Lukas 12:13-21; Matteus 6:1-15

Gierigheid



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die woordjie gierigheid is nie ‘n mooi woordjie nie. Dit het Jesus Christus egter nie verhoed om ook hierdie woordjie te gebruik nie. Meer nog: waar ons miskien sal sukkel om die regte definisie van hierdie woordjie te formuleer, het Jesus dit eenvoudig gesê wat gierigheid is. Gierigheid, het hy gesê, word deel van jou lewe wanneer jy die waarde van jou lewe meet aan dit wat jy besit.

Of anders gesê: gierigheid stel ‘n mens se waarde gelyk aan die dikte van jou beursie en alles wat jy kan sê jy besit. En met dit as uitgangspunt, is dit dan baie maklik om die sommetjie klaar te maak: jy het baie, daarom meen jy jy is baie, het jy min, reken jy dat jy maar min is.

Die gevolg van hierdie soort wiskunde, broers en susters, is uiters voorspelbaar. Indien jy reken dat jy die somtotaal is van wat jy besit, dan moet jy soveel as moontlik besit. Dan moet jy ten alle koste besit. Dat jy baie kan wees, baie belangrik, met baie status, met ‘n stewige posisie in die samelewing, en baie belangrik in die oë van ander.

Nou is dit ook so, broers en susters, en as u juis so oor hierdie saak gedink het toe ek daarmee begin het, sal ek u dadelik gelyk gee: ons is tog nie gierig nie! Beslis nie blatant gierig nie! Maar Jesus, broers en susters, het dit ook geweet. Juis daarom waarsku Hy ons teen ‘elke vorm van gierigheid’. Want Jesus het geweet: gierigheid dra baie maskers, dit het baie gesigte.

En kom ek verduidelik wat ek hiermee bedoel. Op ‘n keer was daar ‘n man, ‘n leier in sy gemeente, wat geld geërf het en besluit het om vir hom daarmee ‘n huis te bou. So is hy deur sy bouprojek opgeneem, dat hy vir ‘n paar maande glad nie meer in die kerk gekom het nie. Toe gaan besoek ‘n ouderling van die gemeente hom.

Op sy bouperseel het die ouderling hom aangetref, en was stom van verbasing. Die man het ‘n karige R 3000 geërf, daarmee ‘n klein stukkie grond langs ‘n besoedelde moeras gekoop, en hier was hy besig om met sy kaal hande ietsie kleiner as ‘n eenvertrekhuisie op te rig. So klein, dat dit hom nie langer as 20 sekondes geneem het om die ouderling sy hele bouprojek te wys nie.

Hulle het toe gaan sit, en die ouderling het gesê dat hy eintlik gekom het om vir hom te kom sê dat die mense van die gemeente hom mis, en dat hulle die leiding wat hy gegee het, nodig het. Hy antwoord met trane in sy oë. Jy is reg ou maat, ek het perspektief verloor, ek reken ek het net te gierig geraak!

Hierdie man, gierig, wil ons dadelik sê of vra? Hy bou ‘n hut in ‘n moeras en hy noem dit gierig? Maar die ouderling het niks gesê nie. Want hy het besef die man was reg. Gierigheid is relatief. Want gierigheid word nie gedefinieer deur wat iets kos nie, die word gemeet aan dit wat dit jou kos. As enigiets jou jou geloof kos, of jou gesin, of jou gesondheid, of ‘n gebalanseerde lewe, dan is die prys te hoog.

Dit is, broers en susters, presies wat Jesus in hierdie gelykenis wil sê. ‘n Man, vertel Hy, het eendag so ‘n meevallertjie gekry op sy belegging. Hy het ‘n rekord oes gemaak. Dit het hom gelaat met ekstra kontant en die baie benydenswaardige vraag: wat sal ek doen met al my geld?

Die het hom nie lank geneem om te besluit nie. Hy sal dit wegsit. Hy sal ‘n manier vind om dit so op te gaar dat hy lekker sal kan lewe. Dus duidelik: sy plan is om op te gaar, en sy doel is om te eet, te drink, en vrolik te wees. Hy sal by die see gaan woon, en lekker agteroor sit en die hele dag ontspan.

Maar skielik sterf hy, en dan hoor ons ‘n ander stem as die stem van hierdie man. God se stem wat vir hierdie man geen goeie woord het nie. God se stem wat sê: jou dwaas!

Ja, op aarde was hierdie man heel waarskynlik hoog aangeskrewe. Heel waarskynlik het hy ‘n groot begrafnis en ‘n duur kis gehad. Deftig geklede sakemanne het die kerk vol gesit en hierdie vernuftige man bewonder. Maar in die voorste ry het sy naasbestaandes reeds begin kibbel oor hulle pa se boedel. En weer hoor ons die woorde van God: Jou dwaas, wie kry nou alles wat jy bymekaar gemaak het?

Hierdie man, broers en susters, het sy hele lewe daaraan bestee om ‘n kaartehuis te bou. Maar hy het nooit die storm sien opsteek nie. En nou het die wind baie sterk begin waai.

