1 Samuel 17

Staan op vir God



Lidmate vra wat wil die verhaal van Dawid en Goliat ons leer?
Hierdie verhaal van Dawid en Goliat is van die gedeeltes in die Bybel wat elkeen goed ken en wat elke kind kan beskryf. Moontlik is dit omdat dit ‘n helde verhaal is en die kleintjie die boelie laat les opsê. Ons as mense hou van verhale waarin die kleintjie die grote ore aansit, of waarin die onverwagse gebeur. Daarom kan ons van hierdie verhaal van Dawid en Goliat ‘n helde verhaal maak in die trant van Dirkie Uys of Racheltjie de Beer, of ons kan probeer aantoon dat Dawid die voorloper van Jesus Christus is. Dat die verhaal ‘n voorspel is van die Christus stryder wat die bose magte oorwin. Of ons kan die verhaal gaan lees en die werklike betekenis daarvan probeer vasstel. Hoekom is hierdie verhaal in die Bybel opgeteken?

Die prentjie wat ons onsself vanaand moet voorstel is soortgelyk aan die prentjie wat ons ons dikwels voorstel van hoe die slag van Bloedrivier plaasgevind het — met die ossewaens wat laer getrek het en die vyandige massas wat Israel van al kante af omsingel het.

Hulle word vanaf die suide aangeval. Dit gebeur tussen Sogo en Aseka, ongeveer 5 uur te voet van Bethlehem af. Daar is die “dal van die terpentynboom” met berge aan weerskante. En op die hellings daarvan lê die leërs van die Filistyne en die van die Israeliete — met die dal tussen hulle. Beide leërs is slaggereed, maar nie een van die leërs verlaat sy veilige posisie om tot die aanval oor te gaan nie. Die Israeliete is te bang en die Filistyne wil weer die beslissing oorlaat aan hulle “baasvegter”, ‘n reus met die naam van Goliat.

Eintlik is daar drie hoofspelers in die verhaal. Goliat, Saul en Dawid. En as ons die drie karakters en hulle eienskappe en optredes ontleed - gaan ons makliker agterkom wat die boodskap van hierdie gedeelte is.

Goliat — so lees ons — is ‘n baasvegter. Groot en gespierd. ‘n Uitdagende en grootpraterige man. Maar ‘n man met min gees. Want dis sy groot gestalte, sy harnas, die bronsskerms voor sy bene en sy spies wat aan hom lewenswaardes gee. Daarin lê sy moed en krag.

Saul – so lees ons – was ook groot in gestalte. Hy het kop en skouers bo sy volksgenote uitgestaan. Maar hy was sonder hart. Hy was ‘n bang en kleingelowige mens. Sonder God en geloof. Dis hoekom hy so geïmponeer is deur Goliat en so verkleinerend optree teenoor die rooierige seun met die mooi gesig. En tog is Saul ‘n opportunis - want hy waag wel die kans met Dawid teen Goliat. Maar hy stel ook sy hoop, soos Goliat, op ander kragbronne as die Here. Daarom rus hy Dawid van kop tot tone toe met oorlogsmondering. Selfs ‘n koperhelm en swaard. Die jongman verdrink byna in sy aangeplakte weerbaarheid.

Ek dink Saul het eintlik ‘n baie menslike ding gedoen om Dawid in hierdie mondering in te prop. En tog wys die Here se woord op die belaglikheid daarvan, want dit openbaar juis Saul en my eie kleingeloof. Die wapens moes die ding doen, die swaard en die helm moes die oorwinning verseker.

Dawid is die derde persoon in die verhaal. Ons lees dat hy vol jeugdige moed en spoggerigheid was. Ewe parmantig vertel hy dat hy ‘n leeu aan die baard gegryp het en een, twee, drie met ‘n beer afgereken het. Maar dis verkeerd gesien. Dawid roem nie regtig nie. Hy vertrou! Want dis nie al wat Dawid vir Saul te sê het nie. Die belangrikste is dat hy ook gesê het: “Die Here wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hy sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.”

Dit is ‘n belydenis. Hy bely sy vertroue is op die Here... God het hom in die verlede gehelp. Hy het die leeu en die beer vasgehou. Daarom sal God hom ook teen die reus Goliat beskerm. Die punt is: Dawid vertrou. Daarom trek hy die swaar mondering uit, want dit pla hom en hy vestig nie sy hoop daarop nie. Net met sy slingervel en vyf klippe nader hy die Filistyn. Daar staan die twee manne in die dal. Van weerskante kyk en skreeu duisende soldate hulle toe. Teenoor mekaar staan ‘n man wat God verag en ‘n man wat op God vertrou. Dawid getuig ook daarvan. Dit is hoekom hy uitroep: “Die stryd behoort aan die Here.” Dit is die Here teen die Goliat swaard...

