1 Samuel 1:24-28; 2:11-12, 22-26

Wat moet ouers by hulle kinders inskerp?



1Geliefdes van ons Here Jesus, die teksvers vir hierdie prediking kom uit Deuteronomium 6 vers 7: “Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan”.

Broers en susters, die woorde van ons teksvers is uiters belangrik, want wat is dit wat ons by ons kinders moet inskerp? Wat moet ons hulle vertel wat tog so belangrik kan wees? Ons moet besef dat die antwoorde op hierdie vrae baie belangrik is. Nou kan julle my vra: “Hoekom?” Wel, dit het te doen met die feit of ons kinders eendag die Here sal volg, of nie! Nou kan julle my weereens vra: “Wat is nou die verskil tussen kinders wat in die Here se Naam grootgemaak word, en daardie kinders wat nie so grootgemaak word nie?”

Wel, as ons baie mooi geluister het na ons Skriflesing, dan sal ons sien dat daar wel ’n groot verskil is. Ons moet net een ding baie goed besef én onthou: Die profeet Eli se seuns het wel in die tempel grootgeword, maar dit het nog nie beteken dat hulle die Here geken het nie! Daarteenoor het die klein Samuel die Here gedien. Voor ek egter verder oor hierdie saak wil praat, wil ek eers vir julle die staaltjie van ’n monnik en twee mossies vertel.

Lank, lank gelede was daar ’n monnik wat in ’n klooster gewoon het. Een aand was daar ’n kwaai donderstorm buite. Die volgende dag het die monnik in die tuin van die klooster rondgeloop, en toe sien hy ’n nes wat uit ’n boom geval het, met twee klein pasgebore mossies daarbinne. Die monnik het die twee mossies na sy kamer geneem, en vir hulle bo-op sy hangkas ’n nessie uit watte gemaak. Elke dag het hy in die tuin gaan rondkrap vir goggas en wurmpies. Alhoewel dit baie rustig in die klooster was, was daar een groot gevaar: Daar was ’n kat. En hierdie kat het die mossies se getjiep gehoor, en hy het alles in sy vermoë gedoen om hulle te vang en op te vreet. Die monnik was egter baie versigtig, en het nie toegelaat dat die kat binne sy kamer kom nie. Die ander monnike in die klooster was net so lief vir hierdie twee mossies, en het so af en toe ook raad kom gegee oor hoe om hierdie mossies groot te maak. Met die tyd het die mossies groter geword en uiteindelik was hulle reg om te leer vlieg. Die monnik het besef dat hierdie twee mossies binnekort die nessie sal verlaat om die wye, groot wêreld in te vlieg.

Gemeente, soos die mossies al groter en groter word, so het hulle vlerkies ook al sterker en sterker geword. Die monnik het toe op gereelde basis die twee mossies in sy hande vasgehou, op die bed gaan sit en hulle dan in die lug opgegooi sodat hulle kan leer om hulle vlerke te gebruik. Alhoewel hy gereeld die mossies geleer het om te vlieg, het die een mossie baie stout geraak. As die monnik nie kyk nie, het hy oor die rand van die nessie gespring, en dan van die kas af tot op die bed probeer vlieg. Omdat sy vlerkies nog nie sterk genoeg was om hom te dra nie, het hy gereeld baie hard op die vloer geval. Van die ander monnike het vir die monnik gewaarsku dat hy nie die stoute mossie se streke moet toelaat nie. Dan het hy net gelag, en gesê dat daardie mossie eintlik baie braaf is ... ja, hy het geen bang veer op sy kop gehad nie ... hy was mossie maar man! Ja, het hy gesê, die mossie moet op die harde manier leer! Dít was die eerste groot fout wat die monnik gemaak het.

Een dag toe die monnik gaan eet het, het hy vergeet om sy kamerdeur toe te maak. Die stoute mossie het weer uit die nessie gespring en probeer vlieg. En, net soos die vorige kere, het hy sy eie kragte en vermoëns oorskat... hy het so hard op die sementvloer geval dat sy een vlerkie gebreek het. Toe die grys kat op hom afstorm, kon hy nie wegvlieg nie. Die kat het hom gegryp, doodgebyt en opgeëet. Dit is beslis nie ’n mooi storie nie, nê?!

Geliefdes van ons Here Jesus, die monnik se vriende het hom kom troos, en vir hom gesê dat hulle hom gewaarsku het dat hy nie moes toelaat dat daardie mossie so stout raak nie. Hy moes hom van die begin af gewaarsku het teen die gevare van ongehoorsaamheid. Toe die monnik die waarheid van sy vriende se woorde besef, het hy die tweede grootste fout van sy lewe gemaak! Hy het die wattenessie gevat, dit in sy jas se sak gesit en die ander oorblywende mossie die heeltyd daarin rondgedra.

