Johannes 5:1-17; Kolossense 2:11-14

Wat behoort te gebeur wanneer God mense ontmoet



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Vir 'n baie lang tyd kon ek hierdie verhaal nie verstaan nie. Het dit vir my nie sin gemaak nie. Want dit gaan oor 'n man wat skaars genoeg geloof gehad het om op te staan, maar Jesus behandel hom asof hy sy seun vir God geoffer het. Martelaars en apostels verdien sulke eer, maar nie 'n behoeftige wat nie eers vir Jesus ken wanneer hy Hom sien nie. Of ten minste, so het ek gedink.

Vir baie lank het ek ook gedink dat Jesus hier darem té goedhartig is. Die verhaal is darem te buitengewoon. Dit is darem té goed om waar te wees. Maar toe het, nadat ek in Januarie hieroor gepreek het, en dit my bly pla het, iets oor hierdie verhaal besef: hierdie verhaal gaan nie oor 'n invalide in Jerusalem nie, nee, dit gaan oor u en my. En hierdie man is nie naamloos nie. Hy het 'n naam. U naam en my naam. En hy het ook gesig: u gesig en my gesig. Wat meer is: hy het 'n groot probleem — soos ons 'n groot probleem het. Hieroor sal ek aanstons meer sê.

Maar kom ons kyk eers kortliks na die verhaal. Jesus, vertel Johannes ons, kom die man teë by 'n groot bad noord van die tempel in Jerusalem, Betesda genoem. Dit was 'n groot en mooi bad: 120 meter lank, 40 meter breed en 25 meter diep, met 5 pilaargange. 'n Onderaardse fontein het nie alleen die bad gevoed nie, maar ook veroorsaak dat die bad soms geborrel het. Die mense het geglo dat die engele se vlerke, wanneer hulle in die water induik, hierdie borrels veroorsaak het. Ook het hulle geglo dat die eerste mens wat aan die water raak nadat die engele dit laat borrel het, gesond sou word. Of daar wel genesings plaasgevind het, weet ons nie. Maar wat ons wel weet is dat hordes invalides soontoe gestroom het.

Stel uself voor, broers en susters: dit moes gelyk het soos 'n gevegsfront vol gewonde liggame, of soos 'n oorvol versorgingsentrum met te min personeel. En diegene wat daar verbygestap het, het seker 'n eindelose golf van kreune gehoor. En die meeste het dit seker maar net geïgnoreer en aangestap. Want wat kon iemand in elk geval doen?

Maar nie Jesus nie, broers en susters. Hy is in Jerusalem, vertel Johannes ons, om fees te vier. Of Hy by die tempel uitgekom het, weet ons nie, maar wel dat Hy by Betesda uitgekom het. Natuurlik was daar baie meer higiëniese plekke of rein plekke in die heilige stad om te vertoef. Dit was immers die Joodse Paasfees.

Soos die tempel. Daar waar God was. Daar waarheen baie mense van baie ver af gekom het om God te kom ontmoet. Min het hulle geweet dat God nie in die tempel was nie, maar by die siekes. By Betesda, waar Hy besig was om tussen die siekes, bedelaars en blindes deur te loop. En ek kan my maar net voorstel, broers en susters, hoe diep en swaar Jesus moes gesug het toe hy al die ellende, swaarkry en probleme aanskou het.

Net soos Jesus sug, broers en susters, wanneer Hy na u en na my toe kom. Wanneer Hy u en my se ellende en probleme aanskou. Kom ek verduidelik wat ek hiermee bedoel: vroeër het ek gesê dat hierdie verhaal nie gaan oor 'n invalide in Jerusalem nie, maar dat dit gaan oor u en my. Dat hierdie man nie naamloos is nie, maar dat sy naam u en my naam is, dat sy gesig u en my gesig is, en wat meer is, dat so groot soos sy probleem is, net so groot of selfs groter is u en my probleem.

Wat is ons probleem, broers en susters? Soos hierdie man is ons verlam, en kan ons niks doen nie. Hoe is ons verlam? Ons is onheilig. Ons is anders as God. En niks wat ons kan doen of sê of probeer kan ons so heilig maak dat ons by God kan uitkom, kan maak dat ons soos God word, of kan maak dat God ons nou ewe skielik sal aanvaar nie.

