Matteus 6:25–34

God hou ons in sy hand



Gemeente van ons Here Jesus Christus

Ons kyk vanmore na die vierde bede van die Onse Vader. Dit is die eerste van die sogenaamde ''ons'' bedes, wat volg op die drie ''U'' bedes waarmee die gebed begin.

Maar nou moet mens baie versigtig wees om die ''U''-bedes en die ''ons''-bedes nie heeltemal van mekaar te probeer skei nie, so al asof dit in die eerste drie bedes net oor God en sy belange gaan en dan in die laaste drie bedes oor ons en ons belange gaan nie. Die twee sake loop nogal deurmekaar. As ons bid ''Laat U naam geheilig word'', vra ons daarmee dat God 'n ereplek in ons lewens sal inneem, as ons bid ''Laat U koninkryk kom'', vra ons dat God koning van ons lewens sal wees, as ons bid ''Laat U wil geskied'', vra ons dat ons wil ondergeskik sal wees aan God se wil.

As ons in die laaste drie bedes ons behoeftes aan die orde stel, vra ons onmiddellik dat God ons daarmee sal help. So is die ''U''-bedes en die ''ons''- bedes baie nou inmekaargeweef. Nou kom ons uiteindelik by die dié bede van die Onse Vader waarna ons vanmore kyk, die vierde bede waarmee Jesus ons leer om te bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood!

Soos ek gesê het, is hierdie die eerste van die bedes van die Onse Vader waar ons ons behoeftes direk verwoord. Maar ek dink dis nodig dat, voordat ons by ons behoeftes uitkom, mens eers iets oor God sê. Ek dink dis nodig om te sê dat God ons graag met ons behoeftes wil help. God vind vreugde daarin om vir ons te gee, want sien, Hy is nie 'n vreemde, veraf God nie wat niks van ons wil weet nie. Hy is ons hemelse Vader, wat ons liefhet, wat weet wat ons nodig het nog voordat ons dit vra- dis wat daarin opgesluit is dat Jesus ons leer om die model gebed te begin met Ons Vader wat in die hemel is...

Hoor wat sê Psalm 145:14-16 in dié verband:

Die Here help almal op wat geval het. Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die o van almal is op U gerig, en U gee hulle kos op hulle tyd. U maak u hand oop en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef.

En ook Handelinge 14:16-17

Hy het... bekend gemaak dat dit Hy is wat goeie dinge gee:  Hy het vir julle re?n van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.

En dan Romeine 8:31-32

God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gepaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy nie al die ander dinge saam met Hom skenk nie?

Dis dié God wat ons aanroep as Ons Vader. Ons kan met vrymoedigheid na die Here kom met al ons bekommernis en sorge, want:

Hy is ons Vader

  • Hy het ons liewer as wat ons Hom het
  • Hy gee vir ons meer om as wat ons vir Hom omgee
  • Hy is meer gereed om ons te antwoord as wat ons dikwels is om met Hom te praat.
  • Hy is meer gereed om ons te help as wat ons dikwels is om Hom om hulp te vra.

Dis die God wat ons dien!

Maar beteken dit nou dat ons net enigiets wat ons wil van die Here kan vra en dan kan verwag dat ons dit sal kry? Kan ek by voorbeeld bid en vra dat ek 'n parkeerplek reg voor Loftus se ingang sal kry wanneer die eindstryd daar plaasvind en dan verwag dat die Here wat alle goeie dinge mos gee, ook hiervoor moet sorg? Jy kry nogal mense wat so redeneer...

Ek dink ons weet dat dit 'n bietjie anders werk. Ek dink, of eerder- ek hoop- dat, ons onthou dat voordat ons by die vierde bede gekom het, ons eers gebid het dat God se Naam geheilig sal word, sy koninkryk sal kom, sy wil sal geskied. As ek begin vra na my behoeftes, dat moet dit mos inpas hierby. Die vervulling van my behoeftes moet dan mos daartoe bydrae dat God se Naam geheilig sal word, sy koninkryk sal kom, sy wil sal geskied. As ons ons behoeftes aan God bekend maak, gaan dit nog steeds primêr oor sy eer, nie oor ons gerief of gemak nie!

En daarom, wil ek sê, het Jesus die vierde bede op 'n baie besondere manier geformuleer met vyf woordjies wat elkeen met 'n groot stuk betekenis gelaai is. Hierdie vyf woordjies leer ons wat ons met vrymoedigheid van die Here kan vra- en wanneer ons te ver gaan.

Die eerste woordjie wat ons baie ernstig moet opneem, is die woordjie brood. Nou weet ons dat dit darem nie beteken dat ons vir die Here net om brood mag bid en daarom net heeltyd brood moet eet nie. Dis hoeka van te veel brood eet dat ek lyk soos ek lyk! Nee, beide Luther en Calvyn sê in hulle kommentare oor die Onse Vader dat brood hier staan vir al die noodsaaklike behoeftes wat ons nodig het om te kan lewe. Maar tog het die woordjie brood 'n stuk nederigheid daarin opgesluit. Ons word nie geleer om te vra vir koek of kreef of kaviaar nie. Anders as daardie kastige profeet Kobus van Stilfontein wat sy uiters uitspattige leefwyse probeer regverdig deur te sê dat die Here nie wil hê dat mens moet swaarkry en daarom moet hy met 'n slap, blink kar rondry, anders as sulke uitspattigheid, leer Jesus ons om te bid vir brood, vir die mees basiese van voedsel wat mens nodig het om van die leef. God is 'n sober God. Daar is geen grond in die Bybel vir 'n uitspattige welvaartsteologie nie.