Elke dag het die monnik haar sommer daar in sy jas se sak kos gegee. Ja, hy het nie eers die mossie uitgehaal nie ... te bang dat die mossie dalk ook te vroeg sal probeer vlieg en dalk ook deur die kat gevang sal word. Al wanneer sy wel kans gehad het om uit te kom, was wanneer die monnik naby was om ’n ogie oor haar te hou. Saans het hy haar weer op die kas gesit, veilig buite bereik van die wrede kat, net ingeval die kat dalk in die omgewing was.

Intussen het hierdie mossie gegroei tot ’n pragtige, jong mossie. Ja, al haar vere was nou uitgegroei en selfs haar vlerke het pragtig ontwikkel. Ongelukkig het die mossie nie kans gekry om haar vlerke te oefen nie. Ja, sy het nie geweet hoe om te vlieg nie, al het sy pragtige, sterk vlerke gehad. Natuurlik het die monnik se vriende hom weer eens gewaarsku teen sy oorbeskerming, maar ... hoor is min. Sy verweer was dat hy een keer ’n groot fout begaan het, en beslis nie van plan is om dit weer te doen nie! Min het hy besef dat hy steeds ’n groot fout maak! Intussen het die dae weke geword, en die weke het maande geword. Die tyd het aangestap ... die monnik het ouer geword en op ’n dag is hy aan ouderdom oorlede.

Toe ’n jong monnik toevallig die oorlede monnik se jas optel en die mossie daarin sien, het hy die mossie buitentoe gevat en daar op die gras gelos, min wetende dat dit ’n mak mossie was. Omdat die mossie nooit geleer het hoe om self goggas en wurmpies te vang nie, het sy begin honger word. Mettertyd het sy op die grasperk rondgespring op soek na iemand wat haar kan voer. En toe sy so oor die grasperk loop, sien die kat haar raak. Toe die kat op haar afstorm, het sy probeer om weg te vlieg, maar sy het egter nie geweet hoe om te vlieg nie! Ja, sy is nooit geleer hoe om haar vlerke te gebruik nie! Gou-gou was die kat by haar, en word ook sy doodgebyt en opgeëet! Hierdie is beslis ook nie ’n mooi storie nie, nê?!

Maar, broers en susters, die verhaal van Eli en sy twee seuns het ook nie ’n mooi einde nie! Dit is nogal ’n baie sensitiewe storie ... dit is ’n verhaal van ’n ouer wat nie dissipline oor sy kinders kon handhaaf nie. Dit het daartoe bygedra dat God beide Eli se seuns op die ou end met die dood gestraf het (vgl 1 Sam 3:13; 4:11). Wat Eli – en ouers wat hulle kinders op so ’n manier groot maak – nie besef nie, is dat hy sy seuns vir die dood groot gemaak het. Ja, luister maar wat staan daar in 1 Petrus 5 vers 8: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind”. Ja, hoeveel keer is ouers (en veral vaders) nie al met die sogenaamde “Eli-etiket” bekroon nie. Hoeveel ouers het dalk nie ook al, soos in die verhaal van die monnik, hulle kinders vrye teuels gegee of oorbeskermend groot gemaak nie?

Iets wat ons deeglik moet besef, is dat daar in ons gelese gedeeltes gesê word dat Eli al baie oud was toe hy die gerugte van sy seuns se goddeloosheid gehoor het. Hierdie seuns was dus ook nie meer kleuters of jong kinders nie ... nee, hulle was toe al self groot en getroud. Alles wat hierdie twee seuns aangevang het, het agter Eli se rug gebeur. Voor hom was hulle die engeltjies vanself, maar sodra hulle die geleentheid gekry het, het hulle sonde gedoen en die volk verlei. Op daardie ouderdom kan ouers sekerlik nie meer hulle kinders oor die skoot trek en ’n goeie pakslae gee nie ... ag, as hulle maar net kon! Ja, wat anders kan jy doen as om mooi te praat en te smeek? Tog, so eenvoudig is dit darem ook nie!

So bietjie verder lees ons dat die Here die volgende vir Eli sê: “...waarom ag jy jou seuns belangriker as vir My ...?” (v 29). Eli se probleem kom nou al ’n lang paadjie ... dit het nie sommer oornag gebeur nie. Ja, sy seuns het nie sommer oornag in sulke goddelose kinders uitgedraai nie. Nee, hy het hom oor die jare blind gehou vir sy seuns se verkeerde dade ... hy het hom doof gehou vir die nuusdraers, vir daardie mense wat dit dalk goed bedoel het. Ja, Eli kon beslis iets omtrent hulle aanvanklike stoutighede gedoen het.

