Lukas 8:40-48; Romeine 8:26-30

Gebed en geloof



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus

Die meeste van ons ken die verhaaltjie van die seuntjie wat na die Sondagskoolklas die volgende vir sy ma te vertelle gehad het: Toe Moses en die Israeliete uit Egipteland gevlug het en hy sien dat die Egiptenare hulle inhaal, het hy vinnig met sy tweerigting radio hoofkwartier gekontak dat hulle vinnig die geniekorps bring om 'n brug oor die Skelfsee te kom bou. So is dit gedoen. En toe Moses sien, net toe hulle oor die brug is, dat die Egiptenare reeds op die brug was, het hy weer hoofkwartier gekontak, die het toe die bomwerpers gestuur, en toe die farao se tenks in die middel van die brug was, is dit opgeblaas, en so is hulle gered.

En toe sy ma baie ontsteld vra of die juffrou die verhaal regtig so vertel het, was sy antwoord: nee, nie regtig só nie, maar as ek dit vertel het soos sy dit vertel het, sal niemand my glo nie.

Ek vertel hierdie verhaaltjie, broers en susters, om aan te sluit by 'n baie baie belangrike opmerking wat ek onlangs gelees het, waar iemand die volgende gesê het (en ek pas dit aan): So is dit dikwels met ons mense — ons weet wat tweerigting radio’s is, maar van gebed weet ons niks, die hoofkwartier is bekend, maar nie God nie.

In ons teks egter, broers en susters, leer ons iemand ken wat presies geweet het wat gebed was, en wat God geken het, nie alleen maar die hoofkwartier nie. Haar naam ken ons nie eers nie. Van haar word gesê dat sy vir twaalf jaar aan bloedvloeiïng gely het. Dus: volgens die wette van die Jode was sy permanent onrein, almal wat aan haar sou raak was onrein, en boonop kon sy as vrou nie maar net sommer rondbeweeg tussen ander mans nie op soek na hulp want dan sou sy as 'n straatvrou bekend gestaan het. Verder het sy alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee. Maar sonder sukses.

En toe sy van Jesus hoor, het sy besluit: hier is dalk my kans. Sy het gewag dat daar 'n groot gedrang om Jesus was, dat sy Hom ongemerk kon nader. En toe sy naby Jesus kom het sy haar hand uitgesteek, en toe gebeur die wonder: sy is genees.

Sy wou baie graag baie vinnig wegkom, vertel Lukas vir ons, maar Jesus het gevoel dat daar krag van Hom uitgaan. Daarom sê Hy vir die dissipels om die een te soek wat Hom aangeraak het. En toe hulle haar vind, is Jesus se woorde nie dié van betigtiging nie, maar eerder iets totaal anders: Hou goeie moed, hoor sy, jou geloof het jou gered.

'n Mens wil amper sê, broers en susters: die arme vrou. Wat kon sy anders doen? Moes sy nie maar eerder gebid het nie? En as sy eerder moes gebid het, hoe moes sy weet wat om te bid, wat om te vra? Twaalf jaar lank was daar geen hoop nie. Twaalf jaar lank het sy aan haar siekte gely. So wat moes sy bid? Here, maak my gesond? Here, verlig my smart? Here, neem my tog maar weg? Want wat bid 'n mens in sulke omstandighede, broers en susters? Wat vra jy?

Hierdie vrou, broers en susters, is nie anders as baie van ons nie. Ons kom ook soms by 'n punt waar ons nie meer weet wat en hoe om te bid nie. Soos daar wanneer 'n dierbare ernstig siek is. Of wanneer ek hoor dat ek kanker het. Of dat my kind een of ander ongeneeslike siekte onderlede het.

Buitestanders (ook soms ons), sê dan soms so maklik: Bid maar net volgens die wil van God. Maar wat is die wil van God in my situasie? Dat ek gesond sal word of dat ek sal sterwe? Dat my kind moet lewe of moet ly? Dat Christus gou moet kom of dat sy koms vertraag moet word omdat daar nog so baie ongelowiges is?

Wanneer 'n mens hierdie vrae vra, broers en susters, is die saak van gebed nie meer so eenvoudig nie. Dan word ons oorvloed van woorde in ons eie ore ewe skielik goedkoop. Dan raak selfs ons sogenaamde gawe om te kan bid soek. Dan word my mond stil. Want dan weet ek nie meer nie. Dan besef ek: ek weet nie eers meer wat om te bid nie, om nie eers te praat van hoe ek moet bid nie. Dan is ons soos hierdie vrou. Wat moet ons maak? Watter uitweg is oor? Hoe sal ek te werk gaan in my situasie?

Paulus, broers en susters, het dieselfde probleem gehad. Aan die een kant was hy daarvan oortuig dat die hele skepping daarna sug dat Christus weer moet kom, moet kom om 'n einde te maak aan al die ellende, bekommernis en hartseer. Maar aan die ander kant het hy geweet: ons is sondaars, ons is skuldenaars, onheilige mense. Hoe kan ons die Here so ontmoet? Hoe moet ons bid? Wat moet ons vra?

Daarom sê Paulus in Romeine 8:26 dat ons soms nie weet wat en hoe om te bid nie. Of, om dit meer eenvoudig te vertaal: dat ons nie weet hoe om volgens behoefte te bid nie. Só erg is dit, sê Paulus, dat ons soms nie eers weet wat ons eintlike behoefte is nie. En daarom weet ons nie wat om te bid nie.

