Spreuke 1:1-10; 3:5-8; 4:10-19; 5:3-6

Wat bring ware geluk?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ek wil die prediking vanoggend begin met twee vrae, een aan die kinders, en een aan al die ouers wat vanoggend hier is.

Die vraag aan die kinders is die volgende: Wat wil julle eendag in die lewe bereik? Ek wens ons kon ‘n paar van julle vanoggend vra om hierdie vraag te beantwoord, maar ongelukkig is dit nie moontlik nie. Daarom sal ek maar namens julle probeer om dit te doen, en ek hoop nie dat ek die kat heeltemal aan die stert beet het nie.

Julle droom oor die toekoms en koester heel waarskynlik ‘n hele klomp ideale. Deel van hierdie ideale is heel waarskynlik baie geld (dat ek alles kan koop wat ek nou wil hê en nie kan kry nie), status (dat ek belangrik soos hierdie een of daardie een wat ek ken sal word), kwalifikasies (om ‘n onderwyser, verpleegster of wat ook al te kan word) of sukses.

En ek glo dat ek nog baie ander sake sou kon noem waaroor julle met my sal saamstem, of dalk sal verskil, want wat vir die een belangrik is is nie noodwendig altyd vir die ander nie. Maar oor een ding, glo ek, sal ons heeltemal met mekaar saamstem, naamlik, dat julle almal eendag gelukkige mense sal wil wees.

Nou die vraag aan die ouers. Wat sal u die graagste vir u kind(ers) wil gee? Dalk dieselfde dinge as wat ons kinders begeer, dinge soos ‘n kwalifikasie, sukses, ‘n goeie wegspring in die lewe, ‘n plek om te bly, of wat ook al.

En ook hier, broers en susters, sal ons kan verskil oor die belangrikste ding wat ons meen ons aan ons kinders behoort te gee, wat die grootte en aard van die erfporsie behoort te wees, of wat ook al, maar oor een ding, glo ek, sal ons ook hier met mekaar volmondig saamstem: ons wil almal hê dat ons kinders eendag gelukkig sal wees.

En nou is dit maar eenmaal so dat geen mens gelukkig gebore word nie. Ook val geluk nie sommer maar net in ‘n mens se skoot nie. Geluk kom net op een manier na ‘n mens se kant toe, en dit is deur die regte keuses in die lewe te maak. En ek kan dit nie duideliker stel nie: alleen die regte keuses verseker lewensgeluk.

Net soos die ploegwerk van die boer, die regte keuse ten opsigte van die beste saad, en die noukeurigheid waarmee gesaai word, die gehalte van die oes bepaal, so bepaal die keuses wat ons maak, hoe klein of hoe groot ons ook al is, die kwaliteit van ons lewensgeluk.

En hierin lê daar ‘n belangrike verskil tussen ouers en kinders. Ouers het in baie opsigte reeds klaar gekies, maar kinders kan en moet nog kies. Wat beteken dat ouers, wat reeds gekies het en ‘n geweldige klomp ervaring opgedoen het juis deur die keuses wat hulle gemaak het, in staat is om hulle kinders met hulle keuses by te staan.

En hier is ons as kinders, en as ouers, baie bevoorreg. Want ons hoef nie maar net te kies tussen al die moontlikhede in die lewe nie en hoop dat ons die regte keuse gemaak het nie. Nee. Want die Bybel, en in besonder die gedeeltes wat ons vanoggend uit Spreuke saamgelees het, gee vir ons praktiese en waardevolle raad wat betref ons keuses met die oog op ‘n suksesvolle en gelukkige lewe.

Of, in die taal van die skrywer van Spreuke self: my `wysheid’ bevat ernstige waarskuwings teen die verkeerde keuses, maar ek gee ook positiewe riglyne met die oog op die regte keuses. Wie erns maak met hierdie riglyne, sê Spreuke, kom tot lewensinsig, bemeester die kuns hoe om reg te lewe, en maak die eie pad oop vir voorspoed, geluk, vrede en vreugde. Maar wie my raad van die hand wys, sê die skrywer van Spreuke, sal nooit gelukkig wees nie.

Watter raad gee Spreuke vir ons in die gedeeltes wat ons saamgelees het? Ek wil net drie sake uitlig: die eerste twee sake is gerig op die jongmense (maar nie uitsluitlik nie), en die laaste saak het te make met die keuses van julle as jongmense en met ons as ouers.

Die eerste belangrike saak waar dit kom by die regte keuses, sê Spreuke (en dit vind ons in Spreuke 4,), het te make met die keuse wat betref ons vriende. En hier is ek oortuig daarvan, liewe jongmense, dat as elkeen van julle bereid is om ‘n slag goed na homself of haarself te kyk, na julle kleredrag, julle haarstyl, ontspanning, musiek, die taal wat julle besig, of wat ook al, julle duidelik julle vriende se vingerafdrukke op julle eie lewens sal raaksien, of dit nou goed of sleg is.