Maar die storm was nie al wat hy nooit gesien het nie. Hy het God ook nooit gesien nie. Want luister na sy eerste woorde nadat hy sy lekker vet wins gemaak het: Wat moet ek doen? En nie: wat Here, wil U hê moet ek doen nie. Nee. Hy het na die verkeerde plek gegaan, en boonop nog die verkeerde vraag ook gevra.

Of kom ons sê dit anders. Die man se sonde was nie dat hy sy toekoms beplan het nie. Inteendeel, dit was wys. Ons moet immers ook verantwoordelik ons toekoms beplan. Sy fout was egter dat hy sy toekoms sonder God beplan het. God was nie deel van sy toekoms nie. Hy het God nie by sy toekomsplanne ingesluit nie.

En kom ons stel onsself voor, iemand behandel ons so, broers en susters. Gestel ons gaan weg vir ‘n kort vakansie, en ons vra iemand om ons huis op te pas. Ons oorhandig die sleutels, die instruksies, geld wat nodig mag wees, en ons vertrek.

Met ons terugkeer vind ons dat ons huis pers geverf is. Die slotte van die huis is ook verander, en daarom druk ons maar ons eie deurklokkie. Wanneer die huisoppasser ons innooi, sê sy, nog voor ons iets kan sê: kyk net hoe mooi het ek jou huis verfraai. En wat sien ons? Die kaggel is vervang met ‘n binnenshuise waterval. Die mat is vervang met pienk teëls, en orals hang foto’s van bekende popsterre teen swart fluweel op die mure.

En wat roep ons uit? Natuurlik: wat het jy gemaak, dit is mos nie jou huis hierdie nie! Dit is myne! Maar dan eggo God se stem ons stem. Jy is verkeerd ou maat, dit is nie joune nie, dit is eintlik myne! Soos Deuteronomium 10:14 dit duidelik stel: Die hemel, selfs die hoogste hemel, behoort aan die Here jou God, ook die aarde en alles daarop

God, broers en susters, se eerste reël oor besittings is baie eenvoudig: my kind, jy besit eintlik niks. Nie materiële dinge nie, nie gawes nie, nie talente nie, nie gesondheid nie, nie kinders nie. Niks nie. Ek besit dit alles. Julle, my kinders, is bestuurders, nie base nie. Julle is rentmeesters, nie grondbesitters nie. Niks behoort aan julle nie, dit behoort alles eintlik aan My.

Hierdie man, broers en susters, het egter nooit hieraan gedink nie. Inteendeel. Hy gee geen oomblik se tyd of stukkie energie aandag aan hierdie moontlikheid nie. En let asseblief op, broers en susters, dat God op geen stadium hierdie man se rykdom kritiseer nie. Nee, God kritiseer sy verwaandheid, en sy prioriteite. Prioriteite wat baie duidelik uit sy woorde blyk:

Die sal ek doen:
Ek sal afbreek...
Ek sal opgaar...
Dan sal ek vir myself sê:
Ek het baie goed.
Op ‘n keer moes leerlinge in ‘n toets die woordsoorte ek en my definieer. Wat was een seun se antwoord? Aggressiewe voornaamwoorde!

Soos hierdie man aggressief selfgesentreerd was. Sy wêreld was begrens deur homself. Sy wêreld was hy, en hy was die wêreld. En dit het hom stokblind gemaak. Hy het net homself raakgesien, nie God nie, en ook nie ander rondom hom nie.

Jou dwaas, het God daarom vir hom gesê. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word.

Is dit nie eienaardig nie, broers en susters, dat hierdie man genoeg verstand gehad het om rykdom te versamel, maar nie genoeg verstand gehad het om voor te berei vir die ewigheid nie. En nog eienaardiger, broers en susters, is dat ons soms dieselfde fout maak. Ek bedoel, broers en susters, dit is nie asof God vir ons die toekoms geheim hou nie. Een kyk na ‘n begraafplaas behoort ons daaraan te herinner dat ons almal eendag tot sterwe sal kom, en een besoek aan ‘n begrafnis behoort ons daarvan te oortuig dat ons niks met ons kan saamneem nie.

Lykswaens trek nie sleepwaentjies nie. En dooies stoot nie kruiwaens vol goed voor die lykswa uit nie.

Maar lewendes kan iets doen met die dinge wat God vir hulle geleen het. Ons kan God daarmee dien. Anders gesê: as ons prioriteite reg is, sal ons God daarmee dien.

En laat ons nie eers praat, broers en susters, van dit wat ons in materiële dinge besit nie. Kom ons begin eers by die dinge wat God elke dag aan ons leen. Hy leen ons sy genade, in wese. Hy leen ons sy vergifnis, Hy leen ons sy liefde. En hoekom, wonder u miskien, gebruik ek die woordjie leen hier?

Omdat broers en susters, God ons al hierdie dinge gee om iets daarmee te doen. As ons sy genade en liefde en vergifnis net ontvang, amper daarna gryp, en nie ons hande wil oopmaak om dit weer aan ander uit te deel nie, het ons nog nie God se rentmeesters geword nie.

God maak ons ryk, hy oorlaai ons met sy gawes, sodat ons ander ryk kan maak, ryk in die ontvangs van liefde, genade en vergifnis.
Dan is ons prioriteite reg. Dan dien ons God met alles wat Hy ons gee. En dan leef ons soos God van ons verwag!
Amen