Die troos is egter, sê Paulus, dat God dit al lankal weet. Dat ons soms nie weet hoe en wat om te bid nie. En daarom kom die Gees ons swakhede te hulp. Daarom help die Gees ons in ons misrabelheid. En die wyse waarop die Gees ons bystaan is dat die Gees na ons neerdaal en ons swakheid sy swakheid maak, ons gebedsnood sy gebedsnood.

Daarom, impliseer Paulus hier, is die mees egte gebed wat die mens kan bid die gebed wanneer die mens sê: Here, ek weet nie wat om te bid nie. Here, ek is so verward dat ek nie eers weet wat my behoefte(s) is nie. Dan, sê Paulus, deur die Gees van God, word my gebed 'n egte gebed voor God.

Daarom, broers en susters, hoef ons nie bekommerd te wees oor hoe ons moet bid nie, of ons wel eg genoeg bid nie, en of ek nou presies die regte woorde gebruik wanneer ek bid nie, en of God my gestamel sal hoor nie. Want omdat die Gees saam met my bid, maak dit nie saak of ek 'n onuitputlike woordeskat het of selfs die `gawe’ van gebed nie.

Selfs al sug ons in plaas van om te bid. Want dit is juis die taak van die Gees, sê Paulus: om my sugte te vertaal tot 'n ware gebed voor God.

Daarom kan ons almal bid, broers en susters. Al weet ons nie soms wat en hoe om te bid nie. Want deur die Gees van God wat saam met my bid, kan ek weet dat my ware behoefte gediagnoseer word, en dat wat ek vra, presies met God se wil ooreenstem. Want, sê Paulus: God, wat die bedoelings van die hart deurgrond, weet wat die bedoelings van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir al die gelowiges (Rom 8:27). Ek weet dus dalk nie wat my behoeftes is nie, maar God wat die hart deursoek, weet dit. Ek weet dalk nie wat die wil van God is nie, maar die Gees weet dit. En daarom, broers en susters, is my gebed eintlik 'n gesprek van God met God.

Een ding moet ons egter hier reg verstaan. Al is my gebed 'n gesprek van God met God, beteken dit nie dat my gebed uitgesluit word/oorbodig is nie. Dat my woorde oorbodig raak nie. Want Paulus sê nie dat die Gees namens my bid nie, maar dat die Gees ons in ons swakheid te hulp kom. God wil hê ons moet by wees daar waar dit om ons gaan. Dat die Gees saam met ons bid, maak my gebed dus nie oorbodig nie.

Want juis wanneer ons stamel, wanneer ons sug, wanneer ons kniel, maar nie weet hoe en wat om te bid nie, juis wanneer ek nie weet presies wat om volgens my behoefte te bid nie, dan is ek in die regte gesindheid om te kan ontvang. Want dan gee God volgens wat my behoefte is. Dan word die sogenaamde begaafde bidder die behoeftige bidder, die een wat werklik behoeftig is, selfs behoeftig aan insig en woorde.

Dit is dan ook, broers en susters, presies hoe hierdie vrou na Jesus gekom het: sonder woorde, maar met 'n uitgestrekte hand. In die wete, in die sekerheid, dat God van haar weet, van haar behoefte weet. Dat God verstaan. Dat God na behoefte sal gee. En juis daarom noem Jesus haar houding die van geloof. Jou geloof het jou gered.

Nie haar geloof in die sin dat sy geglo het wat sy vra God sal gee nie, maar geloof in die sin dat sy geglo het God sal gee wat hy dink en weet wat haar behoefte is.

So gesien, broers en susters, moet ons miskien die verhouding geloof en gebed ook anders verstaan. Ons dink dikwels dat wanneer ons in geloof bid/vra, dit beteken dat ek moet glo dat dit wat ek vra, vir my gegee sal word. Maar sê nou net wat ek vra is nie volgens God se wil nie?

Die geloof waarmee hierdie vrou na God gekom het was egter 'n andersoortige geloof. Dit was 'n bepaalde ingesteldheid. Dit was ware selfkennis. Selfkennis wat gesê het: Here, ek weet nie eers wat my behoefte is nie. Ek weet nie eers hoe om te vra en wat om te vra nie. Maar ek glo, ek weet, U weet wat my behoefte is, en, by implikasie, dat die Gees saam met my gestamel intree presies volgens my behoefte en U wil, en dat U daarom, volgens U wil, aan my sal gee wat werklik nodig is.

Wanneer ons so bid, broers en susters, is dit nie maar net 'n gesprek op 'n tweerigting radio waarin ons die hoofkwartier (met alle respek) in kennis stel wat ons nodig het nie. So 'n gebed sien God as Vader, en die gebed 'n verbinding tussen ons en die Vader, deur die Seun, met behulp van die Gees. So 'n gebed glo dat God deur die Gees sal weet wat ek nodig het. So 'n gebed word ook verhoor, want dan gee God volgens sy wil.

En die wonderlikste van dit alles is: so kan u en ek ook bid! Want wanneer ons so bid, is nog die gawe van gebed, nog baie woorde, nog mooi woorde, nodig. Want wanneer ons glo God sal weet wat die behoefte is, kan ons selfs maar net sug. Want in daardie sug hoor God ons, sien Hy ons raak, weet Hy deur die Gees wat ons nodig het. En sal ons ontvang wat volgens sy wil is, al is dit nie wat ons wou gehad het nie.
Amen