Deuteronomium 14:22-29; 16:9-15

Vreemde vreugde en vreemde blydskap



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Wanneer 'n mens dele uit Deuteronomium 14 en 16 lees, dink jy onwillekeurig aan die bekende blydskapwoorde in Paulus se tronkbrief aan die Filippense, waar daar nie minder as sewe keer van blydskap gepraat word en waar Paulus in die bekende Filippense 4:4 sê: ‘Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!’. Deuteronomium sou sê: ‘Wees altyd vrolik! Ek herhaal: Wees vrolik!’

Maar kom ons vra maar dadelik die vraag wat u wil vra, broers en susters: Kan 'n mens in die redelik depressiewe omstandighede waarin ons vandag leef, nog bly wees, vrolik wees? En wat bedoel die Bybel as dit oor blydskap of vreugde praat? Is die bedoeling regtig dat 'n mens in alle omstandighede vreugde kan ervaar?

Om die Bybelse opvatting oor blydskap reg te verstaan, broers en susters, moet ons een ding reg aan die begin goed begryp: Blydskap en vreugde is iets anders as plesier. Plesier is iets buite jou wat jou genot verskaf en wat, as die prikkel of die oomblik verdwyn, oor en verby is. Dit is soos die kindjie wat by 'n mallemeule op die stampkarretjies ry en uit sy of haar magie kraai van plesier terwyl daar gery word, maar bedroef begin huil wanneer sy/haar rybeurt oor is. En so is dit dikwels ook met ons, broers en susters. Sodra daardie iets wat plesier verskaf verdwyn, maak plesier plek vir hartseer, negatiewe gedagtes en depressie.

Blydskap, sê die Bybel, is egter iets anders. Blydskap of vreugde of vrolikheid in Bybelse sin is iets wat nie 'n prikkel van buite nodig het nie, omdat dit uit jouself kom, en iets is wat in alle omstandighede in jou kan bly.

Toe Deuteronomium 12-26 opgeskryf is, broers en susters, was dit allermins 'n lekker tyd in Israel se geskiedenis. Hierdie deel is heel waarskynlik in die tyd van koning Jehu neergeskryf. En Jehu, so vertel 2 Konings 9-10, was die koning wat na sy bloedige staatsgreep teen koning Joram opdrag gegee het dat Isebel in Jisreël en sewentig koninklikes in Samaria vermoor word en dat dié sewentig se koppe in die stadspoort uitgestal moes word vir almal om te sien. Daarna het hy op 'n verraderlike manier honderde Baälspriesters om die lewe laat bring. So wreedaardig was die menseslagting dat Hosea (Hosea 1:4) byna 100 jaar later sou aankondig dat die Here Jehu se bloedbad in Jisreël en Samaria nie vergeet het nie en gaan straf.

Jehu se einde was verder die einde van die florerende ekonomie van Israel. Kontak met buurlande is verbreek — die vermoorde Isebel was immers die dogter van die koning van Tirus — en vyandelike magte het vir die eerste keer in 30 jaar weer oor Israel se grense begin inkom. In 2 Konings 10:32 staan daar byvoorbeeld: ‘In daardie tyd het die Here begin om die gebied van Israel kleiner te maak. Oral in die grondgebied van Israel het Gasael hulle neerlae toegedien’.

Dinge het dan die volgende 60 jaar ook al hoe meer agteruitgegaan. Mettertyd het daar 'n hon­gersnood in die land uitgebreek wat so erg was dat ma’s hulle eie kinders begin slag en eet het (2 Kon 6:24-29). En teen die einde van die 60 jaar, so vertel 2 Konings 14:26, het die Here ‘die bittere ellende van Israel raakgesien: Israel was volkome weerloos en sonder enige helper’.

Dit dan, broers en susters, was die omstandighede waarin daar vir die gelowiges in Deuterono­mium 14 en 16 gesê word: ‘Wees vrolik/bly!’ En dadelik wil 'n mens, heel menslik, vra: Maar hoe op die aarde kon die Here dit van hulle verwag?
Om 'n antwoord op hierdie vraag te kry, broers en susters, moet 'n mens Deuteronomium 14 aandagtig binne die raamwerk van die hele boek lees. Deuteronomium was — gegewe die tyd waarin dit opgeteken is — uitermate besorgd oor arm mense en mense wat gevaar geloop het om deur ander mense uitgebuit te word.

