wanneer hulle kos of iets te drink moet kry. Hulle is ook nie gepla of dit warm of koud buite is nie – dit is jóú verantwoordelikheid om namens hulle daardie besluit te neem ... ja, kindertjies vertrou jóú om die regte keuses en besluite namens hulle te maak. Is dit nie dalk wat die Here Jesus bedoel het toe Hy vir ons gevra het: “Is daar ’n pa onder julle wat as sy seun vir hom ’n vis vra, vir hom ’n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy ’n eier vra, vir hom ’n skerpioen sal gee” (Luk 11:11-12) nie? En die logiese antwoord behoort mos “Nee!” te wees!

Daarom sê die Here Jesus dan ook dat net iemand wat só, soos hierdie kindertjies, dankbaar afhanklik is van God se versorgende liefde die koninkryk van die hemel erwe. Onthou ook: ’n kindjie dink ook nie hy is belangriker as iemand anders nie ... hulle wil net kind wees en dit geniet. ’n Kind trek ook nie jou woord maklik in twyfel nie ... hulle glo en volg onvoorwaardelik. Daarteenoor, volwassenes is baie wantrouig ... Al wat ’n kind eintlik nodig het, is ’n vriendelike woord of ’n liefdevolle aanraking van iemand wat vir hom of haar omgee. Dit is nie vir ’n kind belangrik om alles te verstaan nie, omdat vertroue die bepalende faktor is.

En die Here Jesus wil hê dat ons met hierdie soort kinderlike vertroue in Hom moet glo. Ons moenie daarop aandring om al die geheime van die skepping te verstaan en te begryp nie. Nee, die belangrikste moet wees dat óns ons afhanklikheid van God besef. Daarom het die Here Jesus ook verder gesê: “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer” (Luk 11:13)!

Geliefdes van ons Here Jesus, kom ek vertel julle ’n staaltjie, en dan sal julle dalk verstaan wat is die boodskap van hierdie gedeelte. Daar was eendag ’n ouerpaar, wie se sewejarige dogtertjie baie van musiek gehou het. Die dogtertjie het gereeld op die klavier getokkel. Haar ma het haar later toe geleer om chopsticks te speel. Dit was ook nie lank nie, toe het sy ywerig met haar twee hande chopsticks getokkel – weliswaar nou nie foutloos nie, maar met entoesiasme.

Eendag het die skooljuffrou vir die ma gesê dat, as sy haar dogtertjie se musiektalent wil aanwakker, dan moet sy haar na ’n musiekuitvoering toe vat, sodat die dogtertjie kan sien hoe beroemde pianiste die klavier bespeel. Die ma het toe besluit dat dit ’n baie goeie idee was, en sy het toe twee kaartjies vir haarself en haar dogtertjie na ’n konsert van ’n wêreldbekende pianis gekoop.

Na hulle húlle sitplekke ingeneem het, het die moeder een van haar vriendinne so twee rye vorentoe opgemerk. Met die opdrag dat haar dogtertjie moet stil sit, het die moeder toe met haar vriendin gaan gesels. Op die verhoog, agter die toe gordyn, kon ’n mens hoor hoe die orkeslede hulle instrumente instel en stem ... dit was omtrent ’n lawaai van klanke. Dit was egter nie lank nie, toe het die dogtertjie se nuuskierigheid die oorhand gekry. Sonder dat haar ma sien, het sy vorentoe beweeg, die verhoogtrappies opgeklim en agter die gordyn verdwyn. Gedagtig dat hierdie grootmense besig is om te “oefen”, het sy opgemerk dat niemand voor die pragtige vleuelklavier op die verhoog sit en “oefen” nie. Sonder enige seremonie het sy gaan plaasneem agter die klavier, en met tipiese kinder-entoesiasme het sy haar bekende en ingeoefende chopsticks begin speel – nie foutloos nie, maar met passie. Natuurlik het niemand bo die lawaai van die ander instrumente haar getokkel gehoor nie.

Die dogtertjie het haar so ingeleef in haar getokkel op die klavier, dat sy nie opgemerk het hoe die res van die orkeslede intussen hulle plekke ingeneem het, en dat die gordyne oopgegaan het nie. Bo die skielike stilte kon ’n mens ewe skielik chopsticks duidelik hoor. Intussen het die moeder, wat besig was om na hulle sitplekke terug te keer, ’n onderlangse gegiggel gehoor. Toe sy die mense se koppe na vorentoe volg, het haar hart amper gaan staan: dit is háár dogtertjie wat agter die vleuelklavier sit en ywerig chopsticks speel ... en dit terwyl die beroemde pianis besig was om die verhoog te betree.

