Genesis 3:1-17; 23-24

Halwe waarhede is nie waarhede nie



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Het Adam en Eva nou werklik geleef, of is hierdie vertelling maar net 'n storietjie? Was die vrug wat hulle geëet het 'n appel, of 'n ander vrug? Watter boom het dan nou werklik in die middel van die tuin gestaan: die boom van kennis of die boom van die lewe (want twee bome kan tog nie gelykertyd in die middel van 'n tuin staan nie)? Waar was die paradys nou regtig? Want daar staan in Genesis dat God die tuin in die ooste gevestig het, maar die mense (let wel, nie alleen Adam en Eva) na die ooste toe verdryf het. En waar het hierdie ander mense nou ewe skielik vandaan gekom?

Oor hierdie vrae, broers en susters, maak mense hulle soms moeg. Meen hulle dat, wanneer hulle hierdie sogenaamde geweldige insigte toon, al die sogenaamde foute in die Bybel uitwys, en hierdie vrae sogenaamd so skerpsinnig kan vra, hulle bewys die Bybel is onwaar, daarom niks werd nie — en sommer daarby ook: God bestaan ook nie, want hier het ons te veel leuens en verdraaisels in die sogenaamde Bybel.

Met hierdie mense, broers en susters, moet ons maak soos Jesus gemaak het, of soos Natan. Toe Dawid nie wou erken hy het Uria laat vermoor nie, vertel Natan vir hom 'n verhaaltjie van 'n ryk man wat 'n fees wou hou en 'n arm man se enigste lammetjie daarvoor wou slag. En toe Dawid erken dat die ryk man verkeerd optree, was Natan se antwoord: JY is daardie man. Jy is die man vol sonde.

Net so het 'n skrifgeleerde (een van die teoloë van daardie tyd) op 'n keer probeer of van Jesus se term ‘naaste’ 'n groot teologiese probleem te maak. `Maar meneer, die Skrif is hier nie so duidelik nie. Wie IS nou eintlik my naaste?' En dan vertel Jesus aan hom 'n verhaaltjie van 'n Samaritaan wat een keer langs die pad een van sy tradisionele vyande, 'n Jood, met volle oorgawe te hulp gesnel het. Sodat ook hy moes ontdek: as ek op pad is in die wêreld, en ek wil leef soos God van my vra, is daar soms nie tyd om van God se opdrag 'n teologiese probleem/vraag te maak nie. Die Samaritaan het homself nie tyd gegun om na te dink oor wat die woordjie naaste nou presies beteken nie. Daarvoor was daar te veel nood. En die teoloog van daardie dag moes beskaamd staan voor die verhaal.

Net so, broers en susters, en eintlik is dit tragies, probeer mense vandag nog by God en sy opdragte verbykom deur van alles 'n sogenaamde teologiese probleem te maak. Soos met die vrae hierbo: want met hierdie vrae wil mense soms niks anders doen as om by Genesis 3, en die boodskap daarvan, verby te skuur nie. Want soos Eva hier gemaak het, broers en susters, maak ons vandag nog. En van Adam se optrede in hierdie verhaal, is die wêreld van vol. En hierdie slang vervel só fyn in ons dag, dat ons dit nie eers meer raaksien nie. Kom ek verduidelik wat ek hiermee bedoel.

In die drama wat hom in Genesis 3 afspeel gaan dit om twee partye, God en Satan. Die verhaal begin waar die slang en Eva in 'n druk gesprek verkeer. `Werklik', sê die slang, `het God gesê julle mag nie eers van een van die bome in die tuin eet nie?' `Nee', val Eva hom in die rede, `dit is nie waar nie. Ons mag van al die bome eet behalwe van een, die een in die middel van die tuin'.