Deuteronomium 15:7-8 sê byvoorbeeld: ‘As daar 'n arm mens in jou straat is, moet jy nie hard en suinig wees nie. Wees vrygewig teenoor hom en leen hom wat hy nodig het’. Deuteronomium 16:19-20, wat dit het oor die hulpbehoewende en die regspraak, sê op sy beurt weer: ‘Jy moet die regspraak sy loop laat neem en vir niemand partydig wees nie...jy mag geen omkoopgeskenk aanneem nie...Jy moet alleen laat geld wat reg is’. In hoofstuk 23 staan daar: ‘Jy mag nie 'n slaaf wat weggeloop het...aan sy eienaar teruggee nie. Die slaaf mag by jou woon...Jy mag hom nie laat swaar kry nie’. En hoofstuk 24: ‘Jy mag nie die regte van 'n vreemdeling, weduwee of weeskind van hulle af wegvat nie, jy mag nie jou land heeltemal afoes nie, jy mag nie al die olywe van jou bome afslaan nie. Wat oorbly is vir die armes en die vreemdelinge, die weduwees en die weeskinders’.

Dit is in hierdie verband dat Deuteronomium in die slegte tye waarin dit geskryf is, van vreugde praat. Want vreugde kom, volgens Deuteronomium, nie uit iets buite jou of uit iets wat ander mense aan jou doen nie, maar juis omgekeerd: Vreugde kom uit jou eie hart en uit dit wat jy aan ander mense doen. Vreugde, sê Deuteronomium, is om ander mense te versorg, te kan versorg, en van ondergang te red.

As 'n mens egter Deuteronomium mooi lees, broers en susters, kom jy gou agter dat dié vreugde nie maar vanself in mense aanwesig is nie, maar 'n Bron het waaruit dit kom. Herhaaldelik herinner Deuteronomium die gelowiges daaraan dat God hulle versorg. As daar byvoorbeeld staan dat jy die reg van die weduwees, weeskinders en vreemdelinge nie moet verdraai nie, word dit gemotiveer: ‘Jy moet onthou dat jy in Egipte 'n slaaf was, en dat die Here jou God jou daaruit bevry het. Daarom beveel ek jou om al hierdie dinge te doen’. (Deut 24:18). En as daar in Deuteronomium 24:22 staan dat jy die wingerd nie heeltemal kaal moet stroop wanneer jy oes nie, vervolg die teks weer: ‘Jy moet onthou dat jy in Egipte 'n slaaf was. Dit is waarom ek jou beveel om al hierdie dinge te doen’.

En teen die einde van die boek, in Deuteronomium 26:1-12 staan daar nog weer dat die Israeliete elke jaar, nadat hulle geoes het, 'n mandjie vrugte na die tempel moes bring en dit dan voor die priester moet neersit en 'n geloofsbelydenis moes opsê waarin die hele geskiedenis sedert hulle verblyf in Egipte kort saamgevat word en wat eindig met: ‘Dit is die rede waarom ek nou die eerste opbrengs van die land wat deur die Here aan my gegee is, gebring het’. En dan vervolg Deuteronomium 26:11, net soos in Deuteronomium 14 en 16: ‘Jy moet al die goeie dinge geniet wat die Here jou God aan jou en jou huisgenote gee, jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by jou woon’.

Met ander woorde, broers en susters, wat Deuteronomium hier sê is: Vreugde kom uit die wete dat jy 'n Vader het wat jou selfs in die moeilikste omstandighede versorg. Selfs tussen al die bedrog en bloedvergieting deur, deur al die armoede en hongersnood en siekte deur, is jy nie alleen nie. Jy het 'n Vader. En vreugde begin en kom uit die belewenis van die feit dat jy aan hierdie God behoort, dat jy sy kind is. Daarom sê Deuteronomium 14:1: ‘Julle is kinders van die Here julle God....’

Maar goed, broers en susters. As dit dan so is dat vreugde gebore word uit die belewenis dat jy God se kind is en Hy jou Vader, hoe beleef 'n mens hierdie kindskap van God? Jy beleef jou kindskap van God, sê Deuteronomium, nie deur daaroor te sit en peins nie, maar wanneer sy karaktertrekke in jou gestalte kry, wanneer jy in jou eie lewe al hoe meer soos God begin optree. Of anders gesê: om kind van God te wees beteken nie om iets te wees nie, dit beteken om iets te doen.

Vreugde word dus deel van 'n mens se lewe as jy in jou eie optrede teenoor ander mense kan sien dat God en sy barmhartigheid besig is om in jou daaglikse optrede gestalte te kry. Vreugde is om te besef: Dankie Here, ek leef nie meer vir myself nie. Dankie Here, dat daardie ou heb­sugtigheid van my, daardie eie ek wat die hele wêreld, ook die mense om my, wou inspan om my te plesier en na my pype te dans, aan die sterf is en God besig is om in my lewe gestalte te kry.

