Matteus 20:29-34

Wanneer godsdiens lelik is



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die inhoud van ons gedeelte van vanoggend is baie eenvoudig: Jesus was op pad na Jerusalem, en by Jerigo het hy by twee blinde persone verbygegaan. Die twee blindes het die gewoel en getrap van al die voete gehoor en na Jesus geroep om hulle te help.

Die dissipels, en die ander wat daar was, het hulle egter probeer stilmaak, maar hulle het harder en harder geroep, waarop Jesus hulle gehoor het, hulle gevra wat hulle nodig het, en hulle gesond gemaak het.

Nou sê Matteus nie vir ons, broers en susters, hoekom die wat daar saam met Jesus was nie wou gehad het hoekom die blindes by Hom moes uitkom nie, maar ek meen 'n mens sou baie maklik kon raai.

Vir hulle was Jesus die Seun van Dawid (vers 31), die verwagte kneg van die Here wat sou kom uit die stam/ geslag van Dawid, die messias wat die Romeinse juk sou kom afgooi, die een wat politieke vryheid sou bring, en hier was Hy nou op pad Jerusalem toe, juis daar waar Hy sy finale werk moet gaan doen, daar waar die `vyande' was, Romeine sowel as Jode. Hierdie Jesus was dus op hierdie oomblik met baie belangrike werk besig, en daarom moes Hy gesteur word nie. Hy was 'n belangrike man, en sy werk was ewe belangrik, daarom kon Jesus, volgens hulle, nie tyd langs die pad verspil aan twee blindes nie.

Buitendien het hierdie twee blindes seker ook nie so goed gelyk nie, hulle kon eenvoudig, as gevolg van hulle omstandighede, nie netjies wees nie. En boonop het hulle so luidrugtig te kere gegaan, dat hulle heel waarskynlik 'n verleentheid vir die oomblik was. Tog het hulle seker ook geweet dat as hulle met Jesus wou praat, hulle eers sy dissipels moes vra.

Wat in hierdie vertelling gebeur, broers en susters, behoort nie aan ons onbekend te wees nie. Want dit gebeur ook in ons tyd. Daar is ook mense wat vandag nog reken dat God nie tyd het vir die onbelangrikes, die kleintjies in die lewe nie. Ander weer is so gesteld op die regte protokol, hoe 'n gelowige behoort te lyk en behoort op te tree, dat hulle eintlik in die pad van ander staan om werklik by God uit te kom, om God werklik te kan ontmoet. En waar dit gebeur, broers en susters, waar gelowiges ander wat na God soek, wat ook naby aan God wil lewe, verhinder om by God uit te kom, daar sien ons lelike en leë godsdiens.

En kom ek gee u net een voorbeeld om prakties te illustreer wat ek hiermee bedoel. Onlangs praat ek met 'n jongmens wat nie die voorreg gehad het om in 'n Christelike huis groot te word nie en wat onlangs tot geloof gekom het. Hierdie gebeurtenis in sy lewe is onder andere bewerkstellig deur twee maats saam met wie hy in 'n woonstel bly, twee pragtige gelowige jongmense.

Daarom was ek verbaas toe hierdie persoon my kontak vir 'n gesprek. Die inhoud van die gesprek was dan ook oor eenvoudige sake wat die geloof raak. Later vra ek hom toe hoekom hy nie sommer die twee sake met sy vriende opgeneem het nie. Sy antwoord was: nee wat, die een sê dit en die ander dit, nie een wil toegee nie, altwee dink hulle is altyd reg. Ek wil by God uitkom, meer van Hom leer, maar hulle maak dit nie vir my moontlik nie.

Wat dus hier langs die pad by Jerigo gebeur het, broers en susters, gebeur vandag nog. Dit gebeur waar 'n gemeente meer bekommerd is oor hulle kerkgebou se dak wat lek as oor die in die gemeente wat honger kry. Dit gebeur wanneer 'n kerk homself met beuselagtighede besig hou in plaas daarvan om bloot die evangelie kragdadig te verkondig. Of as 'n kerk geken word aan hierdie of daardie standpunt en nie dat hy in die eerste plek op God vertrou nie. Ja, dit gebeur daar waar ons reken dat alleen ons weet wat goed is vir ander, en dan so op te tree soos ons alleen goeddink. Of daar waar ons 'n bepaalde idee van God het, en dit op ander oordra asof net ons weet waaroor dit gaan.

Dit gebeur ook, broers en susters, en veral wil ek amper sê, in die wyse waarop ouers hulle kinders in die geloof voorleef. As ouer besef ek elke dag al hoe meer dat ouers in 'n baie groot mate nie alleen elke oomblik van die dag besig is om 'n bepaalde Godsbeeld by ons kinders te vestig nie, maar dat ouers ook grootliks ons kinders se toegang tot God bepaal.