En dit geld nie alleen vir sake op die oppervlakte nie, maar ook vir belangrike sake soos waardes, geloof, die uitleef van ons geloof en byvoorbeeld die respek wat ons vir ons meerderes het, om maar net ‘n paar te noem.

Oor hierdie sake is Spreuke baie duidelik: vriende het die vermoë om ‘n mens te maak of af te breek, juis daarom is ons keuse wat vriende betref, so ontsettend belangrik. Daarom, wees gewaarsku (Spr 1:10), wees versigtig (Spr 4:14) vir die verkeerde vriende. Want die regte vriende bring ‘n mens in die lig, maar die verkeerde vriende kan ‘n mens in die duisternis laat beland. Met ander woorde, vriende kan jou geluk of ongeluk wesenlik bepaal.

Die tweede soort van keuse wat ‘n mens se geluk of ongeluk kan bepaal, sê Spreuke, het te make met die regte keuses waar dit kom by verhoudings tussen die teenoorgestelde geslag. En nou weet ek maar te goed, broers en susters, dat hierdie ‘n sensitiewe saak is, maar miskien moet ons vir ‘n slag iets daaroor sê.

Jeugtyd en tienertyd is die tyd van die groot liefde, maar dit kan ook ‘n tyd van groot hartseer vir baie jongmense beteken. Wees gewaarsku, sê Spreuke, teen verkeerde liefdesverhoudings. Sekere verhoudings, en die aard van sekere verhoudings, lyk soms baie aanloklik, lekker en onskuldig (Spr 5:3). Maar. Sê Spreuke 5:6, as jy nie versigtig is nie, kan jy onbewustelik beland waar jy nie wil wees nie. Of, soos Spreuke 6:17-18 dit pragtig stel: die vuur wat in jou vir ‘n ander brand, is ook die vuur wat jou kan verbrand. Die verkeerde liefde dus, wat ons duidelik kan uitdruk met die bekende idioom van `vroeg ryp is vroeg vrot’, kan veroorsaak, sê Spreuke 5:9, dat ‘n jongmense sy mooiste jare, en die jare wat daarna kom, kan vermors.

Die derde keuse wat ons in die lewe moet maak om gelukkig te kan wees, is die belangrikste: die keuse vir of teen God. Dit is ‘n keuse wat gemaak moet word, of ons nou wil of nie. Wat meer is, sê Spreuke, hierdie keuse hang nie in die lug nie, maar kan prakties getoets word aan die volgende sake:

  • is ek bereid om volkome op God te vertrou of nie (Spr 5:5);
  • is ek bereid en gewillig om my eie onvermoë en gebrekkige insigte ten opsigte van baie dinge te erken of nie (Spr 3:5 en7);
  • is ek bereid om in alle opsigte en ten ale tye gehoorsaam na God se raad in sy Woord te luister (Spr 3:6); en
  • is ek bereid om te aanvaar dat, wanneer ek werklik in God glo, alles nie altyd net goed sal wees nie, en ek sal aanvaar dat God in liefde tug wanneer dit nodig mag wees.

En as ons nog wonder, broers en susters, of ‘n mens regtig vir God behoort te kies, is dit belangrik om te onthou dat God reeds vir ons gekies het. Dat God ter wille van sy keuse bereid was om sy Seun na hierdie wêreld toe vir ons, as sondaar te stuur.

En as u wonder of God regtig vir u gekies het, dink gerus terug aan u doop, of luister maar weer goed wanneer ons nou aanstons kindertjies gaan doop. Want God bevestig juis dat Hy vir ons gekies het by die doop. En hieroor kan daar geen misverstand wees nie. Want by die doop word elke dopeling se naam immers volledig genoem saam met die van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

En hier kan die kinders weet: toe jy gedoop is, het jou ouers onderneem om jou by te staan in al jou keuses. Maak daarom erns, sê Spreuke 6:20, met dit wat jou ouers by jou tuis wil bring. Luister maar gerus goed na wat hulle julle wil leer.

En vir ons as ouers geld natuurlik die feit dat ons ons kinders alleen sal kan bystaan om die regte keuses te maak as ons self reeds die regte keuses gemaak het. Daarom kan kinders wat al verstaan miskien vir ‘n slag dankie aan hulle ouers sê dat die hulle na die doopvont gebring het. En bereid was om daar te sê: my kind, met hierdie daad, en met hierdie belofte aan God, belowe ek dat ek jou so sal lei, jou hele lewe lank, dat jy die regte keuses sal maak, en daarom gelukkig sal wees.

Ek sluit af: As u en u kind, as individue, maar ook as gesin saam, nie reken dat lewensgeluk belangrik is nie, kan u maar vir Spreuke eenkant toe skuif. Maar ook hoor: dit is net dwase wat wysheid van die Here en die regte opvoeding gering ag.

Indien u gelukkig wil wees, is Spreuke se boodskap: dit kom net deur die regte keuses, waarvan die keuse vir God die belangrikste is. Wie hier reg kies, en by die keuse staan, sal gelukkig wees. Ouers en kinders, doopouers en kinders.
Amen