2 Korintiërs 5:11-21

Wat kosbaar is, beland nie op die ashoop nie



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Daar is 'n spreekwoord wat lui: `Alles wat waardevol is, is weerloos’. En as 'n mens wil verstaan wat hierdie spreekwoord eintlik wil sê, kan 'n mens maar net 'n draai by 'n ashoop gaan maak. Daar sal jy byvoorbeeld 'n das vind wat aan iemand tydens 'n baie spesiale geleentheid gegee is. Maar 'n das kan ook opgedra word, en dan beland dit uiteindelik maar net op een plek, die ashoop. Of dalk vind ons daar 'n pop/teddiebeer, 'n pop wat vroeër 'n baie spesiale plek in 'n kind se lewe gevul het. Maar kinders word groot, en poppe breek dikwels. En dan beland dit ook maar op geen ander plek as in die asblik nie. Want dinge word eenvoudig weggegooi omdat hulle hulle waarde vir mense verloor het.

Die hartseer daarvan, broers en susters, word deur hierdie spreekwoord uitgedruk: dinge wat vir mense waardevol is, is terselfdertyd weerloos. Want dinge self, 'n das of pop, kan nie self verhoed om weggegooi te word nie.

Daar is egter ook 'n ander gebied van die lewe, broers en susters, waar waardevolle dinge totaal weerloos is, en dit is die gebied van verhoudinge, verhoudinge soos ouer-kind verhoudings, liefdesverhoudings en vriendskappe. Daar is geen manier waarop enige verhouding/liefdesvlam self aan die brand bly of homself daarteen kan verset om nie geblus te word nie.

Hoekom nie? Want verhoudinge bly alleen bestaan solank die wat daarby betrokke is, dit as waardevol beskou en daarom daardie verhouding oppas. Want soos enigiets wat waarde het moet dit, om te kan bly voortleef, opgepas en versorg word. 'n Kind wat groot word en nie sy verhou­ding met sy ouers oppas nie, of ouers wat nie werk aan hulle verhouding met kinders wat byvoorbeeld die huis verlaat nie, ontgroei mekaar. En vriende wat mekaar nie bly besoek en bly opsoek nie, sterf mekaar af.

En die hartseer van dit alles is (en dit is wat die spreekwoord wil sê), die liefde of die verhouding kan hom nie daarteen verset nie. Soos die teddiebeer nie kan keer om op die ashoop te beland nie. As die liefdesvlam nie aan die brand gehou word nie, gaan dit eenvoudig dood. En die liefde self kan daaraan niks doen nie. Want iets wat weerloos is, het geen mag nie. Iets wat weerloos is, kan homself nie laat geld nie. En so is dit veral met die liefde.

Dit wat egter in ons gelese gedeelte van vanoggend staan, broers en susters, wil sê dat vir die kind van God — in sy verhouding met alle mense rondom hom/haar, die liefde wat in ons harte vir mekaar en byvoorbeeld vir ons kinders is — die liefde nie maar net anders behoort te werk nie, maar dat dit in wese vir die kind van God nooit 'n moont­likheid kan wees dat dit wat waardevol is (ons liefde vir mekaar), maar net eenvoudig op die ashoop kan beland nie. Hoekom nie?

Omdat, sê Paulus in 2 Korintiërs 5:17, iemand wat aan Jesus Christus behoort, 'n nuwe mens is. 'n Nuwe mens vir wie die oue verby is, en vir wie die nuwe gekom het. En vergun my vanoggend die geleentheid, broers en susters, om hierdie saak van nuwe mens wees voor God, hierdie saak van kindwees van God, weer eens in geen onduidelike terme te stel nie.

Wie is u en ek, broers en susters? Ons is sondaars voor God. En nou kan ons maar praat oor ons vermoëns, oor ons vermoë om soms baie suksesvol en rustig verby God, sonder God en om God te lewe. Ons is soms meesters daarin. En juis, omdat ons dit dikwels regkry (altans, so meen ons) regkry om sonder God nie te sleg in die lewe te vaar nie, lewe ons soms in wese sonder God. Al sê ons dat ons glo.

Maar kom ons kyk vir 'n slag weer goed hoe die Woord vanoggend vir ons die kind van God beskryf. Die kind van God is die sondaarmens wat deur Christus met God versoen is (vers 18). Hierdie versoening, sê Paulus in vers 19, bestaan daaruit dat God deur Christus die wêreld (ons) met Homself so versoen het, dat Hy ons ons oortredings nie meer toereken nie.

Hoe is dit moontlik, kan ons vra, dat al ons tekorte, sonde en oortredings sommer net so afgeskryf kan word? Omdat, sê Paulus in vers 18, dit alles die werk van God is. Nie van mense nie. Dit is genade. Die geloof is ‘n gawe.

Nou sal u sê, broers en susters, maar dit is mos ou nuus hierdie. Wat meer is, ons aanvaar dit onvoorwaardelik. Maar die vraag is, broers en susters: aanvaar ons dit werklik onvoorwaardelik? Wat meer is, toon ons lewens elke dag, veral in ons verhoudingslewe met mekaar en met ons kinders, dat ons hierdie versoening onvoorwaardelik aanvaar het?

