Eksodus 32:30-32, Numeri 14:13-16; Jesaja 52:13-53:5

Om 'n sondebok te word



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Dit is onder ons 'n redelik algemene verskynsel dat, wanneer daar probleme in ons lewens kom, of teenspoed ons tref, ons in baie gevalle probeer om die skuld op iemand anders te pak. As ek gevang word vir spoed, is dit omdat die spoedlokval op 'n onwettige plek was, as ek oor die stopstraat ry sonder om te stop, is dit omdat ek dit nie kon sien nie want daar was 'n boom of 'n struik voor, of, as ek my vir ander vererg, is dit omdat die ander persoon daarvoor gesoek het. En so kan ons aangaan.

Ons almal soek altyd die skuldige party. Ons almal is soms geneig om die vinger na ander te wys. Ja, reeds in die begin van die Bybel sien ons dit: Adam sê alles is Eva se skuld en Eva sê weer dit is die slang se skuld. En as daar nog iemand daar was, sou die slang seker die skuld op die party geplaas het. Want in baie gevalle is dit nooit ons skuld nie, maar die skuld van iets/iemand anders. Daar is altyd 'n sondebok aan te wys. So glo ons. So sê ons.

Jesaja 53, broers en susters, handel oor skuld. Ja, dit is 'n baie bekende en mooi hoofstuk in die Bybel, en ons lees dit graag meestal vir die mooi en bekende woorde, maar in die meeste gevalle sonder dat dit ons werklik aanspreek, ons lewens verander. Om hierdie gedeelte toe te laat om dit wel te kan doen, broers en susters, moet ons raaksien dat in Jesaja 53 ook gaan oor waaroor ons hierbo gepraat het, naamlik die soek en aanwys van 'n sondebok.

Die volk in Jesaja 53 is 'n volk in ballingskap. Hoe dit gekom het, vertel Jesaja van hoofstuk 1 af: Eers was die volk voorspoedig, hulle het egter begin sondig, toe word hulle koning deur Nebukadnesar se leërs gearresteer, hulle tempel afgebrand, Jerusalem vernietig, en 'n groot groep mense honderde kilometers daarvandaan weggevoer om in 'n vreemde land as slawe te gaan werk en bly. Dus, om in ballingskap te wees, het beteken: jy bly in 'n vreemde land, jy ken nie die taal of tradisies nie, en boonop is jy goedkoop arbeid vir ander.

Nou, broers en susters, is dit belangrik om raak te sien dat, wanneer Jesaja 53 uitgespreek word, hierdie mense al vir ongeveer 50 jaar in ballingskap bly. Dadelik laat dit 'n mens wonder: Maar as die Here mense wou straf vir hulle verkeerde dade in die verlede, is 50 jaar in ballingskap nie lankal reeds genoeg nie? Maar nog meer, broers en susters: Teen hierdie tyd was daar al honderde jong en middeljarige mense tussen die ballinge, dit wil sê, intussen gebore in ballingskap, wat niks met die vroeëre onreg te make gehad het nie. Die sondes van hulle vaders was nie hulle sondes nie. Dit was nie hulle skuld dat Jerusalem verwoes is nie. Nou hoekom moet hulle dan nou die spit afbyt?

Dit is juis vir hierdie mense, broers en susters, vir wie Jesaja hier in Jesaja 53 preek. Hierdie jonges in die ballingskap wat nie verantwoordelik was vir hulle eie ellende nie. Vir mense wat maklik die vinger na pa en ma kon wys. Of na baie ander sondebokke wat die oorsaak was vir hulle ellende.

Juis daarom weet Jesaja, dié boodskap wat hy nou gaan bring, sal nie maklik afgaan in die gemeente nie. Daarom begin hy in Jesaja 53:1 deur te vra: `Wie sal glo as ons hiervan vertel?'

`Julle', sê hy vir die gemeente, `is vandag terneergedruk. Julle het geen aansien in die wêreld nie. Trouens, almal spot met julle. Verder verwag niemand juis iets goeds van julle nie. Ja, julle situasie is naastenby reddeloos'.

Maar kom ek vertel julle iets wat julle nog nooit gehoor het nie, en wat julle miskien ook nie sommerso sal glo nie: Julle is God se dienaars. God is besig om deur julle ellende iets te bereik ,deur julle ellende heen iets nuuts te skep.