En toe hy die klip slinger, tref hy Goliat in sy voorkop. Die reus val bewusteloos vooroor en Dawid kap sy kop af... En as ons dit gesê het en ons stop die vertelling hier, dan het ons nog iets misgekyk, dan het ons waarskynlik die boodskap van hierdie gedeelte heeltemal gemis. Want by sy vertroue kom daar nog iets. Dit is iets wat ons baie maklik kan miskyk en dit is sy verontwaardiging. Dawid was ontsteld en gegrief oor Goliat se uitdagende houding. Want dit gaan nie vir hom om sy eie prestige nie - ook nie om die van Israel nie - maar dit gaan vir hom om die eer van die Here. En nou eers meen ek, is ons by die kern van die verhaal.

Hierdie verhaal vertel van die stryd wat Dawid gevoer het vir God se eer. En in hierdie stryd staan verskillende dinge teen mekaar: Goliat teen Dawid. Die grote teen die kleintjie. Die selfvertroue van Goliat teenoor die Godsvertroue van Dawid. Die berekening van Saul teenoor die kinderlike vertroue van Dawid in die Here. Saul is bevrees in die magsvertoon van Goliat, Dawid is eerder verontwaardig dat iemand dit kan waag om God so te bespot.

En wanneer ons dit raaksien, begin die verhaal vir ons meer word as net ‘n mooi storie. Dit herinner ons nou aan gebeure wat ons ook daagliks mee te make het. Want ook in ons dae is daar magte of dinge wat teen die Here en Sy koninkryk staan. Ons weet ook van die sterk mense van ons eeu. Luidrugtig en selftevrede met hulle eie prestasies. Ons sien en hoor ook die geraas van mense wat met gebulte spiere en in eie krag die heil soek in hulle eie vermoëns. Vandag nog is daar reuse - weliswaar in verskillende gestaltes — wat God se eer aantas. Die reus kan enige iemand of enige iets wees wat God en sy saak teenstaan of bestry.

En wat maak ons? Ons reaksie is baie keer net soos die van die Israelse soldate. By die Israeliete was daar verwarring in die kamp toe Goliat verskyn. Baie het gevlug of weggekruip. Baie se moed het in hulle skoene gesak en hulle het opgegee voor die stryd nog begin het. En vandag nog sidder ons ook somtyds as ons na die oormag rondom ons kyk. Goliat is groot, Israel is bang, Goliat is sterk, Dawid is ‘n seun. Goliat dra ‘n pantser mondering. Dawid dra ‘n velrok. Dit is dalk die veiligste om stil te bly en weg te kruip.

Is dit moontlik die rede hoekom ons swyg en toelaat dat daar met God en sy Kerk gemors en gespot word? Lyk dit of die oormag te groot is, asof my stem geen verskil sal maak nie? Miskien omdat ons reeds verlam is deur ‘n minderwaardigheidsgevoel teenoor die reus. Of miskien omdat ons berekeninge vir ons gesê het ons het reeds die stryd verloor. Of miskien het die reus al so ‘n houvas op ons dat ons hom nie meer as ‘n bedreiging belewe nie? Miskien is dit nie vir ons belangrik om op te staan vir God se eer nie?

Nee gemeente, as ons Goliat, die reus in ons tyd, tegemoet wil tree moet ons uit Dawid se optrede leer. En die boodskap lê in 2 dinge: In sy verontwaardiging en in sy vertroue op die Here. Verontwaardiging omdat God en God se koninkryk uitgedaag en bespot word en vertroue dat God sélf die oorwinning verseker...

Hierdie teks herinner ons dat ons liefde vir God en sy kerk ‘n hartstog behoort te wees. Elke Godslastering behoort ons seer te maak en te krenk. Elke miskenning van die Here en sy weë behoort ons te grief. En elke aanval en bespotting op God se kerk sal ons walg as ons waarlik ‘n liefde vir God en sy kerk het.

Eers wanneer ons ‘n hartstog en passie het vir God en sy kerk, sal ons verontwaardig voel. En verontwaardiging is ‘n goeie ding. Dit sal ons weer durfkrag en dapperheid gee om op te tree in die naam van die Here, soos Dawid van ouds. Maar dan moet ons ook vertroue hê. Nie net bloot ‘n selfvertroue hê nie, maar Dawid se Godsvertroue. ‘n Vertroue dat wat ons doen reg is en nie om ons eie eer gaan nie.