Maar die slang is slim. `Nee Eva, dit is nie wat ek bedoel nie. Kyk, as God julle hierdie boom verbied, is dit so goed of Hy gesê het: julle mag niks aanraak nie. Want hierdie boom het geheime krag. Hierdie boom se vrugte gee insig. Hierdie boom se vrugte laat 'n mens 'n saak van twee kante af sien: die kant van die kwade en goeie. Hierdie boom se vrug stel 'n mens in staat om self te beslis oor wat reg en verkeerd is. Met hierdie boom se vrug kan 'n mens so 'n bietjie eksperimenteer in die lewe. Jy kan uittoets en self besluit'.

`Daarom, hierdie boom se vrugte is soet man. En sien, God weet dat julle net soos Hy sal word as julle van die vrug eet. Want Hy weet alles. Hy kan onderskei tussen goed en kwaad. Maar julle kennis is net gedeeltelik. Julle is so onmondig. Dié vrugte sal julle oë oopmaak!'

Die verhaal sê dan: Toe sien Eva dat die vrugte eetbaar is. Toe meen sy, sy sien in dat God met sy gebooie hulle 'n rat voor die oë wil draai. Dat God besig is om 'n massa kennis van hulle te weerhou. En dan besluit sy om te eet want sy meen sy het nou insig gekry. En sy neem en eet. En gee vir haar man. Ja, Adam was ook daar. Adam het ook alles gehoor. Maar Adam sê niks vir die slang nie. Hy eet ook.

Soms maak ons presies ook so, broers en susters. Solank daar net vooruitgang is, solank die mens net meer en meer sogenaamd mondig kan word, maak dit nie saak of ons vir God of vir die Satan stem nie. Want kennis en mondig wees beteken mos om 'n saak van alle kante af te kan bekyk. Maar dan besef ons nie, broers en susters: dit is maar net die slang wat met ons praat, net nie in sy paradysvel nie, maar wel in 'n ander gedaante. Want dan praat die slang nie met ons oor bome en vrugte en geheime kennis nie. Nee: hy kom na ons toe in 'n baie meer moderne gedaante. Kom ek noem u 'n paar voorbeelde:

Ons mag mos skilder en fotografeer. En, het God werklik gesê ons mag niks op hierdie aarde skilder of afneem nie. Ons mag darem die meeste, net 'n paar dinge mag ons nie. Nee, dit is nie wat God gesê het nie, sê die slang. Ek bedoel: as julle nie alles op hierdie aarde mag afneem of uitbeeld nie, dan is dit so goed of God gesê het julle mag niks afbeeld of afneem nie. Wees tog mondig. Sien tog raak dat julle iets in die lewe misloop as julle nie alles mag afneem of skilder nie. As julle alles wat julle mag wil afneem en publiseer en verkoop waar julle wil. En as julle nie naakte figure vir advertensies mag gebruik of mag verkoop nie, dan mag julle mos niks adverteer of verkoop nie!

Eksperimenteer met die lewe? Kyk, as jy nie 'n baba in 'n proefbuis mag ontwikkel en later maar net sy suurstoftoevoer mag afsny nie, sal jy as mens niks weet van die lewe nie. En as jy nie kan swanger raak wanneer en by wie jy wil, en later self kan besluit of jy 'n aborsie wil hê of nie, dan is jy mos nie mondig nie. Dan kan jy mos nie self besluit wat reg en verkeerd is nie. Dan is dit mos so goed of 'n vrou mag nooit swanger raak nie.

Eksperimenteer met die huwelik? Natuurlik kan ons. Is dit werklik so dat God gesê het dat alles omtrent die seksuele moet wag tot die huwelik? As voor die huwelik dan nie mag nie, is dit so goed soos nooit. Kan ek nie meer selfs besluit tussen goed en kwaad, reg en verkeerd nie? Wees dan tog nou vir 'n slag 'n mondige mens! Alleen so sal ons die huwelik leer ken, weet of ek met hierdie of daardie een moet/kan trou.