As die profeet so praat, broers en susters, kan ons sommer die diep fronse en verbasing op die gesigte van die gemeentelede sien. Hulle pluk tans die vrugte van vroeëre geslagte se dom politieke beleid, wanbestuur van die ekonomie, uitbuiting van mekaar, die volharding in sondes al het God aanmekaar deur sy profete gewaarsku. Hoe kan God nou kom sê dat hy die ellende kan gebruik om sogenaamd iets nuuts tot stand te bring?

Dan probeer die profeet verduidelik: Hy herinner hulle in beeldetaal aan 'n vroeëre dienskneg van die Here, naamlik Moses. Moses, die man van God, wat een van die weiniges in die Ou Testament is wat die eretitel van `dienaar van God' ontvang het (Jes 52:13).

Julle sal onthou, sinspeel hy op die lewe van Moses, dat hy, toe hy gebore is, nie skoonheid of prag gehad het nie, hy was soos 'n plant wat wortel geskied het in droë grond. Dit wil sê, hy is as 'n slawebaba gebore en niemand het iets goeds van so 'n baba verwag nie. En tog het hy die een geword deur wie God sy volk verlos het. En alhoewel hy gedurende daardie verlossingsproses net goed probeer doen het, was die mense wat hy uit Egipte moes lei, allesbehalwe 'n klomp engeltjies. Eintlik 'n weerbarstige klomp wat by een geleentheid wou terugdraai Egipte toe, en by 'n ander geleentheid 'n ander leier wou kies in die plek van Moses. Hulle het op 'n keer selfs vir hom gesê: Wie het jou miskien aangestel om baas te speel oor ons? (Num 16:13-14). Dus: Die mense aan wie hy goed gedoen en probeer doen het, het hom verag en verwerp en hom nie gereken nie.

Dit was tog nie Moses se skuld dat die mense eiesinnig en eiewillig was nie. En tog, wanneer hulle so gemor en gekla het en God hulle daarvoor wou straf, dan het Moses vir hulle in die bres getree. Here, het hy een keer gesê, moet hulle tog nie straf nie, as daar gestraf moet word, vee liewers my naam uit die boek wat U geskryf het (Eks 32:32). En op 'n ander keer: Here, moet die volk nie straf nie, straf liewers vir my, anders sal die Egiptenaars aan al die ander nasies sê: Die werk wat hierdie sogenaamde God begin het, kon Hy nie voltooi nie. Kyk, die volkie Israel is terug by ons.

So, broers en susters, het Moses telkens in die bres vir ander gaan staan, soos Abraham byvoorbeeld ook vir Sodom en Gomorra gedoen het, al het hy geen aandeel aan die skuld van Gomorra gehad nie (Gen 19).

En, vervolg Jesaja 53, oor ons sonde is Moses onder die misdadigers gereken, want hy kon toe mos nie aan die einde die beloofde land ingaan nie (Deut 34:4). Moses het dit ook in sy afskeidstoespraak gesê: Dit was oor julle dat die Here vir my kwaad geword het en gesê het: Ook jy sal die land nie ingaan nie. Maar: deurdat Moses hulle skuld as 't ware op hom geneem het, kon duisende ander Kanaän wel binnegaan.

Wat beteken dit alles, broers en susters? Dit: Daar sit op 'n byna onsigbare, amper geheimsinnige manier iets verlossends, iets skeppends in as jy ander mense se skuld op jou neem.

Jesaja sê vir die mense in ballingskap: Hou op om die skuldige te soek wat vir al julle ellendes verantwoordelik gehou kan word. Neem liewers die skuld op julle, selfs al het julle geen aandeel daarin gehad nie, want so kom daar iets vry in die gemeenskap, gebeur daar iets skeppends, kan daar nuwe lewe tot stand kom. 'n Vreemde boodskap, broers en susters. Kom ons erken dit maar. Daarom Jesaja se woorde ook aan die begin: Wie sal glo as ons hiervan vertel?

Maar was dit nie maar presies wat Jesus ook gedoen het nie, broers en susters? Dit is juis waarom die Nuwe Testament dikwels Jesus in die woorde van Jesaja 53 teken. Deurdat Hy mense se skuld op Hom geneem het asof Hy self daarvoor verantwoordelik was. het daar nie maar net 'n groepie Israeliete in Kanaän ingetrek nie, maar het miljoene die ewige lewe ontvang. Waarvan u en ek deel is. Want omdat Jesus gewillig was om, ten spyte van sy eie onskuld, mense se sonde op hom te neem, is u en ek vandag verloste mense. Dus: Deur sy gewilligheid om te ly vir dinge waarvoor Hy nie verantwoordelik was nie, het hy lewe vir ander mense moontlik gemaak.

