Eksodus 20:8-11

Die viering van Sondag



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ek het reeds 'n lank uitstaande versoek van die ouderlingevergadering om in die prediking oor die Sondagviering te handel. Die agtergrond van hierdie versoek is onder andere die rapport wat tydens die 64 ste Algemene Kerkvergadering gedien het oor die ontheiliging van die Sondag, 'n rapport wat geweldig baie reaksie en debat in die Kerk uitgelok het, en wel om verskeie redes. Ons kom later by hierdie rapport.

'n Tweede opmerking voordat ek die saak van die Sondagviering hanteer: ek wil met u baie eerlik wees deur prontuit te erken dat ek vanoggend voor u met geweldige huiwering staan om oor hierdie saak te handel. Daar is soveel standpunte oor hierdie saak, en soveel sake wat hier van belang is. Dus: behalwe dat dit eenvoudig net nie moontlik is om alle sake wat met die Sondagviering te make het hier aan te raak nie, is daar ook die moontlikheid dat party van u sal kan sê dat ek of te veel of te min oor die saak gesê het.

Van u weer sal meen ek is te konserwatief wat die saak betref, en ander weer sal van mening wees dat ek te liberaal is in my standpunt. Tog wil ek poog om die saak van die Sondagviering, soos ek meen dit in die Woord na vore kom, kort en duidelik aan u oor te dra. Anders gesê: ek wil 'n aantal beginselsake oor die Sondag soos dit in die Bybel na vore kom daar stel, beginselsake wat ek meen elkeen van ons in staat sal stel om self te oordeel of wat ons tans met die Sondag maak, wel tot God se eer is of nie.

Maar kom ons begin by die begin, by die Sabbatdag soos ons dit in die Ou Testament vind. In die Ou Testament is die sabbat, as die sewende dag van die week, gesien as 'n heilige dag, soos dit in die vierde gebod na vore kom , naamlik `sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou'. Die heiligheid van hierdie dag is, vervolgens, veral verstaan in terme van bepaalde dinge wat nie op hierdie dag gedoen mog word nie: op die sabbat mag 'n mens nie geplant, gesaai en geoes het nie, nie vuur gemaak het nie, jy mag nie handel gedryf het nie, en niemand wat vir jou gewerk het mag gewerk het nie, insluitend mens en dier.

Die sabbat is dus as wetties verstaan, betekende dat die onderhouding van die sabbat een van die sake was wat die mens gered het, wat jou in die regte verhouding met God geplaas het. Iets wat, indien dit nie onderhou is nie, gemaak het dat 'n breuk tussen God en volk/individu ontstaan het.

In die Nuwe Testament egter, sien ons het 'n verskuiwing ingetree in die viering van die sabbat. In die begin, na Jesus se dood en opstanding, het die eerste Christene soms sowel op die sabbat (d i die sewende dag) as op die eerste dag van die week (die opstandingsdag) of die sinagogale diens of die samekomste van die huisgemeentes bygewoon. Later het hulle samekomste egter net op die eerste dag van die week (d i die Sondag) in terme van die byeenkomste van die huisgemeentes plaasgevind. 'n Duidelik verskuiwing het dus ingetree wat betref die dag van viering. Wat egter ook 'n rol begin speel het in hulle verstaan van die viering van die Sondag was Jesus se houding ten opsigte van die sabbat. Nie alleen het hy op die sabbat genees en byvoorbeeld koringare gepluk nie, maar ook het Hy byvoorbeeld gesê dat die sabbat vir die mens gemaak is, en nie die mens vir die sabbat nie.

Dus: die vroeëre Christene se viering van die Sondag moet nie alleen verstaan word as iets anders as die heiliging van die Sabbat as 'n stuk wettiese godsdiens nie, maar ook het Jesus se optrede op die sabbat en sy uitsprake daaroor die vraag laat ontstaan: maar wat nou? Wat sou die korrekte viering van die Sondag wees?

