Matteus 26:36-46

Laat U wil op aarde geskied!



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Die storie word vertel van 'n arme vroutjie in Skotland wat van dorpie na dorpie geloop het en garing, knope en skoenveters verkoop het om aan die lewe te bly.  Sy het die gebruik gehad om by elke kruispad waar sy kom, 'n gebed te doen om die wil van die Here te vra.  Daarna het sy die Skotse weergawe van Doen slegs u wil Heer gesing, en dan 'n stok met 'n lint daaraan in die lug op gegooi.  Die rigting waarin die punt van die lint lê wanneer die stok op die grond beland het, het kwansuis vir die vroutjie die aanduiding gegee watter kant toe die Here wil hê sy moet gaan om haar verkope te doen.  So het sy baie vroom voorgekom en baie mense was beïndruk deur die vroutjie se gelowige optrede.

Een dag het iemand op haar afgekom waar die vroutjie oor en oor die stok met die lint aan in die lug opgooi.  Elke keer as dit op die grond val, mompel sy iets en gooi dan weer die stok hemelwaarts.  Toe die persoon vra hoekom sy dit doen, antwoord die vroutjie: die stok bly na links wys, en ek wil regs gaan...  So het sy aangehou totdat die lint in die rigting gewys het wat sy wou hê, en toe begin stap.  Sy het geweet dat die mense  wat in die dorpie op die regterkantse pad gebly het, baie ryker was as dié op die pad aan die linkerkant...

Voor ons te breed glimlag oor dié vroutjie se optrede, moet ons besef dat ons soms ook maar dieselfde doen.  Dit is dié dat iemand op ‘n keer gesê het: Ons moet 'n keer goed luister na ons gebede.  Ons ken Jesus se woorde in Getsemane - tog bid ons nie dat God se wil moet geskied nie; maar eis dat Hy ons s'n moet goedkeur.

Voeg hierby dat dit feitlik dag vir dag vir ons meer en meer lyk asof die wil van God nie orals en altyd geskied in die wêreld waarin ons leef nie.  Kan dit ooit God se wil wees dat klein babatjies deur volwassenes verkrag word, dat gemiddeld 58 mense elke dag in Suid-Afrika vermoor word? Kan motorkapings, ontvoerings, plaasmoorde, rooftogte God se wil wees?  Is dit God se wil dat daar so baie korrupsie en bedrog is?

Die antwoord hierop is NEE!  God wil NIE dié dinge op aarde hê nie.  God wil nie dat kindertjies laat sterf en moordenaars op vrye voet laat rondloop nie.  God wil nie hê dat gesinne uitmekaargeruk word as een van hulle doodgeskiet word in 'n motorkaping nie.  God wil dit nie! Maar ons leef in 'n sondige en gebroke wêreld, mense doen sonde, daarom gebeur hierdie dinge.  En juis daarom het Jesus sy dissipels geleer om te bid: Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Maar dan moet ons dadelik bysê: God wil ook nie dat ons mekaar sal beskinder of verkleineer nie; God wil ook nie dat ons mekaar seermaak met ons woedebuie en skerp tonge nie; God wil ook nie dat ons mekaar afskryf deur ons onvermoë om mekaar te kan vergewe nie.  Maar ons doen al die dinge - al weet ons dat dit teen die wil van God is.

Die punt is, broers en susters, dit is nie net as dit kom by dinge soos moord en doodslag nie waar mense God se wil nie doen nie, dit gebeur ook in die alledaagse dinge soos skinder en leuens vertel.  Ook daar kom die mens se wil te staan teen God se wil.

Selfs ons, wat gelowige mense is, is bereid om ons wil soms net 'n kwart, soms so 50%, en in ons beste oomblikke, is ons bereid om ons wil vir 90% in lyn te bring met God se wil.  Maar daar bly altyd 'n stuk eiesinnigheid oor, 'n stukkie van ons lewe wat ons net vir onsself wil uithou.  Daar is maar altyd hierdie of daardie stukkie van ons lewe, wat ons eksklusief net vir onsself wil koester en vertroetel.

Die Heidelbergse Kategismus sê dat die derde bede van die Onse Vader beteken dat ons en alle mense ons eie wil prysgee om aan God se wil, wat alleen goed is, sonder enige teenpratery gehoorsaam te wees.

Maarten Luther sê dat die Onse Vader 'n gevreesde gebed is.  As ons ernstig is met die bid van die derde bede, vra ons iets wat eintlik nogal vreesaanjaend is.  Ons vra dat ons onsself en alles wat ons is, ook ons diepste verlangens en drange, ook die verste en donkerste uithoeke van ons menswees, sal prysgee, dat ons dit alles ondergeskik sal stel aan God se wil.  Ons vra vir die dood van ons sondige eiewilligheid, ons vra dat die eie ek sal afsterf.  Ons sê met ander woorde: ons gaan dit alles los - en ons gaan nou u wil doen, Here!

Dit is hoekom hierdie 'n gevreesde gebed is - want die as ons sê : Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel – die oomblik wat ons dit sê, besef ons: maar daar is nie 'n manier dat ek dit gaan regkry nie, daar is nie 'n manier dat ek daaraan kan voldoen om God se wil so te doen nie.

Daar is eenvoudig net nie sulke mense nie.  Dit is vir mense onmoontlik.  Paulus het geweet waarvan hy praat toe hy gesê het: Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.