Dit, broers en susters, is ons probleem (soos hierdie man 'n probleem gehad het), dit is ons haglike toestand (soos hierdie man in 'n haglike toestand was): ons is onheilig, en net heiliges sal God sien. Lees maar gerus wat Hebreërs 12:14 sê: `Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir 'n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie’.

Heiligheid, sê die Bybel, is 'n voorvereiste vir die hemel. Volmaaktheid is nodig om die ewige lewe te beërwe. Ons wens dit was nie so nie. Ons maak asof dit nie so is nie. Ons maak asof die `ordentlikes’ God sal sien. Ons beweer selfs dat diegene wat hard probeer God sal sien. Ons maak asof ons goed is as ons nooit iets vreesliks sleg doen nie. En daardie goedheid gee ons toegang tot die hemel.

Dit klink vir ons reg, maar dit klink nie vir God reg nie. Want ons is nie soos God nie. Ons is nie heilig soos God nie. Ons kan nie by God uitkom nie, op geen manier nie. En dit is waarom ek sê u en ek is verlam, soos hierdie man verlam is. Wat meer is, soos hy in sy omstandighede vasgevang is en daarvoor geen oplossing het nie, so ook ons.

Daarom is dit eintlik ons wat daar in Betesda op die grond lê. Want wanneer dit kom by die genesing van ons geestelike toestand het ons geen kans nie. Ons enigste hoop is dat God vir ons sal doen wat Hy daar vir die man by Betesda gedoen het: dat Hy ons gesug sal hoor en Hom na ons toe sal afbuig en ons sal help.

En dit, sê Paulus vir ons in Kolossense 2:13-14, is presies wat God gedoen het. Kom ons lees dit weer: Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.

Wat sê Kolossense 2:13-14? Solank ons sondige natuur nie weggeneem word nie, is ons dood. Die invalide was dus beter as ons daaraan toe. Hy het ten minste gelewe. Terwyl ons egter buite Christus leef, is ons dood. Geestelik dood. Lyke. Leweloos. Dood. En wat kan 'n dooie mens doen? Nie veel nie.

Maar kyk net wat sê Paulus kan God met die dooies doen, en wat het Hy met die dooies gedoen: Hy het ons saam met Christus lewend gemaak. Hy het al ons sondes vergewe. Hy het ons skuld vir goed weggeneem. Of, in kort: Hy het na elkeen van ons 'n reddingsbaadjie uitgegooi. Hy het sy hand na ons uitgesteek. Dit, terwyl daar vir ons geen ander opsie was nie.

Soos na vele ander in die verlede: dink maar aan Jona. Na drie dae in die maag van die vis besef hy dat hy geen opsies meer oor het nie, dat hy 'n groot probleem het. Hy is verlam. Hy kan niks meer doen nie. En toe bid hy, en voordat hy klaar gebid het spoeg die vis hom uit.

Of dink maar aan Daniël in die leeukuil. Sy vooruitsigte is nie veel beter as die van Jona nie. Jona is ingesluk en Daniël gaan binnekort opgevreet word. Geen opsies is meer oor nie. Maar in plaas van 'n byt kom lê die leeu langs hom. Want God het ingegryp, sy situasie verander.

Of vat vir Josef in die put. 'n Gat in die warm woestyn. Die deksel is bo-oor getrek en daar is sand in sy oë. Dit is sy broers wat eet en lag asof daar niks gebeur het nie. Josef is vas. Hy is figuurlik verlam. Sy probleem is groot. Sy situasie is hopeloos. Maar nie vir God nie. Want Josef eindig op 'n troon.

Neem laastens vir Barabbas. Sy hofsaak is verby. Die datum van sy teregstelling is bepaal. Hy verwyl sy tyd deur kaart in die dodesel te speel. Hy het klaar sy laaste bord kos aangevra. En wanneer die bewaarder kom om hom na sy kruis te neem, bring die bewaarder nuwe klere, en laat hy vir Barabbas gaan, omdat iemand wat hy heel waarskynlik nooit eers gesien het nie, sy plek aan die kruis ingeneem het.

