Johannes 10:1-21

Ouers is ook herders



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Op 'n hele klomp plekke in die Bybel, word die gelowige met ‘n skaap vergelyk. En eintlik, broers en susters, is dit alles behalwe ‘n kompliment. En kom ek verduidelik:

Een van my loseermaats op universiteit se ouers het op Aberdeen (in die Kaap) gewoon, ‘n streek bekend vir sy skape. Sy pa was onderwyser, maar ook skaapboer. Hy kon soms nie uitgepraat raak oor sy pa se skape nie. Skape, het hy gesê, is die domste diere wat ‘n mens kry. Wanneer dit reën, koek die skape in ‘n bondel saam, gaan lê op die grond en druk hulle koppe onder die pens van die volgende skaap in. Hulle is so dom, het hy gesê, dat hulle nie eers weet dat hulle net hulle koppe moet oplig as hulle sukkel om asem te kry nie, want dit het gereeld gebeur dat 'n klomp skape so versmoor het terwyl dit reёn.

Verder, het hy my vertel, het skape baie meer aandag nodig as enige ander plaasdier, want hulle kan eenvoudig net nie na hulleself omsien nie. Skape sal byvoorbeeld 'n hele land se weiding opvreet as jy hulle nie na 'n ander land aanjaag nie. Hulle sal elke stukkie gras opvreet totdat daar van 'n groen weiveld net die kaal grond oorbly.

Verder is skape glo nogal bysiende. Hulle kan nie 'n jakkals of roofdier van ver af sien aankom nie, en hulle skrik ook baie maklik. Hulle kan nie terugbaklei teen 'n roofdier nie. Hulle kan maar net probeer weghardloop.

Skape, vertel hy verder, het ook nie soos 'n hond of 'n perd of 'n kat of 'n duif die instink om sy huis op te spoor nie. ‘n Skaap wat verdwaal het is 'n skaap wat verlore is.

Hoe meer ek hieroor dink, broers en susters, hoe meer besef ek hoe raak beskryf die Bybel ons as dit byvoorbeeld in Jesaja 53:6 sê : Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop.

Ons is wraggies baie soos skape. Soos skape verander ons nie sommer maklik van omgewing nie. By die huis het ons elkeen dikwels ons eie stoel of bank waarop ons gaan sit. Ons hou nie regtig van verandering nie. As alles goed en reg is, moet dit liewers maar so bly. Ons trek nie graag nie, en verskuif nie graag van werk nie.

Soos skape, kan ons ook nogal bysiende wees: ons sien net wat hier om ons aan die gang is — ons sukkel om verder te kyk en die groter prentjie te sien — en as daar moeilikheid kom, dan is ons eerste reaksie baie keer ook om maar net weg te probeer hardloop.

Ja, miskien sê Die Bybel dit tog reg: Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop.

Dus, broers en susters, wanneer Markus 6 byvoorbeeld sê dat Jesus die skare innig jammer gekry het, want hulle was soos skape wat nie ’n wagter het nie, dan word dit nie bedoel om 'n kompliment te wees nie, maar wys dit vir ons net hoe baie Jesus vir ons omgee, want Hy besef terdeë hoe hulpeloos ons as mense is.

Die goeie nuus is egter, dat Jesus hier in Johannes 10 vir ons sê: Ek is die goeie Herder. Met die implikasie: Ek het gekom om te dien, Ek het gekom om te versorg, Ek het gekom om die pad aan te dui, Ek het gekom om julle te beskerm, Ek het gekom om julle te red.

In ons Skriflesing ontmoet ons twee mense wat na die skape omsien — die Goeie Herder en die huurling. Die huurling het eintlik geen belang by die skape nie, hy het geen verbintenis met die skape nie. As daar moeilikheid kom, dink hy eerste aan homself en laaste aan die skape.

Hierteenoor sê Jesus egter: Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, en Ek lê my lewe af vir die skape. Jesus ken sy skape, Hy ken hulle so goed dat Hy hulle op hulle name kan roep en hulle Hom sal volg, want hulle ken sy stem. Hiermee beskryf Jesus die intieme vertrouensverhouding wat daar bestaan tussen Hom en sy volgelinge.

Jesus beskryf in Johannes 10 'n skaapkraal wat net een ingang het. Dit is hoe skaapkrale dikwels in die Bybelse tyd gelyk het. Die herder het sy skape altyd net deur daardie een ingang ingelei. Soos die skape inkom, het die herder sy skape ondersoek, en as hulle 'n skrapie opgedoen het, het hy ‘n bietjie salf op die seer plek gesmeer, as 'n skaap dors was, is dit water gegee om te drink, en die hele tyd het die herder sy skape gestel om seker te maak dat een nie afgedwaal het nie.

As almal dan veilig en versorg was, het die herder 'n baie liefdevolle ding gedoen: hy het gaan lê voor die ingang om so met sy eie liggaam die skape te beskerm teen enige gevaar.