Die tweede woordjie wat ons baie ernstig opneem in die vierde bede, is die woordjie ons. Jesus leer ons nie om te bid Gee vir my vandag my daaglikse brood nie. Omdat God Ons Vader is, moet ons bid vir ons brood. Met ander woorde: wat ek vir myself vra, moet ek ook vir ander gun. Ek moenie vir myself soveel opeis dat daar nie genoeg vir ander oorbly nie.

2 Korintiërs 8:13 (en volgende verse) stel dit baie mooi. Paulus sê daar: Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig. Daar staan ook geskrywe: Die met baie, het nie te veel gehad nie, en dié met 'n bietjie, nie te min nie. Die brood waarvoor ons mag bid, is nie my brood nie – dit is ons brood.

Die derde en vierde woorde loop eintlik hand aan hand. Ons bid dat ons vandag ons daaglikse brood sal kry. Die Griekse woordjie wat vir daagliks gebruik word, kom net hierdie een keer in die Bybel voor. Dit maak dit 'n bietjie moeilik, want nou kan mens nie gaan vergelyk in watter verband dit op ander plekke gebruik word nie. Maar die meeste slim mense stem saam dat dit iets beteken soos '' nodige''- ons mag bid vir die brood wat ons nodig het. Ons kan vra vir genoeg, nie vir te veel of oordaad nie. En ons word geleer om te vra dat ons vándag genoeg sal hê. Natuurlik sal ons dom wees as ons nie probeer sorg dat daar ook more en oormore iets sal wees om te eet nie- die Here het ons ook 'n verstand gegee wat ons kan en moet gebruik. Maar, die ander kant van hierdie bede is dat dit vir ons wil leer dat, as ons genoeg het vir vandag, ons dankbaar daarvoor en tevrede daarmee moet wees. En van hoeveel van ons is dit waar- dat ons dankbaar en tevrede is as ons elke dag genoeg het kos het vir daardie dag? Werk ons koppe nie so dat ons redeneer: Raait- hier het ek R4-55 om 'n brood mee te koop, maar dit sal darem baie lekker wees as ek met 'n Rolls-Royce kan ry om die brood te gaan koop! Of: EK het my R4-55 vir die brood, maar dit sal darem baie lekkerder proe as ek dié brood kon eet op die stoep van my strandhuis in Ballito!

Die Here wil ook met die vierde bede vir geloof en vertroue leer. Te veel brood, te veel geld, te veel besittings sal ons al te maklik verlei om te dink dat ons die Here nie meer regtig nodig het nie. As ons opreg dankbaar is omdat ons besef hoe bevoorreg ons is dat ons elke dag genoeg het om daardie dag mee oor die weg te kom, sal ons nie sommer begin dink dat ons die Here nie meer nodig het nie.

En dit bring ons by die vyfde woordjie waarop ons moet let as ons die vierde bede bid- die woordjie waarmee die bede begin: Gee. Gee beteken nie dat God nou in Mr Delivery verander wat elke dag moet sorg dat daar 'n voedsame maaltyd by ons huise afgelewer moet word nie terwyl ons rustig agteroorsit en net die bestelling plaas deur te bid : Gee ons vandag ons daaglikse brood nie. As ek bid vir brood, beteken dit nie dat God maar net moet gee en dat ek niks hoef te doen en net gaan ontvang nie. Dit beteken ook nie dat ek eintlik maar alles moet doen en aan die einde net vir God dankie sê om my gewete te sus nie. Daar's 'n fyn balans tussen dié tweede, 'n balans wat iemand noem dat ons afhanklik aktief  moet wees. Ons moet afhanklik wees in dié sin dat ons weet dat God vir ons sorg, maar aktief  wees om die lewenskrag en geleenthede wat Hy ons gee ten beste te gebruik.

Kom ek probeer dit so verduidelik: die verhaal word vertel van ene Jean Vanier, 'n Fransman. Sy was sy lewenstaak om met verstandelik gestremde mense te werk en op 'n keer wou hy aan hulle verduidelik hoe hy te werk gaan. Hy het dit toe so gedoen: As ek 'n gewonde voël in my hand het, wat sal gebeur as ek my hand heeltemal toemaak, het hy vir die gestremdes gevra. Dadelik het almal geantwoord: Hy sal doodgedruk word.

En wat sal gebeur as ek my hand heeltemal oopmaak? het hy gevra. Dan sal die voël probeer wegvlieg en hom doodval, was hulle antwoord. Die beste plek vir die gewonde voël is dus in die holte van my hand, het Vanier saamgevat, Nie heeltemal oop of toe nie, want dit is die plek waar groei kan plaasvind.

Ons leef ook in die holte van God se hand.  Daar het ons genoeg vryheid om  te kan strek en te kan groei en ons dagtaak te kan verrig; daar  het ons egter ook genoeg beskerming sodat ons kan weet dat God altyd by ons is. In die holte van God se hand kan ons leef, kan ons bid, want in God vind ons rus, soos ons gelees het in Matteus 6.

So bewaar God ook elkeen van ons. En dis vir dié bewaring wat ons bid as ons vra:  Gee ons vandag ons daaglikse brood...
Amen