Johannes 8:1-20

Hoeveel van ons neem dit om lig te gee?



Wat die kerklike jaar betref is ons tussen Kersfees en die lydenstyd. Ons noem hierdie gedeelte van die kerklike jaar Epifanie. Die woord ‘Epifanie’ dui op die verskyning of manifestasie van God in die wêreld. Tydens Epifanie vier ons (gee ons aandag aan) die werk van Jesus terwyl Hy op aarde was. Die belangrikste simbool van Epifanie is die ster van Bethlehem as teken van die Lig wat in die duister ingekom het. Ons gaan vanoggend ook aan hierdie Lig aandag in die prediking gee.

Broers en susters in onse Here Jesus Christus
Afrikaners het die manier om met humor (grappies) sekere dinge wat rondom ons gebeur, dinge wat soms baie ernstig is en ‘n effek op hulle het, minder ernstig te probeer maak deur grappies daaroor te vertel. Dit word galgehumor genoem. Net so, broers en susters, hoor ons dikwels grappies waarin sekere mense die teiken is, veral omdat daar oor sekere groepe mense dikwels bepaalde persepsies bestaan. Dit is amper asof mense met die soort grappies die lig op sekere groepe mense se vermoëns, kwaliteite of gewoontes wil laat val.

So bestaan daar byvoorbeeld ‘n reeks grappies wat juis oor lig (of dan die omruil van ‘n lig/gloeilamp) handel. Ek noem u ‘n paar voorbeelde (nie met die bedoeling om u te laat lag nie, maar met die bedoeling om ‘n bepaalde punt te maak). Ons almal ken hierdie grappies.: Hoeveel blondines neem dit om 'n gloeilamp om te ruil ? En dan die antwoord: Vyf. Een om op die leer te staan en die gloeilamp vas te hou en 4 om die leer in die rondte te draai. Om dan hiermee te wil sê dat alle dames wat ligte hare het, sogenaamd dom is. Of: hoeveel Boerseuns vat dit om 'n gloeilamp om te ruil? Die antwoord: nie een nie, want Boerseuns is nie bang vir die donker nie! Om te sê: boerseuns is altyd groot en sterk en nooit bang nie. Daar bestaan selfs so ‘n soort grap oor Hervormers: Hoeveel Hervormers vat dit om 'n gloeilamp om te ruil? En die antwoord: Tien: net een om die gloeilamp om te ruil en nege om te sê hoe baie hulle eintlik van die ou gloeilamp gehou het. So asof Hervormers eng, konserwatief en bekrompe is.

As ‘n mens bietjie oor die soort van goed dink, dinge wat ander mense soms geweldig seermaak (wil ek bysê), besef ‘n mens gou dat hierdie grappies eintlik nie oor gloeilampe gaan nie, maar eintlik oor die manier hoe mense of organisasies elke dag se probleme en uitdagings hanteer. Hierdie grappies fokus nie op die probleem van ‘n lig wat vervang moet word nie, maar sê eerder iets van mense se gewoontes, gebruike, oor hoe verskillende mense in verskillende situasies optree, en die soms verkeerde persepsies wat ons van sekere mense het. Dus: eintlik is dit baie ernstig, al dink ons soms dit is ‘n grap.

In ons Skriflesing van vanoggend gaan dit ook oor lig, en gaan dit ook oor ernstige sake. Want dit gaan oor die ewige Lig wat ons lewens ontbloot, maar ook aan ons hoop gee. Dit gaan oor hoe ons lig in die wêreld is, met ander woorde, dit sê ook iets van ons gewoontes, veral ons somse godsdienstige gewoontes. Kom ons kyk daarna.

In Johannes 8:12 sê Jesus ‘Ek is die lig vir die wêreld’. En dadelik is die Fariseërs op die aanval. Teen hierdie tyd was hulle nou al mooi keelvol oor alles wat Jesus gesê het, en die aansprake wat Hy gemaak het. En hierdie aanspraak was vir hulle net te erg. Nou het Jesus te vêr gegaan, volgens hulle. Hoekom?