Aan hierdie vraag het die rapport, waarna ek aan die begin verwys het, aandag probeer gee. Die antwoord was: die onderhouding van die Sondag is in die eerste plek nie 'n menslike aktiwiteit nie, maar 'n gawe van God. Met ander woorde, die Sondag is 'n gawe van God aan gelowiges, 'n gawe van rus wat heenwys na die toekomstige, ewige rus by God. Die rus op 'n Sondag het dus te make met die feit dat ons kinders van God is, sy Gees ontvang het, en dat ons op 'n Sondag aan hierdie kindskap kan aandag gee en dit kan oordink.

Dit moet veral gebeur, nie in terme van niksdoen, of in die afsien van arbeid, sport of ontspanning nie, maar om na die huis van die Here te kom en na die Woord te luister. Op 'n Sondag gaan dit dus om die instandhouding van die erediens, nie oor wat ek nie mag doen nie, maar dat die samekoms van die gemeente in stand gehou moet word. En dat ons in die erediens sal nadink oor ons lewe voor en saam met God, oor ons (on)gehoorsaamheid, oor die heiliging van die lewe.

Soos reeds gesê, het hierdie rapport geweldige reaksie uitgelok, en, wil ek amper sê, in die meeste gevalle negatiewe reaksie. Hoekom? Omdat die meeste gevoel het dit sê te min, veral te min oor wat 'n mens op die Sondag mag doen en nie mag doen nie. Dit dan, wat betref die agtergrond van sowel die Sondag wat ons in ons tyd vier, sowel as die rapport wat aanleiding gegee het tot die versoek om oor hierdie saak in die prediking te handel.

Hoe sal ons antwoord? Kom ek probeer. In die eerste plek meen ek, broers en susters, moet ons, wanneer ons oor die korrekte viering van die Sondag praat, onmiddellik wegkom van die houding/uitgangspunt dat die korrekte viering van die Sondag in die eerste plek gaan oor sekere dinge wat nie op die Sondag gedoen mag word nie. Sondag, broers en susters, is nie heiliger as ander dae nie. Alle dae is ewe heilig, omdat God nie alleen net op 'n Sondag by ons teenwoordig is by wyse van sy heilige teenwoordigheid nie. Nee. God is elke sekonde in ons lewens teenwoordig. Dit sou verder doodeenvoudig wetties wees om te aanvaar dat net sekere dinge (soos brei, swem of handel dryf) die Sondag ontheilig. Inteendeel. Ek meen dat alles wat goed en reg is op enige ander dag (die dinge wat ons doen in 'n gehoorsame lewe), ook reg is vir die Sondag. Wat ek dus op ander dae doen, moet ek ook die vrymoedigheid hê om op die Sondag te doen, en ook omgekeerd. Wat ek op die Sondag doen moet ek ook op ander dae kan doen.

Maar (en dit is die groot maar): alhoewel alles wat goed en reg is op enige ander dag ook reg is vir die Sondag, is al hierdie dinge nie nuttig vir die Sondag nie. Hoekom nie? Want op Sondag kry ons die kans om ons weeklikse roetine te verander, en wel op so 'n wyse dat ons op die Sondag al ons aandag op God kan toespits. Nie dat ons hiermee wil sê dat ons dit in die week nie gedoen het nie, maar dat ons, in die ritme van die week, op Sondag die geleentheid het om in die besonder aan God, en veral ons verhouding met God, aandag te kan gee. Dat ons kan rus van ons weeklikse arbeid, en die tyd te kan gebruik om ons op God te rig.

Om dit te kan doen moet ons egter een ding baie goed verstaan. Die vierde gebod sê nie alleen dat ons die Sondag moet heilig nie, maar `ses dae moet jy arbei en alles doen wat jy moet, en die sewende dag moet jy rus'. Dit alles is deel van hierdie gebod. Met ander woorde, die Sondag kan in die eerste plek nie korrek gevier word as ons vir ses dae nie werklik gewerk het en alles gedoen het (soos ons dagtaak, gesinsverhoudinge, sport, oefening, skoolwerk) wat ons moes nie. Om daarom byvoorbeeld lui te wees in die week, na te laat, beteken alreeds dat die Sondag nie korrek gevier kan word nie.

