Markus 7:1-23

Gewoontes en gebruike



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons almal het al gehoor van die sogenaamde generasiegaping. Die jongmense reken dat die gebruike/gewoontes van ouer mense te eng is, en die oueres onder ons meen dat die jonges ten gronde sal gaan omdat daar nie meer vasgehou word aan die gebruike van die ou tyd nie.

Hierdie saak, broers en susters, en in besonder wie se sieninge en gebruike nou reg sou wees, lei dikwels tot ernstige wrywing tussen oueres en jonges, ouers en kinders, gesagsfigure en die wat onder gesag staan. Wat meer is, oud en jonk, ouer en kind, beskou altyd sy siening van die saak as die regte, die korrekte. En wat meer is, en belangriker: daar is dikwels nie 'n gemeenskaplike kriterium, 'n hoër gesag, 'n hoër appél waaraan elkeen se standpunt getoets kan word nie. Wat geld is alleen maar elkeen se eie standpunt, elkeen se eie persoonlike oortuiging. So, om dan aan die einde van die dag te besluit wie is nou reg en wie is nou verkeerd, is nie so maklik nie. Want wie besluit dan nou daaroor, en op grond van wat besluit ons wie is reg en wie is verkeerd?

Hierdie probleem, broers en susters, die vind van 'n norm ('n hoër gesag) om te besluit oor wie nou reg en verkeerd is, maak Jesus se konfrontasie met die Fariseërs in ons gelese gedeelte baie insiggewend: want in sy gesprek met die Fariseërs beroep Jesus Hom dadelik hier op hoër gesag! Kom ek verduidelik wat ek hiermee bedoel.

Jesus se dissipels het op 'n dag geëet sonder om hulle hande te was. Nou was daar 'n baie lang tradisie/gebruik onder die Jode oor die handewassery voor ete. In die Mishna, die uitleg van die wetboek van die Jode, is daar 'n hele traktaat (gedeelte) oor die reinheid van hande. Ek wil dit graag vir u voorlees (en ek vertaal dit redelik vry vanuit die Hebreeus):

As 'n mens se hande vuil is, dan is jou hele liggaam onrein. Daarom moet daar voor ete hande gewas word, anders is die voedsel wat geëet word, ook onrein. Om die hande as rein te beskou, moet 'n kwart log (ongeveer 100 milliliter) of meer oor die hande uitgegiet word. Soveel water is genoeg vir een of twee mense. 'n Halwe log is genoeg vir drie of vier. Een log is genoeg vir vyf tot tien mense. Op voorwaarde dat daar vir die laaste persoon nie minder as 'n kwart log oorbly nie. As die water so vuil is dat dit byvoorbeeld nie vir vee drinkbaar is nie, of in 'n kan was, is dit onbruikbaar/ongeldig, maar as dit op die grond was, is dit bruikbaar/geldig. As iemand sy brood daarin geweek het, is dit onbruikbaar, maar as dit nie iemand se bedoeling was om sy brood daarin te week nie, en die brood het per ongeluk daarin geval, is dit bruikbaar. Verder, as die water in 'n rein houer gestaan het, is dit bruikbaar, maar as dit vir langer as drie dae in dieselfde rein houer was, is dit nie meer rein nie (en so kan ons aangaan).

Waar die Fariseërs dus in die fynste besonderhede uit die tradisie geweet het hoe hande in watter water gewas moes word, dan kan ons verstaan dat hulle so 'n bietjie ongelukkig sou wees toe die dissipels sommer weggeval en begin eet het sonder om hulle hande te was.

Juis daarom roep hulle Jesus op tot verantwoording. Want sê Hy nie immers dat Hy van God af kom nie? Jesus se eerste antwoord, sien ons, is die volgende: Terwyl julle die gebod van God nalaat, klou julle vas aan die oorleweringe van mense. Met ander woorde: julle wetjies oor die was van hande het met God se gebod niks te make nie. Dus: ek doen sekere dinge, en julle doen sekere dinge. En wie s’n is mensediens en wie s’ n is godsdiens. Watter een van die twee het met die koninkryk van God te make?

Met ander woorde: dit is moontlik dat iemand sy koers in die koninkryk van God kan kwytraak deur net in te gaan op die maniere van doen om by die koninkryk uit te kom. Ek kan met ander woorde so 'n gedetailleerde en volledige padkaart opstel dat die pad na die koninkryk van God verduister word. Of, in kort: ek kan ontsettend besig wees in die geloof, maar God lankal nie meer dien nie.

Daarom lê Jesus hier 'n tweede kriterium neer: Wat julle doen is, sê Hy, om God met julle lippe te eer, terwyl julle hart ver van God af is. Jesus vra dus by implikasie vir die Fariseërs hier: is julle hart in dit wat julle doen? Is dit vir julle 'n vreugde en lus om God te dien, ja, veral wanneer julle julle hande so staan en was.

En dadelik, broers en susters, wanneer Jesus hierdie vraag hier so reguit vra, skiet 'n antwoord van die Kategismus my binne, daar waar gevra word wat dan die opstanding van die nuwe mens is: dit is 'n opregte vreugde in God deur Jesus Christus en 'n lus en liefde om die wil van God te doen.

En hierop kon die Fariseërs natuurlik nie antwoord nie, want hulle het mos dikwels gepraat van die juk van die koninkryk van die hemele. Want vir hulle was al hulle goeie werke nie noodwendig 'n lus en liefde nie. Hulle juk was swaar.

