Markus 9:14-29

Die rede waarom God ons gebede verhoor



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Party mense kan bid soos ‘n straalvliegtuig vlieg. Vlot, gladweg en uit die hoogte. Hulle woorde weergalm in die wolke en stuur as 't ware golwe tot reg in die hemel. Ander weer bid soos ‘n besproeiingsvliegtuig. Nie so vaartbelyn nie, so effens lagerig, dikwels word dieselfde stuk grond oor en oor besproei, en dit neem soms ‘n lang tyd om die ou enjin aan die gang te kry.

Dalk lyk die meeste van ons gebede soos die van ‘n besproeiings-vliegtuig eerder as die van ‘n straalvliegtuig. En dalk is dit ook so dat die meeste van ons se gebede kan doen met ‘n diens.

Party van ons se gebedslewe kort dalk so bietjie koersvastheid. Hulle is of ‘n woestyn of ‘n oase. Lang, dorre tye wat onderbreek word met kort duikslae in die waters van geloof. Daar gaan byvoorbeeld weke om sonder dat ons bid, maar dan gebeur daar iets wat maak dat ons bid - dan duik ons in. Ons dompel ons as” t ware in die gebed en kom verkwik daaruit. Maar as ons die pad hervat, hervat ons gewoonlik nie ons gebede nie.

Ander se gebede kort weer hartlikheid. Ons gebede is leeg, ons ken dit uit die kop en verander nooit daaraan nie. En hoewel ons dalk daagliks bid, bid ons lusteloos, sonder oorgawe of vreugde.

Ander se gebede weer kort dalk opregtheid. Ons wonder werklik of gebede ‘n verskil maak. Waarom, vra ons, sal God in die hemel na my luister of met my wil praat? En as God dan alles weet, wie is ek in elk geval om iets vir Hom te vertel? En as God dan werklik alles beheer, waarom nog vra of iets wil doen soos om te bid?

Wanneer ons soms so sukkel om te bid, broers en susters, het Markus vanoggend net die regte man vir ons. Nie ‘n heilige nie, nie ‘n apostel met vereelte knieë van al die bid nie, ook nie ‘n profeet wie se tweede naam Meditasie is. Nee. Hy is presies die teenoorgestelde. Om weer die beeld te gebruik: nog ‘n besproeiingsvliegtuig. ‘n Doodgewone ouer met ‘n siek seun wat smag na ‘n wonderwerk.

Hierdie man het uit niks ander as desperaatheid gebid nie. Sy seun, sy enigste seun, was baie siek. Hy was nie net doofstom en ‘n epilepsielyer nie, hy was ook deur ‘n bose gees beset. Van kleintyd af al het die bose gees hom in die water en vuur gegooi.

Stel u maar net hierdie pa se lyding voor, broers en susters. Terwyl ander pa”s toekyk hoe hulle seuns grootword en groei, kan hy maar net sy kind se lyding aanskou. En terwyl ander hulle seuns op hulle beroep voorberei het, kon hy maar net probeer om sy seun aan die lewe te hou. Vir ‘n sekonde kon hy sy seun nie alleen laat nie. Want wanneer sou die volgende aanval wees? Hy moes hom dus 24 uur van elke dag oppas. Hierdie pa was dus redelik desperaat en moeg toe hy tot Jesus genader het. Ons kan dit baie maklik uit sy gebed aflei: “As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons”.

Klink hierdie woorde moedig, broers en susters. Vol bravade en vertroue? Sterk en oortuigend? Dit klink nie vir my so nie. Twee woorde in sy gebed sou ‘n groot verskil gemaak het. Hoe sou dit geklink het as hy “as” met “terwyl”vervang , en die woordjie “miskien” uitgelaat het? “Terwyl U tog iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons”. Maar dit is nie wat die pa sê nie, broers en susters. Hy gebruik die woord “as”. En hy voeg die woordjie “miskien” in. So amper asof hy wil sê: hierdie een is waarskynlik nou nie in u klas nie, maar as U enigsins kan .... ‘n Tipiese besproeiingsvliegtuig-aanslag. Meer swak as sterk. Meer skugter as vol selfvertroue. Meer soos ‘n kreupel lammetjie as ‘n leeu wat storm.

Maar nie noodwendig verkeerd nie, broers en susters. Want hierdie man se gebed begin op die regte plek. Dit begin as ‘n hunkering. As ‘n opregte versoek. Met geen pretensies nie. Geen grootpratery of aansitterigheid nie. Net ‘n gebed. Miskien ‘n flou gebed, maar ten minste ‘n gebed.