Indien ons dit egter wel gedoen het, al ons werk en verpligtinge afgehandel het, sal ons tyd te hê om op die Sondag intens met God besig te wees. Op watter manier? Deur in die eerste plek na te dink oor die werk in die week gedoen. Was dit sinvol? Wat het ek bereik? Het my arbeid of besigwees werklik iets beteken? Was my gewone werk ook tot uitbreiding van God se koninkryk? Of: het ek by my werk ook God se beeld in my gedra? Dit is die soort vrae wat aan die beurt behoort te kom.

In die tweede plek, broers en susters, moet die Sondag gebruik word om ons verhouding met God te verdiep en versterk. Juis daarom is die samekoms van die gemeente in die erediens so belangrik. Hier waar ons met God besig is en God met ons. Maar ook die ander byeenkomste wat Sondae betref. Soos die kategese van ons kinders, die Bybelstudie, en enige ander byeenkoms op 'n Sondag.

En niks behoort in ons pad te staan om dit te kan bywoon nie. As ons in die week alles gedoen het wat ons moet, sal ons tyd daarvoor hê. Verder ook moet ons tyd maak, veral saam met ons gesin, om die prediking by ons woonplek verder te gaan oordink, en die konsekwensies daarvan vir byvoorbeeld die huwelik en die gesinsverhouding met mekaar te bespreek. En natuurlik behoort ons fisies te rus.

En verder? Dit wil u seker vra. Wat mag ek nog op die Sondag doen? En bo alles, wat mag ek nie? Hierdie vrae, broers en susters, is myns insiens irrelevant. Want die vraag in die eerste plek moet wees: wat behoort ek te doen? En dit het ons klaar geantwoord.

Maar kom ons antwoord die vraag oor wat ek mag en nie op die Sondag mag nie. Gaan doen eers die dinge wat jy behoort te doen. Gaan vra jouself eerlik die vraag af of jy werklik alles in jou vermoë gedoen het om die eredienste en die ander byeenkomste op Sondag by te woon. Of jy werklik saam met die gemeente, nie los nie, maar saam met die gemeente, die Sondag aan die Here gewy het.

Indien ons daarop ja kan antwoord, meen ek sal die vrae oor die mag en die mag nie op 'n Sondag minder belangrik word. Dalk pla hierdie vrae ons so baie omdat ons soms so baie tyd op 'n Sondag het omdat ons nie op die Sondag doen wat ons behoort te doen nie.

Gaan doen dit eers, gaan doen dit met oorgawe, en dan kan ander dinge dalk ook nuttig vir en op die Sondag wees. Maar gaan doen eers wat jy moet. En ek is oortuig daarvan dat as ons dit doen, daar nie veel tyd oor sal wees vir die ander dinge wat sogenaamd mag en nie mag nie. Nee. Laat ons liewers bekommerd wees oor die dinge wat ons behoort te doen en nalaat om te doen.

Sondag is die dag van die Here, die dag waarop die Here gedien moet word. Dit is wat ons behoort te doen. En die plek waar ons dit moet doen is in en by die kerk. Doen ons dit? Is u betrokke by alles wat op 'n Sondag in die gemeente gebeur? Lyk u lewe en bedrywigheid op 'n Sondag anders as in die res van die week? Anders omdat u op Sondag uself totaal voor die voete van die Here plaas? Dit is die vrae wat u en ek moet antwoord. Nie die vrae oor wat sogenaamd mag en nie mag nie. Want dan is ons wetties, dan is die mens vir die Sondag gemaak, en nie die Sondag vir die mens nie. En dit, het Jesus gesê, is afgodediens, afgodediens waarin ek self die grootste afgod is.
Amen