So loop die verhale in die Bybel, broers en susters. Die een nare ondervinding na die ander. Die een na die ander persoon wat verlam is deur sy eie sonde of bepaalde omstandighede. Maar net wanneer die tou om die nek moet span of die valbyl moet val, bring God verlossing.

Soos in die geval van die man by die bad by Betesda. Daar lê hy, en, in sy eie woorde, kan hy nie in die bad voor die ander kom nie, want hy is verlam. Sy situasie is hopeloos. Agt en dertig jaar al. En Jesus se reaksie? Eenvoudig die vraag: `Wil jy gesond word?’ En dan: `Staan op, tel jou goed op en loop’. Met die resultaat: `Oombliklik het die man gesond geword, sy goed opgetel en geloop’.

Ek wens ons wil dit ook doen, broers en susters. Ek wens ons wil ook vir 'n slag, soos hierdie man, Jesus op sy woord neem. Toe hy beveel is om op te staan en te loop, met ander woorde, toe hy hoor hy is gesond, het hy opgestaan en geloop. Was hy nie meer verlam nie. Het hy dit geglo en geloop.

En ons? Doen ons dit? Wanneer ons Kolossense 2:13-14 lees en hoor dat ons ook nie meer verlam is nie, dat ons ook ten opsigte van ons probleem genees is, staan ons ook op en loop? Of bly ons lê?

Wat is dit soms met ons, broers en susters, hierdie verlamming wat ons gevange hou? Hierdie somtydse onwilligheid van ons om genees te word? Hoekom staan ons nie op wanneer Jesus sê ons kan maar opstaan nie? Wanneer Hy sê ons skuld is vergewe, hoekom gooi ons nie ons skuld van ons af nie? Wanneer Hy sê ons is vir Hom waardevol, hoekom glo ons dit nie? Wanneer Hy vir ons sê hy het ons nodig, hoekom vat ons Hom nie op sy woord nie? Wanneer Hy sê ons is versorg, en dat Hy vir ons sal sorg, hoekom hou ons nie op om ons oor alles en nog wat te kwel nie? Wanneer Hy vir ons sê dat Hy 'n doel met alles in ons lewens het, dat Hy met ons 'n bepaalde plan het, hoekom aanvaar ons dit nie, en soek ons na God se plan met ons in die lewe nie?

En bo alles: wanneer Hy kom, soos Hy vanoggend weer kom by die doopvont, en Hy ons kinders se toekoms oopmaak deur hulle in sy verbond op te neem, wanneer Hy soos vanoggend kom en weer aan hulle en ons bevestig dat Christus ook vir ons daar is, wanneer Hy soos vanoggend kom en weer eens aan ons toon hoe onbeperk Hy ons liefhet, ja, wanneer Hy weer soos vanoggend kom en ons verlamde toestand verander, ons onheiligheid wegneem, hoekom staan ons as ouers nie op en gaan lewe voorbeeldig en gaan doen wat God van ons vra nie? Hoekom sê ons nie vir mekaar: Kom ons staan op en doen wat God van ons vra nie?

Die verhaal van die man by Betesda, broers en susters, is u verhaal en my verhaal. Dit is nie net 'n verhaal van 'n arme naamlose invalide 2000 jaar gelede nie. Nee, dit is u en my verhaal in 2001. Want al die bestanddele is dieselfde. Die onheiligheid, die verlamdheid, die omvang van die probleem, die ooglopende feit van geen uitkoms nie. Die onmoontlikheid om daaruit te kom. En soos 'n sagmoedige vreemdeling hierdie man se wêreld van lyding betree het en 'n hand van verlossing na hom uitgesteek het, is dit in die verlede al telkens aan ons gedoen, en gebeur dit vanoggend weer.

Maar wat gaan ons doen? Gaan ons ook opstaan en loop? Alles hang van ons af. Mag ons lewensverhaal eindig soos hierdie man se verhaal in Johannes 5:1-17 geëindig het.
Amen