God het die vloek van die ewige dood wat op ons gerus het, op sy seun Jesus Christus geplaas. God het sélf vir ons aan ‘n kruis kom sterf om sodoende ons te verhef tot sy kinders. Daarom mag ons nie maar net passief sit en stilbly wanneer die wêreld God vervloek en sy naam oneer aandoen nie. Ons kan nie maar net handjies gevou sit en stilbly nie. God verwag van ons om op te staan en as sy verteenwoordiger in hierdie wêreld, sy eer te beskerm. En doen ons dit?

Meermale dink ek staan ons skuldig en doen ons sélf mee daaraan om God te bedroef. Sal iemand wat werklik in ‘n verhouding met God leef ‘n kans laat verby gaan om te kom hoor wat sy Vader in die erediens vir hom/haar wil leer? Sal ‘n dissipel van Jesus Christus sy meester se liggaam pynig soos wat ons baiekeer lede van die liggaam van Christus seermaak en verkleineer? Ek bedoel hiermee dat elke keer wanneer ons ‘n lidmaat van die Kerk beskinder of bespot of verkleineer of afkraak of ignoreer of vermy, dan doen ons dit aan die liggaam van Christus, want die Kerk is die liggaam van Jesus Christus.

Kan ‘n kind van God stilbly wanneer iemand die koninkryk van God bespot of afkraak? Wat anders is dit as ‘n bespotting van God se koninkryk en kindskap van God wanneer iemand in die “Loerbroer huis” ingaan en sê dat hy/sy ‘n groot Christen is, net om dan geklassifiseer te word as die sluwe katjie met die skerp naels? En ons wat hierna kyk? Ons dra by dat hierdie goedkoop en gratis voyerisme (dit is ‘n seksuele afwyking waaraan iemand lei wat graag ander mense afloer) weer en weer en weer herhaal sal word. Hoeveel van u kyk daarna gemeente? Die sielkunde sê dat tussen 65% en 75% van alle mense in hulle onderbewussyn aan hierdie afwyking behoort. Dit is egter geen rede om maar net voort te gaan daarmee nie. Ons moet dit stop!!! En as jy dit kyk moet jy dit stop, want “Big Brother” is niks anders as ‘n georkestreerde seksspel nie. Drank word gratis verskaf met die hoop dat die inwoners hulle inhibisies sal verloor. Dit is niks anders as ‘n seksspel vir die organiseerders nie, want seks is ‘n besigheid en Big Brother maak geld wanneer die inwoners hulle klere uittrek en tekere gaan. Want hoe meer hulle uittrek hoe meer mense kyk en hoe meer mense kyk hoe meer geld maak die vervaardigers.

En wat maak ons wat kinders van God is? Maak ons ook soos Saul en doen niks? Of maak ons soos ‘n Dawid en neem standpunt in. Neem jy standpunt in wanneer jy daarna kyk? Selfs al kyk jy net in ooptyd daarna waar daar geen seks is nie, of al kyk jy net daarna wanneer iemand uit die huis geskop word, jy dra by tot die sukses van hierdie program, want solank as wat daar kykers is, sal daar ‘n program wees. En ek sê nie hierdie dinge omdat ek verkramp of oudtyds of onrealisties is nie, ek sê hierdie dinge omdat dit enige kind van God moet walg. Dit kan nie reg wees vir ons Hemelse Vader dat sy kinders deel het hieraan nie. So kan ons nog baie ander dinge noem. Dinge waaraan ons meemaak of sake waaroor ons onsself nie uitspreek nie. Deur dit te doen is ons besig om soos ‘n Petrus van oud vir God te verloën Deur stil te bly sê ons dat dit ons nie pla nie.

God het tot die stryd met die sonde toegetree deur die dood te kom vernietig, Hy verwag van ons, Sy kinders, om hierdie stryd voort te sit. Wat gaan jy maak? Gaan jy stilsit en wag dat iemand vir jou moet veg? Of gaan jy opstaan en jou klippie optel en die reus neervel. Ons kan net bid en vra: Help my Here, want die reus is groot. Lê in my hart die strydkreet: “Jy kom na my toe met ‘n dolk en ‘n spies en ‘n swaard, maar ek kom na jou toe in die naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel wat jy verkleineer het.”
Amen