Uit die gedeelte kan ons aflei dat Jesus hierdie uitspraak maak net na die huttefees verby is (want daar word daarna in Joh 7 verwys). Een gebruik tydens dié fees was dat vier groot menoras — dit is sulke groot kandelare met sewe ligfakkels elk — snags aan die brand gesteek is en op die hoogste deel van die tempelmuur geplaas is.
Dit was om die Jode te herinner aan hulle verblyf in die woestyn na die uittog uit Egipte, toe die Here in die aande in 'n vuurkolom aan hulle verskyn het om hulle lei en sy teenwoordigheid by hulle te bevestig. Aan die einde van die loofhuttefees is hierdie ligfakkels egter op die mure van die tempel doodgemaak, om daarmee te sê dat die ware Messias nog nie gekom het nie.
Dit is dus in hierdie tyd, net na die huttefees, net nadat die ligfakkels doodgemaak is, dat Jesus kom en sê: ‘Ek is die lig vir die wêreld’.

En dit was die speekwoordelike vet op die vuur van die Fariseërs. Volgens hulle was dit skreiende Godslastering om so 'n bewering te maak, het hulle geredeneer. En wat hulle nog meer geïrriteer het, was dat Jesus nou al vir 'n geruime tyd besig was om die donker kant van hulle godsdiens aan die lig te bring. Hy het hulle daarop gewys dat hulle witgepleisterde grafte is, dat hulle woorde en hulle dade nie bymekaar uitkom nie, dat hulle baie vroom is in hulle uiterlike godsdienstige handelinge, maar dat hierdie vroomheid nie oorgaan in dade nie, en veral nie uitloop op liefdevolle optrede teenoor hulle naaste nie.

Jesus bring hierdie donker kant van hulle optrede aan die lig — en die Fariseërs kon dit nie meer vat nie! Hulle het seker goed onthou wat Hy ‘n bietjie vroeër in Johannes 3:19-20 ook oor die lig gesê het: ‘En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie.’

En iets hiervan het so pas gebeur (Joh 8:1-11) Die Fariseërs het 'n vrou wat op owerspel betrap is, na Jesus toe gebring. Hulle wou baie duidelik vir Jesus 'n strik stel. Daarom sê hulle pertinent dat die vrou op heter daad betrap is — daar is dus onweerlegbare getuienis teen haar. Hulle sê ook dat Moses in die wet beveel het om sulke vrouens te stenig. Gerieflikheidshalwe vergeet hulle natuurlik dat Levitikus 20 en Deuteronomium 22 sê dat die man én die vrou doodgemaak moes word (want as hulle haar inderdaad op heter daad betrap het, moes die man mos by gewees het!)

Maar nou probeer hulle Jesus uitvang: sou Hy sê dat sy nie gestenig moet word nie, sou hulle kon sê dat Hy teen die wet van Moses is, en sou Hy wel sê dat sy gestenig moet word, sou hulle Hom onder die Romeinse wet, die landswet van daardie tyd, kon aankla van iets soos aanhitsing tot moord! Ja, so probeer hulle Jesus toegooi onder die modder van valse beskuldigings. So probeer hulle om die lig wat Hy op hulle valse dade laat val, te verdoof.

Maar wat doen Jesus? Hy laat die lig net nog helderder op hulle skyn, soos ons in Johannes 8:6-9 lees: Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe, en toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy gesê: ‘Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.’ Toe buk Hy weer en skrywe weer op die grond. En wat gebeur? Een vir een het hulle begin wegloop. Hoekom?

Wat het hier gebeur, broers en susters? Daar is mense wat meen dat Jesus op die grond geskryf het om so, soos 'n Romeinse regter, eers sy uitspraak uit te skryf voordat Hy dit lewer. Ander weer meen dat Jesus die sondes van sy aanklaers daar in die stof neergeskryf het, dat Hy so dié dinge waaroor hulle skaam was, dié dinge wat hulle weggesteek het, die lig laat sien het.

En kom ons stel onsself die prentjie voor: Die Fariseër Ben Jacob sien dat Jesus sy naam skryf en daar langsaam die name van die lede van sy familie wat hy uit hulle erfporsie verkul het. Die skrifgeleerde Ismael sien sy naam word geskryf en langsaan die naam van die vrou wat hy al jare lank heimlik begeer. En die familiehoof, Eli, sien hoe sy naam geskryf word en langsaan die naam van die man wie se reputasie en besigheid hy verongeluk het deur skinderstories te versprei.