Miskien ook ‘n gebed wat baie anders as ons gebede is wat ons gewoonlik bid. Ons is soms geneig om met ons gebede te wag totdat ons weet wat om te vra en hoe om dit te vra. Ja, ons sê soms selfs: ek bid liewers glad nie, eerder as om swak te bid nie. Of ons bid ongereeld. Of net wanneer ons besef: maar nou sal ek regtig weer moet bid, want ek het dit so ‘n bietjie lanklaas gedoen.

Gelukkig, broers en susters, het hierdie man nie dieselfde fout begaan nie. Hy was nie juis ‘n goeie gebedsman nie. En sy gebed was maar power. Hy erken dit immers self wanneer hy sê: “help my waar ek nog ongelowig is”. Maar hy bid sy gebed. Al is dit hoe eenvoudig. So eenvoudig dat dit nou nie juis in ‘n geloofshandleiding of in die Diensboek van die Kerk opgeneem soul word nie. Geen Psalm sal waarskynlik ook nie uit sy woorde vloei nie. Want sy gebed is eenvoudig, sonder towerspreuk of sang. Maar dit laat Jesus reageer. Dit laat Hom aan die beweeg kom. Beslis nie omdat die man welsprekend was nie. Beslis nie omdat sy gebed so mooi was nie. Nee. Om ‘n ander rede.

Maar voor ek hierdie rede vir u noem, kom ek sê eers: daar was baie redes waarom Jesus hierdie man se versoek kon geweier het. Toe hierdie man Jesus met sy versoek/gebed genader het, was Jesus op pad terug van die berg van verheerliking af. Hy was as 't ware op pad van die hemel af terug na die aarde toe. Tydens sy verheerliking het hy die hemelsheid van God se volle teenwoordigheid gesmaak.

En wat vind Hy terwyl Hy van die berg afstap? Groot chaos. Die dissipels en die dominees van daardie tyd was besig om te baklei, en ‘n klomp mense moet verleë staan en dit aankyk. ‘n Seun wat sy hele lewe al gely het lê tussen hulle, hy is dit waaroor die bakleiery gaan. En tussen hulle is ‘n vader wat om hulp kom vra het, maar nou moedeloos wonder hoekom niemand hom wil help nie. Geen wonder dat Jesus uitroep: “Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle wees nie, hoe lank moet Ek julle nog verdra nie. Bring die kind hier na My toe''.

En dan die woorde: “As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons”. En Jesus maak die seun gesond. Sommer net so. Op so eenvoudige manier dat dit die dissipels laat wonder. Daarom hulle vraag: Waarom kon ons die bose gees nie uitdryf nie. En Jesus se antwoord: Hierdie goed kan met niks anders as gebed uitgedryf word nie.

Maar watter gebed, broers en susters? Watter gebed het die verskil gemaak? Die dissipels s 'n. Nee, want hulle het nie gebid nie. Dan seker die skrifgeleerdes s’n. Ook nie, want hulle het ook nie gebid nie. Dalk ander mense s”n wat daar teenwoordig was? Ook nie, die verhaal sê niks daarvan nie.

Daar is net een gebed in die verhaal wat dit kon doen, broers en susters. Die opregte gebed van iemand wat ly. Die gebed van iemand wat homself afhanklik voor God plaas, die gebed van een wat sê: ek kan niks meer doen nie. As dit U wil is, kan U iets doen.

En omdat God, broers en susters, eerder deur ons lyding as ons welsprekendheid of pragtige gebede geroer word, het Hy gereageer. Want dit is wat vaders doen, dit is wat die Goeie Vader, God, by uitstek doen.

Daarom, broers en susters. Al bid u soos ‘n besproeiingsvliegtuig, dit maak nie saak nie. Al sukkel u om die enjin elke oggend aan die gang te kry. Al besproei u dieselfde stukkie land oor en oor. Al vlieg u maar laag en bereik nie groot en hoë hoogtes nie. Dit maak nie saak nie.

Wat saak maak is die feit dat u en ek bid. Nie hoe ons bid nie, maar dat ons bid. Dat ons, op watter manier ook al, vir God vertel van ons hartseer, lyding, swaarkry, ons kommer en terugslae. En omdat God geroer word, nie deur ons sogenaamde wonderlike gebede wat so pragtig klink en so mooi is nie, maar geroer word deur ons hartseer, lyding, swaarkry, kommer en terugslae verhoor Hy ons gebede.

Verhoor Hy ons gebede omdat Hy is wat Hy is. Nie omdat ons is wat ons is, of bid soos ons bid nie. Maar omdat God God is, omdat dit Hy is wat ons gebede hoor. Al is ons gebede hoe swak. Sonder hartlikheid. Sonder opregtheid. Sonder koers.

Daarom: bid in die toekoms met die wete dat God hoor. Al bid u en ek hoe. En God sal ons hoor. Juis omdat die verhoring van ons gebede nie van ons afhang nie, maar van God.
Amen