Wanneer ek as ouer, broers en susters, my kind byvoorbeeld in vergifnis en geduld op die regte manier voorleef, dan gee ek as 't ware my kind toegang tot God. Dan wys ek my kind hoe God is, wat God van ons verwag, en hoe daar gelewe behoort te word. Dan bring ek my kind as 't ware in die teenwoordigheid van God in.

As ek dit egter nie doen nie, as ek nie bereid is om aan my kind te toon wat God van sy kinders verwag nie, as ek aan my kind 'n voorbeeld stel wat nie pas by kinders van God nie, dan, broers en susters, is ek in wese besig om my kind van God weg te hou. Want behalwe dat ek my kind verkeerd voorleef, sê ons as ouers dikwels met ons optrede dat God nie eintlik vir ons baie belangrik in die lewe is nie. Moet dan nie verwag, broers en susters, dat God vir u kind belangrik gaan wees nie.

Hoe, broers en susters, kry 'n mens dit reg? Hoe kry 'n mens dit reg om werklik jou kind se toegang tot God oop te maak, en juis nie te versper nie. Die antwoord, broers en susters, lê nie in 'n volmaakte/perfekte soort van lewe nie. Dit lê eerder in 'n bepaalde gesindheid. 'n Gesindheid wat ons vind juis by hierdie blindes in ons vertelling van vanoggend.

Wat het hulle gemaak? Hulle het bly roep. Hulle het heel waarskynlik ook gedink dat Jesus miskien te besig was, maar tog het hulle bly roep. Jesus bly soek. Al het ander probeer om hulle stil te maak. Want hulle het geglo: as jou hart reg is, as jy werklik na Jesus soek, dan sal God jou hoor en verhoor.

En dit meen ek, broers en susters, is die saak wat vanoggend op die tafel behoort te wees. Hier waar ouers net hierna kinders gaan doop, waar baie van ons reeds kinders gedoop het, waar sommiges van ons se kinders al hulle kinders gedoop het.

Deur net my kind te doop, broers en susters, bring ek nie noodwendig my kind by God uit nie. Want die doop van 'n kind kan in baie gevalle ook maar net nog 'n formele saak wees. Almal maak so, daarom maak ek ook maar so.

Deur my kind saam met my in die kerk te laat kom, of darem toe te sien dat hy/sy by die kategese uitkom, gaan ook nie my kind noodwendig naby God laat leef nie. Want ook hierdie verpligting, broers en susters, kan uitgevoer word net omdat dit van my verwag word.

Ja, broers en susters, selfs deur my kind met die regte voorbeeld voor te leef, sal ook nie noodwendig my kind naby God laat leef nie. Want wanneer ek dit doen net omdat dit 'n vereiste, verpligting is, sal my kind dit in elk geval baie gou agterkom.

Nee, broers en susters, daar is net een manier waarop ek as ouer werklik my kind in God se teenwoordigheid kan bring. En natuurlik ook ander. En dit is wanneer ek werk­lik, met oorgawe en met opregtheid, God se teenwoordigheid in my lewe soek. Wanneer God vir my werklik belangrik is. Wanneer ek werklik van mening is dat ek nie sonder God kan lewe nie.

En daarom na God roep, soos hierdie twee blindes, totdat God van Hom laat hoor. Totdat God my tegemoet kom. Totdat ek verstaan hoekom God met my nou maak soos Hy nou maak. Totdat ek die vrede van Christus in my lewe ervaar. Omdat ek ervaar: God is by my.

Iemand wat hierdie soeke in homself het, broers en susters, hoef nie eers bewustelik sy kinders of ander in voorbeeld voor te leef nie. Want dit sal nie nodig wees nie. Want mense wat so leef, maak eienskappe van God (liefde, geduld, vergifnis) sigbaar, maak God sigbaar, leer ander hoe om te lewe.

Interessant, broers en susters, is dat die enigste mense wat Jesus daardie oggend net buite Jerigo gesien het, werklik gesien het, juis die twee blindes was. Want hulle het verstaan: om Jesus te kan sien, om by God te kan wees, om naby aan God te kan lewe, het nie te make met die regte prosedures of wat ook al nie. Dit het te make met die regte gesindheid. Die gesindheid van soeke na God. Die gesindheid van die opregte hart.

Wie dit het, wie daarna smag, sal nie alleen God sien nie, maar sal ander ook God laat sien. Kom ons bly roep, broers en susters, kom ons bly God vra, broers en susters, vir hierdie gesindheid, vir hierdie opregte hart, dan sal ander ons ken as mense wat op God vertrou. En daarom ook ons kinders. Mag God ons bystaan in hierdie heerlike opdrag.
Amen