En dan staan Jesus op en Hy sê: ‘Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi’.

Die Fariseërs en die familiehoofde het dus aan hulle lywe die betekenis van Hebreërs 4:13 ernstig gevoel. Wat sê hierdie vers? Daar is ... niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

Daarom het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Want die lig wat Jesus op hulle lewens laat val het, het vir hulle onuithoudbaar skerp geword.
En nou is dit ongelukkig vandag nog so, broers en susters, dat daar baie mense is wat nie werklik ‘n verhouding met Christus wil hê nie, omdat hulle te bang is om naby aan Hom te kom. Hulle is bang dat die baie donker dinge in hulle lewens aan die lig sal kom. Daarom hou hulle maar liewer terug, probeer hulle as’ t ware om God so 'n bietjie op 'n afstand te hou. Terwyl hulle vergeet: eintlik stel hulle maar net die onvermydelike uit. Want eendag sal almal voor die regterstoel van God verskyn en daar sal ons almal rekenskap moet gee.
Maar juis omdat dit so is, broers en susters, juis daarom het ons Jesus se lig in ons lewens nodig! Want sien, as Jesus sê ‘Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee’, dan wys Hy ons juis daarop dat dit nie God se bedoeling is om ons donker kante so aan die lig te stel dat ons uit absolute skaamte en skande voor Hom sal probeer wegvlug en probeer wegkruip nie.

Nee — dit allermins. Hy wil ons veel eerder daarvan oortuig dat die donker nie 'n lekker plek is om in te bly nie! Ja, die lig ontbloot al die foute, al die baie onvolmaaktheid wat nog deel van ons lewens is. Maar die lig wat Jesus op ons laat skyn, die lig wat sy Woord op ons lewens laat skyn, help ons om te sien dat ons nooit op ons eie sal kan regkom nie, dat ons Hom nodig het, en dat sy lig ons sal lei hoe om te lewe soos God vra.

Juis daarom sê Jesus vir die Fariseërs: Julle oordeel oor iemand volgens sy uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. Jesus kom nie om te veroordeel nie, maar om te red. En dit sien ons duidelik in sy optrede teenoor die owerspelige vrou. As almal die wyk geneem het, oordeel Hy haar nie verder nie. Nee. Hy sê gaan, en sondig nie meer nie. Die enigste ware Lig ontbloot haar nie nog verder nie, maar bied hoop en redding: ‘Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie’.

Hoeveel Fariseërs was nodig om hierdie owerspelige vrou die lig te laat sien? Duisende. Hulle was almal saam nie genoeg nie. Want nie een van hulle was in staat om die ware Lig, wat van Jesus af kom, raak te sien nie.

En ons, broers en susters, wat van ons? Leef ons in Jesus se lig, soek ons daarna, of probeer ons om elkeen in sy eie ou donker plekkie wegkruipertjie met God te probeer speel? Verlig sy lewens ons so dat ons lig vir ander word? Skyn sy lig oor my as ouer so helder dat my kinders iets van daardie Lig in my sien? Verlig Hy my lewenspad so dat my lewe vir my kinders en ander ‘n lig is in ‘n donker wêreld?

Reg aan die begin van Johannes lees ons : Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld — die wêreld het deur Hom tot stand gekom — en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.

Dit is wat die Epifanie, die verskyning van Jesus, die menswording van Jesus vir ons beteken. Jesus gee aan ons die reg om kinders van God te word. Ek vra weer: leef ons in Jesus se lig?

Efesiërs 5 spel vir ons uit hoe dit behoort te gebeur:
Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak. Dit is ’n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen. Maar alles word aan die kaak gestel wanneer die lig daarop val. En as iets bekend geword het, is dit in die lig. Daarom sê die lied:
‘Word wakker, jy wat slaap,
en staan op uit die dood;
en Christus sal jou lewe verlig’.

Kom ons leef soos mense van die lig. Kom ons wees vir mekaar en ons kinders ‘n bron van lig. Kom ons word ander se lig. Ons kan, want ons het die reg om kinders van God genoem te word. Ons is sy kinders. Sy lig is daarom in ons. En daarom behoort ander dit te kan sien!
Amen