Matteus 7:7-12

Het ons al werklik gebid, gesoek en geklop?



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus

Mense wat daarna smag om God werklik in hulle lewens teenwoordig te ervaar, of dan, wat daarna smag om hulle verhouding met God in orde te bring, soek na bewyse vir hierdie teenwoordigheid van God of na ‘n herstelde verhouding met God op verskillende maniere.

Sommiges meen dit is ‘n saak van die verstand: as ek met een of ander redenasie kan bewys dat God bestaan en alomteenwoordig is, dan is en sal God by my teenwoordig wees, dan sal ek God se kind wees. Ander weer meen dit is ‘n saak van gevoel: deur gebedstemming of die deernisvolle gebed van ‘n kind, of deur bepaalde ervarings wat die skoonheid van die natuur by ‘n mens oproep, kan ‘n mense weet God is by jou teenwoordig, kan ‘n mense weet jou verhouding met God is in orde. Of, ‘n laaste voorbeeld, party weer meen dit is ‘n saak van een of ander geloofservaring: as iemand my gesond bid, as ek in tale kan spreek, of enige ander verrukkend geloofservaring kan hê (soos ‘n engel wat aan my verskyn), dan sal ek weet God is inderdaad in my lewe teenwoordig, dat God my inderdaad as sy kind aanvaar het, en dat alles in orde is.

Ons gelese gedeelte, broers en susters, stel die oplossing van die soeke na God se teenwoordigheid en die soeke na ‘n gesonde/lewendige verhouding met God egter as iets baie eenvoudiger: in kort, sê Matteus hier, moet ‘n mens, as jy God in jou lewe teenwoordig wil ervaar of soek na ‘n gesonde/lewendige verhouding met God, iets baie eenvoudig en maklik doen: jy moet bid, soek en klop. En as ons dit doen word ons hier in die minimum van woorde verseker dan gebeur wat gevra word, die bede word verhoor, dit wat gesoek word word gevind, en die deur waaraan geklop word, word oopgemaak. Sommer net so. Gaan doen dit net vir ‘n keer. Probeer net ‘n keer hierdie resep!

Ons reaksie op hierdie uitnodiging van Jesus, broers en susters, is gewoonlik: dit klink darem te maklik en te eenvoudig. So eenvoudig kan iets groots soos die soeke na vrede met/die teenwoordigheid van en die regte verhouding met God, darem nie wees nie.

Seker, geliefdes, ‘n baie menslike reaksie. Menslik, juis omdat ons maar te goed weet wat ons gedagtes gewoonlik is wanneer ons voor ‘n groot taak in die lewe staan of geplaas word: wanneer ek moet studeer vir my eindeksamen, wonder ek dadelik of ek genoeg verstand het, of ek deur al die werk sal kom, of ek genoeg tyd sal hê. Of, wanneer ek my kind by die doopvont vashou, wonder ek ook maar: sal ek kan doen wat God van my vra, wat ek hier aan Hom belowe? Elke dag? Sal ek ‘n goed genoeg ouer wees? Het ek nie te veel leemtes en gebreke in my lewe nie?

Presies so gaan dit soms wanneer ons voor die groot taak staan om in vrede met God te lewe, om my verhouding met God in orde te bring. Aan die een kant wil ek dit so graag doen, want ek is sonder rus. Daar is nie werklik ‘n middelpunt in my lewe nie. My werk, waar ek dalk baie suksesvol is, kom vir my vrugteloos voor. My verhouding met God is leeg. So baie rus en vrede ontbreek in my lewe. Daarom wil ek so graag my verhouding met God in orde bring.

Aan die ander kant word ek egter oorval deur twyfel en soveel ander vrae soos: sal ek ‘n lewendige verhouding met God kan volhou? Sal ek bereid wees om elke dag te leef soos God van my vra? Sal ek nie soms liewer wil ?God moet nie by my teenwoordig wees nie? Sal ek werklik in staat wees om alles af te lê wat ek weet God van my gaan vra om af te werp? En as ek bid, hoe weet ek my gebed sal beantwoord word? En as ek soek en klop, watter waarborg het ek dat ek sal vind en dat die deur vir my oopgemaak sal word?

Die meeste van ons broers en susters, glo ek, ken hierdie gedagtes, het al hierdie vrae gevra. Gedagtes en vrae wat ‘n mens inderdaad moedeloos kan maak. Jesus, geliefdes, betrap ons egter hier in Matteus 7 in hierdie somse moedeloosheid. Hoekom? Want van die staanspoor af gee Hy ons voldoende hulp en raad sodat ons nie rede tot moedeloosheid en twyfel behoort te hê nie.

As ‘n mens, impliseer Jesus hier, ‘n baie groot taak voor jou sien iets groots en belangriks soos die in orde bring van jou verhouding met God dan is dit die beste om hierdie groot taak in klein deeltjies op te deel, ‘n soort van werkverdeling toe te pas. Dan lyk alles anders. En hier, sê Jesus, is die werkverdeling: julle werk is om te bid, te soek en te klop. God s'n is die vervulling van die gebed, die laat vind en die oopmaak. Jy hoef jou dus nie te bekommer oor die resultate van jou insette nie. Jy hoef nie te twyfel of God wel genoeg mag het, of Hy wel van jou nood weet, of jou smeking wel sy oor bereik het nie. Want God, sê Jesus, staan daarvoor borg. So, laat dit nie julle sorge wees nie. Hy sal antwoord, Hy sal jou laat vind, Hy sal vir jou die deur oopmaak.