Vreugde is dus om te besef: as mense na my kyk, sien hulle iets van God raak. Ek is deel van God se plan en span, deur my hande en voete en oë kry die nuwe hemel en die nuwe aarde gestalte, 'n aarde waar die trane, droefheid, armoede en vyandskap al hoe minder en minder word. Dit is vreugde, sê Deuteronomium: Om deel te wees van hierdie plan en span van God.

Hierdie saak, broers en susters, weet ons egter, is nie so maklik nie. Want om met soveel vry­gewigheid en vreugde te kan lewe, kos dat u en ek eie gewin en die eie ek moet afsweer. Jesus het dit immers baie duidelik in Markus 8:34 gestel: Jy kan nie my dissipel word nie — en daarom ook nie kind van God nie — tensy jy jouself, jou eie belange, elke dag kruisig.

Eiebelang, broers en susters, soek na dinge buite jou wat jou plesier kan verskaf. Maar as 'n mens se lewensrigting verander, waar ander mense, en nie net jyself nie, in jou visier kom en ander mense vir jou belangriker word as jy self, kom jy in die gesin van God tuis en begin lyk jy al hoe meer na jou Vader. En waar dit gebeur, sê die Bybel, is daar vreugde...ook in die hemel (Luk 15:10).

Ons moet hier mooi luister, broers en susters. Want as ons sou vra, ‘is dit werklik wat God van my, as sy kind, as ek sy kind genoem wil word, vra’, is die antwoord van die Bybel baie duidelik: Is dit dan nie wat Jesus gedoen het nie? In Filippense 2:5-8 staan dié onvergeetlike, ek wil amper sê, onverbykombare gedeelte:

Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

En daardie dood aan die kruis was 'n dood ter wille van mense wat Hom verwerp het. Want Hy het ons mos liefgehad lankal voor ons Hom liefgehad het, en Hy het ons kom red toe ons nog sondaars was.

Dus: Vreugde

  • kom eers as 'n mens sonder verdienste begin uitdeel;
  • is om jouself en van jou besittings te deel sonder om iets in ruil te verwag;
  • neem by jou intrek namate jy bereid word om daarvan af te sien dat ander mense jou moet plesier en namate jy dit vir ander mense moontlik maak om te lewe en op jou staat te maak.

Geliefdes, ek sluit af. Kom ons pas dit wat ons vanoggend uit die Woord gehoor het toe op die doop. Hoe kan ons, as doopouers, as ouers, of selfs as grootouers, daartoe bydrae dat ons kinders of kleinkinders ware vreugde — evangeliese/Goddelike/ ware vreugde — in hulle lewens ervaar?

Nie, broers en susters, deur in die eerste plek aan ons kinders plesier te verskaf nie. Met ander woorde, ek maak my kind nie 'n vreugdevolle mens deur te sorg dat hy/sy genoeg speelgoed, vermaak, vakansie, of wat ook al het, nie. Dit alles is net plesier. Want dit alles is prikkels van buite om te vermaak, om tyd te verwyl. Ja, dit sal miskien van my kind 'n plesierige mens maak, maar nie 'n vreugdevolle mens nie.

Want om vreugde vir my kind te gee is om myself, en niks anders, vir my kind te gee nie. Om my kind die sekuriteit van 'n rustige huis te gee, om my kind vas te druk, om saam met my kind tyd deur te bring, om saam met my kind deur sy/haar lewensvrae te worstel, om altyd daar vir my kind te wees. Maar bo alles: deur so te lewe in voorbeeld dat my kind iets van God se liefde, genade, geduld, vertroosting, meelewing, versorging in my lewe raaksien. Want dan gee ek iets aan my kind wat uit my hart kom, wat opoffering vra, wat ek altyd doen, wat ek uitdeel, wat ek doen — soos Jesus — nie omdat ek iets terugverwag nie, maar omdat my kind my kind is. En dit alles konsekwent te doen. Want ons weet mos, dit is hier waar die probleem dikwels kom. Ons doopbelofte, broers en susters, vra dit van ons.

Vreugde, broers en susters, ware vreugde, is dus iets wat God aan ons kinders sigbaar maak. En hoe meer God deur ons optredes en gesindhede sigbaar word, hoe meer van God sal ons kinders in ons raaksien, en hoe minder sal ons kinders twyfel aan Hom.

En dit is tog per slot van rekening waarvoor ons kinders van God is en God aan ons — as sy kinders — kinders gegee het: om Hom vir die wêreld, maar in die eerste plek, vir ons kinders sigbaar te maak.

Die vraag is net of ons hierdie boodskap regtig glo.
Mag dit in u geval so wees!
Amen