Niemand op aarde kan God se wil suiwer en reg doen nie.  Niemand kan nie.  Maar Iemand kon.  Daar wat tog een keer op hierdie stukkende aarde met sy eiewillige en opstandige mense Een wat die wil van God volkome gedoen het.  Jesus Christus, Jesus wat in Johannes 4:34 sê My voedsel is om die wil te doen van Hom wat my gestuur het en om sy werk te voltooi.

Jesus was getrou aan die wil van sy hemelse Vader, getrou tot die verste einde toe.  Ons hoor dit as Jesus in Getsemane sê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan.  Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.

As ons bid ''Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel'', doen ons dit omdat die Een wat volkome aan God se wil gehoorsaam was, ons leer om so te bid.  En so word wat vir ons menslik onmoontlik is, deur Jesus moontlik gemaak.  In Jesus word dit moontlik om die wil van God te doen, want Jesus maak vir ons die pad oop om dit te kan doen.  En die pad wat Hy oopmaak, is 'n pad van selfopoffering, 'n pad van nederige gehoorsaamheid, gehoorsaamheid aan die wil van die Vader, gehoorsaamheid tot in die dood.  En dit, my broer en suster, is die pad wat ons moet probeer loop.

Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel - maar wat presies is die wil van die Here, nou vir ons, hier in 2006, hier aan die Suidpunt van Afrika?  Op hierdie vraag is daar nie net een antwoord nie.  Ons is elkeen 'n unieke wese, geen twee van ons se menswees, se omstandighede is presies dieselfde nie.  Ons moet elkeen in ons eie omstandighede op ons eie manier God se wil hier op aarde laat geskied.  Ons moet God se gebooie doen.  Ons moet ander liefhê soos Hy ons liefgehad het.  Soos ons elkeen is.  Met ons eie talente en vermoëns wat God ons gegee het. In elke omstandigheid waar u en ek onsself kan bevind, daar moet ons dit doen.

Lank, lank terug, toe Jesus gebore is, het die engelekoor dit uitgesing: Ere aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde die mense in wie Hy 'n welbehae het.  Probeer ons elkeen om die beste persoon te wees wat ons kan wees om so aan God se wil vir ons lewens gehoorsaam te wees, dan word God in die hemel ge?er, dan sal daar meer en meer vrede op aarde kom.

En dit, dink ek, is in lyn met wat die derde bede vra.  Die derde bede vra dat God iets van die hemel op hierdie verskeurde en versteurde aarde van ons sal laat neerdaal; dit vra dat ons tog iets van die hemel hier op aarde sal smaak.  Maar dan kom die derde bede onafwendbaar terug na die bidder toe.  Dit is ook ek, wat hierdie bede bid, wat self die bede moet help beantwoord.  Ek moet deur my optrede, deur my manier van menswees teenoor ander, iets van die hemel laat sigbaar word hier op aarde.  En op die spoor van Jesus, gelei deur die Gees, word dit wat onmoontlik lyk, dan soms tog moontlik.

Hierdie die Onse Vader het my nog altyd 'n knop in die keel gee wanneer ons as gemeente dit saamgesing het.  Maar ter selfder tyd krap hierdie mooi gebed 'n mens se lewe mooi deurmekaar, dit ruk jou uit jou gemaksone uit, wanneer jy besef  wat dit is wat jy sê as jy die baie, baie bekende woorde van die Onse Vader bid.

Ons sê dat ons besef watse wonderlike voorreg dit is dat die almagtige God van hemel en aarde ook ons Vader is wat weet wat ons nodig het nog voordat ons dit van Hom vra.  Omdat dit so 'n groot voorreg is om God as ons Vader te hê, daarom wil ons sy naam heilig deurdat Hy die ereposisie in ons lewens inneem.  Maar dan gaan ons 'n stappie verder- ons bid dat hierdie ereposisie sal wees dat Hy koning is van ons ganse bestaan.  En dan gaan ons nog 'n trappie verder deur te vra dat hierdie koningskap oor ons lewens tot sy reg sal kom deurdat ons God die Vader se wil in ons lewens sal uitleef, nie net ons eie wil nie.

Sien ons kans hiervoor, my broer en my suster?  Sien ons kans om God ons Vader te noem?  Sien ons kans om God die Vader te vra dat sy Naam deur ons lewens geheilig sal word, dat sy koninkryk in ons lewens sal kom, dat sy wil in ons lewens en deur ons lewe sal geskied?  Sien ons kans om weer met vrymoedigheid die eerste drie bedes van die Onse Vader te bid?

Ons kan en ons moet kans sien hiervoor - want God sien kans vir ons.  Hy sien kans om ons Vader te wees, Hy sien kans om ons by ons name aan Hom te verbind, Hy sien kans om, as Koning van ons lewe, elke oomblik van elke dag vir ons te sorg, Hy sien kans om ons te gebruik om sy wil hier op aarde te laat geskied.  Sien, Jesus het eenmaal kans gesien om in u en my plek aan die kruis te sterf, Hy het kans gesien om deur daardie bittere lyding dit vir u en my moontlik te maak om vir God ‘Vader’ te noem – omdat ons deur Jesus weet dat Hy ons Vader is, wat ons oneindig, oneindig liefhet.  God sien kans vir ons, God sien kans om ons daarmee te vertrou om sy wil hier op aarde sigbaar te maak.

Kom ons bid dan met vrymoedigheid die eerste drie bedes van die Onse Vader, maar, meer as dit, kom ons leef hierdie eerste drie bedes!
Amen