Galasiërs 3:21-29

Wat beteken dit dat ons gedoop is?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Kom ons begin vanoggend deur kortliks iets te sê oor die verskille tussen ons wat vanoggend hier saam is. Eerstens is daar tussen ons almal hier sigbare verskille. Ons almal lyk nie eenders nie, trek nie eenders aan nie, is almal nie ewe oud nie. Om maar net ‘n paar sigbare verskille te noem. Maar daar is ook onsigbare verskille tussen ons. Ons almal dink nie eenders nie, ons het nie dieselfde standpunte oor bepaalde sake nie, maar ook is sommige van ons meer introverte as ekstroverte, sommige van ons is meer ernstig, ander meer humoristies.

Hierdie verskille tussen ons, broers en susters, is eenvoudig daar omdat God ons elkeen anders gemaak het. En in beginsel is dit dus goed. Ons almal is deel van die een liggaam, die kerk, en elkeen se andersheid maak dat die liggaam volledig is. Dit gee balans, dit gee geleentheid vir verskillende bydraes, verskillende moontlikhede van dienslewering teenoor mekaar.

Die verskille onder ons, broers en susters, het egter ook ‘n inherente gevaar, want verskille en verskeidenheid spel (ongelukkig) dikwels verskeurdheid. Hierdie gevaar is altyd daar, veral waar mense soms die houding het van ‘net ek is reg’, of selfs ‘ander mag nie ‘n standpunt hieroor of daaroor hê nie, want hulle weet in elk geval nie waarvan hulle praat nie’. En dikwels, broers en susters, en dit is eintlik tragies, voltooi die verskille onder ons dikwels die volle kringloop: omdat ons nie van ander se standpunte hou nie, hou ons daarmee saam sommer ook nie van hulle as persoon nie. En maak liefde soms plek vir haat.

Al die verskille onder ons, broers en susters, word deur een saak oorskadu. Of kom ek sê dit anders: daar is een saak wat ons almal in gemeen het, wat al die verskille tussen ons in wese van die tafel af behoort te vee, naamlik die feit dat ons almal gedoop is.

Watter een van die twee sake broers en susters, die verskille tussen ons of die gemeenskaplikheid van ons almal se doop weeg normaalweg die swaarste weeg in ons daaglikse gang met mekaar? Jammer dat die verskille wat ons met mekaar het, en wel soms in so ‘n mate dat dit waaroor ons met mekaar saamstem, nie eers meer tel nie.

Vir Christene, broers en susters, kan dit nie so wees nie. Nee. Vir ons as kinders van God behoort juis die feit dat ons almal gedoop is, die swaarste te weeg in ons daaglikse gang met mekaar. ‘n Baie stellige uitspraak, sou u seker wil sê. Maar dit is hoe dit behoort te wees. Die feit dat ons almal gedoop is, behoort ons saam te bind tot eenheid, rustigheid en vrede. Hoekom?

Kom ons antwoord hierdie vraag deur net weer vir ‘n slag te gaan kyk wat met iemand gebeur as hy/sy gedoop word. Wat gebeur wanneer ‘n mens gedoop word, broers en susters, kan verduidelik word met ‘n baie eenvoudige beeld. ‘n Beeld wat ons vir ons soos volg kan voorstel:

Gestel daar is ‘n stad met ‘n muur om. Binne in die stad bly daar die doodgewone samestelling van mense: oues en jonges, leiers en hulle wat volg, die met sekere talente en die met weer ander talente, werknemers en werkgewers, gesondes en siekes, noem maar op. Buite die stad weer is daar ‘n oormag van soldate, ‘n baie sterk leërmag wat die stad wil inneem en alles daarbinne wil verwoes.

‘n gewone burger van die stad kan nie met die generaal buite die stad gaan onderhandel nie. Want hy/sy verteenwoordig nie almal wat binne die stad woon nie. Die koning van die stad kan egter wel, want hy/sy verteenwoordig almal wat in de stad woon. En wanneer hy na buite stap om met die generaal te gaan onderhandel raak sy onderhandelinge almal wat in die stad woon. Hy verteenwoordig hulle, hy tree namens hulle op. As sy onderhandelinge slaag, word almal gered, as hy misluk, sal almal heel waarskynlik verlore gaan.

Ons kan dit ook anders stel: terwyl die koning buite onderhandel, is die hele stad ‘in hom’. Hulle praat deur hom, en die koningskleed wat hy aanhet bedek nie alleen sy liggaam nie, maar in wese ook almal se liggame wat in die stad woon. Almal in die stad is, by wyse van spreke, ‘onder sy kleed’, en ‘in hom’.

Dit is amper so iets, broers en susters, wat Paulus hier in Galasiërs 3:26-28 bedoel wanneer hy sê dat ons almal, onder andere omdat ons gedoop is, ‘kinders van God is’, ‘één’ is, ‘in Christus’ is. Christus is ons amptelike verteenwoordiger wat by God, om die beeld aan die begin te gebruik, ‘onderhandel’ vir ons verlossing.

En die doop dan, broers en susters, daar waar ons God se verbondsteken ontvang, is die wyse waarop God aan ons wys, aan ons bevestig, dat ons so deur Jesus Christus verteenwoordig word, so aan Jesus Christus verbind is. Hy is God se Seun, God se kind, en omdat ons ‘in Hom’ is, is ons saam met al die ander gedooptes, God se kinders.

Nie, broers en susters, dat dit nou beteken — en dit moet ons goed verstaan — dat ons eenheid met Jesus Christus in die doop alleen, of eers wanneer ons gedoop is, tot stand kom nie. Met ander woorde, dit beteken nie dat iemand eers kind van God word nadat hy/sy gedoop is, of alleen kind van God is omdat hy/sy gedoop is nie. Paulus sê immers in Galasiërs 2:19 dat ons alleen op kindskap aanspraak kan maak omdat ons die geloof as genadegawe ontvang het. Wat egter wel met die doop gebeur is die bevestiging, beseëling van dit wat God aan ons in die geloof gee, naamlik die voorreg om kinders van God genoem te kan word.