Jesus, sien ons, spaar die Fariseërs egter hier nie. Want Hy gaan nog verder. Julle sê dat Moses gesê het: eer jou vader en moeder (wat o a beteken dat kinders hulle ouers moet versorg), maar in dieselfde asem sê julle: dit is korban.

Die woordjie korban, broers en susters, beteken letterlik ‘jy mag nie daaraan raak’ nie. Waar dit egter op neerkom, of dan, die wyse waarop die korban toegepas is, was gewoonlik die volgende: die oudste seun van 'n gesin kon nooit erf voordat sy vader gesterf het, en indien dit gebeur het, moes hy die erfporsie saam met sy ander broers gebruik. Indien die oudste seun van 'n gesin egter wou, het die Fariseërs geleer, kan hy wel sy erfporsie kry terwyl sy vader nog lewe, maar dan moes hy dit as korban aan die tempel gee. Daar waar dit nie aangeraak mag word nie, waar dit gebruik word vir die instandhouding van die tempel alleen.

Met die implikasie dus: terwyl die vader en moeder nog lewe, vat die seun alles van sy vader (dit wat hy sou erf), en gee dit vir die tempel. Met die gevolg? Nou is sy vader en moeder nie meer versorg nie, want hulle het niks om van te lewe nie. Alles is opgesluit in die tempel, dit is sogenaamd vir God gegee.

Daarom sê Jesus hier vir die Fariseërs: aan die een kant sê julle “eer/versorg jou vader en moeder”, maar aan die ander kant sê julle korban, moet nie jou vader en moeder eer/versorg nie. En dit kan mos nie!

Met ander woorde: julle tradisie begin miskien uit die Woord, maar eindig ver daarbuite. En so maak julle God se Woord kragteloos. Want 'n tradisie wat sogenaamd op die Woord van God berus, versmoor die Woord, maak dit stil. En juis daarom, sê Jesus, moet elke tradisie oordink word, en nie maar net klakkeloos ontvang en oorgedra word nie. Dus: omdat hande was voor ete niks met diens aan God te make het nie, maar diens aan oorgelewerde gebruike, was ons nie ons hande voor ons eet nie!

Belangrik om raak te sien, broers en susters, is dat die Fariseërs al hulle gewoontes en gebruike nie self uitgedink het nie. Jesus noem dit immers gebruike en oorleweringe van die voorgeslagte. Hulle gebruike is dus dinge wat hulle ontvang het, wat “altyd nog maar so was”. En juis daarin was hulle grootste oortreding. Nie dat hulle bepaalde dinge oorgelewer ontvang het nie, maar dat hulle nie bereid was om elke tradisie aan die Woord van God te gaan toets nie.

Hulle het dus hulle persoonlike verantwoordelikheid ontduik om elke tradisie aan die Woord te meet en te besluit of dit met mensediens of godsdiens te make het. Hulle het alles onkrities net so oorgeneem. En dit het hulle lus vir ware godsdiens nie alleen laat verdwyn nie, hulle het selfs ander mense verhinder om God te dien.

Wat kan ons hieruit leer, broers en susters? Ek dink ten minste dit: met elke oorlewering en gebruik moet ons eers voor God gaan staan. Want 'n oorlewering kan 'n gevaarlike ding wees. Godsdiens kan nie maar net iewers op 'n rak geplaas word nie. Want in alles wat ek doen, is ek voor God verantwoordelik.

Daarom kan ons nie maar net ja en amen knik op alles wat maar altyd nog so was nie. Veral nie omdat dit nog altyd so was nie. Omdat dit uit die verlede uitgediep kan word nie. Daarom mag en kan ons nie ook maar net ja en amen knik op sogenaamde kerklike usansie nie, al klink dit hoe vernaam en al klink dit of ek die hele geskiedenis van die Kerk in my kop ronddra. Want vir die kerk van Christus is daar niks gevaarliker as die onkritiese aanvaarding van ‘gebruik’/gewoonte nie. So het die Fariseërs, sê Jesus immers hier, die Woord van God stilgemaak!

Nie, broers en susters, dat dit nou sou beteken dat alle oorlewerings en gebruike sleg en verkeerd is nie. Nee, dit sê ek nie. Wat ek wel sê is dit: elke oorlewering en gebruik in die kerk moet aan die Woord van God getoets moet word.

En hoe doen ons dit? Ons gebruik eenvoudig Jesus se kriterium: dit moet die liefde dien. Dus moet die vraag wees: indien ons aan hierdie gebruike of daardie gebruik vashou, dien dit die liefde? Dien ek so God en my naaste?

Wat meer is, sê Jesus in vers 20 tot 23, om so 'n besluit te kan neem moet 'n mens toegerus wees: jy moet innerlik, van harte, rein wees. Skoon wees. Wedergebore wees. Jy moet die Gees van God in jou hart hê. Want wat van binne af kom, die liefde wat vanuit my hart kom, bepaal my verhouding met God. Daar moet alles begin. Dan sal die ander dinge regkom.

Eers dan sal ons diens aan God godsdiens wees, en nie mensediens nie. Eers dan sal ons werklik beoordelend kan optree teenoor ons eie gebruike en gewoontes. Eers dan sal ons weet of ons daarmee God of onsself dien!
Amen