Jesaja 49:8-18, 26

Ons vraagtekens, God se uitroeptekens



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

‘n Tydjie gelede was ‘n groot grondverskuiwing in Indië taamlik in die nuus. As gevolg van aanhoudende reëns het ‘n grondheuwel bokant ‘n dorp so nat geword dat die hele heuwel inmekaar gestort het, en die modder en grond het ‘n gedeelte van die dorp heeltemal verswelg - onder andere ook 'n kleuterskool.

Dit het die reddingswerkers meer as 'n week gevat om die nagenoeg sestig lykies van die kinders en dié van die onderwysers onder die modder uit te grawe. Daar was baie koerantberigte oor dié ramp. Een berig se opskrif was: Die dag toe God die kinders vergeet het…

Of dit wel so is, broers en susters, is natuurlik ‘n vraag. Dat God sy mense kan vergeet. Maar kom ons wees maar eerlik: soms, wanneer ‘n mens kyk na die dinge wat partykeer in ‘n mens se lewe gebeur, as jy aan jou lyf voel hoe hard en genadeloos die lewe jou behandel – voel ‘n mens ook maar so. Voel dit ook maar so ‘n bietjie of God van jou vergeet het.

Kan dit gebeur, broers en susters? Kan God 'n mens vergeet? Kan dit wees dat God se aandag nie voluit by jou is nie, dat jy daar doer ver op die agtergrond van God se bewussyn verkeer, dat jy uiteindelik in die mis van vergeetagtigheid verdwyn? Daar is immers miljoene der miljoene mense op hierdie aarde, elk met sy eie hopie moeilikheid en seer, en daar is maar een God wat aan al hierdie miljoene se probleme aandag moet gee – dit kan mos dan gebeur dat die klein mensie wat ek is in al hierdie miljoene nie raakgesien word nie.

Soms dink ons so, en dit is dan wanneer dit voel asof ek nie meer vir God bestaan nie, dat Hy nie meer aan my dink nie, dat Hy my vergeet het!

Kan God 'n mens vergeet? Israel het so gedink. Hulle het gedink dat God hulle vergeet het. In Jesaja 49:14 het ons gelees dat hulle sê: ‘Die Here het my verlaat, die Here het my vergeet.’ ‘n Mens voel so half en half of jy so bietjie simpatie wil hê met die volk wat so sê, want hulle verkeer immers in ballingskap. Hulle is deur ‘n vyandige, heidense volk in ‘n oorlog verslaan, hulle land is in besit geneem, hulle stede, hulle tempel is platgeslaan en hulle is weggevoer na 'n vreemde land om daar as ‘t ware as goedkoop arbeid vir hulle heidense meesters te werk. En nou sit hulle al vir 'n hele klomp jare daar in die vreemde. Daarom hulle uitspraak: God het van ons vergeet!

Maar dit is ook ‘n uitspraak, broers en susters, wat eintlik geweldig vreemd is. Want dit staan soos ‘n seer duim uit in die hoofstuk waarin dit geskryf is. As ons die gedeelte weer mooi lees, sal ons dadelik raaksien dat dit tussen ‘n see van wonderlike beloftes staan: die Here sê dat Hy die volk en hulle land gaan herstel; Hy gaan hulle uit ballingskap bevry en hulle versorg op die pad deur die woestyn na hulle land toe. Ek gaan dit doen sodat al wat leef sal besef dat Ek die Here is, jou Redder en jou Verlosser, die magtige God van Jakob, sê die God in vers 26.

Kom ons noem net een meer spesifieke voorbeeld: in vers 13, die vers net voor die klagte dat die Here hulle vergeet het, word uitgejubel hoe wonderlik die beloftes van die Here is:

Jubel, hemel! Juig, aarde!
Sing vrolik, berge!
Die Here het vir sy volk uitkoms gegee,
Hy het Hom ontferm oor sy volk
wat in nood was.

En dan, die Here het ons vergeet. Hoe vreemd.

Natuurlik was dit die volk se eie skuld dat hulle in ballingskap was: hulle was aan die Here ontrou, hulle het met heidense volke saamgesweer, hulle het afvallig geraak en ander afgode aanbid – en nou, ten spyte hiervan, belowe die Here dat Hy hulle gaan red, dat Hy Hom oor hulle gaan ontferm. Is dit nie meer as genoeg rede om te jubel en te juig nie, dit is sulke wonderlike nuus dat die hemel, die aarde, die berge van vreugde behoort te weerklink – maar Israel juig nie. Hulle kla. Hulle is nie opgewonde nie, hulle sug eerder. Hulle vertel nie hoe goed en genadig nie Here is nie, hulle sê eerder dat Hy hulle vergeet het!

