Matteus 6:5–13, Matteus 7:9–11

Hy alleen weet



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

In Amsterdam staan daar ‘n gedenkteken ter ere van al die mense wat in die Tweede Wêreldoorlog gesterf het tydens aanvalle op die stad.  Die gedenkteken bestaan uit 'n klomp spieëls wat saamgevoeg is om een groot spieël te vorm.  Wat dit anders is dat al die spieëls gekraak is.  Die lug wat in die spieëls (en die een groot spieël) weerkaats word, lyk daarom ook gekraak.

Hoekom is die spieëls almal gekraak?  Die kunstenaar wat die gedenkteken ontwerp het, verduidelik dit so: Wat kan ‘n mens tog ontwerp om uitdrukking te gee aan die pyn en verlies van soveel mense wat heel waarskynlik nooit vergeet sal word nie?  Kyk 'n mens na die lug, is dit onmoontlik om jou voor te stel dat dieselfde son net so onaangeraak en vreedsaam kon skyn oor al die geweld en vernietiging as oor 'n wêreld vol blomme.  Dit is asof die blou lug bokant jou moet oopkraak omdat die gruwels wat hier onder op die aarde plaasgevind het, die ewigheid vir altyd ontheilig het.  Die hemel wat in hierdie spieëls weerkaats word, sal nooit weer dieselfde wees nie.

Want wat bring die mens daartoe om ander en mekaar so te verwoes?  Hoe kon so iets gebeur?  Hoe kan die hemel dieselfde bly as daar sulke verskriklike dinge onder op die aarde gebeur?  Is daar ooit nog 'n hemel?  En veral: is daar ooit nog 'n Vader in die hemel?

Kyk ons na ons ou wêreldjie in (jaartal), met al sy misdaad, sy hongersnood, sy oorloë, sy terroriste-aanvalle, noem maar op – dan kan ons soms nie anders as om ook dieselfde vrae te vra nie.  Om ook te sê dat ons ook soms voel of die hemel bo ons gekraak is, stukkend is.  Terwyl ons eintlik maar te goed weet dat dit in die meeste gevalle mensewerk is wat al die ellende hier op aarde veroorsaak, dat dit die wreedheid en barbaarsheid van mensehande is wat maak dat dit vir ons lyk asof ons in 'n stukkende spieël kyk as ons na die hemel kyk.

Meer nog, broers en susters: as ons regtig eerlik wil wees, moet ons ook maar erken dat dit nie net byvoorbeeld Al-Queda in Afganistan en baie ander terroriste-organisasies iewers ver van ons oor die wêreld is wat die skuld vir alles moet kry nie.  Want ook ek en jy, met al die sondes wat ons maar dag vir dag pleeg, met al die dade en gedagtes en woorde waarmee ons ander uitmekaar skeur, dra skuld aan die gekraakte spieëlbeeld wat ons sien as ons na die hemel probeer kyk.

Jesus Christus, broers en susters, het onder dieselfde vertroebelde, geskende hemelbeeld gestaan toe Hy sy dissipels destyds, en ons vandag, geleer het om te bid: Ons Vader wat in die hemel is ...

En Jesus begin sy gebed juis met ‘n verwysing na die hemel.  Meer spesifiek: dat God ons Vader in die hemel is - en dus anders is as alle ander vaders.  Die hemelse Vader is anders.  Sy ‘eienskappe’ is anders.  Hy is in die hemel.  Dit is sy woonplek.  Al kan geen woonplek Hom bevat nie, want Hy is so anders as ons.  Die Heidelbergse Kategismus sê dit baie mooi: moet tog nie die hemelse majesteit van God in aardse terme voorstel nie.

God is in die hemel en ons is hier op aarde.  Hy is die Almagtige Skeppergod wat van alle ewigheid af bestaan en tot in alle ewigheid sal bly bestaan.  Ons moet dit weet en daarom moet ons respek vir hierdie God hê, so asof mens in sy teenwoordigheid op jou tone moet loop.

Ons kan en mag nie met die Almagtige God van hemel en aarde te familiêr, ek wil amper sê ‘te pêllie-pêllie’ raak nie - volgens Hebreërs 12:29 is Hy immers 'n verterende vuur!

Maar nou is dit juis die aangrypende van die Ons Vader-gebed: hierdie verterende Vuur wil ons Vader genoem word!  Ons nader Hom met 'n kinderlike respek, maar ook met 'n kinderlike vertroue.  Luther noem hierdie aanhef tot die Ons Vader nie verniet ‘'n ontsaglike en 'n lieflike woord’ nie.  Want, sê hy, in die aanhef van die Ons Vader kom totaal uiteenlopende sake bymekaar uit: ontsag kom by vertroue uit, en die totale andersheid van die Vader kom by sy totale genadigheid en sy totale Vaderlikheid uit.

Dit is juis die verrassende aspek van hierdie gebed - wat seker veral die skrifgeleerdes van Jesus se tyd onkant betrap het.  God was in hulle o? eenvoudig te heilig om ‘Vader’ genoem te kon word.  As Jode wou hulle selfs nie eens die Naam van God uitspreek of voluit uitskryf nie.  Daar is wel uitsprake in die Ou Testament waar die algemene Vaderskap van God ten opsigte van die volk Israel bely is.  Maar dat 'n mens, of selfs 'n groepie mense, tot God kan nader en Hom Vader kon noem - dit was vir hulle ondenkbaar, heiligskennis.  Laster teen God.