As dit is, broers en susters, hoe ons aan ons verlossing gekom het, waarom soek ons altyd sondebokke op wie ons die skuld kan pak? En hoekom is ons dan so onwillig om die skuld van ander mense se foute op ons te neem?

Dit is mos hoe ons lewe: Dit is nie my skuld nie, sê ons altyd eerste. Hulle het daarvoor gesoek, nou moet hulle maar self die gevolge dra. Hy het self die lat vir hom gepluk. En daarmee onthef ons ons gemaklik van die verantwoordelikheid om ons skouer onder iemand anders se las in te druk.

Wie se skuld is die werkloosheid/die geweld/my huwelik wat aan flarde lê /dat my gesin uitmekaar gespat het? Ons eerste reaksie is om altyd iemand anders te soek op wie ons die skuld kan pak. Ons probeer maar altyd onsself verontskuldig in die waan dat ons so aan die verantwoordelikheid ontkom om saam te ly en te help regmaak wat verkeerd is.

Maar die evangelie sê: Selfs al is ek en jy heeltemal onskuldig, onthef dit ons nie daarvan om die pak te help dra nie. Meer nog: hoe sekerder jy is dat jy geen aandeel aan 'n slegte situasie het nie, hoe groter word jou verantwoordelikheid as Christen om in daardie situasie in te duik, saam te ly en te probeer om iets daaraan te doen. Want dan stap ons op die voetspore van Jesus. En ons sê mos maklik dat ons sy navolgers is.

En tog, broers en susters, kom ons wees maar eerlik. Ons doen dit so min. Want ons is so ek-bevange, soms so selfgesentreerd. Dit is waarom ons so pynlik daarop gesteld is wie se skuld is wie s'n. Morele skuld, en sy gevolge, sê ons, is private besit. Dit is die skuldiges se probleem. En juis omdat dit ons gesindheid is, broers en susters, meen ek is ons gemeenskap soms so onchristelik. Want as dit Christelik was, sou dit anders wees. En as ons sê: Ek kan tog nie sy kruis op my neem nie, kom ons onthou maar: Jesus self het 'n kruis gedra wat hy nie verdien het nie.

Mense wat ander se kruise dra, soek nie sondebokke nie. Selfgesentreerde mense soek sondebokke. Navolgers van Jesus gee nie om om die pyn en ellende van ander te help dra nie. Selfgesentreerde mense weier.

Die evangelie, die blye nuus wat vir sommige 'n dwaasheid, vir ander 'n aanstoot is, maar vir die kinders van God 'n krag is wat red (wat ons verlede week hieroor het is baie duidelik: daar lê genesing, daar lê herstel, daar lê vergifnis en nuwe lewensmoontlikhede in die saambeleef van ander mense se wonde, in die help opruim van ander se gemors waarvoor jy nie verantwoordelik was nie. Want dan leef ons die genade. Dan volg ons Jesus werklik.

En as ons dit nie wil glo, of wil leef nie, broers en susters, moet ons liewer nie ons kinders kom doop of tydens Nagmaal sogenaamd Jesus se lyding kom herdenk nie. Want die doop van ons kindertjies met water, sê die formulier, dui op die wyse hoe Jesus ons sondes met sy bloed afgewas het. En die drink van die wyn aan die tafel van die Here sê dat dit die bloed van Jesus is wat ons sondes afwas. Met ander woorde: Beide die doop en die Nagmaal sê dat, omdat Jesus ons skuld op Hom geneem het, het daar vir ons nuwe lewensmoontlikhede oopgegaan. Vir ons en ons kinders.

As ons dus sê, broers en susters: Dankie Here, dit is mooi en goed dat u aan die kruis my sonde en las gedra het, maar dankie, Here, ek wil net nie dieselfde kruisspoor trap nie. Dan, broers en susters, het ons nog nie die evangelie verstaan nie. Dan weet ons nog nie wat God vir ons werklik gee as ons kinders gedoop word of wanneer ons aan sy tafel aansit nie.

Om saam met God op pad te wees, werklik op pad te wees, om 'n navolger in Christus se voetspore te wees, om ander se skuld en gemors en ellendes op my te neem, is moeilik. Maar dit genees en herstel verhoudinge. Daarvan is Moses en Abraham voorbeelde, en Jesus dié voorbeeld.

Ons wat dus sê ons volg Jesus, moet maar vra of ons bereid is om ook dit te doen.
Amen