Die pianis het na die gehoor gekyk, sy vinger voor sy mond gehou, en vinnig tot agter die dogtertjie beweeg. Almal, die moeder inkluis, het asem ingehou. Die pianis het sy arms weerskante van die dogtertjie gesit, en voor sy kon skrik, het hy vir haar paaiend gesê: “Moenie bang wees nie, hou net aan speel.”

Broers en susters, jongmense en kinders, die wêreldbekende pianis het toe eers met sy linkerhand ’n ondersteunende melodie saam getokkel ... gou-gou het sy regterhand bygekom, en so het ’n wonderlike duet tussen die wêreldbekende pianis en die jong, onervare dogtertjie die gehoor gevange gehou. Só het die meester en jong beginner saam van ’n situasie, wat eintlik lelik kon ontaard, iets mooi gemaak wat by geen ander opvoering nog gesien is nie: meester en beginner maak saam musiek. Verbasend!

En eintlik is die ooreenkoms tussen hierdie staaltjie en God se handeling met die mens merkbaar. Wat ons op ons eie kan vermag, is skaars merkbaar. Tussen al die lawaai van die wêreld om ons, hoor niemand ons stem nie ... niemand sien ons goeie dade raak nie. Ja, ons probeer baie keer so hard om op ons eie, met ons menslik pogings, “musiek” te maak, maar meermale klink dit eerder soos kakofonie as simfonie ... dit is eerder steurend as strelend!

Maar ... wanneer die groot Maestro van hemel en aarde oorneem, raak die wêreld om ons as ’t ware stil vir dit wat gebeur. Ja, onder leiding en saam met die hand van die groot Meester kan ons miserabele pogings wel pragtig en luisterryk wees! Wanneer ’n mens toelaat dat God jou begelei, jou as’t ware “musikaal” ondersteun, dan staar die res van die wêreld verbaas ... dan, sê hulle as ’t ware: “So iets is nog nooit gesien nie ... As ek dit nie met my eie oë gesien het nie, sou ek dit nooit geglo het nie!”

En dit is waar my probleem inkom: hoeveel keer ontneem ouers nie hulle kinders daardie wonderlike voorreg nie? Hoeveel kinders word nie verhinder om by die Here Jesus uit te kom nie? Ja, hoeveel ouers kom nog hulle doopbelofte na? Net soos die ouers van ons staaltjie bereid was om hulle dogtertjie toe te laat om op die klavier te tokkel, net so is baie ouers vandag ook bereid om hulle kinders te laat doop. Maar dit is ongelukkig waar dit by bly! Baie ouers gebruik nie die geleentheid om hulle kinders na die ware Maestro toe te bring nie! Ja, baie ouers maak nie van die wonderlike voorreg gebruik om hulle kinders na die Here Jesus te bring nie! Ja, deur nie hulle doopbelofte na te kom nie, is baie ouers eintlik besig om hulle kinders te verhinder om na die Here Jesus te kom! En dit is selfsugtig en agterlosig!

Gemeente, dink maar aan ons staaltjie – daardie dogtertjie kon nie uit haar eie na die konsert gegaan het nie. En al het sy ook musiektalent getoon, was dit nog die ouers se verantwoordelikheid om dit aan te wakker. En die geleentheid wat haar ouers haar gegee het om die wêreldbekende pianis in aksie te sien, en dan praat ek nie eers van die wonderlike voorreg om saam met hom te kon speel nie, kan haar liefde vir musiek net verder aanwakker.

Hoeveel te meer het ons nie die verantwoordelikheid om ons kinders die geleentheid te gee om die Here Jesus te ontmoet nie? Besef julle dat ons berge sal versit om ons kinders wêreldse geleenthede te gee, maar as dit kom by dit wat werklik saak maak, naamlik ’n persoonlike verbintenis met die hemelse Maestro, dan is ons baie laks en agterlosig. Ja, ouers is vandag beslis die grootste hindernis in hulle kinders se persoonlike ontmoeting met die Here Jesus. En dit net omdat hulle nie hulle doopbelofte nakom nie!

Daarom kom die oproep van die Here Jesus vandag ook na elke ouer: “Laat die kindertjies na My toe kom, en moet hulle nie verhinder nie ...” (v 14). Alleen in die Here se troue sorg en leiding sal ons kinders kan leer om, elke keer wanneer hulle iets in die geloof wil aanpak maar benoud is daaroor, te luister na God se stem: “Moenie ophou of huiwer nie, my kind. Ek sal jou verder begelei. Saam sal ons daarin slaag!”

Ja, wees bedag daarop om God se liefdevolle arms om jou te voel ... weet dat sy Vaderhande reeds, dit wat jy nou eers leer speel, lankal bemeester het. Nog beter: Hy was die komponis daarvan! Saam met Hom kán jy ’n wonderlike duet maak! Gee ons kinders net daardie wonderlike geleentheid! Moet hulle nie verhinder nie!
Amen