Wat onder andere beteken, broers en susters, dat omdat ons ‘in Christus’ gedoop is, God, wanneer Hy na ons kyk, na ons dade, ons motiewe, ons optredes, of wat ook al, Hy nie ons sonde en tekorte sien nie, maar die sondelose en volmaakte bestaan van Jesus Christus, en omdat ons nou ‘in Christus’ is, spreek God ons vry.

Juis daarom, broers en susters, maak die verskille tussen gedoopte mense vir God nie saak nie. Of ons nou man of vrou is, vry of slaaf, Jood of Griek, ja, werkgewer of werknemer, oud of jonk, gesond of siek, predikant of lidmaat, ouderling of diaken, of wat ook al. Vir God maak dit nie saak nie.

Ja, miskien wel vir ons, maar nie vir God nie. Voor Hom is ons almal gelyk. Ons is immers met dieselfde doop gedoop. Ons is syne. Ons behoort aan Hom. En so ook hulle wat vanoggend gedoop gaan word. Vir God is ons almal ewe belangrik. Want ons word ‘in Christus’ gedoop. En omdat Jesus Christus God se kind is, so ook ons.

Maar nou is dit egter ook so, broers en susters, en dit mag miskien vreemd klink as dit wat ek nou gaan sê vergelyk word met wat ons vanoggend tot dusver gesê het, dat nie almal wat gedoop is werklik kinders van God is nie, of ten minste, outomaties kinders van God is en bly nie. Hoekom nie?

Want Paulus veronderstel in die gedeelte wat ons saamgelees het dat ons, dit wat vir ons in die doop aangebied word, moet neem. Dit as ‘t ware moet gryp, moet toeëien. Dit is soos wanneer iemand ons iets aanbied, sê maar ‘n bak vol vrugte. As ons nie een van die vrugte in daardie bak vat nie, het ons dit nie. God bied aan, ons moet neem.

Of, gesê in die woorde van Galasiërs 3:27: ‘almal wat deur die doop met Jesus Christus verenig is, moet lewe soos mense wat aan die Here behoort’. En kom ek verduidelik:
Wanneer ons gedoop word, kry ons ‘n nuwe status: ons is nou ‘in Christus’. En om ‘in Christus’ te wees, kan ook beskryf word om jouself met Jesus Christus te beklee. Om jou te klee met die lewe wat Hy geleef het.

Wat eenvoudig beteken dat wanneer ons, veral in die lig van vers 29, na ander mense kyk, ons na ander moet kyk soos God na ons kyk. Omdat ons ‘in Christus’ is, bemin God ons, soek Hy ons, troos Hy ons, vergewe Hy ons, het Hy ons lief. En, bo alles, beskou God niemand belangriker as ‘n ander nie. Almal is vir God ewe belangrik, want deur die doop ‘in Christus’ het almal sy kinders geword.

Presies so moet ons ook kyk en doen. Ons is immers nou ‘in Christus’, beklee met Christus, behoort nou aan Christus. En om ‘in Christus’ te wees, impliseer Paulus, is om soos Christus te doen.

Aan almal rondom ons. Aan hulle wat saam met ons bly, hulle met wie ons getroud is, hulle wie God aan ons as kinders gegee het, hulle wat my lewenspad kruis, hulle wie God aan my in my wyk as ouderling of diaken gegee het, hulle moet ook deur ons bemin, gesoek, vergewe, getroos, verdra, bygestaan, aanvaar en bemoedig word. Ook daar waar ons van mekaar verskil, ook daar waar ons oor sekere sake nie saamstem nie. Want ons almal is mos nou ‘in Christus’ , ons is mos nou beklee met Christus. Ons is mos gedoop.

Nie, broers en susters, dat dit nou beteken dat alle verskille en verskeidenheid nou ewe skielik soos mis voor die son sal verdwyn nie. Man bly tog man, en vrou bly tog vrou. Nee. Wat wel moet gebeur is dat, omdat ons almal ‘in Christus’ gedoop is, en die Heilige Gees daarom in ons werk, moet toelaat dat die Gees ons tot ‘n eenheid in liefde en vrede saamsnoer.

Want ons is mos gedoop, ons is mos nou ‘in Christus, en wie aan Christus behoort, moet lewe soos iemand wat aan Christus behoort. Anders sê ons met ons lewe dat ons doop vir ons niks beteken het nie.

Ek sluit af: die kerk is, of altans, behoort in die wêreld ‘n baie vreemde verskynsel en gemeenskap te wees. ‘n Gemeenskap waarin, desondanks al die verskille, daar liefde vir mekaar en vrede onder mekaar is.

In die wêreld, juis as gevolg van sy verskeidenheid, is daar dikwels haat, nyd, vyandskap, afguns, jaloesie, of wat ook al. Is daar die sogenaamde belangrikes en onbelangrikes, die base en die klase, die met sogenaamde status en die daarsonder. ‘n Verskeidenheid wat so maklik ‘n verskeurdheid word.

In die kerk, broers en susters, is dit egter anders. Hier is ons almal gelyk, want ons almal is ‘in Christus’ gedoop, en hier gee liefde en vrede die deurslag. Want agter ons liefde en vrede lê iets wat ons almal in gemeen het, die feit dat ons gedoop is.

My broer en suster, u en ek is gedoop. So het ons almal ‘in Christus’ God se kinders geword. Is u en my doop waar? Alleen daar waar ons teenoor mekaar lewe soos mense wat aan Christus behoort.
Amen