Nou weet ek maar te goed, broers en susters, dat party van u by uself sit en dink: maar dit klop mos nie met my ervaring nie. Het ek nie al ‘n duisend maal gebid, ‘n duisend maal gesoek, en net soveel keer al aan die deur geklop nie? Maar daar was geen vervulling op die gebed, ek het nie gevind wat ek gesoek het nie, die deur is nie vir my oopgemaak nie. So, aan hierdie woorde van Jesus sluk ek nie so maklik nie. So eenvoudig is dit darem nie.

Voor ons egter te gou praat, broers en susters, kom ons dink ‘n bietjie oor ons gebiddery, gesoekery en gekloppery in die verlede. Toe ons gebid het, het ons reg geskakel? Of het ons dalk ons eie nommer geskakel? Dan sal ‘n mens niks hoor nie, dan sal die lyn net gons.

Kom ons sê dit sonder beeldspraak. Ons skakel onsself as ons in ons gebede net aan onsself dink en die dinge wat ons wil hê, en nie daaraan dink wie Hy is met wie ons van plan is om te praat nie. Nie bereid is om die kanaal te wees waardeur sy wil geskied en nie maar net my wil moet geskied nie.

'n Gebed, broers en susters, waarin net teenwoordig is wat ek wil hê, en nie in die eerste plek wat God wil hê nie, is geen gebed nie. Die gebed is nie daar om vir God te sê wat ek wil hê nie, maar om te vra wat Hy wil hê. Net so, broers en susters, is ‘n gebed waarin net ek teenwoordig is, en nie ook my naaste en broer/suster nie, geen gebed nie.

En toe ons geklop het om by God in te gaan en met hom gemeenskap te beoefen, hoe het ons geklop? Dalk het ons gemeen dat as ek maar elke dag my Bybel lees, gereeld kerk toe kom, sorg dat ek by die nagmaalstafel uitkom, dan klop ons aan die deur. Hoef ons dus nie op ander maniere of ekstra te klop nie. En, toe ons geklop het, het ons nie miskien gedink dat Hy wat binne wag is maar net die “liewe Heertjie” nie, die “liewe Heertjie” wat maar alles toelaat, alles laat begaan, maar darem nog steeds vergewe en liefhet nie?

Om aan ‘n deur te klop, broers en susters, is in ‘n sekere s”n ‘n betoning van respek. Dit gee te kenne dat ek nie die reg het om sommer maar by iemand se huis in te stap nie. Daar waar ek klop, byvoorbeeld aan die deur, daar begin die gebied wat ek alleen kan binnetree op die een wat oopmaak se voorwaardes. En Hy wat vir ons oopmaak is die Heilige, die Een wat van ons verwag om ook, as ons binne wil kom, heilig moet wees en word, dit wil sê, bereid moet wees om ons vir Hom af te sonder in die wêreld, bereid moet wees om op sy voorwaardes saam in die Vaderhuis te bly.

En toe ons gesoek het, broers en susters, waarvoor en waarna het ons gesoek? Na wat ons meen ons nodig het, of wat ons meen ons toekom in die lewe? Dan, broers en susters, sal ons nie gevind het nie. Jesus sê duidelik: Soek eers die koninkryk van God, en dan sal die ander dinge vir julle bygevoeg word. Dalk glo ons, soek eers die ander dinge, en dan sal die koninkryk sommer so vanself kom. Dit sal nie, want dan soek ons op die verkeerde manier en na die verkeerde dinge.

Dus: as ons nog nie so gebid het dat ek nie alles in my gebed is nie, dat alles wat ek wil ?nie al is waaroor my gebed gaan nie, dan het ons nog nie gebid nie. En dan sou ons ook nie iets ontvang het nie. Maar as ons gebede gevul is met die vraag wat God van my wil hê, waar en hoe ek my liefde vir God kan toon deur my naaste lief te hê, dan sal ons baie antwoorde kry. Soveel antwoorde dat ons elke dag die hele dag daarmee besig sal wees.

En as ons geklop het en gedink het ons kan sommer maar net instap, en vergeet het dit is die Heilige wat agter die deur staan, en dus, as oopgemaak word ons wel sal kan binnegaan, maar dan op sy voorwaardes, dan het ons nog nie werklik geklop nie, en is daar nog nooit vir ons oopgemaak nie. Maar as ons aanklop met die gesindheid: God, maak asseblief oop, ek wil binnekom om met u gemeenskap te ? soos U wil, dan sal daar vir ons oopgemaak word.

En, as ons in die eerste plek na God soek, na God se wil soek, dan sal ons vind. Wie werklik in die Woord van God indelf, gehoorsaam onder leiding van die Gees die Woord ondersoek, sal op elke bladsy nie alleen vir God vind nie, maar ook dit wat God van ons verwag.

Ek sluit af: Wanneer ons bid, soek en klop, is ons met Iemand besig wat aan ons sy hart bied, al het ons ons hand teen Hom gelig aan ‘n kruis. Is ons met Iemand besig wat ons liefhet, al is ons hierdie liefde nie waardig nie. Is ons met Iemand besig wat ons ernstig beskou, al is is maar net tydelik en eintlik nietig voor God. Is ons met Iemand besig wat ons duur gekoop het, met Iemand besig wat ons deur ‘n wonder kinders van God gemaak het. Kom ons sê dit sterk: Oogappels van God gemaak het.

Wie dit verstaan, wie dit regtig verstaan, sal vir die regte dinge in die gebed vra (en die vervulling daarvan ontvang), op die korrekte wyse aan die deur klop (en daar sal oopgemaak word en ons sal binnegenooi word), en na die regte dinge soek, (en dit alles kry). God self staan daarvoor borg.
Amen