En tog is dit presies wat Jesus hier doen en sy dissipels leer om te doen: om God as hulle Vader te beskou.  Soos Paulus dit ook later in Romeine 8:15 doen wanneer hy skryf dat die Gees ons tot kinders van God maak en ons tot God laat uitroep: ‘Abba!’: ‘n Aramese woord wat 'n algemene troetelnaampie in daardie tyd was, en wat die beste vertaal kan word met die woordjie ‘Pappa’.  Die Gans Andere, die onvergelykbare, die heilige God, sê Jesus, heet eintlik Pappa!

Hoekom het Jesus dit so uitgedruk, broers en susters?  Want hoewel ‘n mens beslis nie met die heilige God familiêr moet raak nie, is ons tog familie.  Ons is nie weeskinders nie.  Ons het 'n huis, 'n tuiste.  Ons is ewig geborge.  Daar is Vaderarms wat ons vashou, ons omarm, wat ons nooit sal laat val nie.  Ons noem Hom Vader, omdat ons van Hom alles kan verwag wat ons vir liggaam en siel nodig het (HK Sondag 46, vraag 121 ).

Jesus sê trouens self in sy inleidende woorde tot die Ons Vader-gebed dat ons nie met 'n oorvloed van woorde vir God hoef te smeek om vir ons te sorg nie, ‘want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle dit van Hom vra’ (Matteus 6:8).

Die bekende teoloog, Helmut Thielicke, het 'n boek oor die Onse Vader geskryf.  Eintlik is die boek 'n verwerking van 'n reeks preke wat Thielicke gedurende die Tweede Wêreldoorlog gepreek het, soms selfs tydens lugaanvalle op die mensies wat teenwoordig was.  Dit is in sulke omstandighede dat hy sy gemeente getroos het met die feit dat hulle Vader in die hemel weet wat sy kinders deurmaak.

Hy skryf (en ek pas dit effens aan om ook in ons tyd en omstandighede te spreek): ‘Die Onse Vader gebed begin met die troos dat die Vader weet.  Ons moet dit insien voordat ons begin bid.  Dit skep by ons die nodige rustigheid en die kalmte sodat ons nie gespanne en angstig hoef los te trek nie.  Voor ons wil uitroep, om watter rede ook al (en daar is baie redes, broers en susters, ook in ons tyd) ‘Here help!’, moet ons eers rustig sê: Ons Vader weet, ons Vader weet...

Hy weet nou eenmaal wat vir ons goed is met die oog op die lewe en die ewigheid.  Of ons nou dakloos is of nie, of ons aanslae ervaar of nie, of ons teenspoed beleef of nie, of ons bang is of nie, of ons vrees of nie - een ding kan ons troos:  Ons Vader weet daarvan, die Vader weet.  Wees daarom heeltemal rustig.  Uit hierdie rus, uit hierdie vrede wat u hart met die Vader gesluit het, mag u nou bid.’

Dit, broers en susters, is hoe kragtig die aanhef van die gebed is wat Jesus ons leer as Hy ons leer om te bid:  Ons Vader wat in die hemel is.  Dit is baie meer as maar net die adres van die gebed, die noem van die een tot wie ons die gebed rig.  Dit is 'n stuk belydenis.  Ons sê daarmee dat die Almagtige God van hemel en aarde ons Vader is.  En as ons sê dat God ons Vader is, sê ons dat Hy weet, Hy weet wat sy kinders nodig het nog voordat ons dit van hom vra.

En soos 'n aardse pa, waarvan ons in Matteus 7 gelees het, nooit vir sy seun 'n klip sal gee as hy van hom 'n brood vra nie, hoeveel te meer sal ons Vader wat in die hemel is goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra nie!  Ons Vader weet, ons Vader weet...

Miskien, broers en susters, gaan ons te gou verby hierdie eerste sewe woorde van die Onse Vader.  Miskien moet ons eers gaan stilstaan na dié sewe woorde - eers rustig word, voor ons begin vra, voor ons ons nood begin uitstort, soos Thielicke gesê het: voor dit alles moet ons eers rustig sê : Ons Vader weet, ons Vader weet...

Wat natuurlik nie  beteken dat God nou al die pyn en vraagtekens van hierdie lewe moet oplos of wegvat nie.  Soos 1 Korintiërs 13:12 sê: nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.  Nou is die spieël nog gekraak.  Die volgende verhaal illustreer wat ek hiermee bedoel:

'n Passasierskip het iewers langs 'n onherbergsame kusstrook op die rotse geloop.  Letterlik al die passasiers en bemanning het verdrink.  Al die slagoffers se familie is in kennis gestel en die lyke wat uitgespoel het, is een vir een deur die naasbestaandes uitgeken en weggeneem om in hulle tuisdorpe begrawe te word.  Almal behalwe een - die lyk van 'n klein babadogtertjie.  Niemand het haar liggaampie kom opeis nie.  Niemand het geweet wie haar ouers was, hoe oud sy was of waar sy vandaan gekom het nie.  Die passasierslys het ook nie die name van babas bevat nie.

Na 'n paar dae het die opruimspan haar maar op 'n plek naby die ramptoneel begrawe.  'n Gewone klip het as haar grafsteen gedien, en al wat daarop gestaan het was:  Die Vader weet...  God, die Vader, het haar geken en geweet by wie sy hoort...  Niemand anders het geweet nie.  Net die Vader wat in die hemel is.

Presies soos met ons, broers en susters.  Met u en met my.  Net die Vader weet.  Net die Vader weet wie en wat elkeen van ons is, weet wat ons behoeftes is nog voordat ons dit van Hom vra.  Kom ons onthou dit elke keer as ons bid : Ons Vader wat in die hemel is... en, voordat ons dan verder bid, kom ons word rustig, juis omdat die Een wat alles weet, ons Vader is wat in die hemel is.
Amen