Hulle sê in soveel woorde : Here, U beloof nou wel dit en dat, maar, met alle respek, U woorde en beloftes klop nie met die werklikheid nie. Ramp op ramp het ons oorval, ons versmoor onder al die ellende! Die mure van Jerusalem lê plat, ons is weggevoer van ons land, ons huise en ons tempel. Here, U praat in uitroeptekens, maar ons sit met vraagtekens! U sê: Jubel! Juig! Maar ons kan nie anders as om te vra: Waarom het U ons verlaat, ons vergeet?

Ons ken ook hierdie vraagtekens. Ons weet ook dat die vraagtekens van die hoekoms? waaroms? en die hoe lank nog? soms baie sterker by ons leef as die uitroeptekens van die Amens en die Hosannas! Ons worstel ook maar met die spanning tussen die heerlikheid van die beloftes van God en die werklikheid van die harde lewe waarin ons ons van dag tot dag bevind.

Ja, daar is tye wanneer ons nie anders kan as om ‘Amen’ te sê en lofgesange te sing wanneer ons besef hoe goed die Here vir ons is nie. Maar tussenin, en, so voel dit, baie meer kere, wil ons kla, vra, wag, hoop, roep want ons is onder in die put en dit voel of ons nooit, maar nooit daaruit gaan kom nie.

Maar as die vraagtekens so baie is, so deel van ons lewens is, beteken die uitroeptekens van God se beloftes dan niks nie? Is die beloftes net so vaag en net so vlietend soos rook wat deur die wind van die werklikheid weggewaai word?

Natuurlik nie! Kom ons gaan terug na Jesaja 49. Dit is nie om dowe neute dat die enkele opstandige klag van Israel so deur die troosryke beloftes van God omring word nie. Die struktuur van die teks wil vir ons sê dat die swaar van die lewe 'n werklikheid is, maar dat dit as ‘t ware verswelg word deur God se beloftes. God se beloftes is sterker, is meer, is in die meerderheid – al moet ons soms wag, al neem dit soms 'n tyd voordat die beloftes in vervulling gaan.

Die skrywer van Jesaja gebruik twee aangrypende beelde om hierdie punt by ons tuis te bring. Eers sê hy dat God soos 'n moeder is:

Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie.

En, nog meer as dit, God is soos 'n verloofde – Hy het ons naam is sy handpalms gegraveer (vers 16) – iets wat die verliefdes van daardie tyd dikwels gedoen het. Kom ons sê dit anders – God het as ‘t ware 'n geraamde foto van elkeen van ons op sy lessenaar. Hy herinner Homself elke dag aan ons, Hy sorg dat ons voor sy oë bly, hy dink aan ons – Hy sal ons nie vergeet nie!

En die doop is vir ons ‘n sigbare teken daarvan. Wanneer hierdie kindertjies vanoggend gedoop word, en ons hulle name noem, is dit asof God hierdie name op sy handpalms graveer. Amper soos wanneer ons kinders van die skool af by die huis kom met ‘n sterretjie geteken op die agterkant van hulle hand. ‘n Sterretjie wat sê, as hulle daarna kyk, wat hulle herinner aan iets wat hulle moet onthou. Of dit nou ‘n boek is wat onthou moet word, huiswerk wat gedoen moet word, of iemand wat gebel moet word. Die sterretjie maak dat hulle wat gedoen moet word nie vergeet nie.

So, by wyse van spreke, graveer God hierdie kinders se name op sy handpalms wanneer hulle gedoop word. Sodat Hy hulle nooit sal vergeet nie. Maar ook sodat hierdie kindertjies kan weet: hulle God, die enigste God, sal hulle nooit vergeet nie.

God, broers en susters, vergeet ons nooit nie. Al voel dit vir ons so. Watter bewys het ons hiervan? Nie alleen die feit dat Hy al ons sondes op Hom geneem het nie, maar veral dat Hy, wat self God is, aan die kruis uitgeroep het: My God, my God, waarom het U my verlaat?

Juis daarom sal ons nooit weer sonder God wees nie. Want ook ons name is op sy handpalms gegraveer. Ons lewe mag vol vraagtekens wees, maar dit kan nooit groter as die een groot uitroepteken wees nie: God het ons lief! Liewer as wat ‘n moeder haar kind kan hê.

Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie.

Die vraag is dus nie ‘Kan God 'n mens vergeet?’ nie – die vraag is eerder: ‘Kan 'n mens so 'n God vergeet?’
Amen