En so kan ons aangaan, broers en susters. Telkens word ons weer oortuig van die sogenaamde gemis in ons lewens. Dat ons baie in die lewe mis as ons nie alles mag uit probeer en dan self kan besluit wat die goeie en die verkeerde is nie — soos Eva in die verhaal. Of soos Adam: dat ons maar telkens bystaan en kyk hoe ons medemens die gebod van God ter syde stel. En dan maar niks sê nie, of maar daarmee saamgaan.

Wat, broers en susters, was egter die uiteinde van die verhaal van Adam en Eva in Genesis 3? Juigend, met haar sogenaamde nuwe insig, het sy geëet en mildelik uitgedeel. Maar die tragiese was: sy is oortuig deur net 'n halwe waarheid. Sy en haar man. Dat sy ingesien het dat die boom 'n lus was vir die oog, is reg. Die hele tuin was immers 'n lus vir die oog. Selfs die belofte van die slang het gedeeltelik waar geword: hulle oë het oopgegaan. Wawyd oop. So wawyd oop dat hulle gesien het hulle is naak. En daaroor skaam was.

Maar hulle het, soos die slang belowe het, nie soos God geword nie. Inteendeel. Hulle het minder en minder soos God geword. Want nou was daar vyandskap tussen man en vrou: `Here, die vrou wat U my gegee het...'. En daar was vyandskap tussen mens en dier (nou sal jy verbrysel word), en tussen mens en natuur (in die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien).

En, by dit alles: verwyderd van God. Bang vir God. Skaam vir God. So skaam en bang dat hulle nou wegkruip wanneer hulle God se voetstappe in die aandwindjie hoor. Wat 'n fatale breuk tussen God en die mens! En dit alles omdat die mens 'n halwe waarheid geglo het, nie aan God se gebod wou vashou nie.

In so 'n hel, broers en susters, stort die mens homself wanneer hy toelaat om deur halwe waarhede oortuig te word. 'n Hel van dae sonder God, van onmin en eensaamheid. En dan is ons nog so arrogant om soms selfs oplossings hiervoor voor te stel. Ons stig 'n Wêreldraad van Kerke, ons stig die Verenigde Nasies, ons stig organisasies vir vrede, ons boikot ander en ander boikot ons. Maar al wat ons maak is om maar net die simptome te wil dokter van 'n siekte wat ons nie bereid is om te erken nie, naamlik die fatale breuk tussen God en die mens.

Gelukkig, broers en susters, het God die laaste sê in hierdie verhaal. Want Hy kom soek die mens op en vra: `Waar is jy?’. God soek die mens want Hy wil die mens weer na Hom toe terugbring. En Hy wil dit nie net nie. Hy doen dit ook. Daarom gee Hy sy Seun vir ons en aan ons.

Om so ook weer ons aan mekaar terug te gee. Aan die regte verhouding tot die natuur terug te gee. Maar dit, broers en susters, en dit moet ons raaksien, dit doen God as 'n belegging. Hy verwag daarvoor, kan ons amper sê, dividende. Daarom het Hy ook een maal gesê: `Ek was naak en jy het my geklee, of dan nie Ek nie, maar een van die geringstes onder my het jy geklee. En daarom het jy dit ook aan my gedoen!

Adam en Eva se verhaal is vandag se verhaal. Daar het halwe waarhede oortuig. Dit gebeur vandag nog. Daar is gedink dat daar presies onderskei kan word tussen goed en kwaad, maar dan moet alles eers uitprobeer kan word. Dit gebeur vandag nog. Daar het die mens homself, deur sy eie dade, van God vervreem. Dit gebeur vandag nog.

Wat gelukkig vandag ook nog gebeur is dat God ons telkens kom soek om die verhouding te herstel. Laat ons daarom vir 'n slag maar hoor: Jy is die man/vrou. En dan God se genade, onder sy voorwaardes, aangryp en weer begin lewe soos God bedoel het ons moes.
Amen