Die herder word dus so self die ingang. Jesus sê dit ook: Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Hoe sorg Jesus dat ons die lewe kan hê, en dit oorvloed? Hy lê sy lewe vir ons af deur te sterf. En as die Bybel by hierdie punt opgehou het, sou ons 'n probleem gehad het, want dan sou ons maar weer rondgedwaal het soos skape wat nie ‘n herder het nie, want as die skape se herder sterf, is hulle mos herderloos. Daar is niemand om hulle te beskerm nie, niemand om hulle te versorg nie, niemand om hulle op die regte pad te lei nie.

Maar dit is gelukkig nie wat met ons gebeur nie. Die boodskap van die Bybel eindig nie met die Herder wat dood lê en die skape wat uitmekaar gespat het en verdwaas en verdwaal ronddwaal nie. Want ons lees in vers 17 en 18: Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem.

Die Herder lê sy lewe af ter wille van sy skape om dit weer op te neem. Dit is een van die heel grootste verskille tussen die Christelike geloof en baie ander gelowe. Die ander gelowe glo dat jy jou lewe moet aflê vir jou god, jy moet bereid wees om te sterf vir jou god, daarom dat mense doelbewus met vliegtuie in geboue sal vasvlieg, daarom dat iemand dinamiet om sy middel sal vasbind en op 'n bus klim en homself en almal op die bus die ewigheid in sal blaas...

As Christene kan ons sê dat ons God sy lewe vir ons afgelê het. Ons Herder lê sy lewe vir ons af — Hy verwag nie dat ons soos slagskape ons lewens moet aflê sodat Hy op een of ander manier die voordeel daaruit kan trek nie. Hy lê sy lewe vir ons af sodat ons dié oneindige groot voordeel kan trek dat ons die lewe kan kry — en dit in oorvloed. Sien, Hy het nie net sy lewe afgelê nie, Hy het dit ook weer opgeneem deur vir ons op te staan uit die dode om so te sorg dat ook ons deel kan kry aan die ewige lewe by ons Hemelse Vader.

Dit is hoe Jesus Hom aan ons openbaar. Dit is wat Hy vir ons kom doen het. Hy is voorwaar die goeie Herder. Hy lê sy lewe vir ons af. Hy ken ons elkeen op die naam. Hy is die Goeie Herder.

Presies dit alles, broers en susters, gebeur vanoggend hier by die doop. Die dopeling kan eintlik niks doen nie. Letterlik en figuurlik. Die dopeling kan nie na die doopvont stap nie, hy of sy moet gebring word. En terwyl niks aangebied kan word nie, word alles ontvang. Die teken dat God ook hierdie skapie se naam ken. Die doop as sigbare teken dat hierdie skapie nou ook in sy kraal is.

Nie, broers en susters, dat ‘n dopeling na sy doop nou maar net niks hoef te doen nie! Ons moet daarom vra: God is ons Herder, en dit word sigbaar hier by (onder andere) die doopvont. Maar is ons van ons kant af goeie skape? Hoor ons wanneer die Herder ons naam roep? Ken ons ons Herder? Vir 'n skaap, om sy herder goed te ken, moet hy baie tyd saam met sy herder deurbring, hy moet luister as sy herder met hom praat, hy moet sy herder volg waarheen hy hom ook al sou lei.

Ons hoef geen twyfel te hê oor die Herder nie. Hy is die goeie Herder. Hy is die ingang tot die lewe. Hy het gekom sodat ons die lewe kan hê en dit in oorvloed. Dit alles sal ons nou weer by die doopvont sien.

Maar waaroor daar miskien twyfel is, is hoe ons ons Herder volg. En wat ek hiermee bedoel, wil ek graag soos volg verduidelik:

Hulle vertel dat op 'n dag daar 'n voordragkompetisie was. Die opdrag was om Psalm 23 voor te dra. 'n Baie beroemde spreker, 'n orator van formaat het gekom en hy het op meesterlike wyse die Psalm voorgedra. Sy stem het gebulder as daar gebulder moes word, sy stem het versag tot 'n sagte fluistering waar daar sag gepraat moes word. Hy het 'n meesterlike vertolking van die Psalm gelewer. Toe hy klaar was, het die mense hom staande toegejuig en gevra vir 'n encore.

Toe die applous uiteindelik bedaar, staan die enigste ander deelnemer op. Hy het sag begin om dieselfde woorde as die groot orator te sê: Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Toe hy klaar is, was daar geen dawerende applous nie. Almal het doodstil gesit, party met trane wat oor hulle wange loop, ander met die hoofde gebuig in gebed.

Toe staan die eerste deelnemer, die groot en beroemde spreker op en hy sê : Ek het 'n belydenis wat ek nou moet maak. Daar is 'n verskil tussen wat julle so pas by hierdie man gehoor het en wat julle by my gehoor het — en die verskil is dit : Ek ken die Psalm, maar hierdie man ken die Herder!

Daar is min, bitter min van ons wat nie die grootste deel van Psalm 23 uit die kop uit kan opsê nie. Ons ken die Psalm. Maar hoeveel van ons, broers en susters, kan in alle eerlikheid sê dat ons die Herder van Psalm 23, die Herder van Johannes 10, die Goeie Herder, ken, waarlik ken?

Alleen as ons hierdie Herder ken, sal ons ook weet hoe om voor te loop as herder vir my kinders en al God se ander skape!
Amen