Hoekom, broers en susters, stel ek hierdie vrae so stellig, so hard en duidelik? Kom ons lees vers 18 se tweede gedeelte. Daar staan: Hy (God) het ons deur Christus met Homself versoen, en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. Wat beteken dit? Dit beteken, sê vers 17, dat iemand wat aan Christus behoort, 'n nuwe mens is. En dan nie alleen nuwe mens omdat hy/sy die versoening/liefde van God ontvang het, maar ook die versoening/die liefde van God wat hy/sy ontvang het, sigbaar gaan maak in sy/haar lewe met die ander rondom hom/haar. Dan, sê die Woord hier in vers 17, is die oue verby, en het die nuwe gekom. Nie alleen nuut omdat ek nou verloste sondaar is nie, maar ook nuut omdat ander sien ek lewe nuut.

Waar die oue verby is. Die ou mens, sonder God, wat sal sê: wat waardevol is, is weerloos. Want die nuwe mens, die mens in Christus, broers en susters, kan dit nie sê nie. Hoekom nie? Want kyk wat sê vers 14: Die liefde van God dwing ons, omdat ons tot die insig gekom het dat Een vir almal gesterwe het, sodat die wat lewe, nie meer vir hulleself sal/kan lewe nie, maar vir die Een wat vir hulle gesterf het.

Kom ons sê dit in eenvoudige taal. Wie werklik verstaan wat die versoening van God deur Jesus Christus beteken, wie werklik verstaan, en ook al ervaar het, wat dit beteken om voor God te staan, met my hele sondige ou lewe, en te hoor: ek het jou lief, Ek wat die heilige God is, vergewe jou, Ek wat die heilige God is spreek jou vry, daardie mens, broers en susters, sal nie anders kan as om te gaan lewe soos die nuwe mens nie. Sal nie anders kan as om elke dag die ou mens te begrawe en as nuwe mens op te staan en die liefde sigbaar te maak waar ons leef en beweeg nie. Omdat God my eerste liefgehad het.

Kom ons maak hierdie boodskap uit die woord vanoggend op 'n paar terreine van ons lewens van toepassing. Kom ons begin by die doop. Hoe, broers en susters, kan dit enigsins moontlik wees dat ouers 'n kind na die doopvont kan bring, hier God se genade en liefde sigbaar kan sien en ontvang, en dan so gaan lewe, en so aan die kind gaan voorlewe, asof die versoening nie deel van hulle lewens is nie? Ek wil 'n antwoord waag, broers en susters: omdat God in daardie ouers se lewens nie 'n werklikheid is nie. Omdat daardie ouers nog nie besef wat die omvang van God se liefde is nie, wat God se liefde is nie. Want, sê die Woord vir ons hier, iemand wat die versoening verstaan, is 'n nuwe mens, die oue is verby, die nuwe het gekom.

'n Tweede voorbeeld: tydens verlede week se diakensvergadering, toe daar gepraat word oor die tekort aan diakens, word die volgende opmerking gemaak: as mense net weer wil raaksien dat ook ons werk in die kerk/gemeente in wese niks anders is as diens aan God nie, sal die situasie anders wees. Ek wys nie vinger nie, broers en susters. Elkeen van ons weet wat ons eie omstandighede is en ons elkeen weet hoe eerlik ons met onsself is.

Die feit is: vir die kind van God mag die spreekwoord `wat waardevol/kosbaar is, is weerloos, nooit geld nie. Want die kosbaarheid van die versoening, die waarde van die versoening, sê Paulus, as jy dit eers begryp het, gryp 'n mens so vas, dat die liefde van ons Verlosser, Jesus Christus, ons dwing om die nuwe lewe te lewe.

Dwing ons om die lewe van die nuwe mens te lewe. Laat ons geen ander keuse om die ou mens te begrawe nie. Maar dan, dan moet ons eers by daardie punt verbykom waar ons meen om in Christus te glo alleen beteken om die versoening te ontvang. Die versoening word ook aan ons toevertrou.

Hoekom, broers en susters, beland so baie dinge van ons lewe, die verhoudings waarin ons staan, ons doopbelofte, ons verhouding met ons kinders, ons kinders se verhoudings met hulle ouers, op die ashoop? Hoekom beland ons hele lewe soms op die ashoop?

Miskien omdat ons net halfpad glo, of liewers, net glo wat ons wil glo, net glo wat ons pas. Want dit pas my om te glo God het my deur Jesus Christus versoen, maar dit pas nie om te glo dat die bediening van die versoening ook aan my toevertrou is nie. Dit pas my om te glo dat God sy lewe vir my afgelê het, maar dit pas my nie om te hoor dat die implikasie van die aanvaarding daarvan is dat ek ook my lewe vir ander moet aflê nie. Want waar dit gebeur, waar ek die een en die ander aanvaar, daar leef ek die nuwe mens, daar dwing die liefde van God my, daar kan die liefde, so kosbaar, nooit weerloos wees nie. Daar is dit vir my 'n onmoontlike moontlikheid dat ek my kind doop, gedoop het, en dan maar aan hom- of haarself oorlaat.

Ek wil afsluit, broers en susters, met die woorde van Paulus in vers 20: Ons smeek julle, namens Christus, aanvaar die versoening wat God bewerk het. Begrawe die ou mens, leef die nuwe lewe. Omdat die liefde van God ons dwing om dit te doen. Want waar dit gebeur, beland wat kosbaar is nie op die ashoop nie, maar groei en gedy in die tuin van God.
Amen