Ons is baie soos Eli ... ons laat ons kinders baiekeer ook hulle stoutighede toe, omdat dit soms so snaaks en oulik is... of omdat ons soms nie meer raad het nie, en uit moedeloosheid laat ons maar Gods water oor Gods akker loop! Maar al wat ons eintlik doen, is om hulle vir die ewige dood groot te maak. Eli het toegelaat dat sy seuns in ’n kultuur, waar hulle hulle sin gekry het, groot word. Ja, hulle kon letterlik met moord wegkom. En toe het hierdie aanvanklike stoutighede van hulle mettertyd ’n lewenswyse geword ... ja, noudat hulle volwasse mans was, het hulle op dieselfde trant voortgegaan en gereken dat hulle daarmee sou kon wegkom.

Gemeente, hierdie gedeeltes, wat ons vanoggend saamgelees het, handel enersyds oor ouers se liefde vir God, soveel dat hulle selfs bereid is om hulle seuntjie aan Hom op te dra. En omdat hierdie ouers besef het dat daar wel groot waarde in is om hulle kind in die Naam van die Here op te voed, het hulle hulle seuntjie aan die Here opgedra. Ja, luister maar wat staan in Spreuke 20 vers 11: “Selfs ’n jongmens word geken aan wat hy doen, uit sy optrede blyk of hy eerlik en opreg is”.

Ja, ons kinders is lewende voorbeelde van hoe ons, as ouers, hulle opgevoed het. Andersyds handel ons Skrifgedeelte ook oor die foute wat ouers bewustelik doen in die opvoeding van hulle kinders ... veral ouers wat hulle blind hou vir die goeie opvoeding wat daar vir hulle kinders in die Naam van die Here is. Ja, ons moet onsself afvra of ons regtig probeer om vir die Here te eer met die opvoeding wat ons vir ons kinders gee? Maak ons ons kinders groot met die verwagting dat hulle maar self moet uitvind wat is reg en verkeerd, óf ... maak ons hulle só beskermend groot dat hulle nie self besef dat hulle ’n verantwoordelikheid het om reg voor God te lewe nie, óf ... maak ons ons kinders in die Naam van die Here groot in die vaste vertroue en hoop dat God sélf hulle kosbare lewens in sy beskermende hande vashou? Immers, is dit nie ook wat die Doopformulier sê nie, naamlik, dat God se Gees ’n wakende ogie oor ons kinders sal hou nie?

Wel, as ons, as Christenouers, werklik glo dat daar veel meer is as hierdie wêreldse plesier en gejaag na wind, dan sal ons deeglike dissipline aan die hand van die Bybel móét toepas. Ja, dan sal ons, soos Hanna en Elkana, ons kinders aan die Here móét opdra, en hulle dan met liefde leer van daardie eise wat God se Woord vra ... ja, ons sal ons kinders in God se liefde grootmaak, daardie liefde wat vir ons in sy Seun, Jesus Christus, bewys is. Dan sal dit beslis ook nie vir ons nodig wees om eendag, as ons al oud is, niks meer te wees as weerlose ou mooipraters nie, want dan sal ons woorde soos water van ’n eend se rug afloop! Nee, dan kan ons ook met vreugde en blydskap terugkyk op ons kinders se opvoeding, en met blydskap ervaar dat ons, ten spyte van ons eie sondigheid en feilbaarheid, tog ons kinders die regte pad geleer het. Daardie pad wat na die ewige lewe lei ... daardie pad waar God se Woord self die lig vir ons voete in hierdie boos en duistere wêreld is (vgl Ps 119:105).

Nou is die vraag: Hoe moet ons dan ons kinders opvoed? Dit is waar ons teksvers inkom. Ons móét ons kinders leer dat Jesus die Seun van God is én dat Hy die enigste ware Verlosser is. Ons móét hierdie waarheid só by hulle inskerp dat dit sigbaar deel word van hulle lewenswyse. So sal ons kinders, as hulle eendag groot en volwasse is, self die vrugte van al ons toewyding en liefde vir hulle pluk. Ja, dan kan ons dalk – anders as in Eli se geval – in dankbaarheid hoor hoe die Here self vir ons kinders die ewige lewe as beloning gee: “Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is ... Dié wat die oorwinning behaal, sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie” (Op 2:7,11).

Onthou, ons kinders word wat ons van hulle gemaak het, soos in die geval van die jonge Samuel, óf wat ons toelaat dat hulle self geword het, soos in die geval van Eli se twee seuns.
Amen